by

‘n Somber dag

Augustus 1, 2011 in Sonder kategorie

Die afsterwe van Paul Cilliers, een van die beste bydraers tot Afrikaanse boekeblaaie die afgelope klompie jaar, het my diep ontstel.

Hy was nie alleen iemand wat mens gelei het tot die vreugdes van ander letterkundes as dié van Afrikaans en Engels nie, soos byvoorbeeld die Suid-Amerikaners en Russe, maar ook iemand met wie mens lank en onderhoudend kon gesels oor Afrikaanse en Engelse boeke.

Ek het bly hoop dat die koerante hom sou vra om meer Afrikaanse boeke te resenseer. Dit is jammer dat hy nooit gevra is om kragte te meet met iets soos Asbesmiddag van Etienne van Heerden, die romans van Ingrid Winterbach of die kortverhale van Braam de Vries nie. Prosa was sy gunsteling genre, maar ek kan net dink hoe hy sou baljaar met die digkuns van T.T. Cloete, Wilma Stockenström, Johann de Lange of veral ‘n bundel soos Die beginsel van stof van Breyten Breytenbach.

In die geheel gesien is hierdie ‘n baie donker tyd vir die top-resensente van Afrikaanse boeke. Wanneer laas het enige van hierdie mense se name by resensies in koerante verskyn: Willie Burger, Thys Human, Andries Visagie, Louise Viljoen, André P. Brink, At van Wyk, Fransjohan Pretorius, Heilna du Plooy, Cilliers van den Berg?

Twee ander name wat ek moet noem, is dié van Hettie Scholtz en Kerneels Breytenbach. Scholtz was tot onlangs ongesteld, maar sy is weer in volle swang. Dit sal ‘n skande wees as haar groot ondervinding as resensent heeltemal verlore moet gaan. Breytenbach weer mors sy tyd deur net Engelse boeke te resenseer. Wat op aarde besiel iemand wat só lank naby die brandpunt van die Afrikaanse letterkunde gestaan het om nou niks daaroor te skryf nie? Afgelope naweek was hy weer in Rapport aan die gang oor ‘n speurverhaal van Robert Parker.

Dit is ‘n baie negatiewe sein wat ek van Breytenbach kry. As mens die reaksies van hierdie twee oud-uitgewers na hul aftrede vergelyk, dan is Scholtz s’n die een wat spreek van ‘n geloof in die Afrikaanse boek. Breytenbach blyk kop in een mus met Anastasia de Vries te wees. En waarskynlik met Rautenbach ook.

Nie goed genoeg nie, meneer.

***

Drie nuwe resensies van Afrikaanse boeke het die afgelope week op LitNet verskyn. Marisa Botha bespreek Vier begrafnisse en ‘n troue van Pat Stamatélos, Johan Anker het dit oor Abraham H. de Vries se Die behoue huis, en Zandra Bezuidenhout resenseer Tom Gouws se Ligloop.

Nie een van die drie boeke is vars van die pers nie. Daarvoor word vergoed deur die peil wat gehandhaaf word.

Van die drie het Bezuidenhut die meeste staat gemaak op die ruimte wat haar medium haar gun. Haar aanslag maak ook geen toegewings aan diegene wat van papier af die sprong na die kuberruim gemaak het nie.

As sy in ‘n koerant haar resensie begin het soos sy hom hier op die LitNet-webwerf begin, sou min mense verby die eerste paragraaf moed gehou het:

Wanneer ’n digter-denker soos Tom Gouws aan die woord is, kom lesers gou agter dat hulle inderwaarheid met ’n siener te make het. Sy blik op die synstoestand van die mens is uiteraard ryk, verwikkeld en gevarieerd, maar genadiglik ook verrassend helder.”

 

Ek het vasgebyt en die resensie deurgelees. Baie deeglik, en dank die vader, hier is iemand wat nie huiwer om ‘n eindoordeel uit te spreek nie.

 

Johan Anker toon die nodige respek vir De Vries. Hy bekyk feitlik elke unieke aspek van De Vries se werk.

Sy slot het my aandag getrek: “Vir De Vries-lesers én oningewydes ’n baie bruikbare en sinvolle versameling wat lesers heel moontlik sal inspireer om ook die volledige oorspronklike bundels (weer) te gaan lees.”

 

‘n Goeie idee, maar die oorspronklike bundels is nie te koop nie. ‘n Paar oproepe en ek kon vasstel dat meeste van De Vries se oeuvre uit druk is.

 

Kom ons wees positief: Is dit nie ‘n wonderlike geleentheid vir die uitgewer om AL Abraham H. de Vriese se kortverhaalbundels as e-boeke beskikbaar te maak nie?

 

Marise Botha se inleidende sin van haar bespreking van die Stamatélos-boek is een wat glinster met insinuasie: “Pat Stamatélos se Vier begrafnisse en ’n troue (2010) is ’n roman met kleurvolle karakters en satiriese dialoog.”

Let wel, Botha sê nie dis goed of sleg of vervelig of treffend of wat ookal nie. Sy sê dis ‘n roman, dit het kleurvolle karakters en dit het satiriese dialoog. Dis min of meer genoeg waarskuwing dat sy die boek te lig gaan bevind, en dan doen sy dit ook. Wat vir my die mooiste is, is die manier waarop sy opsommenderwys sê dat slegs bewonderaars en liefhebbers van verstrooiing-skryfwerk die boek moontlik sal geniet. Nie sal geniet nie, maar behoort te geniet. Miskien, maybe, whatever, nè?

***

Mens kan seker nie vir ewig kwaad bly vir Elmari Rautenbach nie, maar sy maak dit ook nie vir mens maklik nie.

Twee Afrikaanse boeke word vandeeweek op haar boekeblad geresenseer (Francois Loots se Die jakkalsdans en Hans Pietersen se Die vrese van ons vaders: Geloof, onderrig en die Afrikanerkind).

Laasgenoemde is geskryf deur George Claassen, wat kwalik beskou sal kan word as ‘n onbevooroordeelde waarnemer. Nietemin, Claassen se resensie dra gewig en ek sou gedink het dit behoort die hoofresensie op die blad te wees. Omdat dit ‘n Afrikaanse boek is.

Loots se boek word bespreek deur Nico Geldenhuys, ‘n regstudent. Hy is nie ‘n bedrewe resensent nie en bied vir ons die soort inligting aan wat net so goed deel van die uitgewer se reklamepamflet kon gewees het. In sy afsluiting poog hy krities te wees, maar dan gebruik hy een van die oudste clichés in die arsenaal van die beginner-resensent, dit regverdig ‘n tweede lees.

Komaan! Raak intellektueel met die boek slaags of laat iemand anders met minder afgryslike clichés in sy woordeskat dit resenseer.

Hoe kan ek só sê? Gaan kyk na Boeke24 se webwerf (www.beeld.com/Boeke). Dit kan gedoen word: Daar’s ‘n foto van die omslag van Zain Eckleton se Die rolbalspeler, met ‘n onderskrif, vermoedelik geskryf deur Rautenbach, waarin alles wat Geldenhuys met sy resensie probeer doen, bondiger en beter gedoen word.

***

Die hoofresensie op Rautenbach se boekeblad is deur Ben de Kock geskryf oor Andrew Lamprecht se Tretchikoff: The People’s Painter.

Ek sal die feit ignoreer dat dit ‘n Engelse boek is. De Kock se resensie is een van die beste boekbesprekings wat ek in baie jare in ‘n koerant gelees het. De Kock is nie vandag se kuiken nie, en nog minder laat hy hom vir die gek hou. Hy vra ‘n klompie geldige vrae (onder meer oor die feit dat die boek geborg is deur die Stad Kaapstad, maar steeds peperduur is) en dui ook op ‘n plek aan hoe onsinnig die siening oor Tretchikoff is van Riason Naidoo, huidige direkteur van die Iziki-Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad,

Baie lekker gelees hieraan.

My versoek aan Elmari Rautenbach dan: Kry nog sulke resensente. Roep die ou grotes weer op vir diens. En laat hulle Afrikaanse boeke resenseer.

Is dit werklik te veel gevra?

5 antwoorde op ‘n Somber dag

  1. Crito, baie lekker gelees aan jou skrywe hierbo! Van die grotes (soos jy hulle noem) wat hulle naam al op die blad sedert 1 Junie gehad het, was Thys Human, Andries Visagie, Louise Viljoen (nou op 8 Aug) en At van Wyk. Ek tel Michiel Heyns en Henning Pieterse ongetwyfeld hierby. Brink het ja gesê maar mooi gevra dat hy net eers werk afhandel waarvoor hy ‘n spertyd het. En hoekom kan mens nie nuwe stemme uitprobeer nie? Ek dink dis noodsaaklik, want as iemand soos Paul Cilliers nie meer daar is nie, moet daar ander wees wat sy plek kan inneem, nie waar nie?

  2. ctb het gesê op Augustus 2, 2011

    Ek is nog by NB-Uitgewers betrokke op ‘n manier wat die resenseer van hul Afrikaanse boeke totaal oneties vir my sou maak. Engels ook. Daarom verkies ek om slegs Engelse boeke uit die buiteland te resenseer. Buitendien sou dit vir my onmoontlik wees om nou skielik die boeke te moet resenseer van mense met wie ek deur die jare goed bevriend geraak het. En laastens is my eie skryfwerk in Afrikaans.

    Antwoord genoeg, Mevrou?

  3. crito het gesê op Augustus 2, 2011

    @Kerneels: Volgens my databasis het jy twee Afrikaanse boeke geresenseer: Wynand Coetzer se roman en I.L. de Villiers se outobiografie. Hoe klop dit?

  4. ctb het gesê op Augustus 2, 2011

    Inderdaad. Albei kort na my aftrede en albei met groot ongemak. Izak s’n veral omdat ek met te veel agtergrondkennis gesit het, baie daarvan uit sy eie mond. Dit is juis daardie resensies wat my laat besluit het om geen plaaslike boeke meer te bespreek nie. En ek hou daarby.

  5. dpainter het gesê op Augustus 5, 2011

    Crito skryf: “‘n Goeie idee, maar die oorspronklike bundels is nie te koop nie. ‘n Paar oproepe en ek kon vasstel dat meeste van De Vries se oeuvre uit druk is.”

    Inderdaad. Anders as Bob Dylan se CD’s, kan ‘n mens nie meer De Vries se bundels uit die 1960’s en 1970’s in die hande kry nie. Selfs nie eens uit die 1980’s nie (Idiote, Clown).

    Daarom ook dat dit jammer is, m.i., dat die latere bundels (wel nog beskikbaar) oorverteenwoordig is in hierdie versameling, ten koste van die ouer bundels.

    E-boeke? Goeie idee. Of ‘n Versamelde Verhale in een e-boek, en dan die Geselekteerde Verhale as ‘n gewone boek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.