Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Skerp kritiek, besadigde toon

Oktober 26, 2010 in Sonder kategorie

So stilletjies, onderaan hierdie week se Boekeblad in Die Burger, verskyn ‘n resensie wat waarskynlik daardie koerant se belangrikste bydrae tot hierdie vertakking van die joernalistiek vanjaar is.

Die resensie handel oor Johanna de Wet se Wat praat jy! Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings met verklarings. Dit is geskryf deur Rufus Gouws, hoogleraar in die Afrikaanse taalkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.

Gouws is ‘n internasionaal gerekende leksikograaf en was ook betrokke by die hernuwing van die HAT.

Sy resensie van Wat praat jy is in jargonlose taal aangebied. Dit beteken nie dat hy  niks indringends sê nie. Inteendeel.

Hy spreek sy waardering uit vir dit wat die boek doen om sy subtitel gestand te doen – nuwe idome, gesegdes en uitdrukkings op te teken en te verduidelik.

Dan kritiseer hy die publikasie volgens leksikografiese dissipline, steeds jargonloos. Sy kritiek kom op die volgende neer: leksikografiese publikasies (verklarende en twee- of meertalige woordeboeke, spelreëls)  word georden volgens ‘n beplande struktuur, of ‘n stel stylriglyne wat die leksikograaf vooraf bepaal en getrou volg.

Wat praat jy skiet op hierdie punt tekort – volgens Gouws het die opsteller haar subtitel té wyd geïnterpreteer en veroorsaak dit ‘n chaos in die inhoud. Die boek se bruikbaarheid is daardeur ondermyn.

Dan rig hy hom ook tot die uitgewer. Sy uitgangspunt is duidelik dat ‘n uitgewer wat dit op die gebied van die leksikografie waag, moet sorg dra dat die publikasie aan die norme van die vakgebied voldoen. In hierdie opsig toon Gouws aan dat die bibliografie van Wat praat jy heeltemal benede peil is en as ‘n groot verleentheid beskou moet word.

Wat ten slotte ook opval van hierdie resensie, is dat dit met soveel besadigheid en goeie maniere oorgedra word – g’n skewe woord nie, niks bitsigs nie, besonder ewewigtig.

***

Een opmerking wat Neil Cochrane maak in sy resensie van Tom Gouws se Ligloop (Beeld) het dadelik die aandag getrek.

Hy verwys na ‘n versugting in een van Loftus Marais se gedigte dat ‘n gedig met dringendheid geskryf of geformuleer moet word. By wyse van kontras gee Tom Gouws se gedigte min blyke van vinnige kuns.

Cochrane se waardering vir Gouws spruit uit tekens dat Gouws ‘n lang en moeisame proses volg, ‘n woordkunstenaar wat alles weeg en beproef voorat hy finaliseer.

‘n Ander interessantheid is dat Cochrane, naas sy waardering vir die eerste twee dele van die bundel, sy taksering van die derde, godsdienstige deel, kwalifiseer in terme van die leser se godsdiensgevoeligheid.

Die pad van emansipasie sedert Totius en die Louw-broers het baie slaggate en draaie. Die blote feit dat Cochrane (heeltemal tereg wat my betref) dit nodig gevind het om ’n afdeling van godsdienstige verse op hierdie manier te takseer, verklap ongelooflik baie oor die huidige verband tussen die Afrikaner en godsdiens.

***

‘n Mens vermoed ‘n huiwerigheid om opgewonde te raak by Willie Burger in sy bespreking van Dan Sleigh se Afstande (Die Burger).

Op sy gebruiklike deeglike manier bespreek hy die boek, sy agtergrond en verwysingsveld.

Wanneer dit by die plek in die resensie kom waar hy nie anders kan as om ‘n evaluering te gee nie, beroep hy hom op Christopher Hope se resensie enkele jare gelede van Sleigh se Eilande, en met die moed wat dit hom gee, gaan Burger dan oor om dít te sê wat hy deurentyd huiwerig was om op die naam te noem: “… té veel rekonstruksie en té min hartklop, té veel inligting, té lang beskrywings wat mens laat ophou omgee.”

En hoewel hy daarna waarderende woorde uitspreek, is dit in gedempte toon, want die opmerking oor té min hartklop is uit, oor die lippe, en kan nie terugkatrol word nie.

Profile photo of crito

by crito

Geyktheid en stereotipes

Oktober 19, 2010 in Sonder kategorie

Die resensie wat Riette Rust ‘n wyle gelede in Rapport gepubliseer het oor Jeanne Goosen se Plante kan praat het dadelik die aandag getrek danksy die verfrissende benadering wat sy tot ‘n bundel kortverhale gehad het.

Binne twee dae het daar nou twee resensies van haar verskyn: in Rapport oor Donatello en Volksie van Marion Erskine en in Die Burger oor Die naamlose van Mariël le Roux.

Haar resensiestyl neig in albei meer na die konvensionele (inleiding, opsomming van die verhaal/inhoud, ‘n paar kritiese opmerkings en ‘n evaluerende afsluiting) met na my smaak nog té veel oorvertel van die storie as wat werklik nodig is.

In haar kritiese opmerking oor Donatello en Volksie slaan sy die spyker op die kop, terwyl haar aanhalings van dinge wat haar goedkeuring wegdra, hierdie leser dadelik laat besluit het om tog ‘n slag chic lit van naderdby te beleef.

Wat wel steurend is in haar resensie, is in haar evaluerende opsomming, waar sy net nie die versoeking kan weerstaan om die preutse lesers ter wille te wees nie. Het sy werklik die vooroordeel oor chic lit verwerk waaroor sy ten aanvang bieg?

Ook by Die naamlose het sy ‘n negatiewe vertrekpunt (ten opsigte van tematiek) om te bowe te kom, en die boek help haar daarmee danksy die outeur se deernis vir die mense waaroor sy skryf.

Ongelukkig verloor haar resensie ietwat van sy fut weens ‘n paar sekerlik goedbedoelde maar nogtans clichématige formulerings (“die karakters lewe, so geloofwaardig is hulle”, “die plaas word as ‘t ware nog ‘n karakter”) en ‘n opmerking wat só geyk is dat dit aan mens verbygaan sonder om hard te registreer: “Die verhaalstruktuur is goed deurdink en verloop vol verrassende wendings vlot na die einde toe.”

 Aldus ondermyn sy dan ook haar slotsin, waarin sy die lees van die boek heelhartig aanbeveel.

Vergelyk Rust se bespreking van Die naamlose met dié van Elsabe Claassen in Volksblad, ‘n goed verwoorde bespreking waarin die resensent al haar goeie werk ongedaan maak met ‘n steurende paternalisme. Sy doen die moeite om die tematiek te verwoord, maar dan wend sy haar tot opmerkings oor die sout van die aarde en hoe dankbaar die roman ‘n mens maak vir getroue bediendes.

En dit is nogal interessant dat nòg Rust nòg Claassen genoeg van ‘n kritiese afstand op die inhoud van die roman verkry om, soos Malene Breytenbach verlede week in Die Burger, te snap dat daar sprake is van nuwe stereotipes in Le Roux se roman.

***

Joan Hambidge se resensie van Tom Gouws se Ligloop in Volksblad het my die kop laat krap.

Aan die een kant is dit ‘n werklik goed geskrewe, samehangende resensie waarin die beoordeling beskrywend en argumenterend geskied – totdat mens die derde laaste paragraaf tref. ‘n Enkelsin (“In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.”) wat niks met die voorafgaande paragraaf te make het nie, en eintlik ook nie met die daaropvolgende paragraaf nie.

 

Ná dié paragraaf hervat sy haar evaluering  en volg dit op met ‘n slotsom.  ‘n Titseltjie slordigheid, maar andersins ‘n resensie wat mens laat onthou hoe knap Hambidge op volle toere kan wees.

 

Profile photo of crito

by crito

Bewysplase makeer

Oktober 12, 2010 in Sonder kategorie

Wat ek waardeer van Marius Crous se bespreking in Beeld van Nadoodse ondersoek, die debuutdigbundel van Martina Klopper, is die manier waarop hy sonder omhaal van woorde tot sy oordeel kom.

Ná ‘n paar algemene opmerkings kom hy by die spilpunt van sy resensie, naamlik die mate waarin hierdie digter ‘n eie stem het.  Hy formuleer ook vinnig ‘n gevolgtrekking, naamlik dat Klopper té duidelik ‘n navolger van haar leermeester, Joan Hambidge is.

Crous skryf ‘n onderhoudende, argumenterende resensie, wat te verwelkom is. Daar kan by niemand twyfel wees oor sy mening nie, en hy is waarderend genoeg om die debutant moed te gee vir ‘n volgende bundel.

Ek voel egter Crous het gesondig in die rigting van ‘n konserwatiewe skryfstyl. Die soort aanklag wat hy maak, naamlik dat die debutant nie kon vrykom van epigonisme nie, en dat die invloed van Joan Hambidge té sterk in hierdie debuut merkbaar is, is een wat ‘n resensent op veel uitvoeriger wyse behoort te doen as wat Crous hier aan sy lesers deurgee.

Om billik te wees teenoor die digter sou dit vanpas gewees het om ruim aan te haal uit sowel die verse in hierdie debuut as uit die oeuvre van Joan Hambidge, waarmee Crous skynbaar deeglik op hoogte is. Dan sou sy argument sterker gestaan het, en sou die digter daarby baat gevind het. Die een aanhaling wat hy tans gee, is nie genoeg nie.

En ek verstout my om by te voeg dat ook Hambidge dan geen gronde vir beswaar sou hê nie. Soos dit nou is, staan sy as leermeester ook by implikasie tereggewys omdat sy ‘n nabootser nie genoeg kon aanmoedig om ‘n eie stem te vind nie.

Die probleem is net dat Crous verwag ons moet sy oordeel net so aanvaar sonder uitvoerige bewysplase. Ons kan aanvaar dat hy die mening toegedaan is, maar op welke vaste voete staan dit?

***

Dinge gebeur in die Kaap ‘n bietjie stadiger as elders. Die Burger plaas vandeesweek eers ‘n resensie van Laurie en Frits Gaum se Praat verby grense – meer as ‘n maand nadat Volksblad en Beeld daaroor besprekings gehad het. Maar dis al negatiefs wat mens kan sê oor hierdie resensie, deur Martie Retief Meiring.

Mens bespeur die hand van ‘n ervare joernalis in hierdie skryfwerk – só lesersvriendelik dat mens kwalik agterkom hoe sy die boek in breë trekke opsom, die belangrikste kwessies uitlig en jou ook insig gee in die verskuiwings wat daar by die twee deelnemers was in die loop van hul gesprekke.

En moontlik omdat sy lid is van dieselfde ouderdomsgroep as Frits Gaum sien die resensent raak presies wat die kernverskuiwings daar by hom  was. Ek is jonger as Retief Meiring en Gaum Sr, maar oud genoeg om te weet hoe belangrik die gewaarwordings is wat hy beleef oor die kerk en die staat binne Vorsteriaanse en Verwoerdiaanse verband.

***

Ek is steeds nie heeltemal gelukkig nie met die manier waarop besprekings van Engelse boeke, en spesifiek Engelse boeke van buite ons landsgrense, nog soveel ruimte kry op die boekeblaaie van Afrikaanse koerante.

Wanneer mens dan sien dat ligte verstrooiingsliteratuur en jeugboeke resensieruimte kry, soos Maandag in Die Burger, dan is dit net genoeg rede om die hoop te laat opvlam dat veel meer van hierdie soort boeke, wat in die gewone gang nie soveel aandag kry op boekeblaaie nie, in die toekoms in die koerant te lees sal wees.

Jaybee Roux resenseer Anderkant die môrester van Anna Penzhorn, en Carina Diedericks-Hugo skryf oor Paul C. Venter se Die geval van die sadistiese swembad.

Roux se styl ken mens reeds en dis nie nodig om weer daaroor uit te wei nie. Ek is wel bly om Diedericks-Hugo se naam te sien. Sy is iemand met ‘n uitgebreide kennis van jeugromans en skryf met gesag.

En sy trap nie in die ou strik van die hele storie te wil oorvertel nie. Is ook prakties genoeg ingestel ook om die veteraan Venter iets te leer oor die gebruik van spuitverf!

***

Te oordeel na Volksblad se webwerf was daar die afgelope week geen boekbesprekings in dié koerant nie. Kan dit waar wees?

Profile photo of crito

by crito

Groot behendigheid

Oktober 5, 2010 in Sonder kategorie

Beeld het niemand minder nie as T.T. Cloete gekry om Johann Lodewyk Marais se Diorama te resenseer. Maar maak dit van Marais ‘n arrivista?

Na verskeie lese van Cloete se resensie is ek nie so seker nie. Aanvanklik laat Cloete se intree-formulering (“Diorama van Johann Lodewyk Marais is ’n unieke, ekopoëtiese bundel in die Afrikaanse digkuns”) mens dink hier kom groot dinge. Iemand soos Cloete sal nie sommer ‘n woord soos “uniek” gebruik as hy dit nie bedoel nie.

 

Hoe verder jy lees, hoe meer besef jy dat Cloete die word doelbewus gebruik het, nie om gehalte aan te dui nie, maar om te verwys na die feit dat daar nie ander soortgelyke bundels in Afrikaans is nie.

 

En word dié resensie pret.

 

Cloete skryf ‘n amper Hambidgiaanse resensie – baie en kort paragrawe wat nie noodwendig altyd op mekaar volg nie, en wat gerig word deur die materiaal wat die resensent onder hande het. Sy bindingselemente tussen die paragrawe is net meer genuanseer, sy oorgange makliker om te aanvaar.

 

Kyk gerus na:

 

“Die erns van Marais se boodskap bring mee dat sy gedigte die leser direk aanspreek, in toeganklike verse.

 

“Tog moet ’n mens sy fyn metafore nie mislees nie.

 

“Die wag-’n-bietjieboom in ‘Fossielsoeker’ groei deur ’n Homo erectus-skedel. Wat ’n teenstelling.

 

“Maar dit is nie toevallig ’n wag-’n-bietjieboom nie, dit is ’n boom wat jou tot stilstand en nadenke vashou.”

 

Hoekom die verdeling in paragrawe? Spoel die wit in die digkuns oor na die terrein van die resensie?

Cloete het empatie met Marais se tematiek. Hy geniet oënskynlik  die manier waarop Marais sy fokus binne daardie tematiek versprei en variasie bewerkstellig. In sommige van Cloete se formulerings vind ek ook ‘n goedige, humoristiese reaksie: “Daar is ook fassinerende selfportrette, waar die digter faal en die voël triomfeer (‘Ars poe- tica’) …”

Dan kom mens by die twee slotparagrawe:

Marais het sy eie plek in die Afrikaanse digkuns oopgeskryf, met aktualiteitsgedigte oor die mooie en verbygaande van mens, dier, plant en die gedig self.

 

“In hierdie bundel doen hy dit met groot behendigheid.”

Hoe moet mens dit interpreteer – damning with faint praise? ‘n Senior digter wat aan ‘n amper senior digter sê dat sy status onveranderd bly?

 

Miskien albei – wat hierdie resensie des te meer interessant maak. Cloete hou hom by die inhoud, en raak net in uitsonderlinge gevalle iets kwyt wat te make het met Marais se digterskap, sy taalfinesse, die verfyning van Marais se verskuns.

 

Dit is dus wat Cloete nié sê nie wat die meeste geraas maak.

 

***

 

Wat praat jy!, Johanna de Wet se versameling van Afrikaanse idiome, gesegdes en vaste uitdrukkings word in Beeld deur Erika de Beer en in Volksblad deur Corlietha Swart geresenseer.

Oor een saak is albei dit eens, naamlik dat dit goed is om ‘n werk soos hierdie raak te loop en oorweldig te word deur die rykdom aan uitdrukkings wat daar in ons taal bestaan.

De Beer neem die mantel van jubelaris om haar skouers. As daar een resensent is wat die kuns verstaan om koerantlesers by boeke te kry, is dit sy. Geesdrif is iets wat moeilik is om oor te dra, en wat De Beer hier doen, is om die boek onder bespreking aan te wend om haar te help daarmee.

Wat wel problematies kan raak, is dat die resensent só meegevoer word deur haar aanklank by die inhoud dat haar kritiese oordeel haar in die steek laat. Dit het gewis hier met De Beer se respons gebeur.

Lees mens Corlietha Swart se bespreking, is daar inligting vervat wat De Beer glad nie noem nie, en wat wel belangrik is om te noem: die ontstaansgeskiedenis van die boek, die feit dat dit ‘n vierde uitgawe is, en dat daar groot leemtes en inkonsekwenthede ingesluip het in die nuwe uitgawe.

Swart se eindoordeel is nie minder gunstig as dié van De Beer nie, maar die intrinsieke waarde van Swart se resensie is dat dit vir die uitgewer en outeur ‘n klankbord gee, en riglyne vir die verbetering van die publikasie vir ‘n (hopelik) vyfde uitgawe daarvan.

***

Malene Breytenbach, self skrywer, bespreek in Rapport Mariël le Roux se Die naamlose, naaswenner in Sanlam se Groot Romanwedstryd van 2009. Breytenbach se resensie is vir my interessant oor een besondere rede, naamlik hoe een van die nuwe geslag skrywers oor ‘n ander se werk reageer.

In haar slotsom lê Breytenbach die klem op die inhoudelike elemente wat die boek vir haar iets besonders gemaak het: menslike wilskrag en die manier waarp uitgeworpenes teenslae en mishandeling oorwin.

Haar aanloop daartoe verraai egter, by implikasie, ‘n erudisie en kennis van dit wat Die naamlose voorafgegaan het. Iemand wat bewus is van die stereotipes wat in die Afrikaanse letterkunde geskep is rondom die armblanke-vraagstuk en die opkoms van Afrikaner nasionalisme, en wat bewus is van die vele monderings wat die uitgestotene en outsider-figure in Afrikaanse romans en verhoogstukke dra.

Wat sy dan as leemte in Die naamlose identifiseer, is die feit dat in die poging om vorige stereotipes ongedaan te maak, Mariël le Roux nou weer ‘n nuwe klomp geskep het.

Wat die skrywer dus raakgesien het, is dat dit vir ‘n outeur nodig is, na gelang van sy werk, om die samelewng met ‘n onbevooroordeelde oog te bekyk en te beskryf. Anders bly die nuwe letterkunde selfde as die ou letterkunde, en is daar in wese geen groei nie.

Maar gaan kyk net met hoeke goeie maniere Breytenbach haar kritiek lewer!