Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Godsdiens en seksualiteit

Maart 29, 2011 in Sonder kategorie

Godsdiens is nie iets waarmee ek ‘n probleem het nie. Ek is gelukkig in my geloof. Boonop is ek gevestig in my seksuele uitlewing. Die ideale lewe sou een wees waar almal soos ek voel. Dan kan ons rustig, soos volwassenes betaam, met mekaar sit en oor godsdiens en seksualiteit gesels.

Maar die ideale lewe is ‘n droom.

In ‘n droomwêreld sou dit nie nodig gewees het vir boeke soos die Gaums se Praat verby grense om geskryf te word nie. Dit sou nie vir Pieter Cilliers nodig gewees het om ‘n Kas is vir klere op te volg met Soeker nie.

Die kern van die saak is dié van blinde vooroordeel teen gays by ‘n groot deel van die kerkgemeenskap. Ondanks die moed wat gays geskep het uit die publikasie van ‘n Kas is vir klere destyds, en die werk van Koos Prinsloo voor hom, veral Die hemel help ons, het daar wesentlik nie veel verander nie.

In Suid-Afrika is die grondwet nog aan die gays se kant, as mens dit só kan stel. Kyk jy na wat in die praktyk gebeur, veral met die bykomende vooroordeel teen gays uit groot dele van die swart gemeenskap, is dit duidelik dat die stryd op alle fronte beslis nie gewone is nie.

André Bartlett se resensie van Soeker in Beeld is ‘n baie mooi, begrypende en vir my oortuigende bespreking. Tog voel ek ook dat hy nie die regte argument uitlig nie.

Hoe so?

Soos Bartlett in sy resensie opmerk, is Cilliers nie daarvan oortuig dat al die prosesse en gespreke wat in die vaarwater van ‘n Kas is vir klere gekom het, op die lange duur veel opgelewer het nie. Die kerklike pastoraat is steeds daarop gerig om die gay te verander, en sekere kerkbesluite oor die hantering van gays in gemeentes is lafhartig.

Die vraag is dan mos of Soeker, wat ‘n bygewerkte heruitgawe van ‘n Kas is vir klere is, nie ook in ‘n groot mate tydmors gaan wees nie. Vir sommige lesers sal dit, soos Bartlett ook sê, die bevrydende waarheid oopvlek. Diegene wat die eerste uitgawe gelees het, sal weer gekonfronteer word met “die kompleksiteit van die proses om diepgesetelde oortuigings en vooroordele te verander”.

Bartlett, wat leraar van die NG kerk se Aasvoëlkop-gemeente is, sê hiervan dat daar heelwat getuienis is wat op die teendeel van Cilliers se negatiewe opvattings dui. Dit is duidelik dat Bartlett begrip het vir Cilliers se dilemma en hom sonder enige vooroordeel aanvaar – maar vir elke André Bartlett is daar iemand wat Levitikus plunder vir Bybelse verdoemensgronde teen gays.

Dit is egter vir my nie die argument wat Praat verby grense, ‘n Kas is vir klere en Soektog onderlê nie. Waaroor dit vir my gaan, is die behoefte van gelowiges om deur hul mede-gelowiges gerespekteer te word. Seksualiteit en geloof is die aanvaarde gegewes. Daar kan ander wees ook: misdaad, politiek, ras.

Die denkfout wat in hierdie proses begaan word, is dié dat die gevestigde kerke die enigste verband is waarbinne ‘n mens jou geloof kan uitlewe.

Mense met vooroordele sal altyd met ons wees, nes die onnoseles. Terblanche Jordaan het al gewys hoe dit moontlik is om die gevestigde kerkverband te verlaat en ‘n gemeente van enersgelowiges te vind. Die mense met vooroordeel agter te laat, te vergeet van hulle.

Is dit nie tyd vir mense soos Pieter Cilliers om die proses op sy kop te keer nie? Om te vergeet van ‘n sendingpligtigheid jeens mense met vooroordele? In plaas van boeke te skryf oor die verwerping wat hy ervaar het, ‘n boek te skryf of ‘n proses aan die gang te sit om die mense wat hy respekteer en wat hom respekteer, in ‘n nuwe kerkverband bymekaar te bring?

Iewers moet mens die streep trek! Die gemeenskap van gelowiges is veel groter as die Afrikaanse susterskerke.

Profile photo of crito

by crito

‘Natasha weet nie van verloor af nie

Maart 22, 2011 in Sonder kategorie

Shakespeare sê daar is geen kuns wat die gees se konstruksie uit die kontoere van ‘n gesig kan aflei nie. Hy het nie geleef in die tyd van celebrity nie. Ons tyd.

Natasha Sutherland het pragtige wangbene, eerlike oë, ‘n effens prominente gebit. Sy is ‘n Suid-Afrikaanse glanspersoon danksy haar optrede in ‘n sepie, Egoli. En haar huwelik met Steve Hofmeyr. Hulle het, sal jy in die sensasietydskrifte lees, verlief geraak tydens die opnames van Egoli. Hy was vóór Egoli reeds beroemd weens die TV-reeks Agter elke man. Alpha man, geen omega aan sy koerasie.

Sutherland moes haarself nooit werklik op die verhoog bewys nie. Nee, Sam in Egoli was genoeg. Klas.

Al wat nodig was, was dat sy haar in ons kollektiewe hartekamer tuisgemaak het deur Doug Durand, Steve se ontembare karakter in Egoli, koud te lei. Die wonderwerk daarin, weet ons met ‘n kollektiewe gevoel van GGV-ironie, lê in die feit dat sy by wyse van spreke vir Errol Flynn ‘n koorknaap gemaak het.

Steve die digter, Steve die fieta van Agter elke man, Steve die rammetjie uitnek denker wat graag die teoloë op Radio Kansel aangevat het. Steve, die minnesanger van Loftus, uit wie se vergulde pen en goue keel gekom het die liedjie oor die Blou Bul wat nie van verloor af weet nie.

Steve die yster.

Steve en Natasha is adel. SA celebrity adel. Suid-Afrikaners droom en skinder oor hul lewens sedert hul troue tot vandag toe.

Ons haat Steve omdat hy Natasha so lelik behandel het. Ons haat Natasha omdat sy die digter, filosoof en sanger makker gemaak het as die minnaar. Maar ons lief hulle.

Reza van Rooyen (Volksblad) se reaksie op Sutherland se Sprokie, ‘n soeke na sprankel gaan nog baie aangehaal word deur Sutherland se reklame-persoon. Van Rooyen benader Sutherland se boek soos ‘n peuter wat die eerste keer die verhaal van Aspoestertjie hoor – groot oë, oopmond, verwondering. Dis net prinse en prinsesse, sprokies, ontdekkingsreise, mooiheid en ‘n feëtjie met tutu en towerstaffie waar jy ookal kyk.

Jy lees en wonder of Van Rooyen die moed gaan hê om te vra oor die morele vakuum van hierdie lewensles. Jy verwag enige oomblik die woorde “etiese basis”. Jy soek na ‘n aanduiding dat Sutherland ‘n ware tragiese figuur is.

Tog nie, Van Rooyen weet nie van ons verwagtinge nie. Sy loof en prys en vind selfs iets poëties in al die S-e. Ook iets visueel stimulerends in die pienk dinge wat opslaan. En net voordat jy boedel kan oorgee en Van Rooyen verdoem as pryssanger van die Nuwe Afdomming, laat val sy saggies een bevrydende sin: “Ná elke hoofstuk moes ek my eers aan pienk melkskommels en spookasem oorgee om alles te oordink.”

A-ha! Jy lees die resensie weer. Styf opgewen.

Jeanette Ferreira (in Beeld) is geen apologeet vir die celebrity-kultuur nie. Al wat Natasha Sutherland vir haar beteken, is dat sy die vrou is wat haar egskeiding met Steve Hofmeyr “met waardigheid” hanteer het. (Wat sou dit beteken? Agter die geslote deure van hul sekuriteitslandgoed-woning huil?)

Ferreira sê pront: Sutherland is ‘n swak skrywer. Sy het min eie insigte in haar lewe – sy word gepamperlang deur ‘n kliniese sielkundige, ‘n intuïtiewe lewensafrigter en ‘n Martha Beck-geregistreerde lewensafrigter. (Celebrity-kenners sal dié manifestasies van Baie Geld dadelik herken.)

Mens kan jou indink wat al hierdie mense se insette afgee aan ‘n gebabbel in die boek self.

Sommige van die dinge wat Ferreira aanhaal, laat blyk dat Sutherland taamlik verbeeldingloos is. Al bedien sy haar so van die sprokies.

Wanneer mens met Ferreira se resensie klaar is, kan jy nie anders as om op te merk nie: Geen enkele aanhaling van iets werkliks diepsinnigs wat Sutherland gesê het nie. Ook nie in Van Rooyen se resensie nie.

Is dít wat ‘n Suid-Afrikaanse celebrity ons bied? ‘n Hele boek vol lewenswaarhede wat haar bewonderaars eenvoudig net móét weet, maar nie een van hulle is van so ‘n aard dat twee resensente met uiteenlopende aanslae enigiets kan of wil aanhaal nie?

Die gelol is net, uiteraard, dat daar ‘n skare van bewonderaars is wat nooit tot dieselfde insig as Van Rooyen en Ferreira sal kom nie. Wat gaan dink hulle is bevoorreg om aan die lippe te hang van ‘n aktrise wat met daardie Steve getroud was?

Die celebrity-kultuur is een van dom aanvaarding.

Vir een persoon is hierdie twee resensies slegte nuus – George Claassen. Wanneer hy die volgende uitgawe van Die Afrikaanse Aanhalingsboek saamstel, sal hy vergeefs soek na ‘n pêrel van wysheid uit Natasha Sutherland se aantreklike mond.

Profile photo of crito

by crito

Digters oud en jonk

Maart 15, 2011 in Sonder kategorie

Dit sou onbehoorlik wees om in hierdie tye tsunami’s sommer so as vergelyking te gebruik, maar dit is omtrent wat die Woordfees pas vir Stellenbosch was. Dit voel soos ‘n eeu gelede dat ek laas geskryf het, en boonop voel die ou issues, wel, óúd.

Intussen het Joan Hambidge se resensie van Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof stil-stil op Volksblad se webblad verskyn nadat dit die vorige week in die koerant se papier-uitgawe was.

Dit is ‘n sterk resensie, ofskoon effe onaf. As dit die enigste resensie was wat van hierdie bundel verskyn het, sou nòg die digter nòg die uitgewer kon kla. Tog lees mens dit met ‘n vreemde gevoel dat Hambidge, as sy die kans kon kry, die resensie aansienlik sou kon uitbrei.

Om die waarheid te sê, as mens kyk na die uiteenlopende dinge wat in die voorlaaste paragraaf net genoem word, en na die oorgang van die voorlaaste paragraaf na die laaste paragraaf, dan begin mens die spesmaas kry dat hierdie resensie aanvanklik baie langer was as dít wat geplaas is, en dat dit by Volksblad geredigeer is om in te pas.

As resensie smeek dit om vergelyk te word – nie met die resensies oor dieselfde bundel wat reeds verskyn het nie, maar met een deur Hambidge self wat Sondag in Rapport verskyn het van T.T. Cloete se Onversadig.

Sy begin die Cloete-resensie met woorde wat vergelyk kan word met ‘n groot dramatiese gebaar op die verhoog: “In hierdie groot worp van ‘n bundel wat Onversadig heet …” Baie majeur teenoor die mineur van “DIE BEGINSEL VAN STOF deur Breytenbach is ’n ryk geskakeerde digbundel …”

 

En tog, wanneer mens albei resensies herlees, is dit duidelik dat die Breytenbach-bundel veel groter eise aan haar as resensent gestel het as bundels wat sy in die onlangse verlede geresenseer het. Al voel mens daar is getorring aan die resensie.

Die rede hiervoor lê in die manier waarop sy vir my gevoel haar eie styl naboots in die Cloete-bespreking. Al asof sy ‘n lysie het van dinge wat genoem moet word wanneer sy digbundels resenseer: intertekstuele gesprekke, gedigte oor digkuns, intratekstuele verwysings, temas, styl, rykdom van verwysings …

Een paragraaf val egter dadelik op: “Ek hoor in die lykdigte die verdriet van ‘n Totius, ek sien die beheer van ‘n Opperman.” Dit is hiér waar ‘n mens besef dat Hambidge ook in ‘n ander toon kan skryf, en dat sy, as sy wou, verblindend goeie resensies sou kon lewer, deur meer tyd aan formulering te bestee.

Ná daardie sin word die Cloete-resensie ‘n reeks opmerkings wat klink asof hulle vir ‘n flapteks geskryf is, en wat uitloop op dié slotsin: “’n Digter met epigone en navolgers is groot.”

Helaas, Rod McKuen sou daarmee kon saamstem. Eliot ook.

***

Tydens een van die sessies wat ek by die Woordfees bygewoon het, het ‘n spreker opgemerk dat dit baie interessant is dat die een soort boek waarvan die verkope maar altyd sukkel, naamlik digbundels, ook die soort boek is waaroor die meeste in koerante se boekeblaaie geskryf word.

‘n Mens sou kon byvoeg dat dit nog moontlik is dat ‘n prosa-debuut geïgnoreer word, maar wanneer ‘n digter debuteer, dan staan die resensente omtrent tou.

Andries Samuel voel seker na dese soos ‘n gelekte toffie. Sy debuutbundel, Wanpraktyk het by die Woordfees onder die kollig gekom, daar was ‘n onderhoud met hom op RSG, en die bundel het nou al twee besonder gunstige resensies ontvang.

Marthinus Beukes het verlede week baie waarderend daaroor geskryf in Rapport, en vandeesweek het Louise Viljoen dit op haar onverbeterlike manier in Die Burger behandel.

Wat ek van Beukes se resensie gehou het, is dat hy sommer met die intrapslag geweier het om in sy resensie Samuel se bloedlyn as rigsnoer vir die beoordeling van die bundel te neem.

Viljoen omseil dié probleem op ‘n ander manier. Sy verwys na Samuel se moeder, sê pront wáár die verwantskappe in hul gedigte lê, en stuur die problematiek na sy peetjie met die opmerking dat Samuel genoeg van ‘n eie identiteit as digter het om ‘n mens met gretige verwagting te laat uitsien na sy volgende werk.

Ek vermoed dat dit vir Samuel ‘n verligting sal wees as hierdie saak as afgehandel beskou word. Niemand het, alles in ag genome, probeer vasstel of sy vader se musiektalente ‘n invloed gehad op die metrum in die gedigte nie.

***

Dis ‘n goeie vraag of heruitgawes resensies verdien. As die boek baie lank onverkrygbaar was, sekerlik, en as die skrywer só sterk aan die vergetelheid ontruk word as Marthinus Versfeld deur die heruitgawes van Oor gode en afgode en Our Selves, dan verdien dit ‘n behoorlike kyk.

Demond Painter doen dit dan ook vandeesweek in Die Burger. Dis ‘n ondankbare taak wat hy hier moet verrig. Hoe maak jy iemand aantreklik vir ‘n nuwe geslag lesers wat nooit die voorreg gehad het om Versfeld self te ontmoet nie?

Painter se resensie is oortuigend, substansieel en informatief. Het Painter egter vir Versfeld geken soos byvoorbeeld Petra Grütter destyds hom geken het, sou hy waarskynlik ‘n losser, minder formele bespreking aangebied het as wat hy nou gedoen het.

Hy sou waarskynlik veel meer aangehaal het. Ek mis in sy resensie voorbeelde van Versfeld se wonderlike stelswyses. Painter moes dit besef het toe hy die volgende geskryf het: “Hy demonstreer al skrywende hoe mens jouself besinnend, kreatief en eties in die wêreld kan posisioneer.”

Hierdie gedagte het my dadelik boekrak toe laat gaan om net ‘n bietjie te proe-lees. Kyk wat Versfeld al in die sestigs gesê het (en wat moes gespook het by diegene wat ná Februarie 1990 moes sing vir hul sopper): “‘n Volk of ras wat nie met ‘n ander volk of ras kan of wil gesels nie, kan ook nie met God gesels nie.”

Terug by Desmond Painter: Op ‘n manier word ‘n resensent in ‘n resensie soos hierdie ‘n verkoopsman. Hy moet nuwe kopers vind vir ‘n soort skryf- en dinkwerk wat nie vandag meer in groot aanvraag is nie, maar verdien om te wees uitsluitend op grond van die intrinsieke waarde daarvan.

In só ‘n geval, waar die produk behoorlik gebek is, is dit beter om minder van die verkoopsman te hoor en meer van die budgie.

***

Christine Barkhuizen le Roux kry in Volksblad ‘n louerige resensie van Cilliers van den Berg vir haar kortverhaalbundel Wat die oog gesien het.

Dit is ‘n resensie waarby die outeur baie kan baat in haar groeiproses as skrywer, sou mens vermoed. Van den Berg se kritiek is reguit en deurdag – mens kan werklik nie vlooie soek in sy argumentasie nie.

Dit raak net problematies as mens die bundel reeds gelees het – wat ek in elke beskikbare oomblik tydens die Woordfees gedoen het. Van den Berg benader die bundel as ‘n versameling skryfwerk wat veronderstel is om hoge letterkunde te wees. Sou dít jou uitgangspunt wees, sal die bundel jou teleurstel.

Maar ek het dit geniet omdat sy ‘n storie lekker kan uitpak.

Daarom dat Van den Berg se slotparagraaf my so verskriklik geïrriteer het. Hy erken daarin dat die bundel maklik lees en dat daar baie winste in die bundel is. Sulke ja-maar-paragrawe laat mens net wonder of die resensent begin twyfel in sy argumentasie, en ‘n paar paaigeluide maak in die rigting van dié wat nie met hom saamstem nie.

Profile photo of crito

by crito

Ou probleem, nuwe konteks

Maart 8, 2011 in Sonder kategorie

Na een van die humeurigste weke wat die Afrikaanse letterkunde in baie jare beleef het, het die naweek aangebreek met Breyten Breytenbach se versoek dat sy boeke asseblief nie meer deur die Afrikaanse oggendblaaie geresenseer moet word nie, wat skokgolwe deur joernalistieke kringe gestuur het.

Gelukkig het hulle kop gehou. Sondag het Rapport Marlies Taljaard se resensie gepubliseer van Breytenbach se Die beginsel van stof, en Maandagoggend het Die Burger Rustum Kozain se bespreking geplaas.

Afgesien van alles wat deur hul ignorering van sy versoek ter sprake gebring word (vryheid van spraak, die pers se reg om te rapporteer oor dinge in die openbare domein, die vraag of Breytenbach se uitgewer sy versoek moes probeer afdwing, en of hulle in ‘n posisie is om so-iets te doen), bring dit iets anders ter sprake wat verlede week deel was van al die argumente.

Dít is naamlik watter resensente deur boekeredakteurs gevra word om spesifieke boeke te resenseer. As die verkeerde persoon gevra word (verkeerd in die sin dat daar kwaaivriendskap of versweë agendas is) of as ‘n negatiewe resensie geplaas word in die nuwe bedeling, kan dit noodlottige gevolge vir die boek ter resensie hê.

Hoe besluit ‘n boekredakteur wie hy/sy moet vra? Met Breyten Breytenbach neem ek aan is dit ‘n taamlik maklike besluit. Vra die voorste kenner van poësie in die omgewing om die bundel te resenseer. Hy is tans die beste wat die Afrikaanse taal het, en verdien die kompliment van die beste analis van Afrikaanse digkuns.

Rapport se keuse, Marlies Taljaard, het my dadelik verbaas. Anastasia de Vries het nie vir Heilna du Plooy, Willie Burger of Neil Cochrane gevra nie. Sy het haar gewend tot ‘n resensent wat ‘n raps meer as ‘n maand gelede ‘n resensie vir Rapport geskryf wat gelyk het asof Taljaard nie regtig belang stel om digkuns te resenseer nie.

Taljaard se ommeswaai was skouspelagtig. Die resensie wat sy van Breytenbach se bundel geskryf het – ernstig, ondersoekend, en ‘n baie besliste poging om die bundel te toets en vir die leser ‘n oorwoë besluit te gee – stel haar as resensent in ‘n baie beter lig.

Dit is so dat Taljaard se resensie effens bo die kop van die man in die straat verby sal wees. Maar ek glo dit maak nie in hierdie geval saak nie – Taljaard se resensie is nie geskryf vir al 70 000 mense wat die vorige dag op Loftus Versfeld emosionele spuitpoep opgedoen het nie.

Seer sekerlik sal Breytenbach voel dat die resensent hom krities, maar ook met baie respek behandel het. Haar uiters positiewe oordeel is aangeteken.

Eweneens het Willem de Vries in Kaapstad ‘n redelik eenvoudige uitweg gehad. Hy kon kies uit Louise Viljoen, Joan Hambidge, Wium van Zyl, Johan de Lange en verskeie ander. Dat hy toe uiteindelik iemand gekies het wat op YouTube ‘n onderhoud met Breytenbach voer, naamlik Rustum Kozain, het nogal verras. Kozain is nie juis bekend as kenner van die Afrikaanse digkuns nie.

Kozain het my op sy beurt verras met sy resensie van Die beginsel van stof. Dit raak heelwat dinge aan wat Marlies Taljaard en Marius Crous (onlangs in Beeld) nie aangeraak het nie, en is lekker onderhoudend geskryf – iets wat nòg Taljaard nòg Crous kon regkry.

Terwyl ons nog wag vir Volksblad om ‘n resensie te plaas, kan ons nou voorlopig ‘n peiling maak vir ‘n hipotetiese situasie: Gestel Die beginsel van stof het verskyn nadat die drie oggendblaaie se boekeblaaie reeds een geword het – watter resensie sou mens verkies het? (Ek skryf hier as iemand wat die bundel reeds gelees het en dink dit is een van die bestes van Breytenbach se oeuvre; ek lees dus die resensies met die verwagting en hoop dat die resensies my taksering sal onderskryf.)

Taljaard se resensie bly staan, want Rapport is nie betrokke by die nuwe bestel nie. Wie van Crous en Kozain se resensies sou die bundel en skrywer die meeste voordeel laat trek het?

Crous se resensie is tegnies meer indringend, maar hy kom nie by ‘n groter konteks uit soos Kozain nie, en skryf nie so onderhoudend soos Kozain nie. Hy loof, maar sy formulering straal nie met geesdrif nie.

Kozain se persoonlike aanknopingspunt laat mens aanvanklik voel jy lees ‘n artikel en nie ‘n resensie nie, en wanneer hy uiteindelik by ‘n slotsom kom, is dit ná ‘n paar struikelslae waarin hy mens deurmekaargepraat het oor presies wat Breytenbach se digkuns volgens hom behels, en waarmee hy my nie oortuig het nie. Kozain verval nog té veel in gemeenplasige opmerkings, anders as Crous, en dit tel teen hom dat hy nie werklik in sy resensie die tekstuur en taalkrag van Breyten Breytenbach analiseer aan die hand van voorbeelde uit die bundel nie.

In hierdie stadium dink ek nie Crous of Kozain het hul name oneer aangedoen nie, of die bundel en digter skade berokken nie, maar ek sien uit na Volksblad s’n. Dalk is dít die een.

As u meen hierdie spel is futiel, dink net hoe skrywers gaan voel wat van die drie oggendblaaie nét een resensie gaan kry en dit is die absolute teenoorgestelde van dié wat Breyten Breytenbach tot dusver vir Die beginsel van stof gekry het.

***

Rufus Gouws resenseer die tweede, verbeterde druk van Pharos se Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse Woordeboek/Dictionary in Die Burger. Die keuse van resensent is amper noodwendig. Wie anders as Gouws? Gouws is van Stellenbosch.

Die resensie is baie positief, maar bevat ook van die soort kritiek wat ernstig opgeneem sal moet word deur die skepper van die woordeboek. Sou ‘n ander resensie hierop kon verbeter? Dit sou miskien meer kon jubel, maar waar anders gaan soek woordeboekmakers hul kanonisering as by iemand soos Gouws?

***

Op dieselfde blad bespreek Fransjohan Pretorius Boerseun, Memoires van ‘n Anglo-Boereoorlogseun van Chris Schoeman. Pretorius is van Pretoria. Die Burger sou uit eie kontrei ook ‘n goeie resensent kon gevind het.

Die vraag is egter of dit hoegenaamd nodig is. Pretorius se resensie is negatief – en dit is ernstig te betwyfel of enigiemand hierna ‘n positiewe saak sal kan maak vir ‘n boek wat duidelik ernstige feitelike gebreke het.

Jeanette Ferreira het die boek reeds baie positief bespreek in Rapport. Sy het nie een van die foute wat Pretorius raakgesien het, in haar resensie vermeld nie.

As hiedie die enigste twee resensies van sy boek was, sou Chris Schoeman nie kon kla nie.

***

‘n Laaste saak wat betrekking het op die debat oor die een boekeblad vir die oggendkoerante: Hoe gemaak wanneer ‘n boek ‘n baie positiewe resensie kry met die intrapslag? As die boek deur Joan Hambidge is, sou mens ‘n saak kon uitmaak daarvoor dat een resensie nie genoeg gaan wees nie – sy is as digter en letterkundige belangrik genoeg om meer as een resensie te regverdig.

Maar pas hierdie week kry haar bloemlesing Visums by verstek ‘n baie geesdriftige goedkeuring deur Marius Crous in Beeld. Crous is van Port Elizabeth, waar Die Burger nog ‘n grenspos het.

Het mens meer nodig, sou die redakteur van die nuwe boekeblad kon vra, en dadelik die ander twee wat hy by voorbaat versoek het, laat kanselleer.

Maar wat gemaak as die ander twee resensente sê hulle gaan tog skryf, want hulle stem nie met Crous saam nie?

Aan die een kant sal dan presies gebeur wat sou gebeur het as daar drie boekeblaaie was. Niemand het egter die versekering dat die nuwe enkelvoudige redakteur drie resensies van Hambidge sou aanvra nie. Ons weet nog nie wie dit is en of hy digters so goedgesind is soos die huidige drie boekeredakteurs nie.

Aan die ander kant sal ons binne die volgende weke, voordat die lem deur ons nekke sny, kan sien wat Die Burger en Volksblad se resensente van die Hambidge-bloemlesing maak. Dis ‘n interessante dilemma.