Profile photo of crito

by

Ondersteun resensiekunde

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

Die ordening van Boekeblaaie is nie vir my altyd heeltemal verstaanbaar nie. Mens neem aan die redakteur plaas die resensies van die boeke wat volgens hom/haar die belangrikste is, op die mees prominente plek.

Afgelope Maandag het Die Burger byvoorbeeld Con de Wet se bespreking van Karel Schoeman se Kolonie aan die Kaap – Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662 as hoofresensie geplaas. Vermoedelik op grond van Schoeman se status.

Dit kon sekerlik nie hoofresensie gewees het op grond van die gehalte daarvan nie. Onopvallend, ongeesdriftig dog positief geskryf – en sonder om Schoeman aan te vat oor sy apartheidstaal (“blankes”) in die titel.

Dit klink na ‘n beuselagtigheid, maar niks verhinder enigiemand nou, na die lees van die resensie, om te vermoed dat Schoeman dalk ander dinge ook in die apartheidsidiolek verwoord het nie? As die resensent sulke taalgebruik in ‘n titel nie raaksien nie, wat anders het hy nie alles gemis nie? (Bygesê, ek sou my, om dit Schoemaniaans te stel, verstom as Schoeman self bv. na swartes as nie-blankes verwys. Hy kon gewis ‘n meer sensitiewe titel vir dié boek gekies het.)

Hoe goed het die resensent hom dan van sy taak gekwyt? Wat my betref nie goed genoeg om sy skryfwerk die hoofresensie te maak nie.

Daarenteen was Suzette Kotzé-Myburgh se bespreking van Teksredaksie van WAM Carstens en Kris van der Poel baie interessanter, en kon mens dit lees met dieselfde plesier aan die lewende ironie as wat Kotzé-Myburgh sekerlik ervaar het met die skryf daarvan.

Maar ook dié resensie kort nog aan inhoud – ek sou graag meer wou weet van Carstens en Van der Poel se opvattings oor tipografie en naslaanbronne.

Eersgenoemde is een van die dinge waaroor resensente hulle uiters selde uitspreek, en naslaanbronne is in die era van Wikipedia en Google-soektogte op die web een van die pilare van die publikasiewese wat onder beleg is. Mens kan sekerlik nie die boekeredakteur daarvoor verkwalik dat Kotzé-Myburgh net vlugtig daarna verwys nie. Wat mens wel kan sê, is dat Kotzé-Myburgh in hierdie opsig moes gevra het vir meer ruimte.

Die resensie wat uit ‘n joernalistieke oogpunt die sterkste kandidaat behoort te gewees het om hoofresensie te word, is Joan Hambidge s’n oor Tempermes, die debuut-digbundel van die skilder Louis Jansen van Vuuren.

Nie dat Hambidge se resensie, soos dit nou daar uitsien, enigsins beter is as Con de Wet se poging nie. Ek wil histeries word elke keer dat sy haar ou karperd, Barthes se “jouissance”, voor die weantjie van haar betoog inspan.

Maar haar opdrag kon maklik gewees het om uitvoeriger te skryf oor die skilder wat van kreatiewe medium verander, aspekte van sy werk as beeldende kunstenaar te vergelyk met sy hantering van beelde as woordkunstenaar. Ek is seker Hambidge sou só ‘n opdrag uitstekend utgevoer het.

Ongelukkig bepaal sy haar nou by eerste, algemene indrukke oor Jansen van Vuuren se verse.

***

Die tipografie waaroor Carstens en Van der Poel dit in hul Teksredaksie het, is iets wat by webwerwe ook van die grootste belang is. Die webbladsye waarop Rapport, Beeld en Volksblad hul boekeblaaie se inhoud ‘n weblewe gee, lees mens in kolomme af, dan van links na regs. Normaalweg. Soms pak hulle die resensies van links na regs, en dan af in kolomme. In sulke gevalle moet mens jou laat lei deur die datum van die resensie – by Volksblad verdwaal jy dikwels maklik in verlede week se resensies in as jy die webblad in kolomme af wil lees. ‘n Mens kan net hoop dat hulle konsekwent daarmee wil wees – dalk moet hulle Carstens en Van der Poel lees?

Die vraag is nou uiteraard in watter mate die koerant se Boekeredakteur steeds aan sy lesers leiding kan gee deur die visuele, tipografiese prioritisering van resensies.

Vandeesweek is dit uit die webblad duidelik dat Anastasia de Vries, die Boekeredakteur van Rapport, Jason Lloyd se resensie van Heindrich Wyngaard se Ons belangriker ag as Jeanette Ferreira se skrywe oor Sarel Pieterse se Boererumoer.

 

Daar is nie kritiek uit te spreek oor Ferreira se resensie nie. Maar Jason Lloyd se bespreking van Ons is net soveel méér: nuuswaardig, skerp krities, en uiteindelik verdoemend.

Ons is ‘n versameling van Wyngaard se rubrieke in Rapport en Die Burger. Dit handel hoofsaaklik oor “kwessies wat hul bestaan in die bruin gemeenskap het of wat bruin mense in die eerste instansie raak”.

Lloyd sê hy het meer uitdagende leesstof verwag. As koerantleser wat gou deur Wyngaard vervreem is weens sy kwasi-intellektuele gekarring, onderskryf ek Lloyd se opsomming.

Maar hy gaan heelwat verder as wat hierdie wit leser ooit sou kon, of wat enige wit kommentator sou kon. Hy beskuldig Wyngaard daarvan dat hy nie eerlik genoeg is in sy skryfwerk nie – dat hy nalaat om werklik omstrede kwessies, veral in die Afrikaanse gemeenskap, te takel.

Ek ag Lloyd se resensie hoog. Maar … Maar ‘n mens moet dit noukeurig lees om sy slotopmerking, naamlik dat Wyngaard nie in die geskiedenis opgeteken sal staan as “’n eerlike skrywer” nie, te verstaan – Lloyd bedoel nie dat Wyngaard ‘n oneerlike skrywer is nie, maar dat hy nie eerlik genoeg is oor meer kwessies nie.

Om hierdie rede is die opskrif van die resensie, “Waardige bydrae, maar eerlikheid skort” misleidend en sou ek diep ongelukkig daaroor gevoel het as ek Heindrich Wyngaard was.

***

Nico Geldenhuys gee in Beeld ook aandag aan Sarel Pieterse se Boererumoer in ‘n resensie wat net een gebrek het, en dis die afwesigheid van aanhalings of voorbeelde uit die vertellings van Pieterse. In Jeanette Ferreira se resensie van dié boek kon mens jou al verkneukel aan Pieterse se humor omdat sy aangehaal het. Geldenhuys juig oor Pieterse se humor, maar hy hou sy afstand deur meer na ander humoriste te verwys en nie slaags te raak met aanhalings ter stawing of ter illustrasie nie.

Moet geen fout maak nie, dis ‘n oordentlike resensie en ‘n baie kundige reaksie op hierdie boek. Die vraag is nou net, hoofsaaklik aan Beeld se Boekeredakteur gerig, wat hy gekies het as hoofresensie in die koerant: Geldenhuys se resensie, of dié van J.B. Roux oor Martie Muller se spanningsverhaal As die eland struikel.

Ek het die koerant nie fisiek gesien nie, en is dus bloot nuuskierig. Die webblad het voorkeur gegee aan Roux se resensie, as ek reg onthou. Vreemd.

***

Die internet het wel sekere ingeboude voordele wanneer dit kom by die prioritisering van resensies. LitNet se tuiswerf is ‘n soort indeks vir al die heuglikhede wat onder LitNet se sambreel te vind is, en onder meer is daar ‘n kassie genaamd “Biebouw-resensies”.

In hierdie kassie lys LitNet die jongste toevoegings tot sy Afrikaanse resensieblad. Tans gee dit skakels na Madri Victor se resensie oor Margaret Bakkes se ‘n Ver plek vir Zilla, Marius Crous se bespreking van Lina Spies se bundel Tydelose gety, Eckhard Cloete s’n oor Martina Klopper se Nadoodse ondersoek, Thys Human se resensie van Maal deur Nicole Jaekel Strauss, en Johann de Lange s’n oor Johann Lodewyk Marais se Diorama.

Met ‘n oogopslag die room van die room, gepubliseer oor ‘n tydperk van maande – resensente wat sonder die plekbeperkinge van koerante skryf, en hulle nie hoef te steur aan die koerante se waarskynlike lesers nie. Bondigheid is nie ‘n vereiste nie, deeglikheid wel.

Ek sal weer by die Biebouw-resensies uitkom, maar intussen kan ek Human en De Lange se resensies as beginpunte aanbeveel. Die ander wat gelys word is ook te verslind, maar by Human en De Lange wil ek uitroeptekens plaas en die kassie se motto onderskryf: “Ondersteun resensiekunde”.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.