Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Profile photo of crito

by crito

‘n Hoender van ‘n ander veer

April 19, 2011 in Sonder kategorie

Groot soos die versoeking ook mag wees, kan ek nie ‘n hele blog afstaan aan die enigmatiese Hannelore F. Bekokstoker wat pasende naweek in BY soveel pret gemaak het met ‘n resep vir ‘n hoendergereg nie. Ek weet, ek weet, daar is mense wat sê hulle verstaan dit nie. Dis seker dieselfde mense wat nie Die raklewe van Anastasia W verstaan het nie. Maar dit gaan ons nie aan nie.

Wat wel genoem kan word, is dat Hannelore se missief, so pragtig gerig aan “Meneer die Koerantbaas”, oor maniere waarop geld ingesamel kan word om die boekredakteur-dilemma te bowe te kom, en dan nog wat, so ‘n bietjie deur tyd ingehaal is.

Die “Meneer die Koerantbaas” kan mens seker identifiseer as mnr. Francois Groepe, hoof van Media24 toe die besluit geneem is om die oggendblaaie se boekeblaaie onder een redakteur te plaas. Ongelukkig vir Hannelore hoor die goegemeente toe pas die dag voor BY se verskyning dat mnr. Groepe hom tot die opvoedkundige uitgewerswese wend, en dat sy plek as hoof van Media24 gevul word deur me. Esmaré Weideman.

Me. Weideman is seker die beste bekend vir haar onderonsies, in haar hoedanigheid as redakteur van Huisgenoot, met sangers met uiteenlopende agtergronde, Steve Hofmeyr en Jurie Els. Met haar as vaandeldraer het Huisgenoot Skouspel die Afrikaner se eie Bayreuth geword.

Wat nie oral in die boekbedryf bekend is nie, soos Charles Malan onlangs uitgevind het, is dat Huisgenoot ook die tuiste is van ‘n besonder goeie boekebylaag. Hierdie bylaag het tot stand gekom onder die wakende oog van me. Weideman, en met me. Elna van der Merwe as redakteur.

Danksy dié bylaag kan Huisgenoot daarop aanspraak maak dat van alle Afrikaanse boekeblaaie hulle die wydste Afrikaanse leespubliek bedien.

Me. Weideman voel waarskynlik heelwat anders as mnr. Groepe oor boekeblaaie en die redakteurs daarvan. Boonop is die redakteur van die nuwe eenvormige boekeblad me. Elmari Rautenbach, met wie me. Weideman baie nou saamgewerk het die afgelope jare.

Hier is ‘n ander hegemonie aan die kom, broers, dit moet julle weet!

Maar terug na Huisgenoot se boekebylaag. Die vernaamste rede hoekom dit tot my spreek, is omdat dit die beste voorbeeld bevat van skryfstyl wat gerig is op die publikasie se lesers. Ek het al in die verlede hieroor gesanik: Boekeredakteurs dra nie genoeg sorg dat hul resensente op ‘n manier skryf wat sal inpas by die koerant se algemene aanbod nie.

In Huisgenoot se boekebylaag kan mens sien hoe dit gedoen kan word sonder dat daar ‘n verlies aan substansie is. Al Hannelore se trilletjies sal hierdie resensies kan lees en verryk weggaan.

In die jongste uitgawe plaas me. Van der Merwe agt boekresensies. Ronel Scheffer bespreek Welma Odendaal se Vreemdeling, Jacolette Kloppers skryf oor Esta Steyn se Droomdelwers, Edna Isaacs skryf oor Die mooiste sprokies van Grimm, Willem Möller bespreek Jonny Seinberg se Little Liberia, Pieter van Zyl het dit oor Hanlie Retief gesels met, Glynis O’Hara skryf oor Alexander McCall-Smith se The Saturday Big Tent Wedding Party, Marelize Barnard bespreek Truida Heymann se Reis na binne en Sophie Wilhelm resenseer The Needlecraft Book.

My eerste reaksie is dat daar nog te veel Engelse publikasies is, waarvan een geen konneksie met Suid-Afrika het nie. Maar die resensies van Afrikaanse boeke is werklik vernuftig hanteer. Nie een van die resensente se name lui by my klokkies nie, maar hul besprekings vergelyk goed met dié wat in die oggendkoerante verskyn het.

Die rede hiervoor lê sekerlik by die publikasie en die formaat: die resensies moet bondig wees, en dadelik by die punt kom. Die resensente het nie die luukse van hul koerant-eweknieë nie, hulle kan nie ‘n lang, literêr verantwoorde aanloop neem en uiteindelik vergeet om te sê of hulle dink die boek is goed of swak nie.

Mens kan sekerlik hiervan aflei dat Me. Van der Merwe as redakteur meer as die oggendkoerante se boekeredakteurs ingryp om die materiaal te skaaf en te slyp tot Huisgenoot-styl, sou die resensente nie uit die staanspoor self aan haar eise voldoen nie. Sy verdien ‘n klop op die skouer vir dít wat sy hier vermag het.

Dié benadering het ongelukkig wel ‘n negatiewe sy – in die nuutste nommer is geen indringende, negatiewe resensies nie. Ek sal graag wil vasstel of dit ‘n deurlopende tendens is. ‘n Boekebylaag met net positiewe resensies gaan nie lank interessant bly nie.

Die goeie hand van die subredakteur is elders in die bylaag op te merk. Die onderhoude met skrywers (Helena Gunter en Helene de Kock) is insiggewend, subtantief en gekonsentreerd, terwyl die bladsye wat op voorgeskrewe literêre werke konsentreer, van baie hoë gehalte is.

As daar hoegenaamd van van ‘n grootste gemene deler sprake is in hierdie bylaag se benadering tot boeke, sê dit eintlik omgekeerd heelwat van die lesers se peil. Hannelore se nagmerrie waarin elke moontlike bevolkingsubkultuur sy eie hyglektuur kry, is nog nie naby aan ‘n werklikheid nie.

Nou kan mens net hoop dat Huisgenoot ‘n weeklikse verskynsel van die boekebylaag maak. Ons perde en ons leghorns kan mos nou kekkel en galop.

Profile photo of crito

by crito

Goggas en ander dinge

April 12, 2011 in Sonder kategorie

By gebrek aan ‘n fassinerende resensie wat vandeesweek bo die ander uitstaan, ‘n paar kort opmerkings:

Goggagids, deur Erik Holm en Ansie Dippenaar-Schoeman (geresenseer deur Neels Jackson, Beeld)

Een baie interessante opmerking oor die menslike liggaam wat gasheer speel vir ‘n groot aantal myte. Sou ‘n baie boeiender resensie gewees het as Jackson vertel het wáár en wat hulle op ons lywe doen.

Visums by verstek, deur Joan Hambidge (geresenseer deur Neil Cochrane, Die Burger)

n Pragtige ontleding van hierdie bloemlesing. Ek wens net Cochrane wil die verskil tussen “weens” en “danksy” insien. Sien sy opmerking oor Hambidge se gedigte oor New York. Kan emosionale skerpte en strenger dissipline ‘n negatiewe oorsaak wees hoekom sekere gedigte as die beste in hierdie versameling beskou moet word? 

Wat die oog gesien het, deur Christine Barkhuizen-le Roux (geresenseer deur Erika de Beer, Beeld)

Die vraag wat by ‘n mens opkom wanneer jy ‘n resensie soos hierdie lees, is hoe ‘n bundel met soveel gebreke as wat De Beer identifiseer by publikasie uitgekom het. Word manuskripte nie meer gekeur nie?

Toorwoorde roep my, deur Valiant Swart (geresenseer deur Andries Bezuidenhout)

Bezuidenhout haal Danie Marais goedkeurend aan oor Valiant Swart se lirieke wat goed genoeg is om in die Groot Verseboek opgeneem te word. Mens sou graag dié oordeel aan meer wil takseer as die enekele stukkies lirieke wat hy aanhaal. Mens aanvaar Marais en Bezuidenhout se oordele, maar jy wil darem ook stawende getuienis sien.

Biografie van ‘n bende, deur Annie Klopper (geresenseer deur Pieter Bezuidenhout)

Groot pret om hierdie resensie te vergelyk met dié oor Valiant Swart se boek. Andries Bezuidenhout soek na substansie en gehalte in lirieke, terwyl Redelinghuys vir Fokkofpolisiekar eerder as kulturele en vermaak-fenomeen beskou. Sy resensie konsentreer dan ook meer op die manier waarop Klopper se boek die groep se lede by hul bewonderaars uitbring. Krediet word aan een van die groep se lede, Wynand Myburgh, gegee vir sy bemarkingsvernuf – ongelukkig sê Redelinghuys nie of die boek ook verklap of die groep ‘n eie Svengali het nie.

Profile photo of crito

by crito

Gesogte onderskeiding

April 5, 2011 in Sonder kategorie

Vra Desmond Painter: “’n Gesogte vergelyking?”

Hy verwys na die openingskoot in sy resensie van Abraham H. de Vries se Die behoue huis. Dit lui: “Abraham H. de Vries is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde.”

Natuurlik is dit nie gesog nie.

Dit is tog welbekend dat die hoogste vorm van literêre kanonisering dié een is waarin ‘n skrywer met Bob Dylan vergelyk word. Abraham H. de Vries het gewis Maandagoggend sy Burger oopgeslaan en dadelik om die kombuistafel gewals.

Sy drome is bewaarheid. Almal weet dit nou. Hy is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde. Niemand gaan daardie onderskeiding van hom kan weg neem nie.

Dit sit nie in almal se broeke om gunstig vergelyk te word met Bob Dylan nie. Die man wat as folk-sanger begin het, ‘n bietjie dagga gerook het en toe begin eksperimenteer het met elektriese begeleiding vir lirieke wat skielik effe surrealisties was. Daarna het hy van motorfietse afgeval, getrou, kinders gekry, kokaïen gesnuif en opgehou kokaïen snuif, die Christelike God gevind en Hom weer verloor toe hy die Joodse God teruggekry het. En toe op sy nimmereindigende konsertreis vertrek het, en in sy sestigs skielik weer ordentlike musiek begin maak. Met ‘n sterk klap van die blues weg. Intussen bietjie tussen vrouens rondgeval, maar steeds was liefde en hyself sy groot onderwerpe.

Watter skrywer sal nie met só ‘n mens vergelyk wil word nie?

Kyk, Desmond Painter se argument is miskien plek-plek nerfdun. Hy ken nie sy Dylan nie, om mee te begin. Ek moes nou amper twee dae spandeer aan die bespreek van Painter se resensie met mense wat hul Dylan goed ken. En aldrie van hulle sê vir my (‘n Dylan-ongeletterde) dat Painter ‘n baie lang kans vat as hy sê Bob Dylan het ná sy skeibrekery in die jare sestig “voortdurend enige trefseker onderskeid tussen folk en rock, of tussen tradisie en modernisme” ondermyn. Ek moet Painter net herinner aan Infidels en Empire Burlesque, sê hulle. Om net twee albums te noem. Daar’s glo heelwat meer vrottes, en baie wat absoluut niks en niemand ondermyn nie.

Maar om terug te kom na Abraham H. de Vries. Painter se analise van sy ontwikkeling as skrywer, en die goeie hoedanighede van sy kortkuns, is werklik goed. Min mense sal kan verbeter op die volgende: “Sy ernstige verhale word veral gekenmerk deur selfbewuste narratiewe eksperimente, metaforiese gelaagdheid, metonimiese verglydings, verwikkelde verstrengelings van werklikheid en fiksie, en elemente van fantastie.”

Boonop is Painter se agting vir De Vries se “ligter” vertellings baie gepas, want ook daarin sien mens ‘n literêre meester aan die werk. Volgens my bronne sou mens selfs sover kan gaan as om te sê die ligter verhale is De Vries se eie New Morning of John Wesley Harding. Terwyl “Siënese dagboek” sy “Simple twist of fate” is.

Die konserwatiewes onder ons sal seker sê Desmond Painter se opmerking is vergesog. Ek sê: dink weer!

Voorverlede jaar, tydens die Woordfees op Stellenbosch, was daar Afrikaanse literatore wat van die verhoë af verklaar het dat De Vries baie sterk aan die deur klop vir die Hertzogprys. De Vries het nou al sedert Die uur van die idiote nie ‘n enkele bundel kortverhale gepubliseer wat swak was nie. Sy peil is internasionaal mededingend.

Noudat ons weet hy is die Bob Dylan van die Afrikaanse letterkunde, maak dit nie meer saak nie. Die Hertzogprys maak nie meer saak nie. Wat het daai Hertzog-ou in elk geval gesing wat enigiemand buite sy vriendekring kan onthou?