Jy blaai in die argief vir 2010 Julie.

Profile photo of crito

by crito

Die kuns van ‘n positiewe resensie

Julie 27, 2010 in Sonder kategorie

Dit is veel moeiliker om ‘n baie positiewe resensie te skryf as wat dit is om ‘n negatiewe een te lewer. As jy negatief oordeel, is dit maklik om dinge soos sarkasme, humor, ironie en goed verdoeselde beledigings te gebruik om te sê wat jy voel gesê moet word.

Maar daardie retoriese wapens is nie werklik tot jou beskikking wanneer jy die slag goed positief wil wees oor ‘n boek en sy skrywer nie. Nóú moet jy maniere vind om absoluut opreg te klink, om lesers te oortuig dat die boek ‘n groot indruk op jou gemaak het, dat dit vernuwend is binne sekere kontekste, dat dit literêr aan sekere standaarde voldoen, dat daar nie werklik negatiewe aspekte aan die publikase verbonde is nie.

Selfs wanneer jou resensie ‘n akademiese inslag het, stel dit hoë eise ten opsigte van motivering en die omseiling van blomryke formulerings.

Ek het reeds gewys op die twee maniere waarop Riette Rust en Joan Hambidge besluit het om hul resensies van Jeanne Goosen se Plante kan praat aan te pak. Toast Coetzer (in Beeld) het hom gewend tot ‘n kreatiewe oplossing vir die probleem.

Hy skets ‘n situasie waarin hy en sy vriendin na Johannesburg vlieg. Die resensie word dan ‘n verslag, aanvanklik, van hoe hy op die bundel reageer teenoor sy vriendin, maar dié inligting verminder namate hy sterker onder die indruk van die bundel kom en daaroor skryf.

Sy verslag is ‘n opregte reaksie op die dinge wat hierdie bundel van Goosen anders maak. Wanneer sy reis verby is, kontroleer hy iets wat sy vriendin oor Jeanette Winterston gesê het, wat hom dan voer na dieselfde opmerking waarop Hambidge in haar resensie se slot gesinspeel het: “Hulle noem my Jean”.

En wanneer hy dan sluit met ‘n enkele sin (“Dis ’n puik versameling hierdie, met stories wat jou gaan laat lag en huil, vinnig laat omblaai en soms lank, lank, laaaank op een bladsy gaan laat watertrap.”) dan klink elke woord daarin opreg, uit die hart uit. Ons leef in ‘n tyd waarin rugbyskrywers woorde soos “puik” besoedel deur dit met die spel van vrot slotte te verbind. Dit kos iemand soos Toast Coetzer om ‘n resensie te skryf waardeur hy daardie woord weer sy volle lading laat verwesenlik.

 

Joan Hambidge het in kort opeenvolging twee baie positiewe resensies in Volksblad gepubliseer – die een oor Judasoog – ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange, en die ander oor Die honger reisiger – reisverhale met resepte van Marié Heese. 

Eersgenoemde is ‘n oortuigende betoog ten gunste van die bloemlesing waarin Hambidge die belangrikste kenmerke van De Lange se oeuvre belig aan die hand van wat ingesluit is. Dit is die soort resensie wat sy besonder knap kan hanteer en ‘n mens is daarvoor dankbaar.

Haar bespreking van Marié Heese se boek is weer een van haar swakstes nog. Ek vermoed dat as sy dit in die vorm van ‘n artikel of rubriek gegiet het, sy meer tyd sou spandeer het aan die plasing van skakels om paragrawe te verbind en ‘n betoog wat haar skryfwerk van voor tot agter sou bind en rig.

Maar nou is dit ‘n resensie en ofskoon dit positief is, kry mens uit die resensie die gevoel dat die resensent nie werklik slaags geraak het met dit wat sy gelees het nie. Die eerste ses paragrawe (met insluiting van ‘n aanhaling uit Uys Krige) is ‘n rubriekmatige aanloop, en dan versplinter haar aandag.

Die resensie bestaan van hier af (“Heese kan skryf ….”) uit paragrawe wat só selde met mekaar bind dat sy sonder vrees ‘n bietjie kon geskommel het daaraan en die volgorde verander het. Dit is blertse los gedagtes, diverse reaksies.

Van geen hulp vir die leser nie, want die persoon Hambidge kom staan tussen jou en die boek. Al waarna sy soek, is aanknopingspunte om opmerkings oor haarself te maak.

Ronel Nel se bespreking van Kissmas in Mosambiek is eweneens ‘n besonder positiewe resensie. By die eerste lees daarvan het sy my oortuig oor die boek – na analise van die resensie wonder ek of sy nie meer moes gewerk het aan haar skryfwerk nie.

Die grootste fout wat sy maak, is om in die tweede paragraaf die boek voor hande te vergelyk met die wenner van verlede jaar se Exclusive Books Boeke Prize, naamlik Relf Larsen se The Selected Works of T.S. Spivet. Hoe seker kan mens wees alle lesers sal só ‘n vergelyking positief ervaar? Dis ‘n berekende waagstuk om so-iets te doen, want jy weet dadelik dat jy ‘n groot deel van jou leespubliek gaan laat wegdeins, al is jou argument hóé goed.

Daarna wend Nel haar tot ‘n retoriese styl wat dadelik dui op die krag waarmee die boek tot die resensent gespreek het: Kort sinne, soms net ‘n paar woorde, vaart, dinamiek. Dan, wanneer sy by haar slotopmerkings en samevatting kom, ontspan die resensent in langer sinne in, voordat sy weer blitsinne gebruik om te sluit.

Die liggaam van die resensie oortuig mens dermate dat Nel die Spivet-vergelyking vergewe kan word. Wat sy wel kon gelaat het, is die slot: “En die titel? Lees en vind uit …” Dit sal miskien deug in ‘n skoolopstel, maar nie in ‘n dagblad-resensie nie. Alles wat sy daarmee wou bereik, is reeds implisiet teenwoordig in die manier waarop sy jou leesritme gemanipuleer het, en wat sy daartydens gesê het. Overdaad!

Profile photo of crito

by crito

Statuur na alle kante toe

Julie 20, 2010 in Sonder kategorie

Hoe groter die statuur van ‘n persoon waaroor ‘n mens skryf, hoe skerper is die kritiek waaraan die skryfwerk gemeet sal word.  Dit is gepas dat ‘n joernalis van die kaliber van Richard Stengel, die sestiende besturende redakteur van Time Magazine, in 1993 gevra is om Nelson Mandela te help met die skryf van Long Walk to Freedom.

Stengel is ‘n New Yorker aan wie op sy dag die Rhodes-beurs toegeken is. Hy het aan Oxford sy studies voltooi, was daarna joernalis by die New Yorker, die New Republic en by die New York Times. Hy het talle boeke onder sy eie naam gepubliseer, waaronder A South African Town en You’re Too Kind: A Brief History of Flattery.

 

Stengel is deur Nelson Mandela aangemoedig om met ‘n Suid-Afrikaanse vrou, Mary Pfaff, te trou.

Dit is ook heel gepas dat Stengel, wat deur Mandela een van sy seuns genoem word, nou vyftien lewenslesse wat hy by Mandela geleer het, gepubliseer het. En lesers van Die Burger kan hulself gelukkig ag dat Henry Jeffries, tot onlangs die redakteur van Die Burger, hierdie boek geresenseer het.

Jeffries is self iemand wie se joernalistieke geskiedenis ‘n internasionale draai gemaak het. Sy resensie is een van die heel knapstes wat nog vanjaar in dié koerant verskyn het. As mens in gedagte hou dat die media die afgelope week tot versadigingspunt gevul is met beriggewing oor Mandela, dan moet ‘n mens volle krediet aan Jeffries gee vir die manier waarop hy sy resensie aangepak het en mens geboei het.

Hy verskaf die tersaaklike inligting oor die agtergrond van hierdie boek, maar bou sy resensie rondom die idee van ware leierskap. Hy gaan haal dit, aan die hand van Stengel, by Mandela se bewondering vir die Chinese strateeg Sun Tzu (ook bekend as Sun Zi in sommige vertalings van sy naam). Jeffries het waardering vir die feit dat Stengel nie ‘n sikofant is nie, wat hom uiteindelik utbring by die aanhaal van een van die lewenslesse wat Stengel by Mandela geleer het.

Die manier waarop Jeffries sy resensie geplooi het om èn inligting oor te dra èn ‘n kritiese afstand te behou, is voortreflik. Dit is hoekom mens dit geniet om sulke resensies te lees. En die aanhaling wat hy gekies het, slaan nie alleen op Mandela se humorsin nie, maar op Jeffries se juiste taksering van daardie opmerking as iets wat vir ons betekenisvol is, veral in hierdie vieringstyd vir Mandela.

Nou is daar net een negatiewe nasleep: Hoekom was hierdie resensie nie die hoofresensie op die Boekeblad nie?

***

Dit deug net nie dat ‘n mens ‘n resensie twee, drie keer moet lees om agter te kom wat aan die gang is nie. Ek het Desmond Painter se bespreking van Oor en weer, waarvan Hennie Aucamp die samesteller en inleier is, met toenemende irritasie in Maandag se uitgawe van Die Burger gelees. Dié vraag het my bly hinder: Met wie is die onderhoude gevoer?

Painter is vaag daaroor. As Hennie Aucamp die samesteller is, is die onderhoude waarskynlik met homself gevoer (hoewel ek moet erken dat ek gehoop het dat interessanter persone die onderwerpe van die onderhoude sou wees). Die probleem met die resensie is dat mens oor en oor lees en uiteindelik, nadat jy by Protea Boekhuis se webwerf ‘n draai gaan maak het, kom jy agter waar Painter hierdie inligting weggesteek het – in die sin “Ook in dagbladonderhoude is Aucamp gelukkig deurgaans deur uitstekende onderhoudvoerders bedien.”  (My eerste lees daarvan het my laat dink dat Painter meen dagblaaie, soos vergelyk met tydskrifte, het Aucamp van goeie materiaal voorsien – en nie dat die koerante goeie onderhoude met Aucamp geplaas het nie.)

Dit is net nie goed genoeg nie. Dit bederf ‘n andersins baie goeie resensie – Painter sluit vermoedelik by Aucamp se inleiding aan en gee mens ‘n deeglike agtergrond oor die plek en stand van onderhoudvoering in Afrikaans.

‘n Laaste gedagte: Painter kon gerus ‘n aanhaling of twee uit Aucamp se antwoorde gegee het om die leser ‘n gevoel te gee van die dinge wat die bloemlesing die ondersoek werd maak. Die feit dat hy niks kon vind van iemand wie se aforistiese skryfwyse hy hoog aanslaan nie, is veelseggend.

***

Hermann Giliomee se resensie van Hoor! Hoor! Hansard van At van Wyk (ook in Die Burger) is een van daardie resensies wat my intens frustreer. Giliomee se spesialiteitsgebied is die plaaslike geskiedenis en daar is waarskynlik nie ‘n beter persoon as hy om oor só ‘n publikasie te skryf nie. En hy doen dit ook op só ‘n manier dat daar geen twyfel kan bestaan dat as mens in plaaslike politiek en geskiedenis belang stel, hierdie ‘n boek is wat jy summier moet aanskaf nie.

Maar ai prof. Giliomee, kon jy nie vir ons gesê het wie die minister was waarna Sam Kahn op 16 Maart 1950 in die parlement verwys het – hy het ‘n buite-egtelike ontugtige (ek het gehoop dat dié woord permanent uit my woordeskat verban kon word, maar die geskiedenis stel ander eise!) kind by ‘n bruin vrou verwek? Ek weet Kahn het hom nie by die naam genoem nie, ek weet die koerante het dit nie berig nie, en ek weet Tony Heard het dit eers 30 jaar later in sy outobiografie gepubliseer.

Hoekom dan nou ons nuuskierige agies ontneem van die kans om uit te vind wie dit was? Skaam jou!

***

Enkele weke gelede het ek verwys na Carolyn Meades se resensie van E.K.M. Dido se Emma en Nella in Rapport, en die feit dat Meades nie gerapporteer het oor Dido skryfkuns nie. Nou, na aanleiding van Marius Crous se resensie van dieselfde boek in Beeld, is ek uiteindelik daarvan oortuig dat dit tog nie so ‘n goeie idee was van Anastasie de Vries om die Dido-roman in te sluit by Meades se tematiese hantering van boeke oor dwelms en dwelmverslawing nie.

Crous vind dat dié roman een van Dido se mindere werke is, en verduidelik ook hoekom. Die dinge wat hy uitlig as tekortkominge, is die soort inligting wat mens nie in Meades se bespreking kry nie.

Ek gee toe, ek geniet die invalshoeke wat Anastasie de Vries soms benut, maar dit neem nie weg van die feit dat E.K.M. Dido die een is wat in die proses geringskat is nie.

Profile photo of crito

by crito

Trustaan

Julie 13, 2010 in Sonder kategorie

Francois Bloemhof bespreek vandeesweek in Die Burger die nuwe roman deur Chris Karsten, Abel se ontwaking. ‘n Netjiese, bondige resensie – positief in aard, met punte van kritiek wat daarvan getuig dat die resensent ook ‘n gepubliseerde skrywer is van speurverhale en weet waarvoor om op te let.

Tog moet ‘n mens jou dadelik afvra of Bloemhof hom nie liefs aan hierdie resensie moes onttrek het nie.

Op Bloemhof se webwerf openbaar hy dat hy in ‘n dispuut gewikkel is met NB-Uitgewers. Chris Karsten of Abel se ontwaking het niks met die dispuut te make nie, maar NB-Uitgewers, onder wie se vlerke Abel se ontwaking verskyn het, is volgens sy webwerf in sy visier met hierdie dispuut.

Bloemhof het hom nog altyd in sy resensies openbaar as ‘n ewewigtige resensent met baie deernis vir skrywers. ‘n Mens lees nooit sy resensies en vermoed ‘n verskuilde agenda nie. Sy bespreking van Abel se ontwaking is ‘n bewys daarvan dat hy oor die boek en niks anders as die boek skryf nie.

Maar wat sou hy gedoen het as hy Abel se ontwaking ‘n ellendige roman gevind het? Hoe sou hy hom dán kon vrywaar van beskuldigings dat hy ‘n ander agenda het?

Kyk ‘n mens na wat hy op sy webwerf skryf oor sy verhouding met NB-Uitgewers, en sy onsekerheid oor sy toekomstige bande met dié uitgewer, dan sou dit wys wees om hom vir tyd en wyl te onttrek aan resensies van hul publikasies. Dit sal gewoon sy onkreukbaarheid bevestig.

Sodra die dispuut afgehandel is, kan hy maar lostrek.

***

Joan Hambidge skryf in dieselfde koerant oor Jeanne Goosen se Plante kan praat. Vergelyk mens dié resensie met die een wat Riette Rust in Rapport gepubliseer het, is dit dadelik opmerklik dat Hambidge uit die akademiese hoek kom, maar dat sy ook té sterk onder die invloed van die verhale se inhoud gekom het om by ‘n suiwer literêre analise van die bundel te bly, en dus soms in die rigting van Rust se soort aanpak beweeg.

Sy slaag goed daarin om in die geheel te verduidelik waarom Goosen in elke verhaal die leser boei. Trouens, haar analise het my herinner aan Italo Calvino se opsomming van Kafka se trefkrag: “Die ware uitdaging vir ‘n skrywer is om te praat oor die verwronge gemors van ons tydvak, en die taal só deursigtig te gebruik dat die leser dink hy hallusineer.”

Nietemin het ek met die herlees van Hambidge se resensie besef dat die leser sal moet soek vir die sin, of sinne, waarin Hambidge haar mening oor die bundel wegsteek. Ek meen ek het hulle gevind: “Met só ’n gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste te vergelyk met ’n hoogtepunt en dan leesplesier te versmaai.  Dit sal ’n fout wees om hierdie boek met ander Goosen-tekste te wil vergelyk.”

My afleiding hiervan is dat Hambidge voel Plante kan praat steek af teen die beste in Goosen se oeuvre.   Sy gaan dan ook voort om te sê dit is “besonderse, eenvoudige verhale”, baie soos haar rubrieke in By.

Ek vind hierdie opsoming van die kwaiteite en waarde van die bundel uiters problematies – omdat ek Goosen se By-rubrieke swak en uiters vervelig vind. Of is dié byhaal van die By-rubrieke juis Hambidge se manier om die mindere waarde van hiedie kortverhale finaal te sinjaleer?

***

Otto Liebenberg se bespreking van Handelsryk in die Ooste: Die wêreld van die VOC 1619-1685 deur Karel Schoeman (in die Volksblad) is ‘n foliant van ‘n resensie.

Waar mens hom krediet moet gee daarvoor dat hy nie die voor-die-hand-liggende gedoen het en verwys het na die sokkerstryd tussen Spanje en Nederland ‘n dag later nie, wonder ek tog of hy nie sy verwondering en bewondering vir die outeur in sy skrywe effe moes getemper het nie.

Veral omdat dit sekere formulerings in die rigting van cliché druk: “die ikoniese Karel Schoeman”, “sy magistrale verwysingsveld”, “sy bronnemeesterskap”, “verbluffend skeppende skryfstyl” en so meer. Liebenberg oeloeleer selfs oor die register van terminologie.

Die oordaad aan ophemeling en grootogige pluimstrykery laat vrae ontstaan oor die resensent se kritiese ingesteldheid. Ek glo nie dit sal sommer gebeur nie, maar wat sal Liebenberg doen as iemand hom daarop wys dat die keiser nie klere aanhet nie?

Lof het nie trompetgeskal nodig nie.

Profile photo of crito

by crito

Resensie vir die lesers

Julie 7, 2010 in Sonder kategorie

Rapport het vandeesweek ‘n nuwe (vir my) resensent bekend gestel – Riette Rust, wat Jeanne Goosen se Plante kan praat resenseer. Rust word deur Rapport bekend gestel as ‘n vryskutjoernalis.

Dis ‘n interessante manier waarop sy haar bespreking aanpak. Met die uitsondering van die eerste sin (“Jeanne Goosen se kortverhaalbundel Plante kan praat is haar eerste in 15 jaar.”) vermy sy die soort inligting wat meer akademies-gerigte resensente as ‘n reël verskaf.

Geen konteks word geskets nie: die diachroniese (oor haar voorgangers, en haar voorafgaande publikasies) en sinchroniese inligting (oor tydgenootlike publikasies en die huidge literêre omgewing) word verswyg.

Rust konsentreer eerder op die inhoud van die verhale en hul tematiek. Buiten dat dit nie besonder baie nut sal hê vir studente wat eendag ‘n werkstuk oor Plante kan praat of Jeanne Goosen moet inhandig nie, is dit ‘n resensie wat vir my na die kern sny van die grootste probleem waarmee koerante soos Rapport se boekebladredakteur worstel: Moet resensies ‘n literêre-akademiese funksie hê, of moet dit die leeslus van sy lesers (wat meestal nie akademies ingestel is nie) stimuleer en bevredig? Daarmee saam hang die aspek wat sulke besprekings vir die uitgewers belangrik maak: Sal die resensie lesers aanmoedig of afskrik om die boek onder bespreking te lees?

In hierdie geval het Rust waarskynlik, in haar keuse van aanpak, besluit om die koerant se lesers iets interessants te gee om te lees, en die uitgewers baie bly gemaak. Hierdie resensie is prikkelend genoeg om die leser se aandag end-uit te hou, en die volgende dag te laat afsit boekwinkel toe.

Ek vermoed dat Rust self ‘n paar verhale in die laai het – sy sien die dinge raak wat ‘n skrywer sal raaksien, naamlik die dinge wat die inhoud so interessant maak, wat dit verhef bo die alledaagse. Die resensie self het lekker gelees. Wat meer het mens nodig?

***

Teen die einde van Riette Rust se Goosen-resensie verwys sy na die omslag van die boek, en die manier waarop die leidraad “kortverhale” té klein is om dadelik raak te sien tussen die welige plantegroei wat op die omslag afgebeeld is.

Die gelol met opmerkings oor omslae is gewoonlik dat dit selde meer as die resensent se aanduiding van sy/haar smaak is. Kyk maar hoe lelik het Riana Scheepers verlede week op haar baadjie by Die Burger se lesers gekry ná haar opmerkings oor die omslag van die nuwe Marita van der Vyver-roman – alles subjektiewe menings, maar die oormaat stem nie met Scheepers saam nie.

Dit is natuurlik ‘n ope vraag of die omslag deel is van die boek, en of dit deel is van die bemarkingspakkie. Beskou jy dit as deel van die boek, sou jou kritiek sekerlik moet slaan op die maniere waarop die omslag met die boek se inhoud skakel (in Goosen se geval wel deeglik) – is dit ‘n gepaste omslag-illustrasie?

Beskou jy dit as deel van die bemarkingspakkie, soos Rust doen, dan moet jou opmerkings sekerlik meer gerig wees op die maniere waarop die omslag nie die voornemende koper lok en lei nie. Dit doen Rust wel.

My vraag is net: Òf ‘n resensent dan oor die omslag as deel van die estetiese, artistieke  geheel en òf hy/sy oor die omslag as deel van die bemarkbare produk skryf, hoekom nie aandag ook gee aan albei aspekte nie? Met behoorlike motivering!

***

Steeds by Rapport: Anastasia de Vries het in Julie se Rapport Boeke drie aktuele boeke oor dwelm-misbruik in Suid-Afrika, asook een roman met die gevolge van dwelm-muisbruik as tema saam gegroepeer.  Carolyn Meades, ook vir my ‘n nuwe naam, het die drie non-fiksie boeke (Die einde van verslawing van Volker Hitzeroth en Liezel Kramer, Smacked en Hooked van Melinda Ferguson) asook die roman (E.K.M. Dido se Emma en Nella) bespreek.

Eintlik het sy net ‘n algemene artikel oor dwelms in die literatuur geskryf – met geen inligting wat werklik as nuut of nie reeds oorbekend beskou kan word nie – en dit gebruik as aanknopingspunt vir kort takserings van die boeke voor hande.  Té kort, wat my betref in die geval van die drie non-fiksie boeke. Dido kry darem beter behandeling – maar in hierdie geval sou ek verkies het om te hoor hoeveel van Dido se ongelooflik eiesoortige vertelstem behoue gebly het.

Mens kan jouself seker ook afvra of dit werklik nodig is om indringende kritiese besprekings van die drie non-fiksie boeke te gee. Hier dink ek het De Vries ‘n baie aanvaarbare uitweg gekies, en verdien sy lof vir die manier waarop sy spesifiek hierdie boeke interessant probeer maak het.

***

Ek weet nie of ek nou gaan heiligskennis pleeg nie, maar vir die eerste keer in baie jare het ek halfpad deur ‘n Hennie Aucamp-resensie ophou lees.

Sy bespreking in Die Burger van Ben Venter se Waterbobbejaan – ‘n Legende uit die bosveld van Marico en Salmaklak – ‘n Legende ut die Vaalrivier is nuttig in die sin dat dit kennis gee dat hierdie twee “jeugklassieke” weer beskikbaar is. Maar dít kon hy in enkele paragrawe gesê en klaargekry het.

Hoekom begin mens se aandag dwaal? Omdat die skryfstyl en die onderwerp skielik oninteressant geword het? Moontlik, maar hoe verklaar mens dan dat dieselfde leser, die uwe, Adriaan van den Berg se bespreking in Volksblad van Kryt en Kordaat – Die avonture van twee Kalaharikinders deur Pieter Greeff end-uit gelees het? Die onderwerp is nie vir my interessant nie, ek sal die boek nooit lees nie, maar Van den Berg het dit tog reggekry om met sy beheersde geesdrif die aandag te hou.