by

Statuur na alle kante toe

Julie 20, 2010 in Sonder kategorie

Hoe groter die statuur van ‘n persoon waaroor ‘n mens skryf, hoe skerper is die kritiek waaraan die skryfwerk gemeet sal word.  Dit is gepas dat ‘n joernalis van die kaliber van Richard Stengel, die sestiende besturende redakteur van Time Magazine, in 1993 gevra is om Nelson Mandela te help met die skryf van Long Walk to Freedom.

Stengel is ‘n New Yorker aan wie op sy dag die Rhodes-beurs toegeken is. Hy het aan Oxford sy studies voltooi, was daarna joernalis by die New Yorker, die New Republic en by die New York Times. Hy het talle boeke onder sy eie naam gepubliseer, waaronder A South African Town en You’re Too Kind: A Brief History of Flattery.

 

Stengel is deur Nelson Mandela aangemoedig om met ‘n Suid-Afrikaanse vrou, Mary Pfaff, te trou.

Dit is ook heel gepas dat Stengel, wat deur Mandela een van sy seuns genoem word, nou vyftien lewenslesse wat hy by Mandela geleer het, gepubliseer het. En lesers van Die Burger kan hulself gelukkig ag dat Henry Jeffries, tot onlangs die redakteur van Die Burger, hierdie boek geresenseer het.

Jeffries is self iemand wie se joernalistieke geskiedenis ‘n internasionale draai gemaak het. Sy resensie is een van die heel knapstes wat nog vanjaar in dié koerant verskyn het. As mens in gedagte hou dat die media die afgelope week tot versadigingspunt gevul is met beriggewing oor Mandela, dan moet ‘n mens volle krediet aan Jeffries gee vir die manier waarop hy sy resensie aangepak het en mens geboei het.

Hy verskaf die tersaaklike inligting oor die agtergrond van hierdie boek, maar bou sy resensie rondom die idee van ware leierskap. Hy gaan haal dit, aan die hand van Stengel, by Mandela se bewondering vir die Chinese strateeg Sun Tzu (ook bekend as Sun Zi in sommige vertalings van sy naam). Jeffries het waardering vir die feit dat Stengel nie ‘n sikofant is nie, wat hom uiteindelik utbring by die aanhaal van een van die lewenslesse wat Stengel by Mandela geleer het.

Die manier waarop Jeffries sy resensie geplooi het om èn inligting oor te dra èn ‘n kritiese afstand te behou, is voortreflik. Dit is hoekom mens dit geniet om sulke resensies te lees. En die aanhaling wat hy gekies het, slaan nie alleen op Mandela se humorsin nie, maar op Jeffries se juiste taksering van daardie opmerking as iets wat vir ons betekenisvol is, veral in hierdie vieringstyd vir Mandela.

Nou is daar net een negatiewe nasleep: Hoekom was hierdie resensie nie die hoofresensie op die Boekeblad nie?

***

Dit deug net nie dat ‘n mens ‘n resensie twee, drie keer moet lees om agter te kom wat aan die gang is nie. Ek het Desmond Painter se bespreking van Oor en weer, waarvan Hennie Aucamp die samesteller en inleier is, met toenemende irritasie in Maandag se uitgawe van Die Burger gelees. Dié vraag het my bly hinder: Met wie is die onderhoude gevoer?

Painter is vaag daaroor. As Hennie Aucamp die samesteller is, is die onderhoude waarskynlik met homself gevoer (hoewel ek moet erken dat ek gehoop het dat interessanter persone die onderwerpe van die onderhoude sou wees). Die probleem met die resensie is dat mens oor en oor lees en uiteindelik, nadat jy by Protea Boekhuis se webwerf ‘n draai gaan maak het, kom jy agter waar Painter hierdie inligting weggesteek het – in die sin “Ook in dagbladonderhoude is Aucamp gelukkig deurgaans deur uitstekende onderhoudvoerders bedien.”  (My eerste lees daarvan het my laat dink dat Painter meen dagblaaie, soos vergelyk met tydskrifte, het Aucamp van goeie materiaal voorsien – en nie dat die koerante goeie onderhoude met Aucamp geplaas het nie.)

Dit is net nie goed genoeg nie. Dit bederf ‘n andersins baie goeie resensie – Painter sluit vermoedelik by Aucamp se inleiding aan en gee mens ‘n deeglike agtergrond oor die plek en stand van onderhoudvoering in Afrikaans.

‘n Laaste gedagte: Painter kon gerus ‘n aanhaling of twee uit Aucamp se antwoorde gegee het om die leser ‘n gevoel te gee van die dinge wat die bloemlesing die ondersoek werd maak. Die feit dat hy niks kon vind van iemand wie se aforistiese skryfwyse hy hoog aanslaan nie, is veelseggend.

***

Hermann Giliomee se resensie van Hoor! Hoor! Hansard van At van Wyk (ook in Die Burger) is een van daardie resensies wat my intens frustreer. Giliomee se spesialiteitsgebied is die plaaslike geskiedenis en daar is waarskynlik nie ‘n beter persoon as hy om oor só ‘n publikasie te skryf nie. En hy doen dit ook op só ‘n manier dat daar geen twyfel kan bestaan dat as mens in plaaslike politiek en geskiedenis belang stel, hierdie ‘n boek is wat jy summier moet aanskaf nie.

Maar ai prof. Giliomee, kon jy nie vir ons gesê het wie die minister was waarna Sam Kahn op 16 Maart 1950 in die parlement verwys het – hy het ‘n buite-egtelike ontugtige (ek het gehoop dat dié woord permanent uit my woordeskat verban kon word, maar die geskiedenis stel ander eise!) kind by ‘n bruin vrou verwek? Ek weet Kahn het hom nie by die naam genoem nie, ek weet die koerante het dit nie berig nie, en ek weet Tony Heard het dit eers 30 jaar later in sy outobiografie gepubliseer.

Hoekom dan nou ons nuuskierige agies ontneem van die kans om uit te vind wie dit was? Skaam jou!

***

Enkele weke gelede het ek verwys na Carolyn Meades se resensie van E.K.M. Dido se Emma en Nella in Rapport, en die feit dat Meades nie gerapporteer het oor Dido skryfkuns nie. Nou, na aanleiding van Marius Crous se resensie van dieselfde boek in Beeld, is ek uiteindelik daarvan oortuig dat dit tog nie so ‘n goeie idee was van Anastasie de Vries om die Dido-roman in te sluit by Meades se tematiese hantering van boeke oor dwelms en dwelmverslawing nie.

Crous vind dat dié roman een van Dido se mindere werke is, en verduidelik ook hoekom. Die dinge wat hy uitlig as tekortkominge, is die soort inligting wat mens nie in Meades se bespreking kry nie.

Ek gee toe, ek geniet die invalshoeke wat Anastasie de Vries soms benut, maar dit neem nie weg van die feit dat E.K.M. Dido die een is wat in die proses geringskat is nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.