by

Die regte rigting

Mei 25, 2010 in Sonder kategorie

Rapport se Boekeblad hinkepink in die regte rigting. Miskien moet mens Anastasia de Vries nog so ‘n maand gun om haar voete heeltemal te vind – afgelope Sondag was daar tekens dat sy koers kry.

Aan die een kant het sy Loftus Marais nadergetrek as resensent – al is dit vir ‘n ingevoerde boek wat nie deur ‘n goeie of ‘n swak resensie geraak sou word nie. Watter persentasie van Rapport se lesers is ook lesers van Ian McEwan se werk? Minder as 1%?

Nietemin, diegene wat Marais ken as die nemesis van Melanie Grobler sal weet dat hy ‘n baie goeie ontleder van digkuns is. As resensent is hy duidelik ook ‘n fyn stilis wat nie verstrik raak in jargon nie, en nog minder vinnige lesings pleeg. Iemand wat Daniel Hugo na die kroon kan steek sover dit die bespreking van poësie aangaande is.

Aan die ander kant het De Vries vandeesweek nie weer ‘n hele blad vermors op net een bespreking nie, maar plek gevind vir die bespreking van drie Afrikaanse boeke. Al drie die boeke wat bespreek word, P.J. Haasbroek se Kruispunt en Abraham de Vries se Verbeel jou dis somer (wat al verlede jaar verskyn het), en Piet Swanepoel se Marico se mambas, verdien meer diepgaande besprekings as wat dit hier kry deur Pieter-Louis Myburgh, ‘n sportjoernalis van Sport24.

Mens kan Myburgh se dilemma verstaan as hy opdrag gekry het om die drie bundels binne dae “platgelees” te kry en bondig te bespreek. Dan hanteer mens wel dinge op ‘n meer elementêre vlak, soos hy hier met welslae doen.

Maar as hy baie tyd gehad het vir die lees van die drie publikasies kan ek my voorstel dat dit vir hom taamlik frustrerend moes gewees het om De Vries en Haasbroek se bundels só bondig te moes bespreek. Só ‘n opdrag is eintlik ‘n belediging vir die intelligente resensent.

En dit laat mens wonder hoeveel erg Rapport aan Afrikaanse boeke het. Ek hoop De Vries gee Myburgh ‘n beter kans om sy staal te toon. Dalk met ‘n bespreking van PG du Plessis se Fees van die ongenooides? Net een van die baie top-boeke van die afgelope anderhalf jaar in Afrikaans wat nog nie deur Rapport bespreek is nie …

***

Dis moeilik om Ampie Coetzee se resensie van Johann de Lange se laaste digbundel ooit te vergeet (of hom daarvoor te vergewe), maar dit is nogtans goed om hom weer in volle swang te sien.

Sy skrywe oor Anastasia de Vries (einste sy) se Baie melk en twee sykers in Die Burger is gesaghebbend sonder om opgeblase te wees.  Hy hak nie vas in ‘n patroniserende geesdriftigheid oor die soort Afrikaans waarin De Vries skryf nie, maar is ernstig oor wát sy daarin sê, en wat sy wen daarmee by die skildering van ‘n spesifieke deel van die Suid-Afrikaanse samelewing, asook wat sy bydra tot die herstel van ‘n amper gesneuwelde literêre tradisie.

En om dan nog só ‘n resensie in “vervelige Standaardafrikaans” te skryf, is ‘n flirtasie met patronaatskap, maar gelukkig weet Coetzee hoe om nie in te gee vir die versoeking nie. En te slotte is hy nie skugter om ‘n evaluerende oordeel te gee nie.

Loshande die beste bespreking van hierdie boek wat nog verskyn het.

***

Ja, orraait, ek het al baie gal gebraak oor akademiese resensies en oor hoe oninteressant hulle koerante maak. Maar ek moet erken dat hulle dikwels ook ‘n baie spesifieke funksie het – soos nou weer die geval is met Thys Human se bespreking van Deborah Steinmair se Marike se laaste dans.

Dit moet oneindig baie vir ‘n debutant beteken om só ‘n deurdagte, nugtere bespreking vir haar eersteling te ontvang. Human se taksering is positief – wat beteken dat ek puur verniet my lees van se resensie met ‘n dag vertraag het sodat ek Steinmair se boek eers kon klaarlees.

Op ‘n snaakse manier is die lees van die boek makliker as dié van die resensie, maar ek hou dit nie teen Human nie. Trouens, ek is hom dankbaar vir die verbalisering van baie van die gewaarwordinge wat mens het, maar wat jy moeilik onder woorde kry omdat dit só ‘n betowerende roman is en omdat die lees nog so vars in jou geheue is. Miskien is dít die ware nut van ‘n “akademiese” resensie – die eerste ontsluit van ‘n roman vir sowel leek as student. Ek het paragraaf na paragraaf van Human se bespreking met die potlood sit en regmerkies en uitroeptrekens maak. Dankie.

Op een plek verwys Human na ooreenkomste in Steinmair se werk met sekere skryfwyses van Etienne Leroux. Dis daarom interessant om te kyk wie hierdie pragtige publikasie ontwerp het – Cherié Collins, wat, as ek dit nie mis het nie, Etienne Leroux se dogter is.

1 antwoord op Die regte rigting

  1. crito het gesê op Mei 28, 2010

    Ek stuur vir jou ‘n e-pos

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.