Profile photo of crito

by

Die volmaakte resensie

Oktober 24, 2011 in Sonder kategorie

So naby aan perfek as kan kom. Max du Preez oor Dana Snyman se Hiervandaan.

Voorgestel, gesekondeer en aanvaar: As iemand ooit vra hóé ‘n resensie behoort te lyk, hier is die antwoord.

Die versoek wat die boekeredakteur aan die resensent stel is gewoonlik om te lees en te sê wat jy daarvan dink. Nie alle boeke maak daarna nie, maar enkeles van hulle vind ‘n leser wat só eerlik en terdeë daarop reageer dat die resensie nie ‘n leesverslag kan wees nie. Dit word ‘n emosionele, intellektuele reaksie op dít wat die boek sê.

Max du Preez begin sy reaksie op Hiervandaan te analiseer met ‘n inleiding oor die boeke wat hom tot in sy siel aangespreek het, en vind so die skakel na Hiervandaan. Sy eerste reaksie is gewoon op die gehalte van Dana Snyman se skryfwerk.

Dit gaan oor Snyman se formulering. Die manier waarop hy dinge sê wat by die hedendaagse Afrikaanse leser aanklank vind. Die manier waarop sy insigte as ‘t ware gedelf kon gewees het uit sy lesers se eie waarnemings.

Omdat Du Preez weet dat die Afrikaner vandag ook worstel met sy ouers, en veral die pa’s se aandeel in aan die dilemma waarin ons land hom bevind, spreek Snyman se leitmotiv van sy verhouding met sy pa ook baie sterk tot Du Preez, en kan hy uiteindelik sy resensie afsluit met ‘n beoordeling wat die koerantleser tot in sy dieptes raak. Du Preez se formulering is self nie te versmaai nie.

Dit is dán dat mens besef dit is nie ‘n besonder lang resensie nie. Dit hoef nie dwarsoor ‘n volblad te beier om ‘n juweel te wees nie.

Bygesê, die opskrif, uit Dana Snyman se aangehaalde woorde, sleep ‘n mens reguit na die lees toe: “Ons verlang ons in die onskuld in, Pa”.

Dis op papier. Op Boeke24 se webwerf is ongelukig min moeite gedoen om die opskrif te benut. In die plek daarvan kry mens net die boek se titel en subtitel, Op reis na die geliefde land. Tog jammer.

Die webwerf se weergawe ly ongelukkig ook onder slordige redigering. Op die webwerf begin die voorlaaste paragraaf met “eis hy namens ons …” Diegene wat dit gelees het en nie kop of stert daarvan kon uitmaak nie, moenie bekommerd wees nie. Dis maar net die redaksie wat die volgende laat wegval het: “Dis ‘n fyn ding wat Snyman met hierdie boek doen – en ‘n dapper een, en ‘n tydige een. Met sy akute sintuie reis hy namens ons …”

In die koerant self is die resensie sonder foute afgedruk – wat my betref Boeke24 se top-resensie sedert die nuwe bedeling ingetree het.

***

Van lengte gepraat. Regs van Du Preez op dieselfde blad skryf Francois Smith ‘n boek oor Douwleen Bredenhann se Bloedwater. Ek het daardeur geworstel omdat ek moet. Ek vermoed meeste koerantlesers het voor halfpad moed opgegee. As ‘n resensent geen geesdrif vir ‘n boek het nie, blyk dit ongelukkig baie gou.

Nie Smith se grootste oomblik nie. En Bredenhann het dit nie gelukkig getref nie. Vir iemand wat in die begin van ‘n skrywersloopbaan staan, sou dit beter gewees het dat sy ‘n resensent gekry het wat reguit en bondig kritiek lewer.

***

Sjane van Aswegen is in dieselfde bootjie as Bredenhann. Van Aswegen se Die kamferkis is in Rapport bespreek deur Marius Visser.

‘n Uitvoerige resensie wat uiteindelik die verhaal ten dele verklap maar ‘n wasige standpunt inneem. Ek dink byvoorbeeld aan Visser se opmerking dat die verhaal meer voorspelbaar is as die Suidooster. Wat wil hy sê? Dat die verhaal met rukke in stote voorspelbaar is? Dat dit soms erg voorspelbaar is en dan vir tussenposes effens minder voorspelbaar?

Sonder, bygesê, om te laat blyk of hy dink voorspelbaarheid is ‘n goeie of slegte ding.

Die wasigheid strek verder. Visser gaan aan oor die verhaal, maar bied geen inligting wat die nuuskierige koerantleser sal help om die skrywer te plaas nie.

Dit help nie dat resesente koerante vol skryf nie. Hulle moet dit op unieke manier doen, en dit is iets waarvan Marius Visser nie beskuldig kan word nie.

***

Dit gebeur ongelukkig ook dat mens besig is om ‘n resensie te lees, en dan skielik wil jy teen die dak uitklim van frustrasie. Dit is wat met my gebeur tydens die lees van J.B. Roux se resensie van Isa Konrad se Die soenoffer. Die subtitel is: “Die storie van ‘n negejarige reeksmoordenaar”.

Die gewraakte paragraaf lui:

Isobel Swart het as kind vier kinders vermoor. Toe sy, jare nadat sy as volwassene uit die tronk vrygelaat is, haar lewensverhaal openbaar wil maak, besluit sy Wessel Janke, ’n joernalis wat spesialiseer in die bonatuur- like (sic), moet haar storie vertel.”

 

So, Isobel was 9 toe sy vier kinders vermoor het. Jare later kom sy uit die tronk. Die tronk? Van wanneer af word 9-jariges in Suid-Afrika vir enige misdaad in die tronk gegooi? Weet Roux nie dat daar spesiale inrigtings is waar spesifieke soorte gevalle behandel word nie? Of is dit Isa Konrad wat nie weet nie? Of was Roux te lui gewees om te noem presies hoe Isobel Swart se geval hanteer is, en maak sommer die sprong na tronk? Of het Isa Konrad die fout gemaak, en Roux het dit nie agtergekom nie?

 

Ag nee wat, sulke swak werk laat my die resensie dadelik neersit. Twyfel ook of ek na dese die moeite gaan doen om die boek op te neem.

 

Ek het altyd gedink Boekeblaaie is daar om boeke en die leeskultuur te bevorder – nie om dit te ondergrawe nie!

4 antwoorde op Die volmaakte resensie

  1. Adage het gesê op Oktober 24, 2011

    Ek gaan kyk toe en kom af op ‘n onderhoud met Isa waarin sy sê
    Isa Konrad: Ek dink Harrison Ford het dalk my “bewonderaarsblad” op die Net gesien, want hy oorval my deesdae met briewe. Eers wou hy saam met my op ‘n verlate eiland gestrand wees. Toe wou hy Calista vir my los. Ek het net eenkeer vir hom teruggeskryf, iets kort en kragtig soos: “Jammer, meneer, jy het jou kans gehad. Ek is nou ‘n getroude vrou.” Maar die man is so dikvellig soos kan kom. Deesdae smyt ek sy briewe net so in die asblik. Maar ek eet nog die sjokolade wat hy stuur.
    Is dit waar?

  2. JB_Roux het gesê op Oktober 26, 2011

    Isa Conrad het haar feite reg: wanneer ‘n kind skuldig bevind word aan moord en tot tronkstraf gevonnis word (soos wel soms gebeur), word die skuldige in “veilige bewaring” geplaas. Met mondigwording word die skuldige na ‘n “gewone” tronk oorgeplaas om sy of haar tronkstraf as volwassene uit te dien. Dis aanvaarde praktyk en algemene kennis onder die meeste van ons – dié dat ek nie kosbare ruimte wou verspil met onnodige verduidelikings nie. Of dalk hét ek so ‘n verduideliking ingewerk en is dit deur ‘n redakteur of proefleser uitgesny om die resensie in die beskikbare ruimte te laat inpas . . .

    Jy het nie veel geleer sedert ons laas hier slaags geraak het nie, of hoe?

  3. crito het gesê op Oktober 28, 2011

    Die fout in die web-weergawe van die Max du Preez-resensie is intussen reggestel.

    @ Jaybee/JB: Jy skynbaar ook nie!

  4. Ek sien Max du Preez het ook die lokteks op die voorblad van Dana Snyman se boek geskryf. En agterin Snyman se boek staan ook Du Preez het die manuskrip gelees. Is dit dan so ‘n goeie idee om hom te kry om die boek te resenseer ook? Of maak dit nie saak nie?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.