Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

Profile photo of crito

by crito

Goeie boeke lok goeie resensies

Mei 31, 2010 in Sonder kategorie

Dis nou weer een van daardie tye waarna mens so dikwels verlang – ‘n nuwe Afrikaanse roman is besig om in al wat ‘n koerant is resensies te kry wat daarop dui dat die boek een van die bakens onder Afrikaanse prosawerk gaan word wat nooit geïgnoreer sal kan word nie.

Die boek is Ingrid Winterbach se nuwe roman, Die benederyk, wat vroeg in Mei ‘n puik resensie van Joan Hambidge in Volksblad gekry het, en vandeesweek in Die Burger een deur Willie Burger wat mens skoon met ‘n tinteling laat nadat jy dit klaargelees het.

Een van die dinge wat my so dikwels pla wanneer akademici nuwe literêre werke bespreek, is die koelte en kalmte van hul woordkeuses, die manier waarop hulle verseg om te wys hoe opgewonde hulle oor skryfwerk kan raak.

Willie Burger gee hom nou wel nie oor aan gedempte gilletjies nie, maar hy gaan verder as wat hy hom al ooit oor ‘n boek uitgelaat het.

Luister net na sy openingsparagraaf: “Die benederyk is die hoogtepunt van Ingrid Winterbach se oeuvre en ’n roman wat ’n mens intuïtief eien as ’n klassieke werk soos Sewe dae by die Silbersteins of Agaat.” 

En daarna raak dit net beter – mens wens hy hoef nie op te hou nie. 

Uiteindelik, wanneer Burger afsluit, doen hy dit met ‘n opsomming wat my laat besef het dat ‘n grootse roman by ‘n resensent van sy kaliber ook ‘n reaksie kan uitlok wat die resensie self laat uitstyg bo ander, danksy ‘n algemeen geldende formulering van hoe hy die roman as kunswerk beskou.

Dit is die moeite werd om hom hier aan te haal:

“Dit beteken nie dat Die benederyk die “waarheid” as  antwoord aanbied nie, of dat kuns in die algemeen ’n reddende waarheid bied nie. Kuns red nie die mensdom nie, bring nie nuwe insigte nie, mislei ons ook nie deur voor te gee dat die lewe eintlik goed is agter die oënskynlike chaos nie. Kunswerk, soos vergestalt in hierdie kragtige roman, bied troos omdat dit ons belangrikste vrae en diepste emosies onderling deelbaar maak …”

Die roman het Hambidge ook geïnspireer om haar nek baie ver uit te steek in haar slotopmerkings: “In ‘n letterkunde waar werklik goeie romans skaars is, moet hierdie teks as ‘n hoogtepunt uitgesonder word. Vir hierdie leser is dit tot nou Winterbach se grootste prestasie as romanskrywer …  ‘n Groot skrywer verander jou siening oor die lewe en jou psigiese landskap. Dít presteer hierdie boek.”

***

Net onder Burger se resensie in Die Burger verskyn Chris Barnard se bespreking van die P.J. Haasbroek-bundel, Kruispunt.

Een paragraaf in die resensie het dadelik die aandag getrek – die een halfpad deur waarin hy uiteensit hoe mens kan sien dat Haasbroek nou ‘n ander leser in sy visier as dié waarop hy sy vroeë werke gerig het. Ek het vergeet dat Barnard ‘n oud-joernalis is (onder meer by Huisgenoot), maar toe ek sien hoe hy ‘n baie lang verduideliking en/of argument saamtrek in drie sinne, toe besef ek net weer hoe kosbaar daardie jare se ondervinding kan wees – en hoe ‘n wonderlike woordkunstenaar Barnard self is. Veral wanneer hy in die daaropvolgende paragraaf, wat net een sinnetjie lank is, verskeie teenargumente antisipeer en  onskadelik stel.

As Die Burger elke Maandag twee sulke knap geskrewe resensies kan plaas!

***

En net om sake af te rond, is daar in Beeld vandeesweek ‘n resensie deur Jeanette Ferreira van dieselfde Haasbroek-bundel.

Dit is ‘n resensie in gans ‘n ander toonaard as dié van Barnard. Die gevoel wat ek gekry het, is dat Ferreira enersyds probeer om in haar konserwatiewe gebruik van woorde iets vas te vang van die kragtige soort prosa wat Haasbroek skryf.

En dan, ten einde, reageer sy op een van die dinge wat Haasbroek skryf met hierdie pragtige formulering: “In hierdie woorde lê een van die sterkste hooflyne in die bundel: Laat ons nooit vergeet wat alles in ons tuisgaan nie, nie van die lig of die donker of die pyn nie.”

Daarna sluit sy met met ‘n netjiese, positiewe gedagte.

Daar is baie maniere om resensies te skryf, en vandeesweek was van die heel bestes aan die bod.

***

Dit is ‘n interessante vraagstuk wat J.B. Roux opper in die ressensie wat hy geskryf het van Koos Kombuis se Die tyd van die kombi’s (Volksblad): “Mag ‘n resensent ‘n boek resenseer al vind hy nie aanklank by die skrywer se oeuvre nie en hou hy dalk nie van hom of haar nie?”

Tereg wys hy op die groot gevaar wat dit inhou wanneer resensente sonder integriteit losgelaat word op ‘n boek en ‘n skrywer jeens wie hulle negatiewe vooroordele het: “Te veel boeke beland op resensente se leestafels sonder ‘n billike kans op onbevooroordeelde beoordeling.”

Maar dit hoef nie so te wees nie, sê hy. “Resensente kán aan genres of skrywers vir wie hulle nie ooghare het nie, reg laat geskied. Die geheim is resensente wat hulle nie beperk tot boeke wat bloot hul beginsels, standpunte en voorkeure bevestig nie. Resensente wat ’n boek of skrywer wat hulle gewoonlik anderpad sou laat kyk, ’n billike kans kan gee om hulle tot ander insigte te bring.”

En dan gaan hy heen en wys dat hy nie onder die siele tel wat hy in hierdie laaste aanhaling beskryf het nie.

Al vraag wat nou nog beantwoord moet word, is hoekom Volksblad so lank gewag het om een van verlede jaar se boeke te resenseer. Of het hulle maar net sit en broei op ‘n resensie wat lank gelede gepleeg is om op dié manier die boek ‘n billike kans te gee?

Profile photo of crito

by crito

Die regte rigting

Mei 25, 2010 in Sonder kategorie

Rapport se Boekeblad hinkepink in die regte rigting. Miskien moet mens Anastasia de Vries nog so ‘n maand gun om haar voete heeltemal te vind – afgelope Sondag was daar tekens dat sy koers kry.

Aan die een kant het sy Loftus Marais nadergetrek as resensent – al is dit vir ‘n ingevoerde boek wat nie deur ‘n goeie of ‘n swak resensie geraak sou word nie. Watter persentasie van Rapport se lesers is ook lesers van Ian McEwan se werk? Minder as 1%?

Nietemin, diegene wat Marais ken as die nemesis van Melanie Grobler sal weet dat hy ‘n baie goeie ontleder van digkuns is. As resensent is hy duidelik ook ‘n fyn stilis wat nie verstrik raak in jargon nie, en nog minder vinnige lesings pleeg. Iemand wat Daniel Hugo na die kroon kan steek sover dit die bespreking van poësie aangaande is.

Aan die ander kant het De Vries vandeesweek nie weer ‘n hele blad vermors op net een bespreking nie, maar plek gevind vir die bespreking van drie Afrikaanse boeke. Al drie die boeke wat bespreek word, P.J. Haasbroek se Kruispunt en Abraham de Vries se Verbeel jou dis somer (wat al verlede jaar verskyn het), en Piet Swanepoel se Marico se mambas, verdien meer diepgaande besprekings as wat dit hier kry deur Pieter-Louis Myburgh, ‘n sportjoernalis van Sport24.

Mens kan Myburgh se dilemma verstaan as hy opdrag gekry het om die drie bundels binne dae “platgelees” te kry en bondig te bespreek. Dan hanteer mens wel dinge op ‘n meer elementêre vlak, soos hy hier met welslae doen.

Maar as hy baie tyd gehad het vir die lees van die drie publikasies kan ek my voorstel dat dit vir hom taamlik frustrerend moes gewees het om De Vries en Haasbroek se bundels só bondig te moes bespreek. Só ‘n opdrag is eintlik ‘n belediging vir die intelligente resensent.

En dit laat mens wonder hoeveel erg Rapport aan Afrikaanse boeke het. Ek hoop De Vries gee Myburgh ‘n beter kans om sy staal te toon. Dalk met ‘n bespreking van PG du Plessis se Fees van die ongenooides? Net een van die baie top-boeke van die afgelope anderhalf jaar in Afrikaans wat nog nie deur Rapport bespreek is nie …

***

Dis moeilik om Ampie Coetzee se resensie van Johann de Lange se laaste digbundel ooit te vergeet (of hom daarvoor te vergewe), maar dit is nogtans goed om hom weer in volle swang te sien.

Sy skrywe oor Anastasia de Vries (einste sy) se Baie melk en twee sykers in Die Burger is gesaghebbend sonder om opgeblase te wees.  Hy hak nie vas in ‘n patroniserende geesdriftigheid oor die soort Afrikaans waarin De Vries skryf nie, maar is ernstig oor wát sy daarin sê, en wat sy wen daarmee by die skildering van ‘n spesifieke deel van die Suid-Afrikaanse samelewing, asook wat sy bydra tot die herstel van ‘n amper gesneuwelde literêre tradisie.

En om dan nog só ‘n resensie in “vervelige Standaardafrikaans” te skryf, is ‘n flirtasie met patronaatskap, maar gelukkig weet Coetzee hoe om nie in te gee vir die versoeking nie. En te slotte is hy nie skugter om ‘n evaluerende oordeel te gee nie.

Loshande die beste bespreking van hierdie boek wat nog verskyn het.

***

Ja, orraait, ek het al baie gal gebraak oor akademiese resensies en oor hoe oninteressant hulle koerante maak. Maar ek moet erken dat hulle dikwels ook ‘n baie spesifieke funksie het – soos nou weer die geval is met Thys Human se bespreking van Deborah Steinmair se Marike se laaste dans.

Dit moet oneindig baie vir ‘n debutant beteken om só ‘n deurdagte, nugtere bespreking vir haar eersteling te ontvang. Human se taksering is positief – wat beteken dat ek puur verniet my lees van se resensie met ‘n dag vertraag het sodat ek Steinmair se boek eers kon klaarlees.

Op ‘n snaakse manier is die lees van die boek makliker as dié van die resensie, maar ek hou dit nie teen Human nie. Trouens, ek is hom dankbaar vir die verbalisering van baie van die gewaarwordinge wat mens het, maar wat jy moeilik onder woorde kry omdat dit só ‘n betowerende roman is en omdat die lees nog so vars in jou geheue is. Miskien is dít die ware nut van ‘n “akademiese” resensie – die eerste ontsluit van ‘n roman vir sowel leek as student. Ek het paragraaf na paragraaf van Human se bespreking met die potlood sit en regmerkies en uitroeptrekens maak. Dankie.

Op een plek verwys Human na ooreenkomste in Steinmair se werk met sekere skryfwyses van Etienne Leroux. Dis daarom interessant om te kyk wie hierdie pragtige publikasie ontwerp het – Cherié Collins, wat, as ek dit nie mis het nie, Etienne Leroux se dogter is.

Profile photo of crito

by crito

Vele gedaantes van ideale resensent

Mei 19, 2010 in Sonder kategorie

Vir meeste boeke loop daar ten minste een ideale resensent rond. Koerante moet net soek. Omdat ek nou al ‘n baie duidelike spesmaas het dat die redakteurs van Afrikaanse koerante hulle nie té dikwels opspoor nie, sal ek nie ‘n QED ná die tweede sin hierbo plaas nie.

P.J. Haasbroek is die ideale resensent vir ‘n roman soos Etosha (van Piet van Rooyen, resensie in Die Burger) en Willem de Vries verdien ‘n skouerklop dat hy die twee bymekaar uitgebring het.

‘n Analise van hierdie resensie is eenvoudig: Algemene inleiding en probleemsteling; toepassing/verheldering daarvan op die inhoud van die roman; evaluering van die roman sonder om die volle verhaal en slot te verklap; gevolgtrekking oor die betekenis van die roman vir die leser.

Dit klink eintlik simpel so eenvoudig is dit – maar dit is die riglyne wat geld vir diegene wat byvoorbeeld vir die New York Times boeke wil resenseer. Die kuns lê in die eiesortige manier waarop die resensent sy skryfwerk hanteer.

Haasbroek is bekend vir sy stilistiese uitgangspunt van bondigheid en die krag van die eenvoudige opmerking, sekuur gemaak.

Hy pas dié aanpak toe in sy resensie – ‘n deeglike, argumenterende reaksie op ‘n boek wat hom uiteindelik bring by ‘n vraag wat die kern van die boek enkapsuleer: “Wat is ons ver­ant­woordelikheid nou in Afrika? Ons het  – wat die skrywer ­elders “die ­oorspronklike natuurparadys” noem – help vernietig. Is dit reg om nou op te hou bekommer oor die einde daarvan?”

En daar laat hy dit. Geen verdere verduideliking nie, dis nie nodig nie. En vir dié leser: Gelees, geniet, gaan koop.

Wat my betref kan De Vries nog dikwels op Haasbroek se nommer druk. Hy is as resensent ‘n groot aanwins vir enige boekeblad.

***

Wie moet as resensent oorweeg word wanneer die boek voor hande ‘n reis-tema of reis as sentrale rigtende element het? Joan Hambidge, natuurlik. Die woelige Afrikaanse literator wat al self so baie gereis het en daaroor geskryf het dat mens uit simpatie só moeg is dat jy net met Jan Tuisbly se karretjie wil ry.

Daarom was dit ‘n goeie keuse van Anastasia de Vries om Hambidge in Rapport te laat skryf oor Damon Galgut se In a strange room, ‘n verliteratuurde roman oor ‘n persoon se reisvarings (onder meer) in Griekeland, Indië en Afrika.

Hambidge verklaar haar agting en bewondering vir hierdie manifestasie van Galgut se skrywerstalent in die vorm van ‘n ope brief aan die lesers van Rapport. Sy teken die raamwerk van Galgut se binnereis aan, vang die gebruiklike vlieë af (vgl die opmerking oor Faulkner wat sommer so in die lug bly hang sonder enige verklaring of behoorlike plasing in die teks vir diegene wat nie die boek gelees het nie), en net voordat sy die kans kry om die woord jouissance te gebruik, maak sy ‘n blaps.

Sy sê: “As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u hoef nie my resensies te lees nie. Maar wees gewaarsku: Wanneer jy begin lees, word jy meegesleur deur ‘n teks wat subtiel saamgestel is.”

Afgesien van die stilistiese lompheid (as ‘n resensent sy leser as u aanspreek, moet die resensent ‘n baie goeie rede hê om hom/haar in dieselfde paragraaf te jy, en hier is daar geen goeie rede daarvoor nie), hou sy nie rekening daarmee dat sommige van haar lesers dalk wel al hierdie boek gelees het nie, en met haar kan verskil nie.

Aldus het sy my nou verlig van die verpligting om in die toekoms haar resensies te lees (ek het In A Strange Room gelees en dit uiteindelik baie vervelig gevind). Dis goed om te weet dat die sware las van mens se skouers gehaal is, maar grappies op ‘n stokkie. Sulke ultimatums in resensies het die geneigdheid om te boemerang. Daar is geen kans dat ek sal ophou om Hambidge se resensies te lees nie, al is sommiges van hulle swakker as ander en al telegrafeer sy dikwels haar agenda. Dit is haar kritiese gees wat my prikkel.

***

‘n Laaste gedagte: Dis goed om te sien dat Rapport nie net redaksielede gebruik vir boekresensies nie. Kan mens begin hoop dat daar in die vervolg ook meer Afrikaanse boeke bespreek gaan word, en nie net een boekresensie per week nie?

Profile photo of crito

by crito

Die skrywer as resensent

Mei 11, 2010 in Sonder kategorie

Een van die neweprodukte van die literêre lewe is die kans wat gesoute skrywers kry om hul vernuf toe te pas op die skryf van resensies. Soms gaan dit só goed daarmee dat versamelings daarvan gemaak en in boekvorm gepubliseer word: Dorothy Parker, Pauline Kael, Bernard Levin, Philip Larkin, André P. Brink en so vele meer.

Ek vermoed dat as sy meer geleentheid daartoe gegee word, Riana Scheepers ook eendag só ‘n eer te beurt mag val. Sy weet hoe om ‘n resensie te konstrueer dat dit lyk asof sy net vinnig haar gedagtes op papier geplaas het. Sodra jy die resensie noukeurig lees, besef jy hoe deeglik sy gesorg het dat haar lesers meegevoer sal word deur haar geesdrif, saam met haar sal struikel oor die klippertjies van probleme, en eensgesind haar slotsom sal inneem.

‘n Goeie voorbeeld van só ‘n bespreking is haar resensie van Paul C. Venter se Mond van die wolf vandeesweek in Die Burger. Dis ‘n resensie wat met ‘n vaart begin, dan tot ‘n halt kom, versigtig weer op dreef kom en dan met een uitstekende paragraaf sy wending van besliste oordeel neem:

“Ek het ’n dag of wat nagedink waarom verhale met ’n gemoedeliker opset, die sogenaamde kontreiverhaal, nie ook goed en presies rég kan wees nie? En toe lees ek maar weer die hele bundel, met ’n ander ingesteldheid, en toe weet ek: Vir hierdie orkes het die skrywer nie sy grootste musikante, die prima donnas, laat kom nie, hy het nie ál die instrumente tot sy beskikking gebruik nie, die vertoning het verskuif van die skouburg na die dorpsaal – maar die artistieke bevrediging is nie daarom minder nie – net anders.?”

Dit is ‘n genot om só ‘n stuk skryfwerk op ‘n koerant se blaaie aan te tref. Hopelik hoor ons meer van haar en op gereelder basis.

(Ek kan myself nie verhelp om nogtans in haar oor te fluister dat haar keuse van die woord musikante in die aangehaalde stukkie foutief is nie. Vir die semanties sensitiewe skrywer en leser is daar ‘n verskil tussen musikante en musici – eersgenoemde slaan op minder begaafde musiekmakers, van die soort wat op straathoeke en in pop groepe speel, terwyl laasgenoemde betrekking het op professionele musiekmakers, soos mens in simfonie-orkeste sal aantref. Een van die grootste beledigings wat ‘n mens ‘n behoorlik opgeleide lid van ‘n simfonie-orkes kan toeslinger is dié dat hy net ‘n musikant is. Eweneens is dit ‘n groot kompliment wat jy aan Miles Davis of Coenie de Villiers gee as jy sê hulle is musici.)

***

Wium van Zyl is eweneens iemand wat op ‘n goeie dag puik resensies skryf. Ek het al voorheen gewys op sy voortreflikheid as resensent – juis omdat hy ‘n toeganklike soort resensie vir die gemiddelde koerantleser skryf, maar ook genoeg ekstra gee vir diegene wat meer van ‘n resensie verwag as dis-oulik-koop-maar soort twak wat soms deur ander resensente gepleeg word.

Maar dit was net sy geluk dat sy bespreking van Thomas Beacon se Deuskant die Groot Gariep neffens dié van Scheepers oor die Venter-boek verskyn het. Nie dat dit ‘n swak resensie is nie. Behoorlik beskou is dit ‘n indringende, goed verantwoorde bespreking op ‘n bevredigende literêre vlak.

As jy egter Scheepers se resensie pas gelees het en dan hierdie een takel, sal jou aandag gou dwaal. Mens soek nie altyd ‘n leesavontuur nie, maar as jy pas lekker bederf is, verwag jy iets wat jou meer onmiddelik sal aanspreek en betrek. Die betrekslag ontbreek hier.

***

Rapport se boekeblad onder die leiding van Anastasia de Vries begin nou stadig maar seker sy eie karakter vind. Tot dusver is dit geen verbetering op die vorige bestel nie en kan mens groot vraagtekens plaas agter haar oënskynlike besluit om haar resensente vanuit die Rapport-redaksie te werf.

Afgelope Sondag het Johanna van Eeden en Henry Cloete onderskeidelik oor Cynthia Jele se Happiness is a four-letter word en André Pretorius se Iets ver en nuut geskryf. Albei goed geskryf (Van Eeden en Cloete is immers joernaliste) maar hul gebrekkige ondervinding met die skryf van resensies is ongelukkig opvallend.

Van Eeden analiseer Happiness algaande terwyl sy die storie presiseer, en slegs teen die einde kry sy dit reg om daardie treetjie terug te staan en ‘n kritiese perspektief te kry. Het sy daardie afstand deurentyd kon handhaaf, sou sy ‘n veel interessanter (en bondiger) stuk kon geskryf het. Wat sy hier met groot omhaal doen, is om soos ‘n goeie ou Afrikaanse tannie uit te roep: “Haai kyk, hulle is nes ons.” (Vgl die slotparagraaf.) Wat mens dan dadelik laat vra of die inleidende aankondiging onder die opskrif nie die resensie effe oorbodig gemaak het nie.

Wonder wat Cynthia Jele van die resensie maak? As debutant sou sy sekerlik darem wou hoor hoe die resensent haar plaas naas ander nuwe stemme op die Suid-Afrikaanse literêre toneel. Hoe vergelyk haar skryfwerk met ander s’n? En saam met die leser en moontlike koper sal sy seker ook ander vrae in só ‘n resensie aangespreek wou sien: Is dit vernuwend? By wie sluit sy aan, of op wie reageer sy?

Vergeefs.

Cloete se bespreking het vir my ‘n meer bevredigende kritiese benadering en hy het my beslis genoeg geprikkel om ondersoek na die boek onder bespreking in te stel.

Maar ook hy sukkel om vir die leser die boek binne ‘n groter prentjie geplaas te kry.  Hy noem die name van Kingsley Holgate en Johan Bakkes, wat dadelik ‘n raam skep vir mens se beeld van die boek. Die probleem is net dat mens uiteindelik besef hy moes die boek eerder met Deon Maas se Witboy in Afrika vergelyk het, wat die bakens vir reisverhale verskuif het, en met Anthony Bourdain se No reservations-reeks wat vir die Discovery TV-kanaal gemaak is en waarmee Pretorius duidelik raakpunte het.

‘n Mens kan van sowel Van Eeden as Cloete se resensies sê dat hulle nie keuriger geskryf kon gewees het nie, maar dat hulle van wisselende nut is vir die leser. ‘n Mens kan sekerlik van Anastasia de Vries verwag dat sy as boekeredakteur sal groei en dat sy beter leiding sal gee aan haar resensente – dít is wat nog hier in hierdie variasie van vox populi ontbreek.