by

Die hemel is in sig

Augustus 8, 2011 in Sonder kategorie

Een of ander Britse politikus het gesê ‘n week is baie lank in die politiek. Hy kon net sowel van boekeblaaie in Afrikaanse koerante gepraat het. Verlede week kla ek nog steen en been, vandeesweek is dit die teenoorgestelde. Die hemel wat Tim du Plessis ons beloof het, is in sig. Gedeeltelik weliswaar, weens Rapport se drentelgang, maar in sig.

Uit Rapport se drentelgang is daar miskien ook iets wys te word. Dit begin lyk asof Rapport-Boeke se toekoms in die rigting van artikelblad eerder as resensieblad lê. Miskien noodgedwonge. Rapport-Boeke is vandeesweek deeglik uitgestof deur Boeke24.

As mens Rapport-Boeke as artikelbylaag beskou, dan is daar heelwat pluspunte. André P. Brink se verslag oor ‘n Skandinawiese reis en die blyplekke van Bjørnstjerne Bjørnson, Hendrik Ibsen en Sigrid Undset wat hy besoek het, troon uit bo die ander bydraes. Hoofsaaklik danksy sy gemaklike, sjarmante skryfstyl en die rustige gesag waarmee hy sy inhoud oordra.

 

Dan is daar ook leeswaardige bydraes deur J.B. Roux (oor grensliteratuur), resensies oor ‘n klompie Engelse boeke (onder meer Marié Heese se The Colour of Power), ‘n onderhoud met Annette Human deur Louise Labuschagne, en ‘n bespreking deur Rustum Kozain van Elsa Joubert se Die reise van Isobelle, wat nou in sagteband-formaat heruitgegee is.

 

Van al hierdie dinge was Kozain se artikel vir my die enigste wat nie bevredig het nie. As enigiemand vandag oor Die reise van Isobelle skryf, is dit met die wete dat J.C. Kannemeyer ‘n skitterende analise daarvan gemaak het in sy Literatuurgeskiedenis. Jy moet uithaal en wys waartoe jy as analiserende en kritiese leser in staat is. Kozain het nie.

 

Boeke24 weer het eensklaps die belofte vervul wat Tim du Plessis aan kritici van hierdie projek uitgehou het, naamlik dat dit ‘n verbeterde diens sou lewer, en dat niks die redakteur sou verhoed om meer as een resensie van boeke aan te vra nie. Om die groot sprong vorentoe af te rond, het Boeke24 boonop vir Rapport gescoop met die hoofresensie, naamlik van Net ‘n lewe, Fransi Phillips se roman wat vanjaar Lapa se romanwedstryd gewen het.

 

Nie net een maal nie, maar twee maal.

 

Twee resensies van hierdie roman verskyn in Boeke24: een in die papier-uitgawe, en die tweede slegs op die webwerf van Boek24 (tesame, natuurlik, met die resensie wat op papier te lese is).

 

Die hoofresensie in die koerant-uitgawe van Boeke24 is deur Louise Viljoen geskryf. Op die webwerf kry ons ook Thys Human se resensie (in die koerant is daar aan die einde van Viloen se bespreking net ‘n kort opsomming van Human se mening.)

 

Dit moes seker baie moeilik gewees het om te kies watter resensie die hoofresensie in die koerant sou wees. Ek sou Human s’n geneem het, omdat Viljoen in haar gebruiklike resensie-patroon skryf, maar eintlik maak dit nie werklik saak nie. As daar een resensent is op wie se mening ek peil trek, is dit Louise Viljoen s’n.

 

Albei resensies is van top-gehalte. Krities, leesbaar, nie té akademies swaarwigtig nie. Skielik voel mens hierdie Boeke24-projek kan werk – kan werklik ‘n nuwe lewe en momentum aan die Afrikaanse resensie-wêreld gee.

 

Twee ander nuwe publikasies, naamlik die digbundels Donkerkamer (Fourie Botha) en Die lewe tussen pikkewyne (Jasper van Zyl) kry dieselfde dubbelle hantering.

 

Die Botha-bundel word in die koerante bespreek deur Charl-Pierre Naudé, plus ‘n eenreël-opsomming van Henning Pieterse se resensie daarvan, wat volledig naas Naudé se resensie op die webwerf te vind is. Van Zyl kry in die koerant weer ‘n resensie deur Henning Pieterse, met opsomming van Naudé se mening daaroor daarby. Albei vollengte-resensies is op die webwerf te lees.

 

Al vier resensies is positief. As resensent pas Naudé makliker aan by die ruimte-beperking wat aan hom opgelê is. Ek vermoed Pieterse is gemakliker met langer resensies waarin hy sy kragtige opmerkings (in die korter resensies) uitvoeriger kan verwoord.

 

Ook in die koerant-uitgawe is Harry Kalmer se bespreking van Michael Green (RR Ryger) se Hondsdol. ‘n Netjiese resensie, en net op een plek laat hy die wenkbroue lig. “Op enkele plekke pootjie die haas om te vertel dinge soos eksposisie, logika, dialoog en selfs verteloogpunt, maar omring deur die gehalte van die res van die boek lees jy dit maklik mis” skryf hy op een plek. ‘n Hardegat-resensent sou reguit gesê het dis vrot redigering van die uitgewer se kant.

 

Boeke24 se webwerf neem Tim du Plessis se verbeterde diens op ‘n ander manier verder. J.B. Roux se onderhoud met Christopher Hope (in verkorte vorm op die kunsblad van die papier-uitgawe) word volledig op die Boeke24-wegwerf geplaas. Daar is ook skakels na belangrike boekestories wat die afgelope naweek in BY en elders verskyn het.

 

Twee punte van kritiek: Daar is baie spelfoute in die lys van topverkopers , en die foto van Chris Karsten by die skakel na die storie oor die benoemings vir die ATKV Veertjie lyk darem vreeslik verwronge.

 

Nou ja.

 

Natuurlik sien ek na aanstaande week se Boeke24 uit – gaan Elmari Rautenbach hierdie peil handhaaf?

 

 

 

2 antwoorde op Die hemel is in sig

  1. Inderdaad! Ek het my verstom oor die skrywersreaksies op die aanvanklike aankondinging. Asof papierresensies in ‘n koerant al is wat mense kon raaksien. Sowat van in die verlede leef! Laat mens wonder hoe in kontak die beswaarde skrywers met die hede is!

  2. lora2me het gesê op Augustus 8, 2011

    Goed gesê. Ek was ook aangenaam verras en beindruk.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.