Profile photo of crito

by

Die onaantasbare gekritiseer

Februarie 22, 2011 in Sonder kategorie

Die ondenkbare het toe gebeur, Maandagoggend in Volksblad. Marietjie Lambrechts skiet ‘n Karel Schoeman-boek af dat daar net warrelende stertvere oorbly. Deur die jare het mens die idee gekry dat Schoeman omtrent “untouchable” is. Nie meer nie.

 

Lambrechts resenseer Schoeman se jongste geskiedkundige werk, Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652 – 1662. Dieselfde boek wat Con de Wet enkele weke vir Die Burger positief bespreek het, ‘n resensie waaroor ek vrae had.

Waar De Wet se resensiestyl ongeesdriftig was maar sy slotsom positief, is Lambrechts baie berekend in haar aanslag. Sy gee eers ‘n inleiding oor Karel Schoeman en sy geskiedkundige werk, en dan klim sy in:

Die teks het soveel gebreke dat dit die leesbaarheid daarvan belemmer. Die boek se waarde en verstaanbaarheid vir die moderne Afrikaanse leser word geknou deur die groot aantal direkte aanhalings uit Nederlands en Engels. Daar is baie spel- en tikfoute – een daarvan, “kaptyn”, kom herhaaldelik voor.

Voorts, sê sy, word die teks ontsier deur swak taalgebruik en sinskonstruksies, lomp sinne en taalfoute. En so baie meer.

Karel Schoeman is al dikwels bekroon vir sy werk. Ek kan aan geen enkele van sy vorige publikasies dink waar hy voor stok gebring is vir swak taalgebruik en ontbrekende bronverwysings nie. Lesers het soms gemor oor die sterk invloed van Nederlands in sy taalgebruik.

Hierdie is egter die eerste keer dat ‘n resensent met baie goeie gronde hom tromp-op kon loop oor foute en slordighede. Mens moet seker die hoed lig vir Marietjie Lambrechts – sy sit in Karel Schoeman se kontrei en dit het sekerlik baie moed gekos om hierdie resensie te skryf.

Haar slotparagraaf is kalm en reguit, ‘n mooi manier om ‘n diepe teleurstelling uit te spreek: “Dit boek val eindelik tussen wal en skip en sal waarskynlik nie daarin slaag om baie lesers te lok nie. Die skrywer en die waagmoedige uitgewer het ’n seldsame geleentheid verlore laat gaan om ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan ’n breër publiek beskikbaar te stel.”

***

In Die Burger was daar eweneens ‘n opvallende negatiewe resensie, hiedie keer deur ‘n veteraan-resensent. Cecile Cilliers skryf oor Anoeschka von Meck se Die ontwaking – ‘n verhaal gebaseer op die lewe van Essie Honiball.

Laat ek ruiterlik erken: Hierdie resensie het my groot plesier verskaf.

Mev. Cilliers het duidelik groot waardering vir die lewe en strewes van mev. Essie Honiball. Sy koester nie dieselfde gevoel jeens Anoeschka von Meck nie. En wanneer sy haar oordeel uitspreek, is dit met die grootste styl en trefkrag denkbaar:

“Die lewe van Essie Honiball is fassinerend en getuig van die krag van die gees – én die Gees: Essie se sterk wilskrag en haar besonderse spiritualiteit straal uit die boek. En bo die boek, want die vrou en haar lewe kan ek aanprys, maar die boek ongelukkig nie.”

Nadat sy uitgepak het wat alles met die boek verkeerd is (swak taalgebruik, onversorgde teks, swak gramatika in Afrikaans én Engels en swak drukwerk), volg daar een van die grootste “put-downs” wat ek in baie jare oor ‘n Afrikaanse boek gesien het, en boonop op daardie wonderbaarlike manier waar dít wat nie gesê is nie, die swaartse weeg:

“Deel 2, wat die skrywer se eie menings oor die groei na God bevat, het weinig te make met die inhoud van die biografie. Maar ek is dankbaar om te kan sê die boek het ’n bekoorlike buiteblad. Wie verantwoordelikheid vir die swak eindproduk moet neem – die skrywer, die uitgewers, of die taalversorgers – is moeilik om te bepaal. Maar hierdie boek oor die lewe van Essie Honiball doen sy onderwerp weinig eer aan.”

***

Riette Rust het my in die verlede beïndruk met haar reguit, eerlike reaksie op dit wat sy gelees het. Haar resensie in Rapport van ‘n Dans met die dood, Aniel Botha se boek oor haar stryd met anorexia nervosa, is weer eens ‘n resensie wat mens aangryp.

Ofskoon sy na my sin té veel van die inhoud van die boek verklap, is ‘n baie groot deel van haar bespreking afgestaan aan hoe sy die boek as leser ervaar het, en dit tel baie.

Die resensie wek egter ook een groot vraag van sy eie maaksel. Rust maak teen die einde melding van taalfoute en stetfoute. Taalfoute kan mens nog verstaan – enige leser kan dit raaksien. Maar stetfoute? Soos ek dit onthou, sal joernaliste iets wat deurgehaal of verander is, met die woord “stet” (Latyn vir “laat dit staan”) merk, wat beteken dat die oorspronklike woord(e) voordat dit foutiewelik deurgehaal of verander is, gebruik moet word. Normaalweg word by koerante en uitgewers die betrokke woorde ook met ‘n stippellyn onderstreep.

‘n Stetfout is dan ‘n veronagsaming van die outeur of redakteur se stet-aanwysing.

Die vraag is nou: Hoe weet Rust van die stetfout?


8 antwoorde op Die onaantasbare gekritiseer

  1. En hoe is die stet-vraag enigsens pertinent? Maak dit saak? Beinvloed dit haar resensie? Ek glo nie. Interessante rubriek, maar ‘n betekenislose slot.

  2. toe bly grammatika in die slag

  3. Crito en ander lesers: Ek vra nederig om verskoning. Weet nie wie die fout gemaak het nie, maar ek het in die resensie na “setfoute” en nie “stetfoute” nie, verwys. Wys jou, SETfoute sluip oral in!

  4. Bwhaahaha!

    “The biter bit!”

  5. Crito, ek verskil van jou. Dis te lank om hier te plaas, so ek plaas dit op my blog.

  6. Skerp, roosdoring! Hahaha.

  7. Plessix het gesê op Maart 2, 2011

    Ons kan maar net hoop Crito resenseer nie ook boeke nie! Lees asseblief Kwaaitjie K se kommentaar.

  8. crito het gesê op Maart 15, 2011

    @Kwaaitjie K: Baie interessant – en dit bring my weer by die vraag of mens resensies met dieselfde waardering of onbevangenheid kan lees as jy reeds die boek gelees het waaroor die resensie handel. Lambrechts se resensie het ek, danksy die manier waarop dit geskryf en beredeneer is, en veral omdat ek nog nie die Schoeman-boek onder oë gehad het nie, as gesaghebbend aanvaar. Baie dankie vir jou blog!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.