Jy blaai in die argief vir 2011 September.

Profile photo of crito

by crito

Tweevuis-krits

September 27, 2011 in Sonder kategorie

Tweevuis-krits op Boeke24. Aan die ontvangkant vandeesweek: Ronelda S. Kamfer en Lizette Rabe.

Ronelda S. Kamfer se grond/Santekraam het gesiene kommentators. Een is Johann de Lange, die ander Tom Gouws. Twee bekroonde digters – De Lange is wenner van die Hertzogprys, Gouws is onlangs met die ATKV-woordveertjie vir sy digkuns vereer.

Albei besprekings baie korrek.

Krediet word eers gegee. “Kamfer word die outentieke sterk bruin vrouestem wat Afrikaans nog nooit gehad het nie,” sê Gouws. De Lange meen dat daar baie uitgesien is na Kamfer se tweede bundel, hy sien haar sterk narratiewe aanslag raak, die meer intellektuele onderbou.

 

Tog weet die leser dat albei resensente afstuur op ‘n beswaarde eindoordeel. “Die onverwagse middelvinger ontbreek” lui die opskrif by Gouws se resensie. “Die boodskap word te swaar” staan bo aan De Lange se resensie.

 

En so is dit dan ook. Gouws betreur die “dodelike literêre bewustheid” wat in hierdie bundel na vore kom, en ‘n element van pretensieusheid. Weg is die ongekunsteldheid van Kamfer se debuutwerk, Noudat slapende honde. Hy gaan selfs sover as om beskuldigend op te merk: “Daarbenewens kry ’n mens met die lees van die bundel ’n Kroggerige kriewel in jou keel, wat jou weer die voordele en nadele van digtermentorskappe moet laat oorweeg.”

 

De Lange vind dieselfde gebreke, hoewel hy end-uit probeer om die tegniese vaardigheid en die konstruksie van die bundel vir die poësie-liefhebber voor te hou. Sy finale oordeel is een wat, as ek die digter was, ‘n baie sterk uitskud-proses sou afgee voordat ‘n derde bundel aangepak word:

 

“By al die vernuf in die taalspel, die orkestrasie van temas en die intellektuele onderbou en bundeleenheid, en ’n kern werklik uitstekende gedigte, laat die bundel tog uiteindelik die indruk van maakwerk. Die gedigte dra soms te swaar aan die boodskap en word nie altyd werklik onthóúbare poësie nie. Ook die kinderlike aanslag in baie van die verse irriteer op die duur in ’n bundel volwasse poësie.”

 

Ek haal so uitvoerig aan omdat ek graag die toonaard van albei besprekings wil uitlig: ewewigtig, ongedramatiseerd, nugter. Dit bring my terug by my opmerking dat albei bespreking baie korrek hanteer is.

 

Gegee die inhoud van grond/Santekraam enersyds en Kamfer se uitsprake in onderhoude andersyds, kom ‘n vraag by my op. Sou die twee resensente se aanslag dieselfde gewees het as die digter ‘n Afrikaanse student uit ‘n voorheen bevoordeelde omgewing was?

 

Ek het ‘n gevoel dat met hierdie twee resensente die resensies op presies dieselfde manier aangepak sou gewees het. Dis een aspek van die nuwe boekeblad-bedeling wat ek waardeer: die ou bekende resensente-stemme wat weer gehoor word, en ‘n geval soos hierdie bundel wat mens dadelik herinner aan die integriteit waarmee hierdie twee resensente nou en in die verlede hul vak benader het.

 

Daar is resensente wat heftiger, meer emosioneel op Kamfer sou gereageer het.

 

Nou sal mens wel kan wonder waar gaan die nuwe geslag resensente ‘n plek kry om hul vaardighede ten opsigte van ‘n bundel soos grond/Santekraam ten toon te stel. Ai, die sirkelgang!

 

***

 

Lizette Rabe se Rykie: ‘n Lewe met woorde is die ander ontvanger van die tweevuis-plesier.

 

Van Reenen is iemand wat nog altyd net op die periferie van my bewussyn was. Nooit ontmoet nie, net haar Hobhouse-boek geken. Onthou haar koerantrubrieke vaagweg.

 

Die afgelope week lees ek al aan Rabe se wonderlike boek; versot geraak op dié vrou, en gereed om ‘n resensent wat nie hierdie boek met respekte benader nie, se kop goed te skrop.

 

Gelukkig is twee joernaliste wat Van Reenen goed geken het, gevra om die boek te takel: Tobie Boshoff en Martie Meiring.

 

Boshoff kry dit reg om sy resensie te kleur met sy eie persoonlike styl sonder om die konneksie met Rykie van Reenen te skaad. Sy aanpak getuig van sy bewondering en liefde vir Van Reenen. Meiring is meer krities en wys leemtes in Rabe se se werk uit. Die vraag is natuurlik of enigiemand ooit in staat gaan wees om die dinge uit te snuffel en te verifieer wat Meiring aandui tans nié daar is nie. Lizette Rabe is waarskynlik die beste geplaas om dit te doen, en met elke jaar wat verloop, raak die getuies minder.

 

Meiring verwys na ‘n versameling van Van Reenen se skryfwerk wat deur Tobie Boshoff gemaak is. Is dit die klein versameling aan die einde van Rykie? Ek trek die stoute skoene aan vra namens almal wat danksy hierdie boek deur Van Reenen betower is dat ‘n uitgewer al daardie rubrieke in boekvorm beskikbaar maak. Groot asseblief! Hierdie handjievol is nie genoeg nie.

 

En nes by die Kamfer-bundel is daar ook vir my ‘n behoefte om te sien wat een van die jongelinge wat vandag in die redakteurstoele sit by wyse van ‘n resensie van hierdie boek sou gemaak het.

 

Wat van ‘n drievuis-plesier, mevrou Rautenbach?

 

***

 

Ek het Karin Brynard se resensie van Bloedsusters met ‘n makabere belangstelling gelees. Enersyds omdat ek verras was om agter te kom dat daar mense is wat ‘n beroep gemaak het uit die opruim van moordtonele (soos The Wolf in die fliek Pulp Fiction), andersyds omdat ek besef dat Brynard in haar resensie alles noem wat ek ooit werklik wil weet van die lewes van Roeline Schutte en Eileen de Jager, wie se verhaal Bloedsusters is (soos oorvertel aan Ilse Salzwedel). Die lees van die boek laat ek aan die bloeddorstiges oor.

 

Al wat my werklik van Brynard se bespreking irriteer, is haar slot. Die hele resensie fassineer mens, en dan sê sy skielik daar is herhalings in die teks van ‘n publikasie wat sy reeds as ‘n “dun boekie” beskryf het, maar dat sy glo dit sal met ‘n herdruk reggestel word.

 

Hoekom irriterend? Hoe sal ons ooit weet of die herhalings uit die heruitgawe gehaal is? Gaan Brynard die situasie dophou en rapporteer? Iemand met haar ondervinding kan ‘n meer bevredigende slotsin prakseer vir ‘n resensie wat ek andersins woord vir woord ingeneem het.

Profile photo of crito

by crito

Die oue en die nuwe

September 20, 2011 in Sonder kategorie

‘n Bitter skraal lysie nuwe resensies vandeesweek.

Cas van Rensburg (Boeke24) en Dine van Zyl (Boeke24-webwerf) skryf oor Die Lanternswaaier van S.D. Fourie, Jaco Fouché bespreek Thijs Nel se ‘n Anderste soort en Nicol Faasen skryf oor Skool van Theo Kemp (LitNet).

Die twee resensies oor Die Lanternswaaier dwing mens om te wonder hoekom die redakteur van Boeke24, Elmari Rautenbach, besluit het watter een van die twee resensies voorkeur-behandeling gaan kry en die hoofresensie op Boek24 se koerant-weergawe word.

Albei resensies is informatief genoeg. Albei gee ‘n baie goeie idee oor die agtergrond van die boek, en die konteks waarteen mens dit moet plaas. Lesers wat die kortverhale van C.G.S. de Villiers, Petra Müller en die essays van Audrey Blignaut ken, sal weet dat die Overberg en Strandveld ryk aan verhale is. S.D. Fourie sluit hierby aan met haar roman.

Die vraag bly egter, hoekom het Rautenbach uiteindelik meer gehou van Van Rensburg se resensie? Ek het albei verskeie kere deurgelees, en twee moontlike redes gevind.

Eerstens het Van Rensburg se resensie ‘n meer gesaghebbende toon. ‘n Rustige manier van oordra, en daarmee gepaardgaande die vanselfsprekendheid waarmee mens sy oordeel aanvaar. Wanneer hy uiteindelik vir jou sê wie presies S.D. Fourie is en dat sy beter kan skryf as haar een groot bron, Hercules Wessels, dan weet jy hierdie is die beste moontlike manier om Wessels se kosbare aantekeninge te lese te kry.

Tweedens maak Van Zyl die soort fout wat ‘n resensent maak wat nie heeltemal seker is sy/haar lesers gaan die punt snap nie. Vroeg al in haar resensie gee sy te kenne dat S.D. Fourie vir die Strandveld gaan doen wat Dalene Matthee vir die Knysna-bosse gedoen het. Met die noodwendige implikasie dat die skryfwerk op dieselfde peil sal wees. En teen die einde herhaal sy haar siening, net met ‘n effens ander bewoording.

Dis ‘n elementêre fout, maar een wat gewoonlik verskeie negatiewe uitwerkings op die onderskeidende leser het: dit irriteer jou, jou voel gebelgd omdat die resensent dink jy het nie ingeneem wat sy reeds gesê het nie, en jy begin die spesmaas kry dat die resensent voel as iets dikwels herhaal word, dit die waarheid sal word. Op dié manier laat sy jou dan wonder of daar wel ‘n vergelyking tussen Matthee en Fourie te tref is.

Vir my gevoel het Rautenbach die regte besluit geneem toe sy moes besluit watter een van die twee resensies sy as hoofresensie gaan gebruik.

Jaco Fouché se skrywe oor ‘n Anderste soort van Thijs Nel het ek met groot belangstelling gelees. Ek onthou nog die eerste uitgawe van dié bundel in 1997, en die heruitreiking daarvan het uiteraard die vraag laat ontstaan hoekom Nel nie intussen ander publikasies die lig laat sien het nie.

Op ‘n manier bied Fouché ‘n antwoord in sy resensie. Hy gee ‘n deeglike bespreking van die oorspronklike bundel en staan daarna kortliks stil by die twee dele wat bygevoeg is: die eerste ‘n aantal sprokies wat volgens Fouché in die styl van Jan Rabie se 21 is, en die tweede ‘n aantal herinneringe aan Ellisras en die plaas waar Nel gebore is. Sy oordeel oor die kort sprokies is positief, maar hy slaan dit nie so hoog aan as die kortkuns in die oorspronklike ‘n Anderste soort nie. Fouché gee geen aanduiding van hoe ernstig mens die derde deel moet benader nie, maar merk tog op dat dit bevestig hoe baie van die werk in die oorspronklike ‘n Anderste soort is outobiografies.

As jy dit wil dekodeer: Nel het wyslik besef dat sy skryfwerk ná ‘n Anderste soort nie van dieselfde standaard is nie, en het toe verkies om dit as aanhangsels by ‘n heruitgawe van daardie werk die lig te laat sien, eerder as in losstande publikasies.

Nicol Faasen se bespreking van Skool is deel van LitNet se essay-resensie- ontwikkeling. Ek het dit fassinerend gevind. Baie akademies, ja, maar erg interessant.

Faasen bespreek die roman as enersyds fiksie en andersyds niefiksie. Sy analise van die roman is baie diepgaande, en sy uiteindelike besluit, naamlik dat die niefiksie-element van die roman nie volkome reg laat geskied aan die positiewe sy van die onderwysgemeenskap nie, is een wat sal sorg dat die debat oor hierdie roman en sy konteks nog lank voortduur.

Die krag van Faasen se bydrae lê in die manier waarop hy die groter ruimte wat tot sy beskikking is, benut het. ‘n Mens kan jou voorstel hoe ‘n resensent dit sou kon benut het vir besprekings van Agaat of Die benederyk. Dit gaan interessant wees om te sien hoe hierdie projek verder ontwikkel. Is die swaartepunt van resensies besig om soontoe te skuif?

Profile photo of crito

by crito

Van die bestes

September 14, 2011 in Sonder kategorie

Skielik, binne die bestek van vier dae, is daar baie om die hart bly te maak. Twee besonderse resensies van Theo Kemp se Skool, ‘n uitmuntende resensie van Jannie Mouton se ‘En toe fire hulle my’, asook ‘n resensie deur Louise Viljoen op LitNet wat alles wat ek nog ooit oor haar stylgebondenheid gesê het, totaal verkeerd bewys.

Die twee besprekings van Skool wat op Boeke24 verskyn, is geskryf deur Melt Myburgh en Jonathan Jansen. Myburgh se resensie is die hoofresensie in die koerant, Jansen s’n die beginpunt van die webwerf se aanbieding.

Sulke dubbelplasings is nie ‘n resensentresies nie. Wat wel nuttig daaraan is, is dat dit mens gou laat agterkom of die betrokke resensente opgewasse is vir die boeke wat hulle bespreek. In hierdie geval wel deeglik opgewasse, en meer.

Myburgh kyk met ‘n sterker literêre klem na die boek as Jansen. Jansen kyk weer met die oog van ‘n pedagoog wat reeds met presies die problematiek van Skool geworstel het.

Wat mens uit albei resensies wys word, is die soort inligting wat hierdie tweevuis-formaat van Boeke24 so besonder goed byeenbring: Kemp is ‘n talentvolle nuwe stem op die literêre toneel, en as skrywer het hy betekenisvol slaags geraak met van van die sentrale kwelvraagstukke van die moderne Suid-Afrikaanse bestel. Die lees van sy boek sal die onderskeidende leser stimuleer, nes hierdie twee resensies het.

Pieter Haasbroek se bespreking van ‘En toe fire hulle my’ is op sy beurt die soort resensie wat jou bemoeienis met boekeblaaie die moeite werd maak. Die ideaal vir enige boekeredakteur is om presies die regte resensent te kry vir elke boek. Iemand wat die terrein van die boek ken, iemand wat daaroor kan skryf sonder om die boek te presiseer, en tog vir jou die inhoud ontsluit saam met ‘n evaluering. En uiteraard iemand wat die resensie skryf op ‘n manier wat die gewone lees van die resensie ‘n baie groot plesier maak.

Pieter Haasbroek is werklik nommer pas vir die Jannie Mouton-boek. Sy resensie lees asof hy self ‘n artikel oor Mouton skryf, met hier en daar ‘n verwysing of woord wat jou daaraan herinner dat hy eintlik die boek takseer. Só ‘n benadering gee die resensent dan die gapings warin hy sy eie houding kan vorentoe bring.

Haasbroek is sekerlik bewus van die soort kritiek wat Mouton al in die verlede op die lyf geloop het, en gebruik bondige opmerkings om daardie kritiek te weerspreek. Kyk gerus hoe verduidelik hy Mouton se optrede insake die KWV, of insake die Pioneer-direksie.

En dan gee Haasbroek uiteindelik ook ietse ekstra – daardie soort opmerking wat die resensie uiters aktueel maak en dit lig tot daardie hoogste persentiel van die beste resensies. In sy voorlaaste paragraaf raak hy ‘n saak aan wat maar pas die afgelope week pertinent geword het omdat kameraad Julius Malema in Alexandra verklaar het dat hy oorlog gaan voer teen die wit sakemanne wat die aandelebeurs so beset.

Haasbroek gee die volmaakte antwoord op Malema se stompsinnighede deur al die implikasies wat hy in hierdie paragraaf aktiveer: “Jannie Mouton gee goeie beleggingsadvies in sy boek en raad waarna Suid Afrika se ondernemers maar gerus kan luister. Wat hy gedoen het, het sin. Dit het sy werknemers en aandeelhouers betaal. Asook die regering wat jaarliks R2,5 miljard belasting van die PSG-maatskappyegroep ontvang.”

 

Ek wys jou my belastingbydrae, wys jy nou joune …

 

Ten slotte moet ek moet ek my trots sluk en erken dat ek Louise Viljoen in die verlede foutiewelik daarvan beskuldig het dat sy resensies volgens ‘n herkenbare akademiese patroon skryf. Die resensie van Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip, wat einde verlede week op LitNet verskyn het, is die presiese teenoorgestelde.

Viljoen het die lees van die boek duidelik dermate geniet dat sy haar resensie in ‘n soortgelyke styl as die boek aanbied. Meeste skrywers van resensies weet dat dit uiters moeilik is om geesdrif op ‘n volgehoue manier oor te dra – dit begin gou klink na oordaad. Dis veel makliker om negatief te skryf.

Viljoen se resensie straal geesdrif uit sonder om ooit uit toon te val. Die geheel is miskien langer as wat sy vir ‘n koerant sou kon aanbied, maar haar waagstuk het geslaag. Dit is een van die leesbaarste, onderhoudendste resensies wat ek nog op LitNet gelees het.

Profile photo of crito

by crito

Eersteklas

September 7, 2011 in Sonder kategorie

Rapport Boeke se September-uitgawe lewer toe ‘n hele oggend se goeie leeswerk op. Dis wanneer jy ‘n uitgawe soos dié van voor tot agter vodde lees dat jy besef hoe erg die insinkings in hierdie bylaag ander kere was.

Die hoofresensie in dié uitgawe is Joan Hambidge se vierdelige bespreking van Kos vir die kenner, die gevierde kookboek van C. Louis Leipoldt wat onlangs heruitgegee is.

Na alles wat ek al in die verlede van haar resensies gesê het, kom Hambidge hier vorendag met ‘n resensie waarna mens in die toekoms sal kan verwys as voorbeeld van hóé dit gedoen moet word. Dit is ‘n uitsonderlik goeie resensie. Besonder deeglik beplan en geskryf met agting vir binding en oorgange. Mens kan sien daar is baie moeite gedoen daarmee.

Nes jou oë die gemaklike vloei en beweging van haar argumentering volg, só betower volg jy Hambidge se reaksie.

Vergete is daardie irriterende gewoonte wat sy by die bespreking van digbundels so gereeld vertoon, naamlik paragrawe wat nie logies op mekaar volg nie, wat weinig bindingselemente het en die indruk wek dat dit ‘n versameling van aantekeninge is wat sy tydens die lees van die bundels neergeskryf het.

Hier benader sy die onderwerp met passie en volle oorgawe. Dit is iemand wat van die boek gehou het wat aan die woord is, en met plesier haar gewaarwordinge en indrukke met die leser deel.

Eersteklas!

Nini Bennett skryf ‘n paar bladsye verder oor Fransi Phillips se bekroonde roman Net ‘n lewe. In vergelyking met die twee resensies wat reeds van hierdie boek verskyn het in Boeke24 (deur Louise Viljoen en Thys Human), is Bennett se resensie heeltemal toereikend.

Sy hanteer die analise van die boek net so goed as Viljoen en Human, maar bly in gebreke om te verduidelik presies hoekom sy in die begin van die resensie verklaar dat Net ‘n lewe beskou kan word as die hoogtepunt van Phillips se oeuvre.

As mens sulke opmerkings maak, is jy dit aan jou lesers verskuldig om dit te motiveer.

Omdat ek nou ook ingehaal het met die lees van Net ‘n lewe, wil ek noem dat ek nogal verbaas is dat nie een van hierdie drie resensente hulself die vraag afgevra het hoe Net ‘n lewe vertoon binne die groter konteks van die Afrikaanse letterkunde nie. (As Bennett daardie opmerking opgevolg het, sou sy waarskynlik hierby uitgekom het.)

Is ‘n boek wat ‘n prys van R100 000 vir sy outeur verdien het, darem op ‘n peil met die topromans in Afrikaans? Hoe vergelyk dit met Agaat? Daar is tog tematiese raakpunte.

Of hoe verskil die binne- en buitewêreld wat geteken word in Net ‘n lewe van dié van ‘n top-roman oor die jare 1830 tot 1910, naamlik Hierdie lewe? Daar is ook raakpunte tussen hierdie twee werke.

Miskien is dít ‘n onderwerp vir later: Hoe heilsaam is die groot geld wat aan werwingswedstryde gekoppel is? Bevorder dit die soort kreatiewe en substansiële spronge wat die groot geld regverdig?

Uiteraard verwag mens nie dat resensente saam met die oordeel oor die boek ‘n volskaalse evaluering van die werwingskompetisie moet lewer nie. Maar ek vermoed die gewer van die prys, in hierdie geval Lapa, sal graag wil sien dat daar erkenning gegee word aan die prys, en die substansie wat dit bring.

Ten slotte kortliks iets oor Deborah Steinmair se bespreking van Die rolbalspeler van Zain Eckleton in Boeke24.

Soveel agting as wat ek het vir Steinmair se verbeeldingryke fiksie, moet ek erken dat dit nog nie lyk asof sy dieselfde stilistiese vaste greep in haar kritiese werk het nie. Ek volg haar argument en evaluering in hierdie resensie, en dit maak sin.

Die probleem lê by haar formulering. Iemand wat soos sy kan tower met woorde en gedagtes voel sekerlik nie heeltemal tevrede met ‘n sin soos hierdie nie: “Dit staan wydsbeen oor milieus wat geografies aangrensend is, maar waartussen emosionele en historiese klowe gaap.” Om dit dan nog dadelik op te volg met ‘n volgende eensin-paragraaf, en daardie paragraaf lui as volg, “Dit spring geslaagd eenbeentjie tussen die idioom van die Kaapse Vlakte en dié van die higher society in die Moederstad”, dít is een te veel.

 

Ons moet seker dankbaar wees dat Steinmair nie iets raakgesien het wat haar aan ‘n driebeen-resies laat dink het nie.