Profile photo of crito

by

‘n Ander kykie op die geskiedenis

Februarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Fransjohan Pretorius se mening in Rapport oor Oor krygers, korrelkoppe en konkelaars van Max du Preez (dit het vroeg Januarie verskyn) word grotendeels deur Kerneels Breytenbach beaam in sy resensie van dié boek in Die Burger.

Hul benadering is uiteenlopend. Pretorius se aanpak is opvallend dié van ‘n akademikus, terwyl sy jare by Die Burger baie duidelik te sien is in Breytenbach se manier van skryf.

Breytenbach maak geen melding van die ideologiese invalshoek waarna Pretorius verwys het nie. Moontlik stem hy dermate met Du Preez saam dat hy nie dié kwelpunt wil opper nie. Aan die ander kant sien Pretorius weer nie die moontlikhede raak wat Breytenbach identifiseer om die inhoud van dié boek te verfilm nie.

Wat Breytenbach goed doen, is om sy resensie met ‘n aanvallende argument te begin – iets wat ek bitter selde in besprekings van Afrikaanse boeke gesien het die afgelope paar jaar. Dit is asof resensente die moeite neem om nie met aanvegbare opmerkings te begin nie. Fransjohan Pretorius se resensie is ‘n sprekende voorbeeld daarvan – hy begin met ‘n algemene inleiding oor die boek en gee in sy tweede paragraaf reeds ‘n oordeel oor die boek.

As oud-joernalis probeer Breytenbach weer sy leser se aandag vasgryp met ‘n ou truuk – ‘n paar opmerkings wat soos knalle kom. Julius Malema sou nie so kordaat oor die nasionalisering van die myne gepraat het as hy geweet het waarheen dié opmerking in die verlede gelei het nie; en dis ‘n gebrekkige kennis van ons geskiedenis wat veroorsaak dat mense nie die ooreenkoms sien tussen Jimmy Manyi en Nic Diederichs nie.

Hy gebruik dié opmerkings om die sprong na die boek te maak, en Du Preez se optekening van die geskiedenis van die “sonderlinge”.

Nou kan mens natuurlik nie die versoeking weerstaan om te wonder, a la Breytenbach, of Julius Malema nie in ‘n toekomstige ekwivalent van Oor krygers, korrelkoppe en konkelaars sal figureer nie – as “sonderling”?

En Jimmy Manyi in ‘n eweknie van The Tall Assassin

***

Mens kan aanneem dat Neels Jackson probeer het om soveel as moontlik wit lesers te wen vir Nico Smith se boek Die dood van die God van my vaders. Ek aanvaar sy betoog, ook dat dit uit sy hart kom: “Smith se boek sou een van die belangrikste boeke van ons tyd kon word, as wit Afrikaners dit maar net sal lees en iets daarvan ter harte neem.”

 

Die probleem met hierdie resensie-strategie is dat hy met die gebruik van die woord “sou” in daardie versugting reeds impliseer dat hy weet dit gaan nie gebeur nie. Hoekom het hy nie net gesê dat Smith se boek is een van die belangrikstes van ons tyd, en wit Afrikaners moet dit lees en die lesse daarvan ter harte neem nie?

 

En as mens dan verder lees, herhaal hy die gebruik van “sou” twee keer in kernsinne van sy argument, en elke keer besef mens Jackson het reeds moed verloor dat wit lesers die lesse van Nico Smith se lewe kan leer.

 

Dit sou dalk ‘n beter idee gewees het om meer inligting te gee van die dinge wat Smith vertel van die jare wat hy in Mamelodi gebly het.

***

Breyten Breytenbach se nuwe digbundel, die beginsel van stof, is in Beeld geresenseer deur Marius Crous. Ek wil uitvoeriger skryf oor die resensies van hierdie bundel sodra almal verskyn het, maar vind Crous se benadering interessant genoeg om die aandag daarop te vestig: Die lys nuutskeppings wat hy uit die bundel aanhaal as inleidingsparagraaf is ‘n intrigerende manier om ‘n boekbespreking te begin.

Enige variasie op die akademiese tema is te verwelkom.

***

Weer tyd om vlieë af te vang.

Joan Hambidge skryf in Volksblad dat Mari Grobler se Toe dit nog vroeg was bykans ongesiens verbygegaan het. Wat bedoel sy daarmee? Dat sy dit amper nie raakgesien het nie? Of dat niemand anders dit raakgesien het nie? Of wat?

Daar is vyf moontlike plekke waar Afrikaanse boeke gereeld geresenseer word (Die Burger, Beeld, Volksblad, Rapport en LitNet). Twee daarvan, Beeld en Die Burger, het al middel Januarie resensies geplaas.

‘n Wyse resensent waak teen die bekoring van maklike frases, sê die prediker.

Ook in Volksblad: Corrie Geldenhuys skryf dat Eben Venter se Brouhaha ‘n waardige plek in Eben Venter se oeuvre mag inneem. Die opskrif by die resensie sê die boek verdien plek in sy oeuvre.

Nie regtig dieselfde nie, nè. Sien hoe maklik is dit om iets te verdraai net om ‘n lekker opskrif te vind?

2 antwoorde op ‘n Ander kykie op die geskiedenis

  1. Ou-Top het gesê op Februarie 15, 2011

    En die meeste resensente het self al n paar boeke geskryf.
    Liedjies van sangers word gemeet aan hoeveel plate verkoop word. Soms sê almal om my hoe simpel n song is en dan het die ou 100,000 plate verkoop.
    As leek koop ek maar die boek en oordeel self, kan n duur oefening wees, want opskrifte beinvloed my tog maar onwillekeurig.

  2. Resensies oor ‘sekere’ boeke, en veral in die geval van enigiets wat Max skryf, is selde oor die inhoud daarvan. Ek verpes dit wanneer resensies klanke van persoonlikheids krygsvelde meebring. Of dan soms die reuke van wedergebore rioolpype. Max het begrip van sy onderwerpe. Immers baie meer as die frustrasie begrippe waarmee sommige kommentators deur hul resensies teenoor die skrywer braak. Lank lewe Max. Mag die ink nooit stol nie.

    ……en Jimmy Manyi in ‘n eweknie van The Tall Assassin ……? Dit is die braafste stelling wat ek gelees het sedert Andy Capp om kleingeld vir ‘n bier met Flo se koekroller beding het.

    Wat (toevallig) ooit oor The Tall Assassin/Die Lang Generaal geskryf en gesê is verbaas my nie. Wat my wel verbaas is WIE nie EEN woord gerep het nie. Dalk behoort dit my juis nie te verbaas nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.