by

Die skrywer as resensent

Mei 11, 2010 in Sonder kategorie

Een van die neweprodukte van die literêre lewe is die kans wat gesoute skrywers kry om hul vernuf toe te pas op die skryf van resensies. Soms gaan dit só goed daarmee dat versamelings daarvan gemaak en in boekvorm gepubliseer word: Dorothy Parker, Pauline Kael, Bernard Levin, Philip Larkin, André P. Brink en so vele meer.

Ek vermoed dat as sy meer geleentheid daartoe gegee word, Riana Scheepers ook eendag só ‘n eer te beurt mag val. Sy weet hoe om ‘n resensie te konstrueer dat dit lyk asof sy net vinnig haar gedagtes op papier geplaas het. Sodra jy die resensie noukeurig lees, besef jy hoe deeglik sy gesorg het dat haar lesers meegevoer sal word deur haar geesdrif, saam met haar sal struikel oor die klippertjies van probleme, en eensgesind haar slotsom sal inneem.

‘n Goeie voorbeeld van só ‘n bespreking is haar resensie van Paul C. Venter se Mond van die wolf vandeesweek in Die Burger. Dis ‘n resensie wat met ‘n vaart begin, dan tot ‘n halt kom, versigtig weer op dreef kom en dan met een uitstekende paragraaf sy wending van besliste oordeel neem:

“Ek het ’n dag of wat nagedink waarom verhale met ’n gemoedeliker opset, die sogenaamde kontreiverhaal, nie ook goed en presies rég kan wees nie? En toe lees ek maar weer die hele bundel, met ’n ander ingesteldheid, en toe weet ek: Vir hierdie orkes het die skrywer nie sy grootste musikante, die prima donnas, laat kom nie, hy het nie ál die instrumente tot sy beskikking gebruik nie, die vertoning het verskuif van die skouburg na die dorpsaal – maar die artistieke bevrediging is nie daarom minder nie – net anders.?”

Dit is ‘n genot om só ‘n stuk skryfwerk op ‘n koerant se blaaie aan te tref. Hopelik hoor ons meer van haar en op gereelder basis.

(Ek kan myself nie verhelp om nogtans in haar oor te fluister dat haar keuse van die woord musikante in die aangehaalde stukkie foutief is nie. Vir die semanties sensitiewe skrywer en leser is daar ‘n verskil tussen musikante en musici – eersgenoemde slaan op minder begaafde musiekmakers, van die soort wat op straathoeke en in pop groepe speel, terwyl laasgenoemde betrekking het op professionele musiekmakers, soos mens in simfonie-orkeste sal aantref. Een van die grootste beledigings wat ‘n mens ‘n behoorlik opgeleide lid van ‘n simfonie-orkes kan toeslinger is dié dat hy net ‘n musikant is. Eweneens is dit ‘n groot kompliment wat jy aan Miles Davis of Coenie de Villiers gee as jy sê hulle is musici.)

***

Wium van Zyl is eweneens iemand wat op ‘n goeie dag puik resensies skryf. Ek het al voorheen gewys op sy voortreflikheid as resensent – juis omdat hy ‘n toeganklike soort resensie vir die gemiddelde koerantleser skryf, maar ook genoeg ekstra gee vir diegene wat meer van ‘n resensie verwag as dis-oulik-koop-maar soort twak wat soms deur ander resensente gepleeg word.

Maar dit was net sy geluk dat sy bespreking van Thomas Beacon se Deuskant die Groot Gariep neffens dié van Scheepers oor die Venter-boek verskyn het. Nie dat dit ‘n swak resensie is nie. Behoorlik beskou is dit ‘n indringende, goed verantwoorde bespreking op ‘n bevredigende literêre vlak.

As jy egter Scheepers se resensie pas gelees het en dan hierdie een takel, sal jou aandag gou dwaal. Mens soek nie altyd ‘n leesavontuur nie, maar as jy pas lekker bederf is, verwag jy iets wat jou meer onmiddelik sal aanspreek en betrek. Die betrekslag ontbreek hier.

***

Rapport se boekeblad onder die leiding van Anastasia de Vries begin nou stadig maar seker sy eie karakter vind. Tot dusver is dit geen verbetering op die vorige bestel nie en kan mens groot vraagtekens plaas agter haar oënskynlike besluit om haar resensente vanuit die Rapport-redaksie te werf.

Afgelope Sondag het Johanna van Eeden en Henry Cloete onderskeidelik oor Cynthia Jele se Happiness is a four-letter word en André Pretorius se Iets ver en nuut geskryf. Albei goed geskryf (Van Eeden en Cloete is immers joernaliste) maar hul gebrekkige ondervinding met die skryf van resensies is ongelukkig opvallend.

Van Eeden analiseer Happiness algaande terwyl sy die storie presiseer, en slegs teen die einde kry sy dit reg om daardie treetjie terug te staan en ‘n kritiese perspektief te kry. Het sy daardie afstand deurentyd kon handhaaf, sou sy ‘n veel interessanter (en bondiger) stuk kon geskryf het. Wat sy hier met groot omhaal doen, is om soos ‘n goeie ou Afrikaanse tannie uit te roep: “Haai kyk, hulle is nes ons.” (Vgl die slotparagraaf.) Wat mens dan dadelik laat vra of die inleidende aankondiging onder die opskrif nie die resensie effe oorbodig gemaak het nie.

Wonder wat Cynthia Jele van die resensie maak? As debutant sou sy sekerlik darem wou hoor hoe die resensent haar plaas naas ander nuwe stemme op die Suid-Afrikaanse literêre toneel. Hoe vergelyk haar skryfwerk met ander s’n? En saam met die leser en moontlike koper sal sy seker ook ander vrae in só ‘n resensie aangespreek wou sien: Is dit vernuwend? By wie sluit sy aan, of op wie reageer sy?

Vergeefs.

Cloete se bespreking het vir my ‘n meer bevredigende kritiese benadering en hy het my beslis genoeg geprikkel om ondersoek na die boek onder bespreking in te stel.

Maar ook hy sukkel om vir die leser die boek binne ‘n groter prentjie geplaas te kry.  Hy noem die name van Kingsley Holgate en Johan Bakkes, wat dadelik ‘n raam skep vir mens se beeld van die boek. Die probleem is net dat mens uiteindelik besef hy moes die boek eerder met Deon Maas se Witboy in Afrika vergelyk het, wat die bakens vir reisverhale verskuif het, en met Anthony Bourdain se No reservations-reeks wat vir die Discovery TV-kanaal gemaak is en waarmee Pretorius duidelik raakpunte het.

‘n Mens kan van sowel Van Eeden as Cloete se resensies sê dat hulle nie keuriger geskryf kon gewees het nie, maar dat hulle van wisselende nut is vir die leser. ‘n Mens kan sekerlik van Anastasia de Vries verwag dat sy as boekeredakteur sal groei en dat sy beter leiding sal gee aan haar resensente – dít is wat nog hier in hierdie variasie van vox populi ontbreek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.