Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Tweederangs

Julie 26, 2011 in Sonder kategorie

Vakansie is verby. Effens oorbluf, ek. Niks het verander nie. Wil terug na my eiland.

Rapport se boekeblad ploeter slordig voort. Boeke24 het na ‘n maand steeds nie tande gesny nie.

My vermoede: Die toekoms van Afrikaanse boekresensies lê nie op papier nie. Dis op die internet.

Gaan lees behoorlike boekresensies op die webwerwe van LitNet, SliP en Versindaba. Bietjie akademies, maar dáár. Die oomblik dat enige van dié drie webwerwe ‘n dapper boekredakteur kry, sal die finale spyker ingeslaan word.

Wat is verkeerd met die koerante se pogings? Vergeet van die interim. Kyk na vandeesweek se Rapport. Zelda Jongbloed bespreek Jeanne Els se boek oor selfmoord, As die stroom jou vat.

Haar uitgangspunt, lei ek af, is dat haar lesers nog nie die boek gelees het nie. Waarskynlik nooit sal nie. Daarom skryf sy ‘n soort artikel oor Jeanne Els se verhaal en bied dit aan as resensie. Die tipe artikel wat mens in Rapport of Huisgenoot sal verwag.

Zelda Jongbloed is sekerlik nie ‘n swak artikelskrywer nie. Dis net wesentlik oneerlik van Rapport en Jongbloed om voor te gee dat hulle hier ‘n boekresensie aanbied.

Jongbloed skryf eintlik net oor 57 van die boek se 159 bladsye. Sy vermeld in die verbygaan dat Els buiten haar eie geskiedenis ook drie ander persone s’n gee. Een daarvan nogal Steve Hofmeyr – maar Jongbloed verkies om sy naam te noem en sy verhaal te ignoreer. Sy sê dat daar na mense se reaksie op geliefdes se selfmoord gekyk word, uittreksels uit selfmoordbriewe aangehaal word, en dat daar ‘n bydrae is deur ‘n psigiater. Enigiemand wat die inhoudsopgaaf lees, sou hierdie inligting kon verstrek. Rapport se resensent raak nie slaags daarmee nie, takseer dit nie.

Jongbloed het nie die boek behoorlik gelees nie, dink ek. Sy het vergeet dat daar wel mense is wat boeke koop, dit lees, en dan eers die resensies lees. Dit het my ‘n middag geneem om die boek te lees. As Jongbloed die boek resenseer, en nie net een afdeling daarvan bondig opdollie nie, verwag ek dat sy ook ‘n middag daaraan afstaan.

Die noodwendige vraag is of koerantkopers vir lief moet neem met sulke tweederangse pogings.

Boeke24 het vir ‘n verandering drie resensies van Afrikaanse boeke. Die hoofresensie, oor Willem Krog se Jacobus, is geskryf deur die Geoffrey Howe van die Afrikaanse resensiewese, Stoffel Cilliers. Hy wil-wil opgewonde raak oor die boek, maar nee, hy kry dit net-net nie reg nie. Enigiemand wat ‘n resensie begin met “Dié roman sit jou aan die dink” het ‘n krêkker onder sy gadagte nodig.

Cilliers word aan weerskante ondersteun deur Lizette Rabe (oor Murray La Vita se Gesprekke met merkwaardige mense) en J.B. Roux (oor Chanette Paul se Dryfhout). Twee uiterstes.

Rabe se resensie is eksie-perfeksie. Dít is hoe dit gedoen kan word.

Roux s’n sê in agt paragrawe iets wat in twee afgehandel kon gewees het. Om een of ander vreemde rede word Roux dikwels as resensent van Chanette Paul se boeke ingespan, en hoewel ek nie met hom verskil oor dit wat hy van bv. Springgety, Fortuin of Boheem geskryf het nie, is ek verbaas dat die redakteur van Boeke24, Elmari Rautenbach, besluit het om soveel ruimte aan die boek af te staan. Roux resenseer tog volgens ‘n opdrag.

Hoekom dan nie ook dieselfde doen vir skrywers soos Alta Cloete, Esta Steyn of Annelize Morgan nie? Hoekom spanningsverhale voorkeur gee bo liefdesverhale? Of kinderboeke? Of nie-fiksie?

Maar die grootste teken dat Rautenbach nog sukkel om koers te kry, sien mens in haar besluit om ‘n groot ophef te maak van James Frey se The Final Testament of the Holy Bible.

Twee resensente: Jean Meiring en André Bartlett. Twee resensente met gesonde verstand, wat dan ook sonder omhaal van woorde uitkom by dieselfde slotsom as oorsese resensente: vervelig, teleurstellend. Implisiet gee albei te kenne presies wat die Guardian se resensent byvoorbeeld daarvan gesê het: “Shockingly bad”.

Rautenbach kon mos voorsien het wat haar resensente sou sê. As mens die regte boek kies, is dit ‘n goeie idee om op hierdie manier saam te praat met die groot gesprek. Nie hierdie keer nie.

Daardie ruimte kon aan Afrikaanse boeke afgestaan gewees het!

(En kan iemand nie asb die kopie vir die Afrikaanse webwerf proeflees nie? Wat beteken “Jesus as verslaafde en onbeskaamde seksu eel”?)