Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Die volmaakte resensie

Oktober 24, 2011 in Sonder kategorie

So naby aan perfek as kan kom. Max du Preez oor Dana Snyman se Hiervandaan.

Voorgestel, gesekondeer en aanvaar: As iemand ooit vra hóé ‘n resensie behoort te lyk, hier is die antwoord.

Die versoek wat die boekeredakteur aan die resensent stel is gewoonlik om te lees en te sê wat jy daarvan dink. Nie alle boeke maak daarna nie, maar enkeles van hulle vind ‘n leser wat só eerlik en terdeë daarop reageer dat die resensie nie ‘n leesverslag kan wees nie. Dit word ‘n emosionele, intellektuele reaksie op dít wat die boek sê.

Max du Preez begin sy reaksie op Hiervandaan te analiseer met ‘n inleiding oor die boeke wat hom tot in sy siel aangespreek het, en vind so die skakel na Hiervandaan. Sy eerste reaksie is gewoon op die gehalte van Dana Snyman se skryfwerk.

Dit gaan oor Snyman se formulering. Die manier waarop hy dinge sê wat by die hedendaagse Afrikaanse leser aanklank vind. Die manier waarop sy insigte as ‘t ware gedelf kon gewees het uit sy lesers se eie waarnemings.

Omdat Du Preez weet dat die Afrikaner vandag ook worstel met sy ouers, en veral die pa’s se aandeel in aan die dilemma waarin ons land hom bevind, spreek Snyman se leitmotiv van sy verhouding met sy pa ook baie sterk tot Du Preez, en kan hy uiteindelik sy resensie afsluit met ‘n beoordeling wat die koerantleser tot in sy dieptes raak. Du Preez se formulering is self nie te versmaai nie.

Dit is dán dat mens besef dit is nie ‘n besonder lang resensie nie. Dit hoef nie dwarsoor ‘n volblad te beier om ‘n juweel te wees nie.

Bygesê, die opskrif, uit Dana Snyman se aangehaalde woorde, sleep ‘n mens reguit na die lees toe: “Ons verlang ons in die onskuld in, Pa”.

Dis op papier. Op Boeke24 se webwerf is ongelukig min moeite gedoen om die opskrif te benut. In die plek daarvan kry mens net die boek se titel en subtitel, Op reis na die geliefde land. Tog jammer.

Die webwerf se weergawe ly ongelukkig ook onder slordige redigering. Op die webwerf begin die voorlaaste paragraaf met “eis hy namens ons …” Diegene wat dit gelees het en nie kop of stert daarvan kon uitmaak nie, moenie bekommerd wees nie. Dis maar net die redaksie wat die volgende laat wegval het: “Dis ‘n fyn ding wat Snyman met hierdie boek doen – en ‘n dapper een, en ‘n tydige een. Met sy akute sintuie reis hy namens ons …”

In die koerant self is die resensie sonder foute afgedruk – wat my betref Boeke24 se top-resensie sedert die nuwe bedeling ingetree het.

***

Van lengte gepraat. Regs van Du Preez op dieselfde blad skryf Francois Smith ‘n boek oor Douwleen Bredenhann se Bloedwater. Ek het daardeur geworstel omdat ek moet. Ek vermoed meeste koerantlesers het voor halfpad moed opgegee. As ‘n resensent geen geesdrif vir ‘n boek het nie, blyk dit ongelukkig baie gou.

Nie Smith se grootste oomblik nie. En Bredenhann het dit nie gelukkig getref nie. Vir iemand wat in die begin van ‘n skrywersloopbaan staan, sou dit beter gewees het dat sy ‘n resensent gekry het wat reguit en bondig kritiek lewer.

***

Sjane van Aswegen is in dieselfde bootjie as Bredenhann. Van Aswegen se Die kamferkis is in Rapport bespreek deur Marius Visser.

‘n Uitvoerige resensie wat uiteindelik die verhaal ten dele verklap maar ‘n wasige standpunt inneem. Ek dink byvoorbeeld aan Visser se opmerking dat die verhaal meer voorspelbaar is as die Suidooster. Wat wil hy sê? Dat die verhaal met rukke in stote voorspelbaar is? Dat dit soms erg voorspelbaar is en dan vir tussenposes effens minder voorspelbaar?

Sonder, bygesê, om te laat blyk of hy dink voorspelbaarheid is ‘n goeie of slegte ding.

Die wasigheid strek verder. Visser gaan aan oor die verhaal, maar bied geen inligting wat die nuuskierige koerantleser sal help om die skrywer te plaas nie.

Dit help nie dat resesente koerante vol skryf nie. Hulle moet dit op unieke manier doen, en dit is iets waarvan Marius Visser nie beskuldig kan word nie.

***

Dit gebeur ongelukkig ook dat mens besig is om ‘n resensie te lees, en dan skielik wil jy teen die dak uitklim van frustrasie. Dit is wat met my gebeur tydens die lees van J.B. Roux se resensie van Isa Konrad se Die soenoffer. Die subtitel is: “Die storie van ‘n negejarige reeksmoordenaar”.

Die gewraakte paragraaf lui:

Isobel Swart het as kind vier kinders vermoor. Toe sy, jare nadat sy as volwassene uit die tronk vrygelaat is, haar lewensverhaal openbaar wil maak, besluit sy Wessel Janke, ’n joernalis wat spesialiseer in die bonatuur- like (sic), moet haar storie vertel.”

 

So, Isobel was 9 toe sy vier kinders vermoor het. Jare later kom sy uit die tronk. Die tronk? Van wanneer af word 9-jariges in Suid-Afrika vir enige misdaad in die tronk gegooi? Weet Roux nie dat daar spesiale inrigtings is waar spesifieke soorte gevalle behandel word nie? Of is dit Isa Konrad wat nie weet nie? Of was Roux te lui gewees om te noem presies hoe Isobel Swart se geval hanteer is, en maak sommer die sprong na tronk? Of het Isa Konrad die fout gemaak, en Roux het dit nie agtergekom nie?

 

Ag nee wat, sulke swak werk laat my die resensie dadelik neersit. Twyfel ook of ek na dese die moeite gaan doen om die boek op te neem.

 

Ek het altyd gedink Boekeblaaie is daar om boeke en die leeskultuur te bevorder – nie om dit te ondergrawe nie!

Profile photo of crito

by crito

Kortsluitings

Oktober 18, 2011 in Sonder kategorie

Groot genoegdoening gee Boeke24 mens hierdie week. Twee baie deeglike resensies van Sonja Loots se Sirkusboere. Die soort resensies wat ‘n koerant versier en die lesers boekwinkel toe laat hardloop.

Een deur Louise Viljoen, die ander deur Jeanette Ferreira.

Ek weet nie watter een van die twee die hoofresensie in die koerant self was nie – hier waar ek tans is, is nie Afrikaanse koerante te koop nie. Ek lei maar af, van die plasing op die webwerf, dat dit Ferreira s’n was.

Juis met haar wil ek raas.

As mens dan soveel moeite doen met ‘n resensie, en jou argument só netjies uitpak, dan kan jy darem sekerlik ‘n beter inleidingsin prakseer as hierdie een:

“Satire is waarskynlik die verste buitepos wanneer dit oor perspektief op ’n oorlog gaan.”

Daardie openingsin – goed nagedink daaroor?

Kan mens so iets sê as die beste perspektiewe wat lesers sedert die vorige eeuwending oor oorloë gekry het, dié was wat satires gebied het? Lui titels soos Catch 22, Slaughterhouse-Five, Cat’s Cradle enige klokkies?

En in die moderne era het dit ander media oorspoel. Kan Ferreira se stelling van toepassing gemaak word op televisiereekse soos M*A*S*H, Blackadder, ‘Allo ‘Allo! Of Max Beerbohm se versameling karikature A Survey? Rolprente soos The Great Dictator, Dr. Strangelove, Kelly’s Heroes

Die probleem met só ‘n openingsin is dat dit ‘n vraagteken agter ander stellinginnames in die res van die resensie plaas. As die resensent se siening van satire só gebrekkig is, hoe takseer mens die res van haar rede?

Wanneer sy dan ‘n bietjie later verklaar dat “Nie dat Loots die eerste is wat haar hand aan satire oor dié oorlog waag nie”, wil jy amper dadelik uitroep dat sy tog voorbeelde moet gee voor jy haar gaan glo.

Gelukkig dan dat die resensie sterk op die inhoud af geskryf is, en Ferreira haar kritiese oordeel rig op die inhoud. En algaande trek sy die wa dan deur die drif.

***

Francois Bloemhof se resensie van Byleveld: Dossier van ‘n baasspeurder (geskryf deur Hanlie Retief) het by my ‘n hele klompie kortsluitings veroorsaak. Nie dat dit ‘n swak resensie is nie, inteendeel.

Miskien sal die strukturaliste en post-moderniste verklarings hiervoor hê, maar die gesig van baasspeurder Piet Byleveld op die omslag van die boek roep onmiddelik vir my die naam van ‘n ander speurder op: Albertus Beeslaer, die sentrale figuur in Karin Brynard se grootse Plaasmoord. Is dit nie hoe Beeslaer lyk nie? Of behoort te lyk nie? Gevolg: Ek vertraag die lees van Bloemhof se resensie sodat ek in my gedagtes Byleveld se gesig deur die Brynard-verhaal kan sleep. Is so. Is Beeslaer daai.

Die manier waarop daardie foto van Byleveld insny op die resensie gaan verder. Dit veroorsaak vir my ‘n verdere kortsluiting.

Wanneer Bloemhof ‘n opmerking van Byleveld uit Retief se boek aanhaal, gebeur dit: “Dit is altyd so. Hulle stink as hulle stres.” En ek kyk na Byleveld daar op die omslag, sigaret in die hand, en ek dink: Kyk wie praat. Hoe moet die man nie ruik van daardie sigarette wat hy rook nie? Hoe gaan hy nog stres kan ruik as sy reuksintuig deur dié verfoeilike gewoonte skeefgetrek is?

***

Stadig maar seker is ek besig om ‘n baie positiewe gevoel oor Boeke24 se boekeblad-poging te ontwikkel. Dit het ek al vantevore gesê. Soms is daar egter onnoukeurighede wat mens opval.

Vandeesweek skryf Elmari Rautenbach oor In die withaak se skadu en sê dis “die eerste versameling Bosman-verhale in Afrikaans”.

Nie korrek nie. Daardie eer gaan aan Verborge skatte, byeengebring deur Leon de Kock en uitgegee in 2002. Versigtig wees om reklame-uitsprake goedmoeds te aanvaar as waarheid!

Profile photo of crito

by crito

Skrywers en geweld

Oktober 11, 2011 in Sonder kategorie

Dit gebeur nie elke week nie, maar op ‘n dag soos afgelope Maandag kan ‘n koerantleser Boeke24 se blad omtrent op ‘n meta-vlak lees. Wat hierdie week gebeur het, is dat mens ‘n antwoord gekry het op die vraag: Wat maak Suid-Afrikaanse skrywers met die wyse waarop geweld deel geword het van ons lewens?

Aan die een kant is daar Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip, waarin die uitgangspunt geweld is en mens verskeie maniere sien waarop geweld rondom die hooffigure in die Suid-Afrikaanse samelewing manifesteer.

Aan die ander kant is daar Treurgrond – 20 jaar van plaasaanvalle in Suid-Afrika van Dirk Hermann en Chris van Zyl, waarin ‘n skokkende beeld geteken word van die omvang en uitwerking van plaasaanvalle tussen 1990 en 2010.

Breytenbach se roman word deur Michiel Heyns en Thys Human geresenseer, en Hermann en Van Zyl se werk deur Wilhelm Jordaan. (Breytenbach het ook Sondag in Rapport ‘n besonderse bespreking deur Joan Hambidge ontvang.)

Dit gaan nie hier om hoe goed of sleg die resensente die twee boeke gevind het nie. Breytenbach het besonder positiewe resensies gekry, en Herman en Van Zyl word ook positief getakseer.

Die verskil tussen die resensente se bevindinge is egter opvallend. Wilhelm Jordaan erken hy is ontroer deur Treurgrond. Hy sê die boek skok mens. Maar mens voel al vroeg in die resensie aan dat daar ‘n maar in die bespreking gaan opdaag.

Hy sê dan uiteindelik ook dat Treurgrond hom ongemaklik laat voel – omdat dit net een sy van die geweld gee. Daar is ander aangesigte ook, waar “geweld ‘n leefwyse geword het wat steeds voortduur.”

Sy sterkste beswaar is dat die aanbod van die boek emotief gelaai is. Nogal interessant hoe Jordaan die boek se bydrae tot ‘n “nasionale gesprek” uit hierdie oogpunt weeg en te lig vind. Om aan só n gesprek deel te neem, is koeler denke en minder emosie nodig, want dit verhinder die waarnemer om ‘n breër perspektief te kry.

Die twee Boeke24-resensente en een Rapport-resensent verwys na die sentrale rol van geweld in Piekniek by Hangklip.

Heyns noem spesifiek die kwessie van vorm en chaos, en die moeite wat daar sou wees om die patroon van geweld, die samehang, te identifiseer in “die geroesemoes van gebeure”. Human wys op die harsings wat spat, die afwesige speurder, en die sosio-politieke vraagstukke van misdaad en korrupsie. Hambidge noem onder meer die felle kommentaar wat die roman lewer oor die geweld in ons samelewing.

Maar wat opval, is dat aldrie die resensente Breytenbach se siening dat geweld beskou moet word as deel van die moderne lewe, nes swak argitektuur en vertrouenswendelaars, sonder teenspraak aanvaar. Dis nie iets wat opgelos word nie. Dis deel van die tekstuur van die Suid-Afrikaanse bestel, en dus ook van die roman self. Wilhelm Jordaan sou dit met hom eens wees, lyk dit my.

Die vraag wat by my opkom, is of Piekniek by Hangklip dan geen standpunt inneem oor die moraliteit van ons geweldsbestel nie. Die drie resensente sê niks daaroor nie.

Uiteraard hoef mens nie ver te soek vir die rede hoekom dit nie genoem word nie. Die drie resensente spandeer baie ruimte daaraan om die koerantleser ‘n idee te gee van wat aan die gang is in die werk. Veral Hambidge probeer om die tematiese aanknopingspunte en verwysings aan te dui, terwyl Human in detail stilstaan by die literêre tradisies waarby Breytenbach aansluit. Heyns se bespreking verklap weer die ingesteldheid van ‘n skrywer – hy sien raak waar dinge beter aangebied kon gewees het, en korter.

Breytenbach kan sekerlik baie verheug wees oor die ontvangs wat sy roman geniet het. Ek vermoed hy is een van die weinige Suid-Afrikaners wat na Sondagoggend se rampspoed in Nieu-Seeland nie Maandag nog aan ernstige “gemoedsbekakking” (om sy woord te gebruik) gely het nie.

Profile photo of crito

by crito

Reg gekies

Oktober 3, 2011 in Sonder kategorie

Kan daar ‘n beter persoon wees om Sisingi Kamongo se Skadus in die sand – ‘n Koevoet spoorsnyer se verhaal van ‘n insurgensie oorlog (sic) te bespreek as Alexander Strachan (Boeke24)?

Strachan weet meer van die grensoorlog bo in die teenswoordige Namibië en Angola as wat dit seker gesond is om te weet. Hy besef presies hoe kosbaar hierdie herinneringe van ‘n lid van Koevoet is, des te meer omdat geen Koevoet-lid tot nog toe pen op papier geplaas het nie.

Die inhoud van die boek takseer hy daarom hoog. Sy eindoordeel is dat die boek onontbeerlik is vir diegene wat belang stel in die Bosoorlog omdat dit op die spoor van die oorlog loop saam “met ‘n man van die veld” en die leser die oeroue kunsvorm van spoorsny laat beleef.

Maar Strachan is ook skrywer. Hy ken die eise wat gestel word aan skrywer, redigeerder en uitgewer. Hy is ‘n gevoelige leser wat agterkom hoe hinderlik Leon Bezuidenhout, die vroedvrou van hierdie publikasie, soms ingegryp het om die inhoud van Kamongo se optekeninge by publikasie te bring. Hy sien die perspektief-probleme raak en die manier waarop taalgebruik soms hinderlik verklap uit watter rigting die inhoud aangegee word.

En Strachan weet ook hoe om ‘n resensie te skryf wat die lees daarvan’n stimulerende ervaring maak. Sy uitpak van inligting geskied op só ‘n manier dat jy deeglik meegesleur word deur sy vervoering met die inhoud, en dán eers begin hy die swakhede van die boek uitlê.

***

Elias P. Nel se Bek sonder brieke word deur twee resensente bespreek. Pieter Strauss behartig die taak vir Rapport Boeke, en Joan Hambidge doen dit vir Boeke24.

Twee meer uiteenlopende resensies kan ‘n mens jou kwalik voorstel.

Strauss se benadering is dié van ‘n literêr- en taalkundig geskoolde resensent. Hy het ‘n aanknopingspunt, ‘n argument waarin hy alle moontlike oorwegings betrek, en ‘n slotsom.

Dit is ‘n struktuur wat hom baie toelaat. Hy kan die bundel se bekoring en skatte uitlig. Hy kan die raamwerk uitstippel waarteen hy die bundel beoordeel. Dan kom hy met ‘n slotsom wat hieruit spruit, dus deeglik gemotiveer is.

Lees jy die resensie behoorlik, snap jy dat hy teleurgesteld is met Nel – hy het voorsien in die behoeftes van lesers wat ligte vermaak soek, maar hy het nie die potensiaal van sy skrywerskwaliteite verwesenlik nie.

Die vraag is natuurlik of Nel uit die staanspoor geweet het dat hy besig is om te skryf aan ‘n bundel. Was hy nie net besig om rubrieke te verskaf vir ‘n publikasie met beperkte reikwydte nie?

Pieter Strauss se antwoord hierop lê implisiet in sy resensie: As mens ‘n gerekende skrywer soos Elias P. Nel is (kyk gerus wat haal Strauss aan oor die lofsange van die verlede oor Nel se skryfwerk), behoort jy te weet dat alles wat jy skryf, ongeag wáár dit verskyn, gaan gemeet en beoordeel word volgens die reeds gepubliseerde taksering van jou skrywerstalent. Al skryf jy rubrieke vir die Taalgenoot, moet elke rubriek die stempel van jou gehalte dra.

Die uitgangspunt van Joan Hambidge se resensie is presies dít: Rubriekskrywers vul daardie rol juis omdat hulle op hul terrein die beste is.

Nou moet ek dadelik sê dat ek my verkneukel het aan Hambidge se resensie. Dis heelwat korter geskryf as Strauss s’n. Sy sê ook heelwat meer met wat sy nié sê nie. Uiteindelik het Strauss en Hambidge dieselfde beswaar, naamlik dat dit nie werklik goeie rubrieke is wat Elias P. Nel in die Talgenoot gepubliseer het nie.

Hambidge sê op verskeie mooi maniere dat dit vrot werk is. Sy val weg met die opmerking dat rubrieke soos goeie port is – jy proe-proe daaraan. Later laat val sy – nadat sy sê dat Nel té lank aangehou het met sy rubriek – dat die bottel port leeg is en dat fynproewers kan onderskei tussen goeie en swak port.

‘n Bietjie later laat val sy ‘n verdoemende sin: “Prettig die misverstande rondom woorde.” Wat sê sy? Is dit al wat jy het, Elias Nel? Is dit werklik snaaks genoeg? Bundels het meer nodig as taalkoddighede. Streekstaal kan vervelig wees as dit al is wat jy te sê het …

Maar dit is wanneer sy sê “Ek is duidelik nie die teikenleser hier nie” dat ‘n mens besef jy sal ook nie wees nie.

Baie vernuftig gedoen!