Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Die onaantasbare gekritiseer

Februarie 22, 2011 in Sonder kategorie

Die ondenkbare het toe gebeur, Maandagoggend in Volksblad. Marietjie Lambrechts skiet ‘n Karel Schoeman-boek af dat daar net warrelende stertvere oorbly. Deur die jare het mens die idee gekry dat Schoeman omtrent “untouchable” is. Nie meer nie.

 

Lambrechts resenseer Schoeman se jongste geskiedkundige werk, Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652 – 1662. Dieselfde boek wat Con de Wet enkele weke vir Die Burger positief bespreek het, ‘n resensie waaroor ek vrae had.

Waar De Wet se resensiestyl ongeesdriftig was maar sy slotsom positief, is Lambrechts baie berekend in haar aanslag. Sy gee eers ‘n inleiding oor Karel Schoeman en sy geskiedkundige werk, en dan klim sy in:

Die teks het soveel gebreke dat dit die leesbaarheid daarvan belemmer. Die boek se waarde en verstaanbaarheid vir die moderne Afrikaanse leser word geknou deur die groot aantal direkte aanhalings uit Nederlands en Engels. Daar is baie spel- en tikfoute – een daarvan, “kaptyn”, kom herhaaldelik voor.

Voorts, sê sy, word die teks ontsier deur swak taalgebruik en sinskonstruksies, lomp sinne en taalfoute. En so baie meer.

Karel Schoeman is al dikwels bekroon vir sy werk. Ek kan aan geen enkele van sy vorige publikasies dink waar hy voor stok gebring is vir swak taalgebruik en ontbrekende bronverwysings nie. Lesers het soms gemor oor die sterk invloed van Nederlands in sy taalgebruik.

Hierdie is egter die eerste keer dat ‘n resensent met baie goeie gronde hom tromp-op kon loop oor foute en slordighede. Mens moet seker die hoed lig vir Marietjie Lambrechts – sy sit in Karel Schoeman se kontrei en dit het sekerlik baie moed gekos om hierdie resensie te skryf.

Haar slotparagraaf is kalm en reguit, ‘n mooi manier om ‘n diepe teleurstelling uit te spreek: “Dit boek val eindelik tussen wal en skip en sal waarskynlik nie daarin slaag om baie lesers te lok nie. Die skrywer en die waagmoedige uitgewer het ’n seldsame geleentheid verlore laat gaan om ’n belangrike deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan ’n breër publiek beskikbaar te stel.”

***

In Die Burger was daar eweneens ‘n opvallende negatiewe resensie, hiedie keer deur ‘n veteraan-resensent. Cecile Cilliers skryf oor Anoeschka von Meck se Die ontwaking – ‘n verhaal gebaseer op die lewe van Essie Honiball.

Laat ek ruiterlik erken: Hierdie resensie het my groot plesier verskaf.

Mev. Cilliers het duidelik groot waardering vir die lewe en strewes van mev. Essie Honiball. Sy koester nie dieselfde gevoel jeens Anoeschka von Meck nie. En wanneer sy haar oordeel uitspreek, is dit met die grootste styl en trefkrag denkbaar:

“Die lewe van Essie Honiball is fassinerend en getuig van die krag van die gees – én die Gees: Essie se sterk wilskrag en haar besonderse spiritualiteit straal uit die boek. En bo die boek, want die vrou en haar lewe kan ek aanprys, maar die boek ongelukkig nie.”

Nadat sy uitgepak het wat alles met die boek verkeerd is (swak taalgebruik, onversorgde teks, swak gramatika in Afrikaans én Engels en swak drukwerk), volg daar een van die grootste “put-downs” wat ek in baie jare oor ‘n Afrikaanse boek gesien het, en boonop op daardie wonderbaarlike manier waar dít wat nie gesê is nie, die swaartse weeg:

“Deel 2, wat die skrywer se eie menings oor die groei na God bevat, het weinig te make met die inhoud van die biografie. Maar ek is dankbaar om te kan sê die boek het ’n bekoorlike buiteblad. Wie verantwoordelikheid vir die swak eindproduk moet neem – die skrywer, die uitgewers, of die taalversorgers – is moeilik om te bepaal. Maar hierdie boek oor die lewe van Essie Honiball doen sy onderwerp weinig eer aan.”

***

Riette Rust het my in die verlede beïndruk met haar reguit, eerlike reaksie op dit wat sy gelees het. Haar resensie in Rapport van ‘n Dans met die dood, Aniel Botha se boek oor haar stryd met anorexia nervosa, is weer eens ‘n resensie wat mens aangryp.

Ofskoon sy na my sin té veel van die inhoud van die boek verklap, is ‘n baie groot deel van haar bespreking afgestaan aan hoe sy die boek as leser ervaar het, en dit tel baie.

Die resensie wek egter ook een groot vraag van sy eie maaksel. Rust maak teen die einde melding van taalfoute en stetfoute. Taalfoute kan mens nog verstaan – enige leser kan dit raaksien. Maar stetfoute? Soos ek dit onthou, sal joernaliste iets wat deurgehaal of verander is, met die woord “stet” (Latyn vir “laat dit staan”) merk, wat beteken dat die oorspronklike woord(e) voordat dit foutiewelik deurgehaal of verander is, gebruik moet word. Normaalweg word by koerante en uitgewers die betrokke woorde ook met ‘n stippellyn onderstreep.

‘n Stetfout is dan ‘n veronagsaming van die outeur of redakteur se stet-aanwysing.

Die vraag is nou: Hoe weet Rust van die stetfout?


Profile photo of crito

by crito

‘n Ander kykie op die geskiedenis

Februarie 15, 2011 in Sonder kategorie

Fransjohan Pretorius se mening in Rapport oor Oor krygers, korrelkoppe en konkelaars van Max du Preez (dit het vroeg Januarie verskyn) word grotendeels deur Kerneels Breytenbach beaam in sy resensie van dié boek in Die Burger.

Hul benadering is uiteenlopend. Pretorius se aanpak is opvallend dié van ‘n akademikus, terwyl sy jare by Die Burger baie duidelik te sien is in Breytenbach se manier van skryf.

Breytenbach maak geen melding van die ideologiese invalshoek waarna Pretorius verwys het nie. Moontlik stem hy dermate met Du Preez saam dat hy nie dié kwelpunt wil opper nie. Aan die ander kant sien Pretorius weer nie die moontlikhede raak wat Breytenbach identifiseer om die inhoud van dié boek te verfilm nie.

Wat Breytenbach goed doen, is om sy resensie met ‘n aanvallende argument te begin – iets wat ek bitter selde in besprekings van Afrikaanse boeke gesien het die afgelope paar jaar. Dit is asof resensente die moeite neem om nie met aanvegbare opmerkings te begin nie. Fransjohan Pretorius se resensie is ‘n sprekende voorbeeld daarvan – hy begin met ‘n algemene inleiding oor die boek en gee in sy tweede paragraaf reeds ‘n oordeel oor die boek.

As oud-joernalis probeer Breytenbach weer sy leser se aandag vasgryp met ‘n ou truuk – ‘n paar opmerkings wat soos knalle kom. Julius Malema sou nie so kordaat oor die nasionalisering van die myne gepraat het as hy geweet het waarheen dié opmerking in die verlede gelei het nie; en dis ‘n gebrekkige kennis van ons geskiedenis wat veroorsaak dat mense nie die ooreenkoms sien tussen Jimmy Manyi en Nic Diederichs nie.

Hy gebruik dié opmerkings om die sprong na die boek te maak, en Du Preez se optekening van die geskiedenis van die “sonderlinge”.

Nou kan mens natuurlik nie die versoeking weerstaan om te wonder, a la Breytenbach, of Julius Malema nie in ‘n toekomstige ekwivalent van Oor krygers, korrelkoppe en konkelaars sal figureer nie – as “sonderling”?

En Jimmy Manyi in ‘n eweknie van The Tall Assassin

***

Mens kan aanneem dat Neels Jackson probeer het om soveel as moontlik wit lesers te wen vir Nico Smith se boek Die dood van die God van my vaders. Ek aanvaar sy betoog, ook dat dit uit sy hart kom: “Smith se boek sou een van die belangrikste boeke van ons tyd kon word, as wit Afrikaners dit maar net sal lees en iets daarvan ter harte neem.”

 

Die probleem met hierdie resensie-strategie is dat hy met die gebruik van die woord “sou” in daardie versugting reeds impliseer dat hy weet dit gaan nie gebeur nie. Hoekom het hy nie net gesê dat Smith se boek is een van die belangrikstes van ons tyd, en wit Afrikaners moet dit lees en die lesse daarvan ter harte neem nie?

 

En as mens dan verder lees, herhaal hy die gebruik van “sou” twee keer in kernsinne van sy argument, en elke keer besef mens Jackson het reeds moed verloor dat wit lesers die lesse van Nico Smith se lewe kan leer.

 

Dit sou dalk ‘n beter idee gewees het om meer inligting te gee van die dinge wat Smith vertel van die jare wat hy in Mamelodi gebly het.

***

Breyten Breytenbach se nuwe digbundel, die beginsel van stof, is in Beeld geresenseer deur Marius Crous. Ek wil uitvoeriger skryf oor die resensies van hierdie bundel sodra almal verskyn het, maar vind Crous se benadering interessant genoeg om die aandag daarop te vestig: Die lys nuutskeppings wat hy uit die bundel aanhaal as inleidingsparagraaf is ‘n intrigerende manier om ‘n boekbespreking te begin.

Enige variasie op die akademiese tema is te verwelkom.

***

Weer tyd om vlieë af te vang.

Joan Hambidge skryf in Volksblad dat Mari Grobler se Toe dit nog vroeg was bykans ongesiens verbygegaan het. Wat bedoel sy daarmee? Dat sy dit amper nie raakgesien het nie? Of dat niemand anders dit raakgesien het nie? Of wat?

Daar is vyf moontlike plekke waar Afrikaanse boeke gereeld geresenseer word (Die Burger, Beeld, Volksblad, Rapport en LitNet). Twee daarvan, Beeld en Die Burger, het al middel Januarie resensies geplaas.

‘n Wyse resensent waak teen die bekoring van maklike frases, sê die prediker.

Ook in Volksblad: Corrie Geldenhuys skryf dat Eben Venter se Brouhaha ‘n waardige plek in Eben Venter se oeuvre mag inneem. Die opskrif by die resensie sê die boek verdien plek in sy oeuvre.

Nie regtig dieselfde nie, nè. Sien hoe maklik is dit om iets te verdraai net om ‘n lekker opskrif te vind?

Profile photo of crito

by crito

Klein dingetjies, groot irritasie

Februarie 8, 2011 in Sonder kategorie

My gesin beskuldig my daarvan dat ek té puntenerig is oor klein dingetjies. My verweer is dat as ek nie is nie, wie gaan dan wees?

Die eerste sin van Cecile Cilliers se resensie van Tien uit tien – stories en sêgoeters, ‘n versameling van Fanus Rautenbach se humoristiese vertellings, het my in my spore laat vassteek. Dit lui: “Fanus Rautenbach het die titel van die gewildste omroeper tot nog toe op Radio Sonder Grense gedra.”

Wat wil die vrou vir ons sê? Dat Radio Sonder Grense vir Fanus Rautenbach vereer het as die gewildste omroeper tot nog toe – dus ‘n eer wat enigiemand kan toeval wat sedert die koms van die radiowese ‘n (Afrikaanse) omroeper was? Of was hy aangewys as die gewildste omroeper tot nog toe op spesifiek Radio Sonder Grense?

Wat bedoel sy? Indien dit eersgenoemde was – met ander woorde, enigiemand wat by die Afrikaanse omroep van die Suid-Afrikaanse Uitsaaidiens, of Radio Suid-Afrika, of Afrikaans Stereo, of RSG omroeper was – dan is dié sin uiters vrot geformuleer.

Indien dit op die ander manier geïnterpreteer moet word, dan is dit gewoon foutief. Fanus het teen die tyd dat RSG vir Afrikaans Stereo opgevolg het, reeds afgetree.

Jammer, ek het na die eerste paragraaf ophou lees.

***

Leon Rousseau skryf in Beeld onder die onderskrif Dit reën kinderboeke oor ‘n groot aantal kinderboeke (ouderdom baba tot 3 jaar) wat sedert begin 2010 verskyn het.

Mens moet seker nie te veel kla oor sulke artikels nie. Gewoonlik dis boekeredakteurs hulle kort voor Kersfees op. Rousseau het waarskynlik so-iets in gedagte gehad toe hy dit geskep het – ‘n poging om in te haal, want kinderboeke word in die loop van die jaar afgeskeep in koerante.

Rousseau laat (ongeag die informatiewe waarde wat sy bespreking vir ouers sal hê) mens ook wonder of die dae van sy ouerskap nie té ver in die verlede lê nie. Dink hy werklik boekies soos dié wat hy bespreek sal kinders tussen 1 en 3 leer om woorde te lees? Gaan dit nie meer oor die skep van ‘n verbeeldingswêreld by die peuter nie, die hoor van woorde, die assosieer van spraak en begrippe met die voorstellings daarvan op papier?

Of het ek destyds dinge heeltemal verkeerd benader? My kinders lewenslank geknou deur nie van hulle te verwag om op ouderdom 3 al te kon woorde lees nie?

Kon ook nie help om my te verkneukel aan Rousseau se slotopmerking nie: “Ek het nog baie kleuter-, kinder- en tienerboeke hier. Dalk ‘n volgende keer …”

Februarie 2012 dalk? Ek hoop nie daardie Coetzee-man is reg oor die einde van die wêreld oor ‘n raps meer as 100 dae nie. En die wegraping van die mensdom. Dan gaan ons Rousseau se volgende skrywe mis.

***

Verskoon my die knorrigheid, maar soms voel ‘n mens jy wil ‘n resensent ‘n goeie klap gee. Sondag was daar twee van hulle doenig, sommer op dieselfde blad van die resensies-armoedige Rapport Boeke.

Erla-Mari Diedericks praat in ‘n liggewig-resensie van Die sommelier (GP Terblanche) van iemand wat sommelier speel by ‘n luukse oord. Speel? Sommelier is ‘n baie ernstige beroep, Me. Diedericks, ‘n gespesialiseerde gebied ligjare verwyder van dié van ‘n gewone wynkelner. Mens speel dit nie, jy is dit. Restaurante en luukse oorde betaal groot salarisse aan sommeliers vir hul kundigheid oor drank en die komplementering van voedsel deur dranksoorte.

En dan maak Katrien Smit in haar stukkie oor Helen Lewis se Feitepedie beswaar teen die prys daarvan – R190. Sit Smit ooit haar voete in boekwinkels? R190 is ‘n weggee-prys vir ‘n boek van hierdie aard.

Aan die ander kant, Wikipedia is net ‘n paar muisskuiwe weg. En dis verniet. Maar dit het nie die inligting wat in Feitepedie is nie …

Profile photo of crito

by crito

Ondersteun resensiekunde

Februarie 2, 2011 in Sonder kategorie

Die ordening van Boekeblaaie is nie vir my altyd heeltemal verstaanbaar nie. Mens neem aan die redakteur plaas die resensies van die boeke wat volgens hom/haar die belangrikste is, op die mees prominente plek.

Afgelope Maandag het Die Burger byvoorbeeld Con de Wet se bespreking van Karel Schoeman se Kolonie aan die Kaap – Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662 as hoofresensie geplaas. Vermoedelik op grond van Schoeman se status.

Dit kon sekerlik nie hoofresensie gewees het op grond van die gehalte daarvan nie. Onopvallend, ongeesdriftig dog positief geskryf – en sonder om Schoeman aan te vat oor sy apartheidstaal (“blankes”) in die titel.

Dit klink na ‘n beuselagtigheid, maar niks verhinder enigiemand nou, na die lees van die resensie, om te vermoed dat Schoeman dalk ander dinge ook in die apartheidsidiolek verwoord het nie? As die resensent sulke taalgebruik in ‘n titel nie raaksien nie, wat anders het hy nie alles gemis nie? (Bygesê, ek sou my, om dit Schoemaniaans te stel, verstom as Schoeman self bv. na swartes as nie-blankes verwys. Hy kon gewis ‘n meer sensitiewe titel vir dié boek gekies het.)

Hoe goed het die resensent hom dan van sy taak gekwyt? Wat my betref nie goed genoeg om sy skryfwerk die hoofresensie te maak nie.

Daarenteen was Suzette Kotzé-Myburgh se bespreking van Teksredaksie van WAM Carstens en Kris van der Poel baie interessanter, en kon mens dit lees met dieselfde plesier aan die lewende ironie as wat Kotzé-Myburgh sekerlik ervaar het met die skryf daarvan.

Maar ook dié resensie kort nog aan inhoud – ek sou graag meer wou weet van Carstens en Van der Poel se opvattings oor tipografie en naslaanbronne.

Eersgenoemde is een van die dinge waaroor resensente hulle uiters selde uitspreek, en naslaanbronne is in die era van Wikipedia en Google-soektogte op die web een van die pilare van die publikasiewese wat onder beleg is. Mens kan sekerlik nie die boekeredakteur daarvoor verkwalik dat Kotzé-Myburgh net vlugtig daarna verwys nie. Wat mens wel kan sê, is dat Kotzé-Myburgh in hierdie opsig moes gevra het vir meer ruimte.

Die resensie wat uit ‘n joernalistieke oogpunt die sterkste kandidaat behoort te gewees het om hoofresensie te word, is Joan Hambidge s’n oor Tempermes, die debuut-digbundel van die skilder Louis Jansen van Vuuren.

Nie dat Hambidge se resensie, soos dit nou daar uitsien, enigsins beter is as Con de Wet se poging nie. Ek wil histeries word elke keer dat sy haar ou karperd, Barthes se “jouissance”, voor die weantjie van haar betoog inspan.

Maar haar opdrag kon maklik gewees het om uitvoeriger te skryf oor die skilder wat van kreatiewe medium verander, aspekte van sy werk as beeldende kunstenaar te vergelyk met sy hantering van beelde as woordkunstenaar. Ek is seker Hambidge sou só ‘n opdrag uitstekend utgevoer het.

Ongelukkig bepaal sy haar nou by eerste, algemene indrukke oor Jansen van Vuuren se verse.

***

Die tipografie waaroor Carstens en Van der Poel dit in hul Teksredaksie het, is iets wat by webwerwe ook van die grootste belang is. Die webbladsye waarop Rapport, Beeld en Volksblad hul boekeblaaie se inhoud ‘n weblewe gee, lees mens in kolomme af, dan van links na regs. Normaalweg. Soms pak hulle die resensies van links na regs, en dan af in kolomme. In sulke gevalle moet mens jou laat lei deur die datum van die resensie – by Volksblad verdwaal jy dikwels maklik in verlede week se resensies in as jy die webblad in kolomme af wil lees. ‘n Mens kan net hoop dat hulle konsekwent daarmee wil wees – dalk moet hulle Carstens en Van der Poel lees?

Die vraag is nou uiteraard in watter mate die koerant se Boekeredakteur steeds aan sy lesers leiding kan gee deur die visuele, tipografiese prioritisering van resensies.

Vandeesweek is dit uit die webblad duidelik dat Anastasia de Vries, die Boekeredakteur van Rapport, Jason Lloyd se resensie van Heindrich Wyngaard se Ons belangriker ag as Jeanette Ferreira se skrywe oor Sarel Pieterse se Boererumoer.

 

Daar is nie kritiek uit te spreek oor Ferreira se resensie nie. Maar Jason Lloyd se bespreking van Ons is net soveel méér: nuuswaardig, skerp krities, en uiteindelik verdoemend.

Ons is ‘n versameling van Wyngaard se rubrieke in Rapport en Die Burger. Dit handel hoofsaaklik oor “kwessies wat hul bestaan in die bruin gemeenskap het of wat bruin mense in die eerste instansie raak”.

Lloyd sê hy het meer uitdagende leesstof verwag. As koerantleser wat gou deur Wyngaard vervreem is weens sy kwasi-intellektuele gekarring, onderskryf ek Lloyd se opsomming.

Maar hy gaan heelwat verder as wat hierdie wit leser ooit sou kon, of wat enige wit kommentator sou kon. Hy beskuldig Wyngaard daarvan dat hy nie eerlik genoeg is in sy skryfwerk nie – dat hy nalaat om werklik omstrede kwessies, veral in die Afrikaanse gemeenskap, te takel.

Ek ag Lloyd se resensie hoog. Maar … Maar ‘n mens moet dit noukeurig lees om sy slotopmerking, naamlik dat Wyngaard nie in die geskiedenis opgeteken sal staan as “’n eerlike skrywer” nie, te verstaan – Lloyd bedoel nie dat Wyngaard ‘n oneerlike skrywer is nie, maar dat hy nie eerlik genoeg is oor meer kwessies nie.

Om hierdie rede is die opskrif van die resensie, “Waardige bydrae, maar eerlikheid skort” misleidend en sou ek diep ongelukkig daaroor gevoel het as ek Heindrich Wyngaard was.

***

Nico Geldenhuys gee in Beeld ook aandag aan Sarel Pieterse se Boererumoer in ‘n resensie wat net een gebrek het, en dis die afwesigheid van aanhalings of voorbeelde uit die vertellings van Pieterse. In Jeanette Ferreira se resensie van dié boek kon mens jou al verkneukel aan Pieterse se humor omdat sy aangehaal het. Geldenhuys juig oor Pieterse se humor, maar hy hou sy afstand deur meer na ander humoriste te verwys en nie slaags te raak met aanhalings ter stawing of ter illustrasie nie.

Moet geen fout maak nie, dis ‘n oordentlike resensie en ‘n baie kundige reaksie op hierdie boek. Die vraag is nou net, hoofsaaklik aan Beeld se Boekeredakteur gerig, wat hy gekies het as hoofresensie in die koerant: Geldenhuys se resensie, of dié van J.B. Roux oor Martie Muller se spanningsverhaal As die eland struikel.

Ek het die koerant nie fisiek gesien nie, en is dus bloot nuuskierig. Die webblad het voorkeur gegee aan Roux se resensie, as ek reg onthou. Vreemd.

***

Die internet het wel sekere ingeboude voordele wanneer dit kom by die prioritisering van resensies. LitNet se tuiswerf is ‘n soort indeks vir al die heuglikhede wat onder LitNet se sambreel te vind is, en onder meer is daar ‘n kassie genaamd “Biebouw-resensies”.

In hierdie kassie lys LitNet die jongste toevoegings tot sy Afrikaanse resensieblad. Tans gee dit skakels na Madri Victor se resensie oor Margaret Bakkes se ‘n Ver plek vir Zilla, Marius Crous se bespreking van Lina Spies se bundel Tydelose gety, Eckhard Cloete s’n oor Martina Klopper se Nadoodse ondersoek, Thys Human se resensie van Maal deur Nicole Jaekel Strauss, en Johann de Lange s’n oor Johann Lodewyk Marais se Diorama.

Met ‘n oogopslag die room van die room, gepubliseer oor ‘n tydperk van maande – resensente wat sonder die plekbeperkinge van koerante skryf, en hulle nie hoef te steur aan die koerante se waarskynlike lesers nie. Bondigheid is nie ‘n vereiste nie, deeglikheid wel.

Ek sal weer by die Biebouw-resensies uitkom, maar intussen kan ek Human en De Lange se resensies as beginpunte aanbeveel. Die ander wat gelys word is ook te verslind, maar by Human en De Lange wil ek uitroeptekens plaas en die kassie se motto onderskryf: “Ondersteun resensiekunde”.