Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Profile photo of crito

by crito

Die kern van die saak

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

Ná die verskyning in Die Burger van Riana Scheepers se resensie van Dis koue kos, skat, Marita van der Vyver se e-pos-roman, kan mens deeglik kyk na die uiteenlopende aard van koerant-resensies daaroor en besluit of hierdie baanbrekersroman na behore getakseer is.

Rapport was op 1 Mei eerste met ‘n bespreking, deur Pieter-Louis Myburgh, ‘n sportjoernalis. Benewens sy resensie was daar ook die menings van vyf “gewone” mense oor die boek.

Vyf baie positiewe menings (resensie ingesluit), een louerig positiewe mening. Vox populi slaag op hierdie manier goed, maar sou dit ook so aanvaarbaar gewees het as die vox pop negatief was? Rapport verdien lof vir waagmoedigheid, maar dit is nie ‘n benadering wat oor en oor herhaal kan word sonder vrae oor moontlike manipulasie nie.

Myburgh se resensie self is in ‘n lekker leesbare geselstrant geskryf, maar dit neem hom net ses paragrawe om te ontspoor. Myburgh se poging om dieper betekenis toe te skryf aan die naam van die vrou wat die hoofkarakter se man afgevry het, Anaïs, voer hom in ‘n belaglike rigting: “Anarchis? Antichris?” Moontlik is hy nie bewus van die Franse skryfster Anaïs Nin nie, en daarom ook nie van haar verhouding met die Amerikaanse skrywer Henry Miller en sy vrou June nie. Dis jammer, want daardeur kyk hy een van die sentrale verwysingspunte in die roman mis, en ontgaan die wrang ironiese toespeling op die drietal as onromantiese groepering hom heeltemal.

Mens kan sekerlik sy resensie deurlees, maar vir hierdie leser het dit daar in paragraaf ses sy aanspraak op gesaghebbendheid verloor.

Marida Fitzpatrick se resensie in Beeld, ‘n week later, het nog meer skryfsprankeling as Myburgh s’n, maar sy vermy enige verklarings van dieperliggende betekenis wat in name en so meer opgesluit lê.  Wat sy wel doen, is om te verwys na die aardige ooreenkomste tussen Dis koue kos, skat en die rolprent It’s complicated.

As ‘n mens die twee baie oppervlakkig vergelyk, is daar ooreenkomste – nes daar oppervlakkige ooreenkomste is tussen meeste verhale oor liefdesdriehoeke. Mens hoef nie Levi-Strauss te wees om te weet dat meeste verhale teruggeskil kan word na ‘n handjievol algemene verhaal-strukture nie. Maar Fitzpatrick verduidelik té min oor haar insigte in hierdie ooreenkoms, en daarom bly dit net ‘n aardigheid selfs binne die raamwerk van haar resensie.

In Riana Scheepers se verbysterende bespreking van die boek gaan sy sover as om te sê dat It’s Complicated “punt vir punt” ‘n herhaling is van Van der Vyver se verhaal. Vir iemand wat die boek gelees het en die fliek gesien het, gaan dit die verstand te bowe hoe Scheepers so-iets met soveel stelligheid kan beweer. Buiten dat mens dadelik weet dat sy dit moeilik sal regkry om dit “punt vir punt” te boekstaaf , begin jy op daardie punt nie alleen wonder oor die geldigheid van haar vorige opmerkings nie, maar sien jy ook dadelik raak hoe sy kleitrap om die resensie af te sluit. Sy glimlag nog, maar dis net met die tande.

Ek wonder wat sou Scheepers gesê het as sy Nora Ephron se Heartburn gelees het, of die fliek daarvan (met Meryl Streep in die hoofrol, bid jou aan) gesien het?

Scheepers kon die versoeking nie weerstaan om haar resensie in die vorm van ‘n brief te skryf nie. Dis vreemd dat iemand met haar skryftalent nie ‘n brief kon skep waarin daar ‘n geloofwaardige toonaard is nie. Vgl. die paragraaf waarin Scheepers haar reaksie op die omslag oordra: vooroordeel aangebied in die vorm van simpatiebetuiging teenoor haar vriendin. Jy lees dit en jy hoor hoe Aspoestertjie se susters vir haar sê dit is jammer só ‘n mooi meisie dra sulke verslonste klere.

En dan skielik die patroniserende toon wanneer sy praat van die hoofstuktitels en die lysies aan die einde van elke hoofstuk – “dit is knap gedaan, ironies en humoristies – soos ons jou op jou beste ken.” (Hier, kietsie kietsie!) Dit volg op ‘n stuk waarin sy kwansuis nie verstaan hoekom Van der Vyver heel in die begin verklap wat aan die einde gaan gebeur nie, so al asof sy nie werklik snap dat daar dalk in die aanlopende hoofstukke iets anders aan die bod kan kom nie.

Die toon warrel rond tussen bitsig en intiem, met gewone klaery tussen-in. Dit sien mens die beste as jy die eerste paragraaf (haai oe, hier’s ek ook in Frankryk) vergelyk met die manier waarop sy later die karakters kritiseer wat Van der Vyver introduseer. Eers beskuldig sy Van der Vyver van narsisme, dan wil sy by implikasie reëls neerlê oor watse soort karakters gebruik kan word, en daarna kry sy die insig, teen bladsy 260 se kant, dat die hoofkarakter deur ander bedoelings gemotiveer word. Van die intieme toon is min oor, maar dit keer darem teen die einde van die resensie terug, so half verskonend.

Nie Scheepers se grootste oomblik nie: ‘n louwarm resensie opgedollie as ‘n brief wat sy sê tussen die lyne sê.

Die resensie wat my wel deeglik beïndruk het, is Naòmi Morgan s’n, wat middel vandeesmaand in Volksblad verskyn het. Normaalweg sou die akademiese aard van die resensie my laat terugdeins het, maar omdat hierdie die eerste werklik substansiële resensie van die boek was, het ek dit opgeslurp, by wyse van spreke.

Morgan het met groot deeglikheid die aanloop geneem by Pierre Choderlos de Laclos se Liaisons dangereuses, die vernaamste literêre bron vir Dis koue kos, skat. Sy het ‘n gevoeligheid vir die intertekstuele verwysings in die roman, vir die innoverende  aspekte asook vir die groot getal stemme wat daarin te vind is. (Ek kan my goed indink dat dít eendag die onderwerp vir ‘n verhandeling gaan word: Die stemme in Dis koue kos, skat.)

Sy sien in dat dit ‘n dagboek-vermom-as-briefroman is (so anders as Hettie Smit se dagboek/briefroman Sy kom met die sekelmaan), ‘n vorm van terapie wat die hoofkarakter self toepas en wat dan uiteindelik die helingsproses voltrek.

Morgan spel ook uit waaroor dit uiteindelik alles gaan: Wraak.

Dit is ‘n werklik knap resensie: ‘n Deeglike betoog wat die roman ernstig en omvattend benader.

 

Dit sal interessant wees om te sien wat Morgan maak van die lyn vanaf Hettie Smit na Anna Huygens (skuilnaam van W.A. de Klerk en Anna Neethling-Pohl) se Van Willem en San en vandaar na Dis koue kos, skat, en van die maniere waarop die roman skakel met Nora Ephron se Heartburn,  Matt Beaumont se e. The Novel of Liars, Lunch and Lost Knickers en Reginald Hill se A Cure for All Diseases.

 

Maak mens dan die somme, is drie van die vier resensies oorweldigend positief, en een verwarrend positief/negatief. Of die skrywer sal voel dat almal die volle reikwydte van die roman na behore getakseer het, sal ek nie weet nie.


Ek is nie Van der Vyver se grootste bewonderaar nie. Daar is ‘n bietjie té veel van dieselfde, keer op keer. Maar ek weet wel dat wanneer sy, of enige ander Afrikaanse skrywer, die dag iets werklik vernuwends doen, en vernuwing bring binne ‘n spesifieke genre, dit die resensente se plig is om vir lesers te sê wat hier onder hul oë gebeur. Een uit vier het in hierdie geval by die kern van die saak uitgekom.

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Agter die sokker om

Junie 15, 2010 in Sonder kategorie

Die vlaag van sokkervreugde wat die land beet het het ook in die Crito-woning sy merk gelaat. Soveel so dat ek kwalik agtergekom het daar was vandeesweek slegs twee resensies van Afrikaanse boeke waaroor ‘n waardige ou hen ‘n eiertjie kan lê.

Die eerste was Annemarie van Niekerk se skrywe oor Marike se laaste dans van Deborah Steinmair in Rapport, en die tweede Cecile Cilliers se liewe bespreking van Die grysland-verblyf deur Jaco Fouché (in Die Burger).

Van Niekerk se resensie is die tweede baie positiewe reaksie op Steinmair se debuutroman. Dit is interessant om haar benadering te vergelyk met dié van Thys Human oor dieselfde boek. Dit is duidelik dat sy uit die staanspoor besluit het dat sy haar resensie vir die lesers van ‘n Sondagkoerant skryf, en dat sy daarom ‘n gaan mik op die GGD.

Haar bespreking is daarom dadelik meer toeganklik as dié van Human – maar gelukkig steek dit nie af by dié van Human nie. Van Niekerk is ‘n baie noukeurige leser – so noukeurig dat sy selfs verduidelik hoekom die omslagiluustrasie relevant is. Sy betrek alles by haar betoog wat sy kan – ek was verras om te sien dat sy Steinmair verbind met Reza de Wet. Maar dit maak sin.

Vir diegene wat resensies wil meet aan die krag van die intro – gaan kyk ‘n bietjie wat Van Niekerk met haar slotparagraaf doen. Allamagtag!

Ek het die afgelope weke met somber gedagtes Rapport se boeke-bydraes oopgeslaan, maar te oordeel na hierdie resensie kan mens Anastasia de Vries ‘n slag volpunte gee.

***

Ek het gedink Cecile Cilliers het afgetree uit die resensiekunde. Maar ek was verkeerd. Willem de Vries het haar oortuig om Jaco Fouché se nuwe roman oor ‘n skisofreen, Die grysland-verblyf te bespreek. Miskien was die lang stilte heilsaam – dit is een van Cilliers se beste resensies.

Hoekom? Wel, sommige lesers sal só ‘n resensie as formulisties beskou, en hulle het ‘n punt beet. Maar dit werk. Inleidende opmerkings wat die skrywer plaas, uiteensetting van die inhoud, slotsom met motivering vir die resensent se evaluering. QED.

Uiteraard sou sy die resensie ‘n bietjie kon gerek het. Ek sou graag wou hoor, byvoorbeeld, wat die “onbenullige stellings” is waarna sy verwys, en wat hul dieper betekenis is. Maar dit is net my nuuskierigheid – sulke opmerkings in resensies maak my nuuskierig oor die skrywerstem en ek wil graag weet wat dit is wat hom anders maak.

Maar gepraat van slotopmerkings: Meer deernis in ‘n slotsom sal mens seker min kry.  Welkom terug!

Profile photo of crito

by crito

‘n Skroef is los

Junie 8, 2010 in Sonder kategorie

Heel vroeg in die bestaan van hierdie blog het ek ‘n keer verwys na Afrikaanse koerante se boekeblaaie as die neerslagplek van belangrike historiese rekord vir die letterkunde in die Afrikaanse taal. As mense oor vyftig jaar wil weet wat het in 2010 aangegaan in die Afrikaanse letterkunde, en hoe dit geskakel het met wat voorafgegaan het, dan sal die koerante die eerste plek wees waar hulle gaan soek na inligting.

Neem mens bestek van wat tans aan die gang is, is dit ‘n somber prentjie wat vorm. Drie oggendkoerante en een Sondagkoerant wat resensies of artikels plaas. Kyk jy wat gereeld daar bespreek word, dan wonder jy in sommige gevalle of die Afrikaanse koerante nou besluit het hul lesers stel meer in Engelse boeke belang.

En probeer jy, al is dit met ‘n omweg, vasstel wat die uitgewers van Afrikaanse boeke hiervan dink, vind jy beleefde antwoorde en ‘n onwilligheid om te praat.

Maar dat daar ‘n skroef los is, daaraan twyfel ek nie. Kyk gerus na die webwerwe van Tafelberg, Human & Rousseau, Lapa, Protea en Kwela, en jy kom dadelik agter hoe verskriklik min Afrikaanse publikasies word geresenseer.

Afgelope Sondag het Rapport se Boeke gespog met drie behoorlike resensies van Afrikaanse boeke. Daarnaas ‘n klompie artikels oor sake rakende boeke, sommige insiggewend, sommige oppervlakkig en ‘n paar op Jip!-vlak. Dit alles binne die bestek van vyftien bladsye – die sestiende is vermors op ‘n tekenaar se voorstelling van Hennie Aucamp se gesig.

Die bylaag dra een advertensie (Sanlam) en uitgewersadvertensies skitter in hul afwesigheid.

Maandag se uitgawe van Die Burger het twee resensies van Afrikaanse publikasies, een bespreking van ‘n Engelse vertaling van ‘n Japanse roman uit die jaar 1909, en ‘n bespreking, deur Marinus Wiechers, van ‘n Engelse liber amicorum vir Van Zyl Slabbert.

Beeld het (te oordeel na hul webwerf) die beste gevaar, met drie resensies van Afrikaanse boeke, terwyl daar by Volksblad die vreemde ding gebeur het van drie ophemelings of reklamestukke (resensies kan mens dit nie noem nie) van drie jeugboeke.

My hart sak in my skoene.

***

Ek sal later, sodra al die koerante hul besprekings geplaas het van Marita van der Vyver se Dis koue kos, skat ‘n blog wil afstaan aan ‘n kykie na die gehalte van Afrikaanse resensies. Dit is besig om te ontwikkel in ‘n besonderse geval.

***

Thys Human se bespreking van Hennie Aucamp se Oor en weer is in ‘n effens ander toonaard as wat ‘n mens gewoonlik by hom kry in sy besprekings (bv. van In oneer). Enersyds dwing die aard van die boek hom daartoe, andersyds probeer hy duidelik skakels vind tussen dít wat Aucamp aansny in die onderhoude wat in hierdie bundel opgeneem is.

Op die gevaar af dat ek soos ‘n eenvrou-rasieklub vir Human begin klink, moet ek sê dat dit ‘n indrukwekkende resensie is. Boonop is dit interessant, en lees plek-plek amper soos ‘n artikel waarin Aucamp self die woord voer. Die feit dat ek die onderhoud end-uit gelees het, sê vir my reeds baie – ek moet beken dat ek ‘b paar jaar gelede met die soveelste ego-publikasie van Aucamp belangstelling in hom verloor het. Wat kan nog openbaar word wat mens nie reeds van hom weet nie? Wil mens dit weet?

***

Leti Kleyn se resensie van dieselfde bundel (in Beeld) is ook knap geskryf. Dis interessant om te sien watter soortgelyke en watter verskillende dinge sy en Human uit die bundel gehaal het om te belig.

Onder meer het Kleyn die volgende aangehaal:

“In aansluiting by onlangse debatte oor die media se verantwoordelikheid teenoor die literatuur is hy ook (in die onderhoud met Melt Myburg) bekommerd oor die plek van die kortverhaal in veral tydskrifte, maar bied die kritiek met humor aan: ?“Wat doen die liefhebbers [en skrywers!] van goeie populêre verhale nou? ?Hul wend hul – let wel, uit desperaatheid – tot Engelse verhale […] want […] tydskrifte [het] promosieblaaie geword, met baie vir die vlees, soos glansender hare en bultende spiere, maar niks wat ’n geesteslewe en die verbeelding kan voed nie.”

Ek is dit met hom roerend eens – maar die aaklige waarheid is dat as tydskrifte soos Huisgenoot voortgegaan het om die soort inhoud te publiseer wat Aucamp bepleit (en wat Huisgenoot nog tot die jare sewentig gedoen het), sou daar vandag geen Huisgenoot gewees het nie.

Miskien het hierdie ou tante meer met Aucamp gemeen as wat sy gedink het. Wat gaan van ons word as koerantredakteurs besluit dis nie meer nodig om plek af te staan aan resensies van fiksie en nie-fiksie nie, want te min van hul lesers het ‘n Kindle?

***

Ek hoop ander lesers het ook die (waarskynlik onbedoelde) humor raakgesien in Marius Crous se resensie van Die skyn van tuiskoms – ‘n Keur uit die gedigte van Lina Spies. Crous, wie se groei as resensent op Die Burger se blaaie merkbaar is, verwys na die talle gesprekke wat Spies met ander digters in haar digkuns voer – en maak dan die volgende opmerking: “… ‘n mens sou beslis Spies en Hambidge se poësie met die werk van ander digters kon ondersoek.”

Net nie met mekaar nie, Marius?

***

Irna van Zyl het met haar bespreking in Die Burger van In landsbelang die pot spektakulêr misgesit. (Verskoon die woord, maar dis die enigste konteks waarin dit juis klink.)

Haar klagte is, opgesom,  dat dié roman te veel waarheid bevat en te min fiksie. So erg gaan dit vir haar dat “’n mens jou wil-wil verbeel jy lees dinge soos dié bykans daagliks in die koerant.” Maar, sê sy later, sy vind die gegewe uiteindelik oppervlakkig.

Sy maak ook beswaar teen die gebruik van die woord “nie-blanke”. Maar sy sê nie hoekom nie – is die mense wat dit gebruik, mense wat iets anders sou gebruik? Wat sou hulle gebruik? Is die spesifieke gebruik van dié etiket nie ‘n teken of sinjaal van iets groters nie, van ‘n tydvak, of ‘n spesifieke soort mens binne die verhaal nie? En wat het dié rasse-etiket met die boeiendheid van die verhaal te doen?

Ek stem met Van Zyl saam oor die status van hierdie rasse-etiket, maar verwag van haar as resensent om haar opmerkings te motiveer. Ditto “oppervlakkig” – die inhoud wat sy vóór hierdie negatiewe opsomming skets, klink alles behalwe oppervlakig.