by

Goeie boeke lok goeie resensies

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Dis nou weer een van daardie tye waarna mens so dikwels verlang – ‘n nuwe Afrikaanse roman is besig om in al wat ‘n koerant is resensies te kry wat daarop dui dat die boek een van die bakens onder Afrikaanse prosawerk gaan word wat nooit geïgnoreer sal kan word nie.

Die boek is Ingrid Winterbach se nuwe roman, Die benederyk, wat vroeg in Mei ‘n puik resensie van Joan Hambidge in Volksblad gekry het, en vandeesweek in Die Burger een deur Willie Burger wat mens skoon met ‘n tinteling laat nadat jy dit klaargelees het.

Een van die dinge wat my so dikwels pla wanneer akademici nuwe literêre werke bespreek, is die koelte en kalmte van hul woordkeuses, die manier waarop hulle verseg om te wys hoe opgewonde hulle oor skryfwerk kan raak.

Willie Burger gee hom nou wel nie oor aan gedempte gilletjies nie, maar hy gaan verder as wat hy hom al ooit oor ‘n boek uitgelaat het.

Luister net na sy openingsparagraaf: “Die benederyk is die hoogtepunt van Ingrid Winterbach se oeuvre en ’n roman wat ’n mens intuïtief eien as ’n klassieke werk soos Sewe dae by die Silbersteins of Agaat.” 

En daarna raak dit net beter – mens wens hy hoef nie op te hou nie. 

Uiteindelik, wanneer Burger afsluit, doen hy dit met ‘n opsomming wat my laat besef het dat ‘n grootse roman by ‘n resensent van sy kaliber ook ‘n reaksie kan uitlok wat die resensie self laat uitstyg bo ander, danksy ‘n algemeen geldende formulering van hoe hy die roman as kunswerk beskou.

Dit is die moeite werd om hom hier aan te haal:

“Dit beteken nie dat Die benederyk die “waarheid” as  antwoord aanbied nie, of dat kuns in die algemeen ’n reddende waarheid bied nie. Kuns red nie die mensdom nie, bring nie nuwe insigte nie, mislei ons ook nie deur voor te gee dat die lewe eintlik goed is agter die oënskynlike chaos nie. Kunswerk, soos vergestalt in hierdie kragtige roman, bied troos omdat dit ons belangrikste vrae en diepste emosies onderling deelbaar maak …”

Die roman het Hambidge ook geïnspireer om haar nek baie ver uit te steek in haar slotopmerkings: “In ‘n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks as ‘n hoogtepunt uitgesonder word. Vir hierdie leser is dit tot nou Winterbach se grootste prestasie as romanskrywer …  ‘n Groot skrywer verander jou siening oor die lewe en jou psigiese landskap. Dít presteer hierdie boek.”

***

Net onder Burger se resensie in Die Burger verskyn Chris Barnard se bespreking van die P.J. Haasbroek-bundel, Kruispunt.

Een paragraaf in die resensie het dadelik die aandag getrek – die een halfpad deur waarin hy uiteensit hoe mens kan sien dat Haasbroek nou ‘n ander leser in sy visier as dié waarop hy sy vroeë werke gerig het. Ek het vergeet dat Barnard ‘n oud-joernalis is (onder meer by Huisgenoot), maar toe ek sien hoe hy ‘n baie lang verduideliking en/of argument saamtrek in drie sinne, toe besef ek net weer hoe kosbaar daardie jare se ondervinding kan wees – en hoe ‘n wonderlike woordkunstenaar Barnard self is. Veral wanneer hy in die daaropvolgende paragraaf, wat net een sinnetjie lank is, verskeie teenargumente antisipeer en  onskadelik stel.

As Die Burger elke Maandag twee sulke knap geskrewe resensies kan plaas!

***

En net om sake af te rond, is daar in Beeld vandeesweek ‘n resensie deur Jeanette Ferreira van dieselfde Haasbroek-bundel.

Dit is ‘n resensie in gans ‘n ander toonaard as dié van Barnard. Die gevoel wat ek gekry het, is dat Ferreira enersyds probeer om in haar konserwatiewe gebruik van woorde iets vas te vang van die kragtige soort prosa wat Haasbroek skryf.

En dan, ten einde, reageer sy op een van die dinge wat Haasbroek skryf met hierdie pragtige formulering: “In hierdie woorde lê een van die sterkste hooflyne in die bundel: Laat ons nooit vergeet wat alles in ons tuisgaan nie, nie van die lig of die donker of die pyn nie.”

Daarna sluit sy met met ‘n netjiese, positiewe gedagte.

Daar is baie maniere om resensies te skryf, en vandeesweek was van die heel bestes aan die bod.

***

Dit is ‘n interessante vraagstuk wat J.B. Roux opper in die ressensie wat hy geskryf het van Koos Kombuis se Die tyd van die kombi’s (Volksblad): “Mag ‘n resensent ‘n boek resenseer al vind hy nie aanklank by die skrywer se oeuvre nie en hou hy dalk nie van hom of haar nie?”

Tereg wys hy op die groot gevaar wat dit inhou wanneer resensente sonder integriteit losgelaat word op ‘n boek en ‘n skrywer jeens wie hulle negatiewe vooroordele het: “Te veel boeke beland op resensente se leestafels sonder ‘n billike kans op onbevooroordeelde beoordeling.”

Maar dit hoef nie so te wees nie, sê hy. “Resensente kán aan genres of skrywers vir wie hulle nie ooghare het nie, reg laat geskied. Die geheim is resensente wat hulle nie beperk tot boeke wat bloot hul beginsels, standpunte en voorkeure bevestig nie. Resensente wat ’n boek of skrywer wat hulle gewoonlik anderpad sou laat kyk, ’n billike kans kan gee om hulle tot ander insigte te bring.”

En dan gaan hy heen en wys dat hy nie onder die siele tel wat hy in hierdie laaste aanhaling beskryf het nie.

Al vraag wat nou nog beantwoord moet word, is hoekom Volksblad so lank gewag het om een van verlede jaar se boeke te resenseer. Of het hulle maar net sit en broei op ‘n resensie wat lank gelede gepleeg is om op dié manier die boek ‘n billike kans te gee?

2 antwoorde op Goeie boeke lok goeie resensies

  1. jr_hewing het gesê op Mei 31, 2010

    dis die eerste keer wat ek hier lees. ek is by verre nie ‘n letterkundige nie, maar ek het waardering vir ‘n goeie woord. en objektiwiteit in resensies is seker nooit 100% moontlik nie, maar ek hou daarvan as iemand se idees oor ‘n ander geskuif kan word.

  2. louisna het gesê op Junie 3, 2010

    Gelukkig is politici nie goeie resensente nie. Die beste boek in Afrikaans (Sewe dae by die Sibersteins) en die ander briljantes wat na hom gevolg het is nie welkom begroet nie

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.