Jy blaai in die argief vir 2010 November.

Profile photo of crito

by crito

Twee rye spore agter die Kemps aan

November 30, 2010 in Sonder kategorie

Franz Kemp het onlangs op LitNet ‘n besonder goeie resensie deur Sandra Troskie ontvang vir sy 60 dae in die Suid-Soedan. In Maandag se uitgawe van Die Burger skryf André le Roux, Media24 se Afrika-redakteur, met ewe groot waardering oor dié boek.

Troskie se resensie is amper ‘n essay – ‘n betragting van die “proses van groei en ontwikkeling” wat Kemp se tog in Afrika in geword het.

Troskie skryf ín ‘n onderwerp in, en soos sy die een gedagte na die ander afpeul, as ‘t ware die punte van haar betoog aftel, besef jy dat sy op heel onopsigtelike manier besig is om te verduidelik waaroor die boek handel, en wat ‘n leser daarvan kan maak. Ek verpes normaalweg resensie waarin die inhoud puntjie vir puntjie gelys word, maar hier is dit met soveel finesse gekamoufleer dat mens wil hande klap.

Ek dink nie ek maak ‘n fout nie as ek sê dat haar resensie een van die top-resensies is wat vanjaar oor ‘n Afrikaanse boek verskyn het. En nadat Troskie hom so hoog aangeslaan het, wonder ons wat Kemp se naam al jare in koerante en tydskrifte sien, of daar nie dalk ander boeke is waarby het net nie kans gehad het om by uit te kom nie.

André le Roux se bespreking is weer baie nader aan ‘n “tradisionele” koerantresensie. Dit is interessant om te sien hoe hy met sy eerste klompie paragrawe ‘n algemene aanloop neem. Dis verfrissend anders as so baie van die resensies van non-fiksie boeke wat ons normaalweg in Afrikaanse koerante kry.

Ongelukkig verlei dié aanloop Le Roux ook in ‘n verkeerde rigting. Hy sit met ‘n pragtige intro wat hy laat in die resensie wegsteek (“Kemp het sy bestaansrede in Juba ontdek”) maar hy gaan dit verbrands nie gebruik nie, want hy het hierdie eie ondervinding en insig oor Afrikaners in Afrika wat hy wil gebruik as intro.

Hét hy daardie weggooi-sin as intro gebruik, sou die resensie noodgedwonge heeltemal anders gelees het, en waarskynlik dramaties korter gewees het. 

Nietemin, ek het ook waardering vir Le Roux se resensie. Hy is krities genoeg om reguit te praat oor die mooi foto’s waarna verwys word, maar wat nêrens te sien is nie.

As mens terugdink aan Deon Maas se Witboy in Afrika, besef jy dat Le Roux ‘n baie geldige punt hier beet het. Sulke foto’s help geweldig baie om die leser se geheelbeeld af te rond. By Maas was daardie foto’s van baie groot waarde en het gehelp om ‘n kontrolepunt vir Maas se flambojante vertellings te skep.

***

Ek het al ventevore geskryf oor die onwenslikheid daarvan dat uitgewers die boeke van hul mededingers in koerante resenseer.

In afgelope Sondag se Rapport skryf Izak de Vries, tans werksaam by Protea Boekhuis, oor Anna Kemp se Op reis met ‘n hond, wat by Human en Rousseau verskyn het.

De Vries se resensie is uiters positief; hy gooi sy bespreking oor die boeg van inhoud, tematiek en taalaanbod. Hy verduidelik hoe die bundel in sy onderdele geheg is, en het waardering vir die voorkoms van die boek.

Die vraag wat mens kan vra, en wat die outeur beslis sal vra, is of De Vries die bundel verder bó kritiek aanslaan, of is hy uit hoofde van sy posisie as uitgewer net te beleef om die publikasie van ‘n mededinger skerp te ontleed?

Onvermydelik vind mens dat jy begin wonder oor bybedoelings met só ‘n resensie – of dit nou geregverdig is of nie. Ek het nog altyd waardering gehad vir Izak de Vries se resensies en vind dit uiters irriterend om nou te moet begin wonder oor agenda’s en sulke dinge. Dalk het hy geen agenda nie – wat gunstig op hom sal reflekteer, maar dit sal mens weer laat begin dink dat hy heeltemal naïef is.

En in die proses is dit die skrywer, Anna Kemp, wat nie die volle voordeel kan trek uit die resensie nie.

Anastasia de Vries, wat in beheer staan van Rapport se boekresensies, moet besef dat hierdie praktyk uiteindelik die koerant in ‘n negatiewe lig plaas. Probeer Rapport uitgewers teen mekaar afspeel? Of, as mens nou werklik sinies wil wees, probeer sy en Rapport verseker dat die resensie oor die boek positief gaan wees?

Hoe meer ek hieroor nadink, hoe onverkwikliker raak die saak.

Profile photo of crito

by crito

Drie benaderings tot Sneeuslaper

November 23, 2010 in Sonder kategorie

Eers Thys Human, en nou Cilliers van den Berg, Andries Visage en Marius Crous – Marlene van Niekerk is werklik gelukkig met die resensente wat haar Die sneeuslaper vir die Afrikaanse koerante bespreek.

Van den Berg se resensie in Volksblad is weer van só ‘n aard dat mens dadelik wonder hoekom mens nie sy naam meer op Boekeblaaie sien nie. Die resensie is gekonsentreerd geskryf, met opvallende aandag aan formulering. Van den Berg is iemand wat nie met woorde mors nie; sy analise van Die sneeuslaper gooi die aanloklikhede én ingewikkeldhede van dié bundel vir mens oop.

Van Niekerk is nie vir hom iemand van wie die leser moet terugdeins nie – tussen die filosofering en woordspel deur sien hy die ontroering en die vernuf van die prosateur raak.

Ek het my afgevra presies wat dit is wat Van den Berg so ‘n goeie resensent maak. Gewis die peil wat hy handhaaf met analise en insig in skrywerskundigheid, maar tog ook iets anders. Ek het die ou toets van die subredakteur op sy bespreking probeer toepas: Hoeveel van wat hy skryf kan weggesny word sonder om die strekking te skaad?

Niks, is die antwoord. Jy sou die intro en die slotparagraaf kon weglaat, maar dan verloor die resensie sy implisiete evaluasie: Hierdie boek is só intrigerend en goed dat mens dit móét koop en lees.

Maar kan dit die enigste maatstaf wees vir ‘n goeie resensie?

Wanneer jy Andries Visagie se bespreking in Die Burger van dieselfde bundel lees, besef jy wel dat daar ‘n dimensie is wat in sy (Van den Berg se) resensie ontbreek het. Mens neem aan dat hy negatiewe kritiek sou uitspreek indien hy enige had, maar dit is opvallend dat hy niks opper nie.

Visagie sluit in sy kritiese opmerkings aan by dinge wat reeds destyds genoem is oor Die vrou wat haar verkyker vergeet het, naamlik Van Niekerk se versotheid op Neerlandismes. Van den Berg noem dít of die probleme wat sommige lesers mag ondervind daarmee glad nie, en ook nie die feit dat dit konsentrasie verg om haar skryfwêreld binne te dring nie. Marlene van Niekerk skryf nie verstrooiingslektuur nie.

Andries Visage spreek hom wel daaroor uit, asook oor die elitistiese (my woord) plasing van die verhale: “… daar (is) baie Amsterdam en baie Stellenbosch, maar van plekke soos Karatara en Khayelitscha lees jy feitlik niks nie.” Hoe geldig só ‘n uitspraak is, is nie iets waaroor ek my wil uitlaat nie; wat wel gesê kan word, is dat Visagie duidelik ‘n gesprek oor Die sneeuslaper aan die gang wil sit.

Visagie se resensie het ‘n heeltemal ander soort aanpak as dié van Van den Berg. Hy bekyk die bundel van nader, in meer detail, en ondanks sy kritiese opmerkings deins hy nie terug van ‘n duidelik uitgesproke evaluasie nie: “ …. ‘n besonder sterk bundel”, wat “’n onmisbare bydrae tot die gesprek oor die etiese rol van die kunstenaar in die samelewing” maak.

Sowel Van den Berg as Visagie laat hulle uit oor die metafiksionele besinning oor die literatuur wat mens by Van Niekerk vind. Visagie staan uitvoeriger stil by elke verhaal in die bundel en wil ook Die sneeuslaper binne die konteks van Van Niekerk se oeuvre plaas.

Daar is verskeie klein dingetjies in Visagie se resensie wat opgeval het, buiten nou sy poging om ‘n debat oor die etiese rol van die skrywer in die samelewing aan die gang te sit. Die een wat my laat regop sit het, is: “Alles dui daarop dat Van Niekerk haar gereed maak om met mening na die poësie terug te keer.”

Ek het die teks gelees van Die verkorte raklewe van Anastasia W (wat op Aardklop opgevoer is), het ook sulke seine dáár raakgesien.

Marius Crous skryf met dieselfde blyke van respek vir die skrywer Marlene van Niekerk as Van den Berg en Visagie, maar sy aanslag is opvallend nader aan koerant-resensie as wat dit aan ‘n akademiese verhandeling in die kleine is.

Hy sien die dinge raak wat Van den Berg en Visagie genoem het, en soms uitvoerig bespreek het, maar hy is meer geneig om iets te noem en aan te beweeg. Sekerlik sal koerantlesers wat onder groot druk soggens die koerant deurwerk voordat hulle met hul dagtaak begin, Crous se soort bespreking, met korter paragrawe en baie tipografiese wit, makliker vind om te lees as dié van Visagie.

Vir die student wat hom in Marlene van Niekerk se skryfwerk verdiep, is daar tog ook genoeg stof tot nadenke in Crous se resensie om die bewaar daarvan saam met dié van Van den Berg, Visagie en Human vir latere verwysing te regverdig.

***

Terug by die intro en outro van Van den Berg se resensie. Dit is ‘n ou resensentetruuk, naamlik om die leser nuuskierig te maak met ‘n vraag en dan te antwoord dat hy/sy die boek moet gaan lees om die antwoord te vind.

Maar oordaad daarvan kan lelik boemerang. In Susanne Harper se bespreking in Beeld van Dwaalpoort (van Alexander Strachan) sluit sy ‘n andersins heel interessante resensie af met vyf vrae wat sy uiteindelik beantwoord met “Lees self om uit te vind”.

Al wat só ‘n oraanbod vir my sê is dat die resensent nie die vaagste benul had hoe om haar los te wikkel uit die opstapeling van verhaalinligting waarin sy haar teen die einde bevind het nie, en toe laat knal sy die vrae.

Dit sou meer vanpas gewees het om teen die einde haar aanvangsopmerkings oor die plaasroman op te volg en Dwaalpoort binne Strachan se oeuvre te plaas en evalueer.

***

In die dae van my jongelingskap was PG du Plessis ‘n ruk lank my redakteur. Meeste redakteurs het ‘n klompie dinge waarin hulle vas glo, en een van Du Plessis s’n was die opvatting dat mens net ‘n berig met ‘n retoriese vraag kan begin as jy absoluut seker is dat daardie vraag jou nie in die watsenaam gaan kom byt nie.

“Is daar enigiemand in Suid-Afrika wat boeke mooier uitgee as Protea?” vra Jan-Jan Joubert in Beeld ten aanvang van sy resensie van D.J. Kotzé se Dapper kinders van Suid-Afrika.

Regs van hierdie vraag (op Beeld se webwerf) is ‘n afbeelding van die boek se omslag:

Jammer, Jan-Jan, ek het nie die res van jou resensie gelees nie.

***

‘n Sterk inleidingsparagraaf kan ‘n vaal resensie red. En ‘n swak ene sal daardie selfde vaal resensie nog verder laat kleur verloor.

Nikki Lordan steek in haar resensie van Pat Stamatélos se Vier begrafnisse en ‘n troue die intro weg in die tweede paragraaf.

Die gepubliseerde intro lui: “Ons ontmoet vir Dulcie-Anne Douglas met die intrapslag as opgesmukte huisvrou by die begrafnis van Hanna, oorlede eggenoot van Sparky.”

Die tweede paragraaf begin met die opmerking wat die resensie sommer lekker sou laat wegspring het: “Moenie dat die titel Vier begrafnisse en ‘n troue die omgekeerde van die film getitel Four weddings and a funeral jou gooi nie.”

Die intro wat sy gebruik het geen behoorlike oorgang na die tweede paragraaf nie – en ons kan ons seker gelukkig ag dat sy die tweede paragraaf nie begin het met “Van begrafnisse gepraat …” nie.

Elders vind mens weer ‘n paragraaf waarin twee gedagtes sonder logiese samehang saam gegroepeer word: “Wie pas dan waar in? vra dié leser, haastig op soek na ’n netjies uiteengesitte diagram voor in die boek wat alles mooi verduidelik. Vier begrafnisse en ’n troue is ’n deernisvolle verhaal wat op verfrissende wyse die kwessie van klasseverskille en ‘politieke korrektheid’ aanvat.”

Die subredakteur moet homself beter laat geld!

Profile photo of crito

by crito

Om te baai in die gloed of nie

November 15, 2010 in Sonder kategorie

Die resenseer van biografië en outobiografië is net so ingewikkeld as die skryf daarvan. As ‘n koerant se boekeredakteur slim kies, gee die resensie dikwels meer sports af as die boek self.

Ek vermoed die kuns lê daarin om vooraf te probeer bepaal, by biografië, in watter mate die outeur van die biografie ‘n hagiograaf is, en dan ‘n resensent te kies wat nie baai in die glorie van die onderwerp nie.

By outobiografië kan ‘n boekeredakteur kus en keur uit die vyande wat die outobiograaf in sy lewe gemaak het, of iemand wat ‘n gebalanseerde uitkyk het op die lewensterrein waarop die onderwerp hom- of haarself begewe het.

Met hierdie oorwegings in gedagte moet ek dadelik sê dat Beeld my vandeeweek groot plesier verskaf het met die resensies van Pik Botha se Pik Botha en sy tyd (geskryf deur Theresa Papenfus) en Ver van vrede – my volle verhaal deur Jurie Els.

Vir eersgenoemde is At van Wyk – oud-joernalis en gerespekteerde geskiedskrywer en historikus – as resensent gekies, en vir laasgenoemde is Jeanette Ferreira gekies. Van Wyk was ‘n besonder goeie keuse; en Ferreira blyk toe ‘n geïnspireerde keuse te gewees het.

Van Wyk is nie iemand wat hom deur ‘n versweë agenda sal laat lei nie. Hy gee oorvloedig krediet aan Theresa Papenfus vir die reuse taak wat sy hier verrig het, en wanneer die oomblik dan kom, neem hy sy kans waar om ‘n ou appeltjie met Botha te skil. Ek kan dink hoe lekker Van Wyk moes gekry het om uiteindelik die joernalis te wees wat die laaste woord teen Pik Botha inkry op ‘n gegewe onderwerp!

Wat ek voorts van Van Wyk se resensie hou, is dat dit wys in watter mate Papenfus ‘n afstand kon neem op haar onderwerp. Die aanhalings van Karin Brynard, Hermann Giliomee en Ebbe Dommisse plaas ‘n besonderse perspektief op boek en outeur – en onderwerp. Hagiograaf is sy duidelik nie.

En dan, amper onopsigtelik in die betoog van die resensent, is daar die een opmerking wat baie mense hulle vandag sekerlik al hoe meer afvra: “En dit bly ‘n vraag waarom hy nie hoofonderhandelaar by Kodesa was nie.”

Net een fout – Van Wyk verwys in die begin na “FR Botha”, maar na die beste van my wete is Pik se doopname Roelof Frederik.

In watter mate Jeanette Ferreira opgaan in ligte Afrikaanse musiek, weet ek nie, maar of sy dit doen of nie is nie van deurslaggewende belang by die skryf van ‘n resensie soos hierdie nie. Die resensent moet kan reageer op die lewe wat oor die boek se bladsye uitgepak word, gewis – maar sy moet ook kan oordeel oor die gehalte van die boek as geheel. En dáárvoor is Ferreira net die regte persoon, synde oud-uitgewer.

As mens ooit wil weet presies hoe uitgewers na boeke kyk, kan jy nie beter kry as Ferreira se bespreking van hierdie boek van Jurie Els oor homself nie. Kyk gerus na haar opmerking oor hoekom uitgewers outobiografië uitgee.

Ek moet sê, die plaas van die omslag neffens die resensie het my dadelik laat regop sit: Mooie Jurie Els staar die kamera reguit in die oog – maar net helfte van sy gesig is sigbaar. Is dit die uitgewer (en/of outeur) wat probeer sê “die helfte is nimmer vertel”? Wat uiteraard die subtitel, “my volle verhaal” ironiseer.

Dan verwys Ferreira ook na die uitgewer wat besluit het om Els se oog te glansvernis, wat vir haar spookagtig aandoen en sekerlik die visuele dubbelsinigheid van die omslag-ilustrasie versterk (in die lig van Ferreira se opmerkings wonder ek of mens die uitgewer soveel krediet moet gee):

Nietemin, Ferreira oordeel dat die boek Els se aanhangers sal tevrede stel wat inhoud betref. Dit is goed.

Maar wat sy verder doen, is iets wat resensente nie met elke publikasie kan doen nie, omdat meeste daarvan deeglik verpak is. Ferreira dui aan hoekom hierdie boek die uitgewer nie tot eer strek nie: slordig aangebied, taalkundig vol gruwelike foute, swak geskryf, sonder behoorlike fokus, ‘n outeur wat onvolwasse was in sy bepaling van die outeursafstand.

“Te veel sentiment en te min siniese nugterheid,” sê sy op een plek.

Kortom, té min moeite is gedoen met hierdie outobiografie.

Haar slot is verdoemend oor Els se skryfwerk, en ingebed daarin is ‘n besonder ernstige teregwysing vir die uitgewer van die boek: Jy moet wys genoeg wees om te weet wanneer ‘n biografie ‘n beter keuse is as ‘n outobiografie.

Duidelik het die uitgewer nog heelwat te leer.

Profile photo of crito

by crito

Drie benaderings tot Deon Meyer

November 9, 2010 in Sonder kategorie

Uit ‘n joernalistieke oogpunt beskou is die resensies wat die afgelope week oor Deon Meyer se nuwe roman, Spoor, verskyn het ‘n interessante gevallestudie. Die drie Afrikaanse oggendkoerante het dit op dieselfde dag geplaas.

In Die Burger het Pieter J. Haasbroek (die bekende skrywer en ekonoom) die gebroke spanningslyn aangedui as leemte, maar die res van sy resensie is vol lof vir die noukeurige detail en feitlike juistheid, die aktualiteit en die manier waarop Meyer die aandag gryp en vashou.

In Volksblad sê Corli van der Merwe die egtheid en diepte van die karakters in Spoor is waar die roman se slaankrag lê, terwyl sy ook waardering het vir Meyer se aanknoping van die hedendaagse werklikheid en problematiek, en spesifiek vir die gehalte van Meyer se skryfwerk.

In Beeld meen Andries Gouws dat een van die roman se ontknopings nie geloofwaardig is nie (sonder om te sê watter een), en tog beoordeel hy die roman baie gunstig, met waardering vir die aktualiteit, die intelligente struktuur en ‘n groot avontuur vir die leser.

Die drie se aanpak verskil. Dit is duidelik dat aldrie die resensente Meyer se hele oeuvre gelees het; by Haasbroek kry mens die meeste getuienis dat die resensent weet hoe die ratwerk van die roman lyk en hoe goed Meyer dit regkry om dit te laat werk.

Van der Merwe neem meer die rol van bewonderende en gewillige leser en skryf sonder tierlantyntjies. Sy trap net op een plek klei, naamlik wanneer sy Meyer se skryfwerk vergelyk met dié van Michael Connelly, Jonathan Kellerman en James Paterson. Ek glo nie sy sal die vergelyking met Kellerman en Patterson kan verdedig nie – ek dink trouens dit is effens van ‘n belediging vir Meyer om met ‘n ploeteraar soos Patterson vergelyk te word. Meyer mik op ‘n veel intelligenter leesmark. Van der Merwe sou met veel meer vrug kon kyk na die manier waarop Lee Child en Meyer se werk dieselfde strategië volg.

Gouws se bespreking in Beeld is geskryf in ‘n soort André le Roux meets Elmore Leonard-styl. Inleidingsparagraaf vol bravade. Kort sinne. ‘n Implisiete gespreksgenoot met wie geargumenteer word. ‘n Afsluiting wat teruggryp na die inleidingsopmerking, en ‘n laaste paragraaf wat ‘n pastiche is van ou Deon se skryfwerk.

Ek besef dit is verg vaardigheid om só ‘n resensie te skryf (en selfs ‘n goeie humorsin), maar die styl irriteer my. Dit is asof die resensent uit die staanspoor besluit het hy gaan só skryf dat sy leser ‘n idee kry van hoe ou Deon dinge doen, en dit só oppervlakkig doen dat die resensie maklik sal lees en niemand bekommerd hoef te wees dat die leser se aandag sal dwaal na iets elders op die blad nie.

Die vraag is uiteraard nou wat die boekeredakteur se opdrag aan die resensent was, en of die resensent self besluit het hoe om die skryfwerk aan te pak. Indien dit laasgenoemde was, het Van der Merwe die veiligste uitweg gekies, Haasbroek die moeilikste, en Gouws die een wat meer oor die resensent se opvattings verklap as oor die boek self.

***

Ek het al voorheen geskryf oor hoe boekeredakteurs reageer wanneer ‘n boek duidelik van groot literêre belang is én groter eise aan die leser stel as wat normaalweg die geval is. Anastasia de Vries van Rapport het al in die verlede eienaardige besluite geneem (vgl. die keuse an resensent vir EKM Dido se jongste werk), maar mens kan geen fout vind met haar versoek aan Thys Human om Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper te resenseer nie.

Dit is selde dat mens ‘n resensent kry wat só op hoogte is met ‘n skrywer se werk, en boonop sy insig analiserend kan aanwend by ‘n bespreking van ‘n nuwe werk deur daardie skrywer. Dit maak dat hierdie resensie gemaklik en onderhoudend lees sonder om die geringste mate van òf swaartillendheid òf oppervlakkigeheid te toon.

Enigiemand wat hierdie resensie behoorlik lees, kry nie alleen ‘n besonder knap ontsluiting van die bundel se inhoud nie, maar ook ‘n besonderse begeleiding deur die vernaamste kenmerke van Van Niekerk se skrywerskap.

Om Human se slotopmerking te eggo: Dit wil waaragtig gedoen wees!

***

Tussen al die literêre resensies van die afgelope week deur was daar in Rapport Boeke ook iets anders om aan te smul: Herman Lategan se besprekings van Marita van der Vyver se Somerkos in Provence en Sonia Cabano se Vars vinnig lekker.

Lategan se resensies is nie juis krities ingestel nie. Sy trant is gemaklik, loslit en informatief. Hy is gevoelig vir die tekstuele inhoud, maar sy opmerkings oor die estetiese illustratiewe inhoud wys dat hy ‘n skerp oog het.

Dit is eers wanneer mens sy slotopmerkings oor die twee boeke vergelyk dat jy agterkom dat hy Van der Vyver se werk met ‘n bietjie meer geesdrif behandel.

Hoop om meer resensies uit sy pen te sien!

Profile photo of crito

by crito

Vergeet die gedempte toon

November 1, 2010 in Sonder kategorie

Daniel Hugo se pragtige vertaling van Jan Terlouw se Koning van Katoren beweeg tans in my huis van een gretige leser na ‘n ander. Aniel Botha se resensie in Die Burger kon nie op ‘n beter tyd gekom het nie.

 

Dis ‘n eienaardige appeltjie wat ek met Botha te skille het oor dié resensie. Luister: Hoekom is dit so moeilik om opgewonde te klink in boekresensies?

 

Kan dit wees dat woorde soos treffend, wonderlik nie meer genoeg is nie? Kan dit wees dat daar te veel volwasse afstand opgesluit lê in opmerkings soos “Dit is ’n meervlakkige verhaal wat vele subtiliteite bevat. Vir die meer ervare leser bevat dit politieke kommentaar en skerp humor?”?

 

En hoekom hinder ‘n opmerking soos “Dit is die soort boek wat ’n mens koop en op jou boekrak bêre vir die klein- en agterklein­kinders” my so baie?

 

Sekerlik omdat dit ‘n boek is wat nou gelees moet word, nie net toekomstige geslagte nie. En, laat ek maar eerlik wees, dit mens nou en hier laat vergeet van alles behalwe die boek se eie betowerende verhaal.

 

Ek kan sien dat Aniel Botha die boek so verruklik soos ek gevind het – soms wens ek net die resensent wil dit uitbasuin. Gedempte toon werk nie altyd nie.

 

***

 

Presies hóé wil skrywers hê moet mens reageer op hul skryfwerk? Wil hulle hê jy moet huil, lag, jouself dae lank terugtrek in bepeinsing?

 

Ek vermoed Mariël le Roux gaan voel sy het ten minste deel van haar ideale verwesenlik as sy Jacolette Kloppers se bespreking van Le Roux se Die naamlose (Beeld) lees.

 

Indien ’n mens jou hart vir die boek oopmaak en jou aan die storie oorgee, kan dit jou ’n nag lank laat huil omdat dit eerstens so hartseer is en omdat ’n mens Carli se vrese so aan jou eie lyf kan voel,” skryf Kloppers.

 

Maar wat gemaak as jy nie jou hart wil oopmaak nie? Wat gemaak as jy ‘n hoë premie plaas op deurdagte skryfstyl, op genuanseerde karaktertekening, op afwisselende tempo, op spanningsbou?

 

Kloppers sê niks daaroor nie. Die roman mag alles daarvan hê. Kloppers gee net geen inligting wat mens kan laat besluit of sy meen dit is gepas dat hierdie roman tweede gekom het in Sanlam se Groot Romanwedstryd nie.

 

Soms moet mens meer aanspreek in ‘n resensie as die tematiese inhoud en die verloop van die verhaal.

 

***

 

Die vraag wat my altyd besig hou wanneer ek te make kry met nóg ‘n bundel van ‘n bekende skrywer se koerant- of tydskrifrubrieke, is wat dit is wat hulle anders as sy ander skryfwerk maak, asook anders as die rubrieke van ander skrywers. Hoekom moet ek nou, in hierdie stadium van die wedloop iets lees wat ek nie wou lees toe dit in die koerant of tydskrif verskyn het nie.

 

Jeanette Ferreira geen in haar bespreking van Brouhaha van Eben Venter (Beeld) darem een baie goeie rede, al is dit effens met ‘n omweg: Venter skryf met insig en geen venyn nie oor die buitenissighede van sy medemens.

 

Ek hou van die manier waarop sy dit formlueer: “Aan aartsgesonde sinisme ontbreek dit nie, aan diepgewortelde venyn wel.”

 

As ek die regte afleiding maak, dink Ferreira dis eintlik beter om hierdie skryfwerk van Venter nou, in hierdie konteks te verken – nóú is daar interessante illustrasie deur Venter self bygevoeg, asook ‘n klompie skynbaar baie kreatiewe resepte.

 

Hoe noem die sakemense dit, toegevoegde waarde?

 

Moet darem byvoeg – mens kan Ferreira se slotopmerkings beslis nie met ‘n gedempte toon aansien nie: “’n Buitengewoon begaafde skrywer. Iets kosbaars om te besit.”

 

Of kan mens kosbaar nou al saamgroepeer met treffend en wonderlik?