Profile photo of crito

by

Bewysplase makeer

Oktober 12, 2010 in Sonder kategorie

Wat ek waardeer van Marius Crous se bespreking in Beeld van Nadoodse ondersoek, die debuutdigbundel van Martina Klopper, is die manier waarop hy sonder omhaal van woorde tot sy oordeel kom.

Ná ‘n paar algemene opmerkings kom hy by die spilpunt van sy resensie, naamlik die mate waarin hierdie digter ‘n eie stem het.  Hy formuleer ook vinnig ‘n gevolgtrekking, naamlik dat Klopper té duidelik ‘n navolger van haar leermeester, Joan Hambidge is.

Crous skryf ‘n onderhoudende, argumenterende resensie, wat te verwelkom is. Daar kan by niemand twyfel wees oor sy mening nie, en hy is waarderend genoeg om die debutant moed te gee vir ‘n volgende bundel.

Ek voel egter Crous het gesondig in die rigting van ‘n konserwatiewe skryfstyl. Die soort aanklag wat hy maak, naamlik dat die debutant nie kon vrykom van epigonisme nie, en dat die invloed van Joan Hambidge té sterk in hierdie debuut merkbaar is, is een wat ‘n resensent op veel uitvoeriger wyse behoort te doen as wat Crous hier aan sy lesers deurgee.

Om billik te wees teenoor die digter sou dit vanpas gewees het om ruim aan te haal uit sowel die verse in hierdie debuut as uit die oeuvre van Joan Hambidge, waarmee Crous skynbaar deeglik op hoogte is. Dan sou sy argument sterker gestaan het, en sou die digter daarby baat gevind het. Die een aanhaling wat hy tans gee, is nie genoeg nie.

En ek verstout my om by te voeg dat ook Hambidge dan geen gronde vir beswaar sou hê nie. Soos dit nou is, staan sy as leermeester ook by implikasie tereggewys omdat sy ‘n nabootser nie genoeg kon aanmoedig om ‘n eie stem te vind nie.

Die probleem is net dat Crous verwag ons moet sy oordeel net so aanvaar sonder uitvoerige bewysplase. Ons kan aanvaar dat hy die mening toegedaan is, maar op welke vaste voete staan dit?

***

Dinge gebeur in die Kaap ‘n bietjie stadiger as elders. Die Burger plaas vandeesweek eers ‘n resensie van Laurie en Frits Gaum se Praat verby grense – meer as ‘n maand nadat Volksblad en Beeld daaroor besprekings gehad het. Maar dis al negatiefs wat mens kan sê oor hierdie resensie, deur Martie Retief Meiring.

Mens bespeur die hand van ‘n ervare joernalis in hierdie skryfwerk – só lesersvriendelik dat mens kwalik agterkom hoe sy die boek in breë trekke opsom, die belangrikste kwessies uitlig en jou ook insig gee in die verskuiwings wat daar by die twee deelnemers was in die loop van hul gesprekke.

En moontlik omdat sy lid is van dieselfde ouderdomsgroep as Frits Gaum sien die resensent raak presies wat die kernverskuiwings daar by hom  was. Ek is jonger as Retief Meiring en Gaum Sr, maar oud genoeg om te weet hoe belangrik die gewaarwordings is wat hy beleef oor die kerk en die staat binne Vorsteriaanse en Verwoerdiaanse verband.

***

Ek is steeds nie heeltemal gelukkig nie met die manier waarop besprekings van Engelse boeke, en spesifiek Engelse boeke van buite ons landsgrense, nog soveel ruimte kry op die boekeblaaie van Afrikaanse koerante.

Wanneer mens dan sien dat ligte verstrooiingsliteratuur en jeugboeke resensieruimte kry, soos Maandag in Die Burger, dan is dit net genoeg rede om die hoop te laat opvlam dat veel meer van hierdie soort boeke, wat in die gewone gang nie soveel aandag kry op boekeblaaie nie, in die toekoms in die koerant te lees sal wees.

Jaybee Roux resenseer Anderkant die môrester van Anna Penzhorn, en Carina Diedericks-Hugo skryf oor Paul C. Venter se Die geval van die sadistiese swembad.

Roux se styl ken mens reeds en dis nie nodig om weer daaroor uit te wei nie. Ek is wel bly om Diedericks-Hugo se naam te sien. Sy is iemand met ‘n uitgebreide kennis van jeugromans en skryf met gesag.

En sy trap nie in die ou strik van die hele storie te wil oorvertel nie. Is ook prakties genoeg ingestel ook om die veteraan Venter iets te leer oor die gebruik van spuitverf!

***

Te oordeel na Volksblad se webwerf was daar die afgelope week geen boekbesprekings in dié koerant nie. Kan dit waar wees?

2 antwoorde op Bewysplase makeer

  1. Ja tog! Hoekom moet Engelse boeke hoegenaamd in Afrikaanse koerante bespreek word? Daar is juis so min ruimte vir die boekeblaaie. Engelse koerante gee tog genoeg blootstelling aan Engelse boeke?

  2. BertieL het gesê op Oktober 26, 2010

    Ag Crito, ek hou van jou skrywe. Maar ek wil net noem, daai Gaum boek is glad nie so interessant soos jy dit probeer uitmaak nie. Dis maar meestal ‘n paragraaf om te bespreek in print. Anders vat dit te veel spasie op. Dis ou nuus, vervelig, sleg geskryf. Die mense wat so aangaan daaroor projekteer hulle eie issues op die boek. Not worth it darling.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.