by

Pronkwerk

Augustus 16, 2011 in Sonder kategorie

Dit gebeur gereeld, daardie oomblik dat ek by lang Louis se winkel instap om ‘n spesifieke boek te gaan koop, dat ek myself afvra hoekom ek die boek nou juis wil koop. Die antwoord is dikwels – méér dikwels as wat ek verwag het – dat dit ‘n resensie was wat my beweeg het. Soms is dit die skrywer of die tematiek, maar die dryfveer by lê meestal by die resensies wat ek lees.

Joan Hambidge s’n van Theo Kemp se Skool (Rapport) het my na my beursie laat gryp.

Mens kan maar veralgemeen oor resensente en hul prestasies (of gebrek daaraan), maar elke resensent wat sy mening oor ‘n boek teenoor die leespubliek uitspreek, kan eintlik net gemeet word as sy jongste resensie.

Dit maak dus nie saak of ek die afgelope maande die gevoel begin kry het dat Hambidge haar resensies té haastig afhandel nie – die vraag is of sy met hierdie nuutste bespreking haar kant bring teenoor haar koerantlesers.

Dit doen sy, en meer. ‘n Rustige, ewewigtige Hambidge is nie die soort leser wat allerhande retoriese koddighede gebruik om haar boodskap oor te dra nie. Jy sal selde ‘n uitroepteken by haar vind, en sy gooi mens nie toe onder byvoeglike naamwoorde nie.

Wat uit haar resensie van Skool blyk, is dat sy die boek werklik die moeite werd gevind het om oordentlik aandag daaraan te gee; genoeg só om te sorg dat haar resensie dit ook interessant vir die moontlike koper maak.

Haar kontekstualisering alleen was genoeg om my te laat besluit het om die boek te koop en te lees: die sogenaamde new journalism van Tom Wolfe, en hoe dit benut word om ‘n boek oor die Suid-Afrikaanse skoolstelsel meer impak te gee as wat ‘n gewone verhaal vol fiktiewe karakters sou.

Boonop skryf sy daaroor sonder om, soos ‘n mens eintlik verwag die eerste keer dat die term new journalism opduik, terug te spring na die holruggeryde verwysing na Die swerfjare van Poppie Nongena, Sleep vir jou ‘n stoel nader en so meer.

Hambidge, synde ‘n pedagoog, stel duidelik belang in die problematiek en aanpak daarvan in die boek voor haar, en dis aansteeklik.

Ek het my nogal verkneukel aan haar gebruik van die woord “panoptikum” (in verband met ‘n verwysing na Foucault) – sy het ‘n heelwat beter begrip van wat dié woord beteken as wat die ou HAT op my lessenaar het. (Ek vermoed dat die woord ook “panoptikon” as variant sal hê.)

Dit is ook vir my baie interessant dat sy op haar beste vertoon in ‘n resensie oor ’n prosawerk. Dit is nie die soort resensie wat op akademici gerig is nie, maar op die lesers van ‘n Sondagkoerant.

Met sulke resensies is daar, lyk my, salf te smeer aan Rapport-Boeke.

Boeke24 se papier-weergawe het vandeesweek ‘n skraler aanbod as sy webwerf. Skraal in die relatiewe sin van die woord.

Die papier-weergawe het ‘n verleidelike resensie deur Peter Veldsman van C. Louis Leipoldt se Kos vir die kenner, plus Irna van Zyl se skrander, knap bespreking van As die stroom jou vat (Jeanne Els se boek oor selfmoord wat enkele weke gelede half geresenseer is in Rapport), asook ‘n rubriek deur Rykie van Reenen, wat ‘n prikkel is vir Lizette Rabe se boek oor Van Reenen wat binnekort verskyn.

Die webwerf prop die Van Reenen-rubriek in ‘n hoekie in, maar spog darem met onderhoude met Max du Preez en Mariël le Roux, en kleiner bydraes deur Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout wat alles behalwe klein in hul trefkrag is. Hugo se verslag oor hoe dr. Koot Vorster sy kop weg van godsdiens na die digkuns gedraai het, is iets wat ek by Evernote sal gaan liaseer vir gereelde verwysing.

En, natuurlik, Peter Veldsman se resensie ook. Ek weet hy het ‘n restaurant in die Kaap, wat hom sekerlik baie besig hou – maar Elmari Rautenbach kan hom gerus sy eie resensie “beat” gee. Hy skryf onderhoudend en hou jou aandag deurentyd, ongeag waarheen sy rede hom neem.

Veldsman verklap sekerlik net soveel van homself as wat hy van Leipoldt doen, maar dit is sy kundigheid en sy oog vir die interessante vertelhoek wat hierdie resensie so lewendig en warm menslik maak.

Binne die raamwerk van Boeke24 sal dit dwaas wees om nog ‘n tweede resensie van só ‘n boek te vra. Veldsman skryf vir tien.

2 antwoorde op Pronkwerk

  1. lora2me het gesê op Augustus 16, 2011

    ‘n Mens kan altyd op die resensies van Hambidge reken, want sy draai nie doekies om nie. Peter Veldsman skryf soos hy praat en dis wat dit so ‘n onderhoudende “gesprek” maak.

  2. crito het gesê op Augustus 18, 2011

    Nooit gedink ek sou dit ooit sê nie. Ek is dank aan Joan Hambidge verskuldig. Praat van vinnige vingers.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.