Profile photo of crito

by

Skerp kritiek, besadigde toon

Oktober 26, 2010 in Sonder kategorie

So stilletjies, onderaan hierdie week se Boekeblad in Die Burger, verskyn ‘n resensie wat waarskynlik daardie koerant se belangrikste bydrae tot hierdie vertakking van die joernalistiek vanjaar is.

Die resensie handel oor Johanna de Wet se Wat praat jy! Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings. Dit is geskryf deur Rufus Gouws, hoogleraar in die Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Gouws is ‘n internasionaal gerekende leksikograaf en was ook betrokke by die hernuwing van die HAT.

Sy resensie van Wat praat jy is in jargonlose taal aangebied. Dit beteken nie dat hy  niks indringends sê nie. Inteendeel.

Hy spreek sy waardering uit vir dit wat die boek doen om sy subtitel gestand te doen – nuwe idome, gesegdes en uitdrukkings op te teken en te verduidelik.

Dan kritiseer hy die publikasie volgens leksikografiese dissipline, steeds jargonloos. Sy kritiek kom op die volgende neer: leksikografiese publikasies (verklarende en twee- of meertalige woordeboeke, spelreëls)  word georden volgens ‘n beplande struktuur, of ‘n stel stylriglyne wat die leksikograaf vooraf bepaal en getrou volg.

Wat praat jy skiet op hierdie punt tekort – volgens Gouws het die opsteller haar subtitel té wyd geïnterpreteer en veroorsaak dit ‘n chaos in die inhoud. Die boek se bruikbaarheid is daardeur ondermyn.

Dan rig hy hom ook tot die uitgewer. Sy uitgangspunt is duidelik dat ‘n uitgewer wat dit op die gebied van die leksikografie waag, moet sorg dra dat die publikasie aan die norme van die vakgebied voldoen. In hierdie opsig toon Gouws aan dat die bibliografie van Wat praat jy heeltemal benede peil is en as ‘n groot verleentheid beskou moet word.

Wat ten slotte ook opval van hierdie resensie, is dat dit met soveel besadigheid en goeie maniere oorgedra word – g’n skewe woord nie, niks bitsigs nie, besonder ewewigtig.

***

Een opmerking wat Neil Cochrane maak in sy resensie van Tom Gouws se Ligloop (Beeld) het dadelik die aandag getrek.

Hy verwys na ‘n versugting in een van Loftus Marais se gedigte dat ‘n gedig met dringendheid geskryf of geformuleer moet word. By wyse van kontras gee Tom Gouws se gedigte min blyke van vinnige kuns.

Cochrane se waardering vir Gouws spruit uit tekens dat Gouws ‘n lang en moeisame proses volg, ‘n woordkunstenaar wat alles weeg en beproef voorat hy finaliseer.

‘n Ander interessantheid is dat Cochrane, naas sy waardering vir die eerste twee dele van die bundel, sy taksering van die derde, godsdienstige deel, kwalifiseer in terme van die leser se godsdiensgevoeligheid.

Die pad van emansipasie sedert Totius en die Louw-broers het baie slaggate en draaie. Die blote feit dat Cochrane (heeltemal tereg wat my betref) dit nodig gevind het om ’n afdeling van godsdienstige verse op hierdie manier te takseer, verklap ongelooflik baie oor die huidige verband tussen die Afrikaner en godsdiens.

***

‘n Mens vermoed ‘n huiwerigheid om opgewonde te raak by Willie Burger in sy bespreking van Dan Sleigh se Afstande (Die Burger).

Op sy gebruiklike deeglike manier bespreek hy die boek, sy agtergrond en verwysingsveld.

Wanneer dit by die plek in die resensie kom waar hy nie anders kan as om ‘n evaluering te gee nie, beroep hy hom op Christopher Hope se resensie enkele jare gelede van Sleigh se Eilande, en met die moed wat dit hom gee, gaan Burger dan oor om dít te sê wat hy deurentyd huiwerig was om op die naam te noem: “… té veel rekonstruksie en té min hartklop, té veel inligting, té lang beskrywings wat mens laat ophou omgee.”

En hoewel hy daarna waarderende woorde uitspreek, is dit in gedempte toon, want die opmerking oor té min hartklop is uit, oor die lippe, en kan nie terugkatrol word nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.