by

Klein jakkalsie

Augustus 22, 2011 in Sonder kategorie

Leon de Kock het onlangs in ‘n resensie verwys na die wyse waarop misdaadfiksie een van die min vorme van fiksie is wat plaaslike lesers leesbaarheid en sosiaal politieke analise bied. Ek herinner my dat De Kock elders ook verwys het na die wyse waarop krimi-lit deel geword het van die hoofstroom van Suid-Afrikaanse literêre produksie, en op grond van die gehalte van die skryfwerk ernstig benader behoort te woord.

Die redakteur van Boeke24 is daarmee eensgesind. Dit lei ek af van die feit dat sy Chris Karsten se roman Abel se lot die eer aangedoen het van twee resensies daarvan aan te vra.

Die resensie wat sy die belangrikste geag het, is geskryf deur Pieter Hugo, en is die hoofresensie op vandeesweek se boekeblad in Media24 se oggendkoerante. Die ander is geskryf deur Cilliers van der Berg, en dié vind mens op Boeke24 se webwerf.

Dit is vir my ‘n baie interessante geval. Wat het Elmari Rautenbach laat besluit dat Pieter Hugo se resensie beter is as Cilliers van der Berg s’n?

Ek het Abel se lot pas gelees. Vanoggend (Maandagoggend) het ek albei resensies behoorlik gelees en herlees en daar bestaan by my geen twyfel nie dat Van der Berg se resensie op sterker bene staan as Hugo s’n.

Van der Berg het ‘n aantoonbare kritiese afstand, is informatief genoeg oor die plek van hierdie roman in Karsten se Abel-trilogie, asook die trefkrag daarvan sonder om te veel te verklap van die inhoud wat die krimi-leser self behoort uit te snuffel. Hy meet die roman ook aan sy eweknieë in die Engelse taal.

Hugo begaan in sy resensie die fout wat mens taamlik algemeen aantref in die skryfwerk van mense wat nie baie ondervinding as resensent het nie: Dit probeer té veel inligting gee, bederf heelwat verrassings vir voornemende lesers, en wek twyfel oor sy oordeel wanneer hy sy eie belesenheid ten toon stel.

Mens kan met Hugo verskil wanneer hy voel dat Abel ‘n twee-dimensionele karakter is, of wanneer hy voel dat daar te min inligting oor die motivering van Abel se misdade is. Ek is selfs bereid om hom die verlies van sy kritiese afstand te verskoon wanneer hy Abel Lotz se gedragspatrone vergelyk met dié van Ed Gein (op wie Abel gegrond is) sonder om te verduidelik waar sy inligting oor Gein vandaan kom, of om te motiveer hoekom Abel opsluit presies dieselfde gedrag as Gein moet openbaar.

Wat ek nie aanvaarbaar vind nie, is sy verwysing na en verdere hantering van die ooreensteming tussen die strekking van drie sinne in Karsten se roman met twee sinne in Cormac McCarthy se All the Pretty Horses – sonder erkenning van die bron deur Karsten. Nou toe, Hugo het agtergekom dat in ‘n roman van 411 bladsye drie sinne ooreenstem met twee uit All the Pretty Horses. Dus sowat 0,00008% van Abel se lot wat herlei kan word na All the Pretty Horses.

Dit herinner mens nogal aan die vlieë-afvangers wat T.S. Eliot dit verkwalik het dat hy in sy “Notes” by The Waste Land vergeet het om te verduidelik dat Madame Sosostris in reël 43 van “The Burial of the Dead” ‘n verwysing is na die waarsegster in Aldous Huxley se Crome Yellow. Dit roep ook die onlangse geval op van Peter Carey wat in ‘n debat oor plagiaat gesê het dat ‘n bibliografie by ‘n roman omtrent so nuttig is soos ‘n hamer vir ‘n dolfyn.

Dit is goed dat Hugo die ooreenkoms raakgesien het en vir sy lesers noem. Dat hy nie besef dat as daar net een so ‘n raakpunt tussen die twee romans in die 411 bladsye van Abel se lot is, hy eintlik geroepe is om die betekenis van daardie raakpunt te probeer analiseer en verduidelik. Dít sou nou vir jou ‘n resensie gewees het. Dan hoef ons nie deur Hugo se oorvertelling van die drie verhaallyne te geworstel het nie.

Die vraag is natuurlik ook of Karsten, wat alreeds ‘n uitvoerige stel notas en erkenning aan die einde van die roman vir ons aanbied, die erkenning van aanhaling uit All the Pretty Horses weggelaat het omdat hy bang is dat die lesers meer daar sou inlees as wat nodig is.

Wat is die betekenis van dié aanhaling? Wil dit iets sê van die tematiek? Wil dit ‘n “gesprek” tussen die werke suggereer?

Dit is die soort dinge wat Hugo in sy resensie kon beredeneer het – en ons sou waarskynlik ontsettend beïndruk daarmee gewees het. Ek sou.

Dit bring my terug by die vraag hoekom Hugo se resensie, duidelik die mindere van die twee wat Boeke24 ontvang het, voorkeur gekry het vir die papier-uitgawe van Boeke24.

My vermoede is dat Rautenbach gedink het Hugo se openbaring is sensasioneel en sal mense aan die praat sit.

Het sensasie plek op ‘n boekeblad? Sekerlik, maar hierdie sensasietjie is darem baie klein en totaal betekenisloos. ‘n Klein jakkalsie in die redakteur se benadering …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.