Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Profile photo of crito

by crito

Op soek na emosie

November 30, 2011 in Sonder kategorie

Rian Malan het dinge goed deurmekaar gekrap. Daardie resensie van hom oor Ons was daar twee weke gelede spook by my. Ek slaan Sondae Rapport oop, en Maandae Die Burger, en wens dat daar iets sal staan wat verbeter op Malan se poging.

Nog nie gebeur nie.

Wat Malan so skitterend gedoen het, was om die persoonlike reaksie te gee tesame met ‘n goed verantwoorde evaluering van die boek. Al stem jou politieke invalshoek nie met syne ooreen nie, jy moet kennis neem van sy argument en die emosie daaragter.

Vandeesweek het twee groot name in die Afrikaanse literêre wêreld, Annemarié van Niekerk en Rachelle Greeff, resensies oor onderskeidelik Corlia Fourie se Die geheime kamer en Hermione Suttner se Bitter heuning gelewer.

Die eerste wat verskyn het, Van Niekerk s’n in Rapport, herinner mens aan haar status as gender-bewuste literêre kritikus. Netjies en deeglik, ofskoon sy nie die versoeking kan weerstaan om die roman te kontekstualiseer teenoor Nederlandse publikasietendense nie. Verstaanbaar, gesien haar huidige woonplek, maar hoe relevant is die Nederlandse publikasiewêreld vir Corlia Fourie se werk?

Van Niekerk verklap weinig van haar eie emosies in die resensie, soos mens ook seker kan verwag van haar aanpak. Dit het my nie gepla nie – haar gevoel spreek uiteindelik duidelik in haar slotopmerking waarin sy duidelik sê dat Fourie nog sal moet verfyn aan haar skryfwerk in hierdie genre.

Wat my wel verbaas het, is dat sy nie John Fowles se The Collector ter sprake gebring het nie. The Collector is die oer-teks vir spanningsverhale soos Die geheime kamer – en die feit dat Van Niekerk dit nie ter sprake gebring het nie, laat my vermoed dat sy Die geheime kamer nie hoog genoeg getakseer het om dit aan indringende analise te onderwerp nie.

Rachelle Greeff se bespreking van Bitter heuning is in meeste opsigte voortreflik. Haar geesdrif vir die boek en sy inhoud straal uit haar resensie. As jy nou Rian Malan se onvolprese resensie in gedagte hou, het Greeff hier ten minste in die gehalte van haar kryfwerk, haar styl en haar reaksie iets gedoen wat haar bespreking uitlig bo ‘n koeler, meer berekende akademiese bespreking soos dié van Van Niekerk. Daar’s ‘n warmte wat van Greeff uitgaan jeens Bitter heuning wat mens nie kan ignoreer nie.

Wat my wel gehinder het van haar resensie, is dat sy ‘n omvatende beeld gee van die wydte van Bitter heuning se inhoud, en ook krediet gee aan die vertaler (Linda Rode), die teksversorger (Suzette Kotzé-Myburgh) en Petra Müller se leiding – maar in gebreke bly om haar uit te spreek or hoeveel van die werk se trefkrag terug te voer is na Rode se vertaling of Kotzé-Myburgh en Müller se ingryping.

Kyk mens na die dinge wat Greeff uit die teks aanhaal, ontstaan daar ‘n vermoede dat ten minste Bitter heuning se vertaler uitgesonder moet word vir ‘n groot deel van die boek se geslaagdheid.

Terry de Vries, wat haarself as labirintbouer beskryf, kom gelukkig uit ‘n goeie familie (weet ons hier op die dorp) en is nie geneig om maklik self in ‘n doolhof te beland nie. Haar bespreking van Die groen strook: ‘n Suid-Afrikaanse gids vir ‘n groen leefstyl handel oor die nuttigheid en geloofwaardigheid van hierdie boek deur Michelle en Riaan Garforth-Venter.

Dit is duidelik dat De Vries met die boek slaags was. Sy vertel jou wat sy alles nuttig en wetenswaardig gevind het, en laat jou ook goed verstaan dat die boek beter kon gewees het as wat dit is. Geen indeks nie, onlogiese tipografie. Daar word baie van statistieke gebruik gemaak, wat beteken dat die boek reeds verouderd is in sommige opsigte. Dikwels té prekerig. En meer.

Wat ek van De Vries se resensie waardeer, is dat sy groter betrokkenheid by die boek onder hande openbaar as wat ‘n koerantleser sou verwag. Jy kan nie haar resensie lees en dink dat sy dit sommer so met die linkerhand gedoen het terwyl sy Private Practice sit en kyk nie. Ek het hierbo die woord “slaags” doelbewus gebruik.

Op ‘n manier is dit ‘n reaksie in die Rian Malan-trant. Anders as die soort boek wat Malan bespreek het, het De Vries dit te make met ‘n boek wat beproef en getoets kan word. Sy het, vandaar my groot waardering vir haar resensie. Dink maar aan hoeveel mense oor kookboeke skryf sonder om ‘n enkele resep daaraan te toets. (Ek praat nou van die resensent, nie die skrywer nie.)

De Vries se reaksie op wat sy bevind het, is direk en sonder opsmukking aangebied. Ek verkies sulke reaksies bo dié waar mens gaan aanduiding kry van wat die resensent regtig voel nie.

Profile photo of crito

by crito

Pasop vir die onnie-resensente

November 22, 2011 in Sonder kategorie

Resensente wat eintlik onderwysers wil wees – vir hulle moet jy versigtig wees. Hulle weet altyd wat goed is vir jou. Hulle lei jou altyd na ure van uiterste verveling. Hulle neuk ‘n boek vir jou op nog voordat jy dit gelees het.

Twee van hulle het vandeesweek weer hul opwagting gemaak. Valda Jansen in Rapport en Riana Scheepers in Boeke24.

Jansen skryf oor Wilhelmina Radebe kom tuis van Marinda van Zyl. Sommer vroeg al in die resensie sê sy dat die persoon wie se verhaal vertel word, die persoon wat aan die woord is, se “getemperde stem” sal byval vind by die “teikengroep”. En die teikengroep, sê Jansen, is “hulle wat Afrikaans is, maar nie soveel weet – of geweet het – van wat werklik in die land gebeur het nie.”

Met ander woorde, wit Afrikaners wat alles geglo het wat die apartheid-regime hulle vertel het, en vir hulle gestem het. En so aan, en so voorts, by implikasie. Hier is vir julle ‘n les, kom leer.

En dit is net daar wat die resensie vir my begin skif soos melk nadat mens lemoensap daarby gegooi het. Ek lees verder, maar my konsentrasie is daarmee heen. My gewilligheid om sonder voorbehoud van die skrywer of boek te hou, is verlore. Die gestalte van nóg ‘n onderwyser met nóg ‘n les oor die stommiteite van ons ouers se generasie doem agter die resensie op.

Maar wag, gee kans, gee kans. Alles klink interessant wat Jansen sê oor Van Zyl se agtergrond, haar studies en wat daaruit geleer is. Is daar dan nie ‘n denkrigting wat sê grondhervorming moet as vertrekpunt die jare voor die vryheidsoorloë neem nie?

Dan gaan haal sy ‘n opsommende oordeel uit wat sorg dat elke bietjie wat Van Zyl en haar boek kon terugwen in jou al minder ontvanklike gemoed, finaal verlore gaan: “Dié boek kan vir die post-apartheid-era doen wat Die swerfjare van Poppie Nongena en Vatmaar vir vorige geslagte gedoen het.”

 

Wyk, Juffrou!

Riana Scheepers, eens onderwyseres op my dorp, het dit in Boeke24 oor Hennie Aucamp se Lendetaal – Homoërotiek in die kunste en in die letterkunde.

Hier het ek genadiglik reeds die boek aangeskaf en gelees. (Dit is een van daardie boeke wat mens dadelik laat begin google op soek na foto’s van baie van die dinge wat genoem word. Scheepers verwys na hierdie gebrek van die boek, maar sy maak nie ‘n issue daarvan soos sy hoort nie.)

Wat mens van Lendetaal moet besef, is dat Aucamp ook ‘n pedagoog is en in hierdie essays wil hy ons ‘n aangesig leer van die skoonheid wat weens die Afrikaner se inherente bekrompenheid nooit werklik vir die bekrompenes “sigbaar” was nie.

Nou moet ek beken dat ek nie (om Valda Jansen se woord te gebruik) een van Aucamp se teikengehoor was nie. Waar Scheepers die punt snap oor Lyftaal as versameling essays oor die estetiek, kan sy ongelukkig ook nie aan haar eie nuk om onnie te wees ontkom nie.

Sê sy: “Dit gaan ’n standaardwerk in gender-studies wees en moet gelees word deur letterkundestudente en kunsliefhebbers, maar veral deur diegene wat gay-stereotipes as enigste verwysingsraamwerk het.”

Die eerste helfte van daardie sin gee die sein, en die tweede deel sê dit sommer openlik. Hierdie boek gaan die lyers aan hang-ups en hulle wat net in terme van clichés oor gays kan dink, leer hoe om oopkop te wees. Reg te wees?  

 

Ek sal Scheepers gelyk gee dat Lendetaal briljant is – driekwart só. Ek deel nie Scheepers se geesdrif vir Aucamp se “Egodokumente” nie.

Die leemte in Scheepers se resensie is dat sy pleitbesorger is, pedagoog wat wil hê die regte mense met die regte lessie leer. Sy raak nie krities slaags met Aucamp se estetiese beoordelings nie.

Ek sou wat wou gee om te hoor wat mense soos Herman Lategan of Eben Venter van Lyftaal dink.

Profile photo of crito

by crito

Die tweevuis-benadering

November 15, 2011 in Sonder kategorie

Die eerste keer dat Boeke24 se Esmé Euverard-aanslag veel meer regkry as waarop die skeppers van hierdie nuwe blad kon gehoop het. Die tweevuis-benadering.

Een boek, twee resensies. Genl. Jannie Geldenhuys se boek, Ons was daar – Herinneringe van die wenners van die oorlog om Suider-Afrika is op Boeke24 bespreek deur Rian Malan en Jakkie Cilliers.

My eerste indruk: Wat ‘n skitterende resensie (Malan) en Wat ‘n ligte mistykie (Cilliers).

My mening na ‘n derde herlees van die resensies: Malan het ‘n onregverdige voordeel gehad – hy is ‘n gesoute skrywer.

Is Cilliers se resensie dan oorbodig? Ek twyfel, maar kom ons bekyk albei resensies.

Malan het die konteks waarbinne die boek ontstaan het, en wat die doel met die skryf daarvan was, baie goed gesnap en uiteengesit. Hy besef dat daar baie disinformasie en terugskouende wanopvattinge is van die historiese gebeure by Cuito Cuanavale waaroor genl. Geldenhuys skryf. Hy skets dit kortliks, en analiseer dan die “vleis” van die boek. Daarna bring hy die nodige perspektief deur op te haal wat die generaal verswyg het, naamlik dat veel meer soldate aan die Suid-Afrikaanse kant gesneuwel het. As mens net wit soldate tel, is Geldenhuys se syfers waarskynlik reg; mens móét egter ook die sterftes van Unita-soldate ook in ag neem.

Vervolgens keer hy terug na die hedendaagse perspektief, een wat hom toelaat om uiteindelik die beste moontlike opsomming te kan gee.

Malan se resensie is uiters leesbaar, en sonder twyfel een van die bestes wat nog vanjaar in ‘n Afrikaanse koerant gepubliseer is. Ek het ‘n vermoede Malan se resensie is baie meer leesbaar as Geldenhuys se boek geskryf.

Begin mens Jakkie Cilliers se bespreking lees, wil jy gou moed verloor. Sy styl is vaal en akademies, sy formulering stug en lomp soos mens gewoonlik in ‘n té akademiese styl kry. Die ongelukkige uitwerking hiervan op iemand wat pas deur Rian Malan se resensie betower is, is dat Cilliers se insigte nie alte skerp nie. En dis nie noodwendig die geval nie. Hy het net fokus verloor.

As mens die kern van die boek reduseer tot die vraag “Hoekom het die ANC die vreedsame skikking met die apartheidsregime aanvaar, en nie voortgegaan met die militêre stryd nie?” soos Malan doen, dan gaan jy in die soort strikke verstrengel raak waarin Cilliers homself gou vasgevang kry.

Dis jammer dat hierdie boek net vir Afrikaners is, sê hy. Nêrens hoor mens die “storie” van swart nasionalisme nie. Hy wag gretig op ‘n boek wat ‘n geheelbeeld gee van die stryd in en om Suid-Afrika. En veral een wat fokus op die kriminalisering van elemente binne die SA Weermag. Alles aan die hand van sy eie kategorisering van die soort boeke wat daar is oor die SAW se aktiwiteite.

Goed so, maar ná die lees van Rian Malan se resensie besef mens dat Cilliers een belangrike ding nie gesnap het nie, naamlik dat genl. Geldenhuys se boek gaan oor wie die oorlog gewen het, soos gesien uit Geldenhuys se kant. Dit wil juis die perspektief van die SAW en die apartheidsregime gee – mens hoef jou as leser nie vandag daarmee te vereenselwig nie, jy hoor net getuienis aan.

Daar is genoeg disinformasie en verdraaiing van feite aan die bod vir Geldenhuys om te sê: Ons was daar, só lyk die waarheid. Hy probeer nie dinge van ná 1994 verduidelik nie, en die kriminalisering van elemente van die SAW, soos Cilliers dit stel, voor of na 1994, is nie die onderwerp van Geldenhuys se boek nie.

Die groot leemte in sy resensie is dus dat hy probeer het om ‘n breër perspektief te gee, maar in die proses nie werklik Geldenhuys se boek behoorlik bespreek het nie. Rian Malan het albei reggekry.

Wanneer ‘n boek so ‘n duidelike fokus het soos Geldenhuys s’n, beoordeel die resensent ook daardie fokus. Wanneer die resensie afgehandel is, bly Cilliers se punt oor die kriminalisering van elemente binne die SAW oor as ‘n versugting –

‘n mens kan alleen hoop iemand van Geldenhuys se formaat daarop sal reageer met ‘n aparte boek daaroor. Dit is deel van die suiweringsproses wat vir baie van die getroffenes veertig jaar ná Vorsteria steeds nie voltrek is nie. Dit is ook ‘n onderwerp wat vir alle huidige inboorlinge van hierdie land toenemend meer relevant sal word.

Profile photo of crito

by crito

Blinde vooroordeel

November 8, 2011 in Sonder kategorie

Kan ‘n resensie blinde vooroordeel tot niet maak?

Met die verskyning van Die laaste Afrikaanse boek in 2002 het Karel Schoeman se onuitstaanbare ingenomenheid met die waarde van sy insigte my dermate begin irriteer dat ek besluit het om nie weer my tyd aan hom af te staan nie.

Wat my veral gegrief het, is die manier waarop hy vanuit sy moeder se Nederlandse kant van sy genetiese poel neergesien het op sy vader se Afrikaanse kant van daardie poel.

Hy sou my afwesigheid uit sy leserspubliek met groot gemak kon verduur en ek sou gemoedrus hê. Ek sou nog in die verbygaan kon beaam dat hy darem ‘n voortreflike navorser is, maar lees? Nie weer nie.

In die November-uitgawe van Rapport Boeke bespreek die Nederlandse kritikus Jaap Goedegebuure Riviereland, Schoeman se jongste werk. Ek het gewonder of Goedegebuure my by my vooroordeel kon help verbybeur.

Goedegebuure skryf dat Schoeman ‘n nostalgikus is wie se heimwee eintlik gerig is op die “burgerlike” Nederland van voor die Tweede Wêreldoorlog. ‘n Tydperk waarvan Schoeman, synde in 1939 gebore, geen ondervinding het nie, maar waarvan sy moeder hom seker alles vertel het.

Wat die resensie vir my besonder insiggewend gemaak het, is Goedegebuure se reaksie op Schoeman se heimwee – en op Schoeman se reaksie op moderne Nederland, asook sy soeke na die oue. Ek kan begryp dat Goedegebuure die boek nuttig gevind het om sy eie gevoel oor Nederland te probeer peil.

Dit is net wanneer hy Schoeman aanhaal dat ek besef my vooroordeel staan nog vas: “As ek my lewe om een of ander rede nie in Suid-Afrika sou kan eindig nie en daar vir my ’n vry keuse van ander lande bestaan het, sou ek Nederland verkies … Want ook al sou die lewe vir my hier ’n daagliks hernieude ballingskap wees, sou ek geen ander ballingsoord wil hê nie as hierdie land met sy vertroude landskappe, dorpe en stede wat altyd weer opnuut kan verras en ontroer.”

 

Ah, die bekende stemtoon van Die laaste Afrikaanse boek en die suiwere oordeel van die persoon in die sentrum daarvan!

 

Lekker resensie. Vir my heeltemal genoeg.

 

***

 

Van twee nuwe Afrikaanse publikasies word korte mette gemaak in dieselfde uitgawe van Rapport Boeke: Johan Bakkes se Oepse daisy en Jan van Tonder se Anderkant omdraai. Sonder vermelding van wie die woord oor die twee boeke voer.

Die bespreking van die Bakkes-boek kon moontlik deur die redakteur geskryf gewees het. Neutraal, die soort inligting wat mens nodig het om te weet wat in die boek aan die gang is.

Die Van Tonder-boek word egter afgeskeep, wat my onwilekeurig laat wonder of die skrywer se welslae met Roepman dan vir niks tel nie. Is dit hoe mens ‘n belangrike Afrikaanse skrywer behandel?

***

Drie uiteenlopende bundels kortkuns kry egter besonder goeie behandeling. Louise Viljoen lewer ‘n bespreking van S.J. Naudé se Alfabet van die voëls wat Naudé maar kan laat plastic sandwich en vir die res van sy lewe met hom saamdra. Dit is die soort resensie waarna alle skrywers streef, deur ‘n resensent wat sonder twyfel tans die leiding gee oor Afrikaanse publikasies.

Winnie Rust se Margie van die seminary word deur Annemarié van Niekerk geresenseer. ‘n Deeglike bespreking, en dit is vir my interessant dat Van Niekerk, wat vanuit Nederland skryf, met ‘n opmerking afsluit wat ‘n soortgelyke strekking het as die afsluitende opmerking wat Karel Schoeman by Jaap Goedegebuure uitgelok het. Om op ‘n afstand na iets te kyk kan versoberend wees.

Joan Hambidge skryf oor Blou Maandag, ‘n bloemlesing saamgestel deur Kerneels Breytenbach. Skynbaar die soort versameling wat mens stukkie-vir-stukkie lees, en nie noodwendig chronologies nie. Ek het nie besef dat mense soos Ollie Viljoen, Schalk Joubert en Elma Postma hulself op hierdie manier uitdruk nie, wat my dadelik nuuskierig maak. Wat die resensie betref: Joan Hambidge se slag met prosa is vir my weer ‘n openbaring.

***

Salome Snyman, wat skynbaar amper meer weet van Herman Charles Bosman as Stephen Gray, skryf in die rubriek “Onder my literêre laken” oor Francois Griebenow se In die withaak se skadu. Sy het mins goeds daaroor te sê, en stel sommer ook ‘n paar dinge reg oor Leon de Kock se Verborge skatte, wat reeds in 2002 verskyn het.

Omdat sy besig is met ‘n rubriek, kan sy sonder uitvoerige argumentering uitkom by ‘n punt. En daardie punt is iets wat vir alle publikasies geld waar daar nie ‘n professionele publikasiespan is nie:

“Griebenow se selfgepubliseerde bundel het soveel gebreke dat die ruimte hier te min is om dit volledig te bespreek. Dit is voldoende om te sê dat dié wat nie bereid is om hul huiswerk baie deeglik te doen nie, liewer nie Bosman se werk moet publiseer nie.”

Amen.

***

Deon Meyer se nuwe roman, 7 Dae, is op Boeke24 bespreek. Ek wag vir Rapport se bespreking daarvan en sal dan oor aldrie resensies skryf.

Profile photo of crito

by crito

Liefde en seks en die spiere van verhale

November 1, 2011 in Sonder kategorie

Die karige opbrengs aan resensies van Afrikaanse boeke het vandeesweek darem vir ‘n bietjie pret gesorg. J.B. Roux verwys in sy resensie van Maretha Maartens se Laduma vir die liefde (Rapport) na die feit dat dié roman die laaste is wat in Tafelberg se Mirre-reeks gepubliseer gaan word.

Skynbaar is die bestaan van dié reeks boeke, waarin liefdesverhale uit ‘n godsdienstige hoek oorgedra word, afhanklik van die boekklub Leserskring. Leserskring het gevind Mirre-boeke verkoop swak. Soos Roux dit stel: “Romanses en godsdiens is nie ‘n goeie kombinasie nie.” Glo té heilig vir mense wat oor liefde wil lees.

Hy haal ook vir Maartens aan, wat voel dat die boeke nie duidelik genoeg as Christelike verhale bemark is nie. Miskien kwel dit haar nie dat Leserskring se Moslem-lede dan nie haar boeke sal bestel nie.

Wat die redes ookal mag wees, ek kon nie help om te lag oor die groot ironie wat hier aan die werk is nie. As mense nie Mirre-boeke wil koop omdat daar net liefde in is, en geen seks nie, is dit mos die finale bewys dat daar mense is vir wie seks gelyk is aan liefde.

My ouers en ons dominee sal nie met hulle saamstem nie, maar daar het jy dit. Wie is ons om met Leserskring se lede te argumenteer?

Ernstig nou: Ek is bly om weer Cilliers van den Berg se naam op Boeke24 se blad te sien. Hierdie keer resenseer hy S.J. Naudé se bundel kortverhale, Alfabet van die voëls.

Dit is Naudé se debuutbundel, en ofskoon Van den Berg ‘n taamlik neutrale toon in sy resensie handhaaf, is daar baie aanduidings in die resensie dat Alfabet van die voëls een van vanjaar se balangrike Afrikaanse publikasies is.

Van den Berg se neutrale toon kan sekerlik na sy akademiese benadering herlei word; dit is wat hy sê wat mens laat snap dat hy baie opgewonde is oor die bundel.

Met resensies soos hierdie is ek altyd bedag op die aanbreek van die “maar”-oomblike – daardie plek in die resensie waar ‘n positiewe betoog omgeswaai word om negatiewe kritiek aan die bod te stel.

In hierdie resensie is daar twee “maar”-oomblikke, wat Van den Berg teen jou lees-verwagting na ‘n ander rigting as negatiewe opmerkings laat beweeg. Hy gebruik die eerste maar om die fokus in sy eie betoog te verskuif en die leser se aandag te vestig op ‘n belangrike element wat die verskillende verhale verbind, en die tweede maar om die uitwerking van die lees van die bundel saam te vat en dit aan te bied as ‘n positiewe aanduiding van die bundel as geheel se krag.

Wat ek wel in Van den Berg se resensie mis, is ‘n aanduiding van hoe hy Alfabet van die voëls takseer binne die groter literêre konteks. Sou hy byvoorbeeld sê dat nie baie van die verhale in Alfabet van die voëls in Die groot Afrikaanse kortverhaalboek opgeneem kan word nie, omdat hulle nie onafhanklik van mekaar gesien kan word nie? En hoe vergelyk Naudé se werk met dié van ander skrywers wat steeds die kortverhaal as genre bedryf?

En les bes sou dit die koerantleser se eerste kennismaking met S.J. Naudé soveel interessanter gemaak het as Van den Berg meer uit Naudé se skryfwerk aangehaal het as wat wel die geval is. Mens kry die idee dat die liggaam mooi is, maar hoe lyk die definissie van die spiere?