by

Eersteklas

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Rapport Boeke se September-uitgawe lewer toe ‘n hele oggend se goeie leeswerk op. Dis wanneer jy ‘n uitgawe soos dié van voor tot agter vodde lees dat jy besef hoe erg die insinkings in hierdie bylaag ander kere was.

Die hoofresensie in dié uitgawe is Joan Hambidge se vierdelige bespreking van Kos vir die kenner, die gevierde kookboek van C. Louis Leipoldt wat onlangs heruitgegee is.

Na alles wat ek al in die verlede van haar resensies gesê het, kom Hambidge hier vorendag met ‘n resensie waarna mens in die toekoms sal kan verwys as voorbeeld van hóé dit gedoen moet word. Dit is ‘n uitsonderlik goeie resensie. Besonder deeglik beplan en geskryf met agting vir binding en oorgange. Mens kan sien daar is baie moeite gedoen daarmee.

Nes jou oë die gemaklike vloei en beweging van haar argumentering volg, só betower volg jy Hambidge se reaksie.

Vergete is daardie irriterende gewoonte wat sy by die bespreking van digbundels so gereeld vertoon, naamlik paragrawe wat nie logies op mekaar volg nie, wat weinig bindingselemente het en die indruk wek dat dit ‘n versameling van aantekeninge is wat sy tydens die lees van die bundels neergeskryf het.

Hier benader sy die onderwerp met passie en volle oorgawe. Dit is iemand wat van die boek gehou het wat aan die woord is, en met plesier haar gewaarwordinge en indrukke met die leser deel.

Eersteklas!

Nini Bennett skryf ‘n paar bladsye verder oor Fransi Phillips se bekroonde roman Net ‘n lewe. In vergelyking met die twee resensies wat reeds van hierdie boek verskyn het in Boeke24 (deur Louise Viljoen en Thys Human), is Bennett se resensie heeltemal toereikend.

Sy hanteer die analise van die boek net so goed as Viljoen en Human, maar bly in gebreke om te verduidelik presies hoekom sy in die begin van die resensie verklaar dat Net ‘n lewe beskou kan word as die hoogtepunt van Phillips se oeuvre.

As mens sulke opmerkings maak, is jy dit aan jou lesers verskuldig om dit te motiveer.

Omdat ek nou ook ingehaal het met die lees van Net ‘n lewe, wil ek noem dat ek nogal verbaas is dat nie een van hierdie drie resensente hulself die vraag afgevra het hoe Net ‘n lewe vertoon binne die groter konteks van die Afrikaanse letterkunde nie. (As Bennett daardie opmerking opgevolg het, sou sy waarskynlik hierby uitgekom het.)

Is ‘n boek wat ‘n prys van R100 000 vir sy outeur verdien het, darem op ‘n peil met die topromans in Afrikaans? Hoe vergelyk dit met Agaat? Daar is tog tematiese raakpunte.

Of hoe verskil die binne- en buitewêreld wat geteken word in Net ‘n lewe van dié van ‘n top-roman oor die jare 1830 tot 1910, naamlik Hierdie lewe? Daar is ook raakpunte tussen hierdie twee werke.

Miskien is dít ‘n onderwerp vir later: Hoe heilsaam is die groot geld wat aan werwingswedstryde gekoppel is? Bevorder dit die soort kreatiewe en substansiële spronge wat die groot geld regverdig?

Uiteraard verwag mens nie dat resensente saam met die oordeel oor die boek ‘n volskaalse evaluering van die werwingskompetisie moet lewer nie. Maar ek vermoed die gewer van die prys, in hierdie geval Lapa, sal graag wil sien dat daar erkenning gegee word aan die prys, en die substansie wat dit bring.

Ten slotte kortliks iets oor Deborah Steinmair se bespreking van Die rolbalspeler van Zain Eckleton in Boeke24.

Soveel agting as wat ek het vir Steinmair se verbeeldingryke fiksie, moet ek erken dat dit nog nie lyk asof sy dieselfde stilistiese vaste greep in haar kritiese werk het nie. Ek volg haar argument en evaluering in hierdie resensie, en dit maak sin.

Die probleem lê by haar formulering. Iemand wat soos sy kan tower met woorde en gedagtes voel sekerlik nie heeltemal tevrede met ‘n sin soos hierdie nie: “Dit staan wydsbeen oor milieus wat geografies aangrensend is, maar waartussen emosionele en historiese klowe gaap.” Om dit dan nog dadelik op te volg met ‘n volgende eensin-paragraaf, en daardie paragraaf lui as volg, “Dit spring geslaagd eenbeentjie tussen die idioom van die Kaapse Vlakte en dié van die higher society in die Moederstad”, dít is een te veel.

 

Ons moet seker dankbaar wees dat Steinmair nie iets raakgesien het wat haar aan ‘n driebeen-resies laat dink het nie.

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.