Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Kortliks

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Vandeesweek enkele kort aantekeninge by ‘n paar resensies. Dit lyk my die boekeblaaie se gedaanteverwisseling lê net om die draai.

Soeker, deur Pieter Cilliers.

Geresenseer deur Jaybee Roux in Volksblad.

In ‘n klein boekewêreld, soos dié van Afrikaans, is dit dikwels raadsaam dat skrywers nie geresenseer moet word deur iemand wat in dieselfde genre aktief is nie. Op ‘n omgekeerde manier bewys hierdie resensie hoe gepas daardie opvatting kan wees. Jaybee Roux se resensies oor liefdesverhale en ligte leesstof is van wisselende peil. Met hierdie resensie oor ‘n boek ligjare verwyder van fiksie lewer Roux waarskynlik van sy beste werk nog op die gebied van boekekritiek: reguit, op die punt af. Sy oordeel is negatief, maar hy lewer ‘n verantwoorde argument om sy oordeel te steun. Skitterend!

Ek leef van vrugte – vandag, deur Essie Honiball.

Geresenseer deur Bibi Slippers op LitNet.

Resensente op LitNet ken geen ruimtebeperkings nie. Hul enigste beperking is hul vindingrykheid, of liewer, gebrek daaraan. Bibi Slippers het geen gebrek daaraan nie. Hierdie resensie is sowel persoonlike verslag as bespreking van die boek wat haar persoonlike verslag ontlok. Plus voetnote. Dit is só knap gedoen dat mens wens koerantlesers kan dit ook onder oë kry. Daar is seker min gesondheidsbewuste Afrikaanse lesers wat nie al ten minste een keer deur Essie Honiball se boek geblaai het nie. En vir diegene, soos die uwe, wat haar dieet al aangedurf het, sal Bibi Slippers se resensie soos ‘n nugtere stem van ewige waarheid kom.

Wanneer die koedoehoring draai, deur Charlotte de Beer.

Geresenseer deur Pieter Strauss in Rapport.

Bespeur ek huiwering by Strauss? Hy opper ‘n klompie besware wat onder normale omstandighede genoeg sou wees om enige boek te sink: verwarrende vertellersperspektief, die styl wat nie konsekwent gehandhaaf word nie, die teleskopering van Griekwa-Afrikaans tot 88 terme wat oor en oor gebruik word. En dan beveel hy hierdie boek aan vir liefdesverhaal-liefhebbers en mense wat belang stel in Griekwa-kultuur. Is Strauss nie seker van sy saak nie, of dink hy liefdesverhaal-lesers en liefhebers van Griekwa-kultuur is nie so kieskeurig dat vrot redigering hulle sal pla nie?

Op ‘n galop na Buckingham-paleis, deur Naas Steenkamp.

Geresenseer deur Nico Geldenhuys in Beeld.

Naas Steenkamp is iemand, lees ons in André P. Brink se Vurk in die pad, wat al met ‘n omweg ‘n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het. Dat hy nou self begin skryf oor sy “lewe en ‘n half”, soos Nico Geldenhuys dit stel, is sekerlik te verwelkom. Die probleem vir my is net dat Geldenhuys sy taak as resensent té goed verrig het. Ek het die boek gelees nadat ek Steenkamp by die Stellenbosse bekendstelling van die boek ontmoet het, en weet van die verbluffende geskiedenis saam met dr. H.F. Verwoerd waaroor Steenkamp verslag doen in die boek. Geldenhuys beskerm die geheimenisse van die boek, maar hy kon ‘n aks meer vertel het van Verwoerd en hy sou die koerantlesers na die boekwinkels laat stroom het. Ja, ja, ek weet dis nie die resensent se taak nie.

Met koffer en kaart, deur Helene Gunter.

Geresenseer deur Willie Burger in Die Burger.

Dit is ‘n interessante analise wat Willie Burger maak van Met koffer en kaart – ‘n omvangryke bundel kortverhale wat in die laaste instansie een groot gebrek het, naamlik dat dit bly vassteek “in ‘n klein realisme”. Mense se ongemak eskaleer nooit tot onthutsing nie – ‘n beskrywing wat mens baie laat dink aan die soort dinge waarteen die Nederlandse Tagtigers gerebeleer het. Dalk net die soort resensie wat Gunster nodig gehad het?

Profile photo of crito

by crito

Al argumenterend

Mei 23, 2011 in Sonder kategorie

Ons beleef die laaste dae van die ou afsonderlike boekeblaaie by die Afrikaanse koerante. ‘n Klomp resensies, en waaragtig net een wat stimulerend genoeg is om ‘n mens te laat nadink.

Dis Joan Hambidge se bespreking van Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies van Jonathan Jansen (Rapport).

Voordat enigiemand dink dis ‘n goeie resensie, laat ek kwalifiseer. Dis net ten dele. Maar sy raak genoeg dinge aan om mens ná die lees daarvan te laat voel sy het nuwe insigte by jou gewek.

Haar vertrekpunt is dat die bundeling van rubrieke altyd die risiko loop dat die rubrieke nie die gebondenheid aan tyd en konteks kan ontsnap nie. Ons moet self besluit of Jonathan Jansen se rubrieke bokdrol of rosyn is, sê sy. Baie sal daarvan afhang of jy as leser die persona van die skrywer aantreklik vind of nie.

Lyk my sy het nie. Sy vind te veel dinge wat debateerbaar is. Sommige van sy uitlatings is oop vir debat, meen sy. Soms klink Jansen selfkoesterend (ja, daardie ene het my lekker laat lag) ander kere selfkomplimenterend. Maar omdat dit vrae wek en mens kanttekeninge laat maak, besluit sy ten slotte, is Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies aan te beveel.

Aan die een kant hou ek van die manier waarop Hambidge hierdie keer al argumenterend ‘n bespreking aangepak en deurgevoer het. Ek stem nie altyd met haar saam nie, maar dit ís knap gedoen. (Miskien moet sy meer oor hierdie soort boeke skryf?)

Sy slaag beslis ook daarin om jou op elke punt wat sy maak, te dwing om self aan die argument deel te neem. Na my mening het sy een saak heeltemal uit die oog verloor – en as sy dit in aanmerking geneem het, sou sy moontlik anders op Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies gereageer het. 

 

Dié saak is dat Jonathan Jansen die enigste rektor of prinsipaal van ‘n Suid-Afrikaanse universiteit is wat die moed het om sy ervaring van die transformasie-proses soos dit die afgelope dekade en meer aan ons tersiêre inrigtings ontplooi het, op gereelde basis met die publiek te deel.

Dit is die heel eerste keer dat ‘n universiteitshoof só openhartig is oor die uitdagings wat hom in die gesig staar, en hoe hy daarop reageer. Hier op ons dorpie het ons van Quintie Thom se dae af nou en dan amptelike mededelings gekry, en meer onlangs moes Chris Brink en Russel Botman na vore kom en reageer op issues. In vergelyking met Jonathan Jansen is hulle swak kommunikeerders oor die binnewerkinge van ‘n universiteit. Cheryl de la Rey is, nes haar voorgangers by Tukkies, van Flip Smit tot Calie Pistorius, nie juis iemand wat soos Jansen in die openbaar opstaan om getel te word nie. Trouens, daar was ook nie voorheen by die UV só ‘n tradisie nie, en ook nie op Potchefstroom nie.

Dít is wat Oor Bokdrolletjies en Rosyntjies uniek maak. Jansen wil aan ander maatstawwe as sy voorgangers en konkurente gemeet word. Die feit dat hy hom oor die Universiteit van Kaapstad en die Noordwes-Universiteit uitgespreek het, beduie dadelik dat Jansen besig is met die vestiging van ‘n nuwe tradisie.

Dit sal Jansen se konkurente moontlik betaam om hulle ook tot Facebook te wend!

Uit hierdie hoek beskou is enige selfkoestering deur Jansen aanvaarbaar, en as daar mense is wat meen hy het té ‘n groot ego, sal ek graag wil weet hoekom hulle só dink. Mense met brose egotjies deug nie in die soort leiersposisie waarin Jansen homself bevind nie.

Ook verskil ek met Hambidge oor haar opvatting dat hierdie bundel té tyd- en konteksgebonde is. Jansen kan nie anders as tyd- en konteksgebonde wees nie, anders was sy rubrieke nie ‘n rekord van transformasie nie. As hy oor tydlose opvoedkundige onderwerpe wou geskryf het, sou dit nie in koerantrubrieke gewees het nie.

Wat dan wel uiteindelik waar is, is Hambidge se slotopmerking.

Profile photo of crito

by crito

Geen rede vir sinisme nie

Mei 16, 2011 in Sonder kategorie

Sinisme. Die domein van hulle wat blomme ruik en dadelik begin kyk waar die doodskis staan.

P.J. Haasbroek is ‘n afgetrede ekonoom. Mens kan verstaan dat hy die lewe en die wêreld met ‘n mate van eerlike sinisme sal beskou. Ekonome is nie juis daarvoor bekend dat hulle Master Kuthumi en Michelle Eloff saam met Adam Smith aanhaal nie.

Maar hy is oopkop. Haasbroek se resensie in Beeld van Agter die somber gordyn, Johannes Bertus de Villiers se boek oor spiritisme, is een van daardie plesiere wat mens heeltemal té min in die Afrikaanse dagblaaie vind.

Haasbroek soek nie moeilikheid nie. Hy het sekerlik al gelees van die heks van Endor en weet dat mens net bonatuurlike dinge koggel uit suiwer onnoselheid. As C. Louis Leipoldt in hoogduits met ‘n gees kon praat, en Siener van Rensburg het die Boere-generaals De la Rey en De Wet met raad uit die boweryk kon bystaan, dan moet mens ernstig wees daaroor.

Sy probleem is net dat mense nie kan verduidelik hoe die dinge werk nie.

En in die proses maak hy mens nuuskierig.

Hy ken die kuns. Resensies moet prikkel, nie die inhoud van die boek parafraseer nie. Na dese wil ek alles weet van Dirk Opperman, Evert Kleynhans, Thys Sadie, Helene Rabie en Bernard Laubscher. En ek wil weet, danksy Haasbroek se manier van resenseer, wat die rede is hoekom spoke skielik so min geword het na die vyftigs.

Skynbaar die drie Afrikaanse susterskerke se skuld. Nou kan mens seker sê dat die broeders dominees net hul werk gedoen het en Satan verdryf het. Haasbroek laat egter deurskemer, in sy reaksie op De Villiers se boek, dat die Afrikaner ‘n goeie sintuig het vir die bonatuurlike en dat as mens nie spiritisme met Satan verbind, soos die kerke gedoen het nie, dan is daar groot interessanthede waar te neem.

Met ‘n tong iewers in die omstreke van sy kieste verduidelik Haasbroek hoekom sommige sessies met die bonatuurlike eintlik niks minder is nie as ‘n gekskeerdery met die deelnemers se kwesbaarhede en liggelowigheid.

Daarteenoor moet hy besluit dat parapsigologiese verskynsels moontlik is, net jammer dat niemand kan verduidelik hoe en hoekom nie.

Ek swig voor sulke resensies. En met al die gedoe or 21 Desember 2012, is dit miskien net die tyd om ‘n boek soos De Villiers s’n in die hand te neem.

Sinisme kan ook die lot van die resensie-leser wees. Susanne Harper se bespreking van Hoogty (deur E. Kotze) op dieselfde boekeblad het my ‘n paar keer woes laat regop sit.

As ek ‘n opskrif lees soos die een wat by hierdie resensie gestaan het, wil ek ‘n poltergeist loslaat op die resensent: “Weskus-liefdesverhaal ideale geskenk vir ma of ouma”. Dit is ‘n raps minder erg as die slotsin van die resensie wat daartoe aanleiding gegee het: “Dalk ’n ideale geskenk vir ’n ma, ouma of geliefde tante.”

 

So wragtag!

 

Mens wil uitroep: Wie sê só?

 

En sommer ook bulder: En wat van pa, oupa of ‘n geliefde oompie?

 

Dit is ‘n onsinnige opmerking om te maak. Kotze se manlike lesers kan tereg beswaar maak teen Harper se seksistiese wegkeer van manlike lesers.

 

Harper het boonop die manier om soms iets met groot stelligheid te beweer sonder om behoorlike bewyse te lewer vir dit wat sy sê.

 

Kyk hierna: “Die heldin stem in baie opsigte ooreen met die skrywer en haar eie ervaringe as kind en jong meisie toe sy in ’n vissersgemeenskappie gewoon het.??Die manshoofkarakter, Auret Nagel, stem weer baie ooreen met die skrywer se eie, geliefde eggenoot.”

 

Op grond waarvan sê Harper dit? Bewys dit, asb.

 

Ook sou ek wil hê dat sy die volgende moet verduidelik: “Lesers met ’n geïdealiseerde weemoed oor hierdie tyd sal die boek baie geniet.” Idealiseer hulle die weemoed, of idealiseer hulle die verbygegane era?

 

Swak, Piketberg!

Profile photo of crito

by crito

Geloofsake

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

Watter boeke verkoop die beste in Afrikaans?

Hang af na wie mens luister. Verlede week vertel ‘n boekhandelaar van Menlyn my dit is godsdienstige boeke. ‘n Verskynsel wat sy “Inspirationals” noem.

En die swakste, wou ek weet.

Digbundels.

Behalwe, vertel sy, as mens die slag iemand kry wat geloofsverse maak. Nie ernstige digkuns nie, maar digkuns wat gelowiges kan verstaan. Ideale geskenkboeke.

Sou dinge anders wees elders in die land? Ek twyfel.

Ek noem hierdie saak omdat dit my afgelope Sondag, toe ek Rapport Boeke oopslaan en Chris Jones se resensie van Om te mag twyfel: ‘n Gelowige se reis deur Julian Müller lees, dadelik laat dink het aan hoe min resensies van boeke met ‘n godsdienstige tema daar op die Afrikaanse boekeblaaie is.

En hoe verskriklik baie resensies van digbundels.

Is die boekeblaaie besig met ‘n dapper stryd om digbundels te red? Skenk hulle so min aandag aan godsdienstige boeke omdat hulle dink daardie boeke het nie reklamehulp nodig nie?

Toemaar, dis retoriese vrae. As mens hulle gaan probeer beantwoord, kom jy dalk agter wat agter die samesmelting van boekeblaaie lê.

Terug by Jones se resensie. Mens hoef nie ‘n skerpsinnige leser te wees om te besef dat ‘n geweldige stryd en spanning agter die boek lê, en dat die resensent self op eiers loop nie. Julian Müller het gevestigde kerkbelange ‘n bietjie laat wankel deur hul dogma-onderbou te skud.

‘n Mens kan moedswillig wees en sê dat ‘n kerk wat só ‘n kritiese benadering as bedreiging beskou in elk geval wankelmoedig is. Chris Jones beweeg katvoet daaromheen met taalgebruik wat distansie tussen hom en Müller plaas: “Twyfel word positief gehanteer …” ‘n Bietjie later twyfel hy oor die “certainties” wat Müller vind.

Maar net wanneer mens begin dink Jones se afstand is oordadig, doen hy die onverwagte. Hy haal ‘n klomp kwessies by wyse van vrae op – en omdat dit nie duidelik is of dié vrae van Müller afkomstig is of van homself nie, moet ‘n mens aanneem dat die resensent hom volkome met die skrywer se standpunte vereenselwig.

Jones analiseer daarna die huidige situasie (“In die tyd waarin ons leef …”, “Die Afrikaanse teologie staan voor ‘n groot uitdaging …”). Is hy nog besig om Müller se woorde te parafraseer of neem hy weer afstand ten einde die resensie met ‘n beoordeling te kan afsluit? Dis nie duidelik nie, en daarom bewonder ek Jones vir die vernuf waarmee hy die bespreking tot sluiting bring.

By die herlees van die resensie val dit my op hoe argumenterend dit is, hoe netjies die oorgange tussen paragrawe, en hoe deeglik die resensent probeer het om nie bo die vuurmaakplekke van gewone koerantlesers te skryf nie – en nogtans nie gedaal het tot die vlak van teologiese babataal nie.

Dit wil gedoen wees!

Dieselfde kan gesê word van Helize van Vuuren se resensie van Die beginsel van stof, Breyten Breytenbach se nuwe digbundel (LitNet). ‘n Siniese persoon sal moontlik sê dat mens net substansieel kan reageer op ‘n digbundel wat self iets om die lyf het, maar Van Vuuren se bespreking vind ek so bevredigend omdat sy die dinge raaksien wat ander resensente raaksien, en dan nog soveel meer.

Haar opmerkings oor Breytenbach se “gesprek” met sy voorgangers in ander tale is reeds genoeg om heelwat proefskrifte te lanseer.

Wat ek nou graag sal wil weet (en ek noem dit omdat ek weet daar is geen antwoord op hierdie vraag nie) is hoeveel mense Van Vuuren se resensie gelees het en hoeveel Jones s’n.

Profile photo of crito

by crito

Is ons agter of nie?

Mei 3, 2011 in Sonder kategorie

Perspektief, alles net ‘n kwessie van perspektief.

Nico Geldenhuys haal in sy resensie van Murray La Vita se Gesprekke met merkwaardige mense (Beeld) vir Antjie Krog aan. Krog was pas terug van ‘n sabbatsjaar in Duitsland toe sy die onderhoud aan La Vita toegestaan het, en uiters geskok oor die debatte wat indertyd in Suid-Afrikaanse koerante gewoed het.

Ná die lees van Goethe se Faust, ‘n agttiende-eeuse publikasie waarin die Bose sentraal staan (om dit baie eenvoudig te stel), het Krog gesteier toe sy sien Afrikaners is nog vasgevang in debatte oor evolusie.

Geldenhuys herlei hierdie reaksie na deurlopende tema’s in La Vita se onderhoude. Uiteindelik lei dit tot die vraag wat Afrikaner-intelligentia hulself gereeld afvra: Is ons besig om agter te raak?

Dis hier waar perspektief inkom. Was ons nie maar altyd agter nie? Of is “agter” ‘n ongeldige maatstaf? Is debatte oor evolusie nie dalk die meeste waarvoor die gemiddelde Afrikaner se skool- en/of universiteitsopvoeding hom toerus nie?

Twee gedagtes: D.F. Malan het teologie aan die Universiteit van Stellenbosch bestudeer. H.F. Verwoerd het as teologiese student aan dieselfde universiteit begin, en later oorgeslaan na sielkunde en filosofie.

Albei moes met ten minste die werk van David Hume slaags geraak het tydens hul studies. Iewers moes hulle in hul studies die groot vraagstukke van moraliteit aangespreek het. Hulle moes ‘n ander blik op moraliteit gekry het as wat die gemiddelde ondersteuner van die Nasionale Party gehad het.

Maar kyk op watter koers het hulle die Afrikaner gelei!

Die skryf van profiele ‘n vaardigheid is waaroor nie alle joernaliste beskik nie, sê Geldenhuys. Hy analiseer die vereistes vir ‘n profielskrywer: die vermoë om die regte vrae te vra, wye agtergrondkennis én algemene kennis, die moed om moeilike vrae maklik te vra, en groot emosionele intelligensie.

La Vita, sê hy, het al hierdie hoedanighede in oorvloed.

Ek het Geldenhuys se analise van La Vita se versameling onderhoude ook redelik subtiel gevind. Geldenhuys verval nie in jargon nie, en pak die raamwerk van La Vita se profiele netjies uit: Dit is gesprekke met mense binne ‘n kulturele verband. En kultuur moet mens, ofskoon Geldenhuys dit nie uitspel nie, uiteindelik herlei na intelligentia, hulle wat nadink.

Hoe hulle nadink, of gewoon dink – dít is wat La Vita uit sy onderhoude haal. Daardie private gedagtes wat op waardige manier openbare besit word danksy die onderhoude.

Uit die oogpunt van die resensie-leser is daar ‘n ander soort vernuf wat Geldenhuys hier pragtig benut. Hy konstrueer sy resensie op só ‘n manier dat hy eintlik ‘n argument begin voer met die vertrekpunt van die resensie, naamlik dat die Afrikaner agterraak.

Die resensies dien dan as die volledige argumentasie, en Geldenhuys se besluit, ná die lees van Gesprekke met merkwaardige mense, is dat die Afrikaner se kultuur ryker is as wat ons dink. ‘n Mens voel geneig om met hom saam te stem, al dwaal Malan en Verwoerd so irriterend in jou gedagtes.