Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Profile photo of crito

by crito

Die groot kanonne

Augustus 31, 2010 in Sonder kategorie

Is daar iets soos ‘n metaboodskap? Ek vermoed so – ek bespeur een in Die Burger en Beeld se keuse van resensente vir Dirk Winterbach se Die begunstigde. Louise Viljoen en Thys Human onderskeidelik. Die groot kanonne van die Afrkaanse letterkunde.

Viljoen se bespreking is ‘n rapsie meer swaartillend as Human s’n. Albei wys op die invloed van Jan Rabie op die skrywer, met Viljoen wat hom verder verbind met Dolf van Niekerk aan die literêre kant, en Stanley Kubrick aan die film-kant. Human sien weer spore van André P. Brink.

Albei vind dit ‘n baie boeiende, intrigerende roman, ‘n werk wat die leser uitdaag en lank sal laat nadink oor die implikasies, Jungiaans én Grieks-mitologies. (Is dit nie interessant dat nie een van die twee Etienne Leroux bysleep as verwysingspunt nie?)

Tog is daar ‘n element van terughouding in albei resensente se styl. Moontlik besef albei dat Die begunstigde ‘n baie moeilike werk gaan wees vir meeste moderne lesers, en derhalwe is die loftuitinge pianissimo.

Tip die hoed dan in die rigting van Human, wat sy resensie afsluit met die soort opmerking wat nie alleen sy betoog opsom nie, maar die leser genoeg wil aanpor om tog die moeilike leestaak sy eie te maak: “Die begunstigde [is] ’n boek wat asemhaal, diep sug en beur en maal teen voorspelbaarheid, teen eentonigheid, teen ’n emosielose voortploeter tot die bittereinde. En dít maak Winterbach se roman vir my besonder opwindend en boeiend!”

***

Dis lanklaas dat ‘n Afrikaanse resensent so ‘n goeie voorbeeld verskaf het van “damning with faint praise” as wat Jeanette Ferreira vandeesweek in Die Burger gedoen het met haar oorsig van E.K.M. Dido se Emma en Nella (Die Burger).

So “ietwat fantasties, ietwat ongeloofwaardig”. Dan sluit sy met “’n toeganklike, liefdevolle verhaal oor ‘n eietydse probleem.”

Beslis ‘n geval van alles wat nié in daardie slotsin staan nie.

***

Gaan die Afrikaner ooit verlos word van sy nuk om onderwyser te wil wees?

Fanie Olivier verwys in sy bespreking van die nuwe uitgawes van die Verklarende Afrikaanse Woordeboek (VAW) en Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) op hul hantering van raspejoratiewe.

Olivier het gevind dat die VAW ly aan uiterste politieke korrektheid en glad nie sulke woorde lys nie. Heel tereg wonder hy dan wat mense wat die woorde nie ken nie gaan doen wanneer hulle dit hoor/lees en wil weet wat dit beteken.

Die HAT weer, sê Olivier, lys daardie woorde wel, maar voeg by, soos goeie onderwysers mos sal, “Erg neerhalende benaming... as skeldwoord ervaar en ten alle koste te vermy”. Wat?! Dink hulle dat as hulle in hakies slegs pejoratief gesê het ons nie die boodskap sou gekry het nie?

En oor ‘n eeu, wanneer niemand meer weet daar is iets soos die k-woord nie, of wat dit beteken nie, of wat die afkoms daarvan is nie want almal het dit ten alle koste vermy, hoe gaan enigiemand dan weet en verstaan wat hierdie gruwelike geleding van apartheid se rol en funksie was?

***

Joan Hambidge snap die punt op byna skouspelagtige wyse glad nie wanneer sy in Volksblad skryf oor Melt Myburgh se gedig oor Laurie Gaum in Oewerbestaan.

Myburgh begeef hom op John Lennon-terrein met dié gedig deur te sê die moderne koerantleser sal minder aandag skenk aan ‘n foto van iemand wat op water loop as aan ‘n foto van ‘n dominee wat kaal op die strand in vlak water lê. Gegee Gaum se geskiedenis, is die afspeel van die Broeder in Christus teen Christus self heeltemal gepas.

Maar nie vir Hambidge nie.

***

Laurie Gaum en sy pa, Frits, het saam ‘n boek geskryf, Praat verby grense. Dit is ‘n versameling e-posse wat tussen April en Oktober 2009 geskryf is, vier jaar nadat Laurie se gewese manlike minnaar homself om die lewe gebring het en hul verhouding sensasie in koerante en selfondersoek in die NG Kerk gewek het.

Jan Lubbe, wat die boek in Volksblad resenseer, vat sy oordeel netjies saam deur te sê dis ‘n veilige boek oor ’n gevaarlike onderwerp. Maar sy alleroordeel is elders opgesluit in sy opmerking dat dit ‘n “gemaakte” boek is, d.w.s. een wat nie uit rou emosie gespruit het nie, maar agterna netjies beplan is en toe geskryf is. En daarom ‘n groot mate van gekunsteldheid het.

Lubbe laat egter nie toe dat die opgesmuktheid van die boek sy gevoelens oor die relevansie van die boek vertroebel nie: “Laurie Gaum sug nie sonder rede oor die kategese, ACSV en teologiese fakulteite van destyds én vandag nie.”

 

Profile photo of crito

by crito

Vertalers en lesers

Augustus 10, 2010 in Sonder kategorie

Op reis in die verre vreemde loop ek my in ‘n rugby-oomblik vas (“use it or loose it”). Ek dog nog ek kry Beeld se boekresensies op die internet, toe is Beeld al ‘n dag verder. Wil hulle nie maar groter permanensie aan hul boeke-resensies op hul webwerf gee nie?

In die proses was daar uiteindelik een resensie wat my gekielie het – Charl-Pierre Naudé s’n in Die Burger van Twintig Verse in Vertaling, ‘n bundel saamgestel deur Koos Oosthuyzen. (Boeke-Blok noem hom Chal-Pierre Naudé.)

Dit is ‘n baie eienaardige resensie. Aan die een kant is mens verstom oor hoe slordig Naudé skryf – die laaste ding wat mens verwag van iemand met sy agtergrond (digter). Aan die ander kant is ek dit so roerend eens met ‘n deel van sy argumentering dat ek by die slordigheid verby wil hande klap.

Eers dan die slordigheid. Kort nadat hy die woord “noop” op heerlik ongewone (en korrekte) wyse gebruik, slaan Naudé ‘n paragraaf aanmekaar wat mens telkens laat kopkrap: “Die bundel het ’n problematiserende effek, wat blyk uit die keuse van Enquist en Lanoye, albei helaas self sterk ‘baster-Europees’ wat hul styl en eie verwerkte invloede betref. Lanoye se vers toon ’n sterk Romaanse trek, en Enquist se werk is nogal Skandinawies wat geur en verbeelding betref.”

Dalk moes hy ‘n bietjie langer nagedink oor die oorvloedige gebruik van “sterk”, van “problematiserende” en “geur”. 

En net om te wys dat sy slordigheid van durende aard kan wees, begin hy sy volgende paragraaf aldus: “Dit is trouens twee werklik pragtige verse van Enquist hier.” ‘n Klompie paragrawe later lewer hy ‘n kragtoer van lomp styl: “Die gedig is beide ’n uitstekende vertoonkas van die Nguni-prysgedig sowel as van Krog se poësie.”

Nou goed, kom ons kyk na Naudé se argument: “Die marksegmente wat deur die publikasie aangespreek word, is iets van ’n lukrake soesji-bord. Dan weer, problematiseer dit aanvaarde markindelings deur vrypostig aan te neem dat Suid-Afrikaners mekaar se tale kan praat – wat die geval behoort te wees, maar nie is nie.”

Twintig verse in vertaling bevat vertalings in Xhosa uit Afrikaans of Engels, of in Afrikaans uit Xhosa, asook in Xhosa van drie gedigte uit Nederlands. Ek kan nie met Naudé saamgaan wanneer hy beweer dat ‘n mens ‘n taal kan lees al verstaan jy hom nie – lees is vir my die semantiese vertolking van geskrewe taal, so hoe kan mens iets verstaan as jy dit nie semanties kan vertolk nie?

Waar hy as resensent wel die ingeboude problematiek identifiseer, is dat Suid-Afrikaners in die algemeen nie veeltalig is nie. Hoeveel Afrikaanse lesers kan Xhosa lees en verstaan? En andersom? Watse sin het dit om ‘n publikasie soos hierdie saam te stel as ons bevolking nie al van skooldae af bemagtig word om ander bevolkinggroepe se taal en kultuur aan te leer nie?

Ek deel wel nie Naudé se opvatting nie dat dit wel interessant is om te hoor hoe klink ‘n gedig wat jy in die oorspronklike taal ken dan in Xhosa. Klink en verstaan is twee verskillende dinge.

Laat ek dan maar reguit wees: Twintig verse in vertaling is in wese vir my ‘n pretensieuse konsep. Met die ineenstorting van uitkomsgerigte onderwys word ons opnuut gekonfronteer met die besef dat al die inheemse Suid-Afrikaanse tale misken en ondermyn word deur ons onderwysstelsel. Meer nog: Kan ‘n bundel soos Twintig verse in vertaling ooit sin hê terwyl daar nog geen behoorlike Xhosa verklarende woordeboeke is nie?

Nou verder die vreemde in, en ‘n week se stilte.

Profile photo of crito

by crito

Dinamiese insigte en die laaste woord

Augustus 3, 2010 in Sonder kategorie

Anastasia de Vries se benadering tot Rapport Boeke het nog nie ‘n vaste patroon nie, ofskoon sy enkele dinge nou ‘n paar keer herhaal het. Dit is goed so – sy het Rachelle Greeff se patroon baie beslis verbreek. Die Augustus-uitgawe van hierdie bylaag het ‘n paar bydraes wat mens baie positief stem – almal bydraes wat, al is hulle van wisselende gehalte, tog ‘n aanduiding gee dat De Vries kliphard probeer om geesdrif te wek vir boeke.

Ek het my al voorheen uitgelaat oor De Vries se pogings met vox populi. Hierdie keer val dit Riana Mouton en haar roman Spoorloos te beurt. Daar is ‘n resensie, ‘n onderhoud, en drie “gewone” lesers wat elk ‘n mening lug, plus ‘n inleidende paragraaf waarin kennis gegee word dat Mouton stywe kompetisie gaan bied vir Deon Meyer.

Ilse Salzwedel, wat die boek resenseer, doen dit oortuigend genoeg, sonder om mens argumenterend te oortuig dat Deon Meyer nou tweede gaan kom. (Die resensie open met ‘n opmerking oor wedywering met Deon Meyer, en sluit met ‘n goedkeurende vergelyking met Patricia Cornwell en Nancy Taylor Rosenberg. Tussen-in gaan die net oor die inhoud van Mouton se boek en dit is duidelik dat Mouton nie ‘n soort gemene deler is, vergelykenderwys, tussen Meyer en Cornwell nie. Dit klink vir my eerder of Mouton dalk ‘n nuwe soort procedural in Afrikaans aanpak, iets wat op sigself meer belangrik is as wedywering teen Meyer om lesers.)

Die vraag wat wel ontstaan, is: Was die drie vox pops werklik nodig? Ek is glad nie daarvan oortuig nie. Salzwedel se resensie, plus onderhoud met Mouton, sê reeds genoeg.  Die drie lesers se menings is nie van só ‘n aard, of interessant genoeg geformuleer, dat dit nuwe insigte bring nie.

Trouens, dit het my net laat wonder hoekom De Vries skielik so baie ruimte aan ‘n boek van hierdie aard afstaan. Die antwoord, uiteraard, is dat mens dan ‘n kans kry om te sien dat die boek onder bespreking nie net op intellektuele of gereelde lesers van speurverhale gemik is nie.

Maar as dít die kroon is van hierdie uitgawe van Rapport Boeke, dan is ek bevrees De Vries mik nie hoog genoeg nie. Ek het ‘n vermoede dat sy hard duime vashou dat haar volgende vox pops nie net leesgeesdrif sal reflekteer nie, maar ook dinamiese insigte.

***

Saam met die resensie deur Ronel Nel van Melt Myburgh se bundel Oewerbestaan in dieselfde bylaag maak die redaksie ‘n interessante punt: “Ronel Nel is ‘n digter en hoewel sy glo digters moenie hul mede-digters se werk resenseer nie, het sy op versoek ingestem.”

Ek moet beken dis iets wat my al dikwels gekwel het. Lesers met ‘n lang geheue sal hulle die onenigheid tussen Charl-Pierre Naudé en Joan Hambidge in einste Rapport herinner. Aan die kern van die saak was juis die idee dat digters wat mekaar se werk resenseer, ongelukkig té dikwels die geleentheid gebruik om eie agendas, positief of negatief, te promoveer.

Wat sou Nel laat afsien het van haar beginsels hieroor? Waarskynlik die feit dat sy besonder positief voel oor die bundel van Myburgh. Het sy nie, meen ek, sou sy waarskynlik die beker aan haar laat verbygaan het.

Sy reageer op die resensie-versoek deur ‘n soort mengsel van resensie en artikel te skep. Sy haal aan uit ‘n onderhoud wat op LitNet met die digter gevoer is. Sy haal die digter aan oor ander dinge wat hy “per geleentheid” gesê het. Die resensie is uiteindelik ‘n opname van die vernaamste kenmerke van die bundel, en staan alles in diens van die vereiste wat Nel in die begin van die artikel/resensie oor gedigte sê: “Gedigte moet sing”. Haar slotsom is positief, maar dit is tog duidelik dat Nel geen sinnigheid had aan ‘n indringende analise van Myburgh se verskuns nie.

In sy geheel dus ‘n nuwe soort aanpak, teen die patrone van die sogenaamde akademiese resensies in. As ‘n mens jouself ten besluite afvra of jy dink dit werk, dan tel die oorbekende cliché waarmee Nel haar artikel/resensie afsluit werklik swaar teen haar en hierdie poging: “Hierdie bundel gaan ‘n besondere plek op my boekrak inneem.”

***

Louise Viljoen het al in die verlede die dorheid van die akademiese literêre analise ten prooi geval – of liewer, dit het al in haar resensies ingesluip.

Maar sy bly een van die beste ontleders van literêre werke, en haar bespreking vandeesweek in Die Burger van Myburgh se bundel wys net weer hoe skitterend sy kan wees.

En vir ‘n debutant soos Myburgh is hierdie waarskynlik die een resensie wat die meeste saak maak. Hier kan hy nou gaan lees presies hoe hoog sy digkuns aangeslaan word.  Ek is seker hy het Maandagaand Viljoen se resensie ‘n paar keer gelees net om seker te maak sy oë speel hom nie parte nie.

Let gerus ook op na die afsluiting van hierdie besonderse resensie: “Dit was in alle opsigte die moeite werd om vir hierdie sterk debuut te wag.”

Dís hoe dit gedoen word!

***

Neil Cochrane skryf in Beeld oor Die grysland-verblyf van Jaco Fouché. Met Cochrane se resensies hinder die formulistiese aanpak mens soms, ander kere nie. Hierdie keer wel. Vertel langsamerhand die storie. Fel die oordeel. Noem die voorgangers. Handel af.

Hoekom nie kort gaan nie? Soms die storie op in een of twee sinne, sê dis ou nuus, voorspelbaar geskryf, klaargepraat.

Cecile Cilliers het my enkele weke gelede verlei om Die grysland-verblyf aan te skaf.  Haar deernis het my getref – mens kan sekerlik nie fout vind daarmee nie.

Ná die lees is ek dit wel eens met Cochrane. Enigiemand wat ‘n literêre werk wil skep oor ‘n skisofreen se ervarings, moet iets nuuts toevoeg tot die reeds bestaande korpus werke oor skisofrenie.

Cochrane het moontlik ‘n kanon gebruik om ‘n parkiet te skiet, maar sy oordeel is wat my betref absoluut in die kol.