by

Die lustigheid

April 28, 2010 in Sonder kategorie

Op Die Burger se Boekeblok verskyn daar ‘n onderhoud wat Willem de Vries met Breyten Breytenbach gevoer het oor sy Notes from the Middle Earth. Breytenbach verwys na Andrew Nash se resensie oor die boek, en sê “soos in die ou dae van Rob Antonissen voel mens weer lus om die gedagtes van ‘n resensent te léés”.

Ek ken daai gevoel. Kry hom gewoonlik wanneer ek sien die naam by die resensie is Andries Visagie.

Visagie het vandeesweek Nuwe Stemme 4 vir Die Burger geresenseer. (Moontlik was dit vantevore in Beeld geplaas, maar wie sal ooit weet? Beeld se benadering tot die plasing van boekresensies op hul webblad wissel van vaag tot confused.) Visagie is die volmaakte resensent vir ‘n publikasie van hierdie aard. Hy lei die leser in die bundel in sonder om in die verbygaan ook klas te gee.

In die proses stel hy die nuwe name en hul belangrikste kenmerke aan mens voor, en probeer kliphard om diegene wat in die digkuns belang stel, te oortuig dat die bundel onder bespreking die koop werd is. Hy slaag in sy doel.

Vir diegene wat ‘n bietjie meer weet van die groter konteks waarin ‘n bloemlesing soos hierdie verskyn, is daar ook ‘n betekenisvolle subteks in die openingsopmerkings van die resensie: Nuwe Stemme is steeds die betroubaarste barometer van nuwe stemme in die Afrikaanse poësie.

As ander uitgewers (Nuwe Stemme verskyn by Tafelberg) hul sokkies optrek, is daar uiteindelik net een wenner: Afrikaanse digkuns.

***

Jan-Jan Joubert se skrywe oor Vegters teen Politieke Boelies van Koot Jonker (Die Burger) verdien applous.

As mens intelligent genoeg is om die wesentlike rassisme in Julius Malema se uitsprake raak te sien, dan moet jy ook jou beswaar teen die eweneens wesentlike rassisme van die ou Konserwatiewe Party (waaroor hierdie boek handel) aanteken.

Dít doen Joubert in geen onsekere taal nie. Die groot ironie is natuurlik dat danksy Malema die Konserwatiewe Party vandag waarskynlik nou groter steun sal kry in ‘n verkiesing as wat dit in die dae voor 1994 gekry het.

***

Terug by Breyten Breytenbach se opmerking oor resensente: Ek kry nie daai gevoel wanneer ek Stoffel Cilliers se naam sien nie. Nie dat hy ‘n swak resensent is nie – dis net dat dit selde lyk asof hy werklik geesdriftig of gatvol is.

Sy bespreking van In landsbelang deur Quintus van der Merwe (tegelyk in Beeld en Volksblad gebruik) is taamlik positief, taamlik krities, taamlik slordig. Hoe ‘n mens ‘n roman wat grotendeels in en om die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys afspeel, kan bespreek sonder om ooit na André P. Brink se Die ambassadeur te verwys, weet Cilliers alleen. As mens dan helfte van die verhaal wil vertel, kan jy net so maklik ook verduidelik hoe In landsbelang die ou bestel se gebruike en kultuur jukstaponeer deur die literêre “gesprek” met Die ambassadeur. Net omdat dit ‘n spaningsverhaal is beteken nie dat die skrywer onverskillig staan jeens die outentiekheid van sy materiaal nie.

4 antwoorde op Die lustigheid

  1. Maklik. Brink se Ambassadeur was ontsettend vervelig en gekunsteld verby. Boring.

  2. crito het gesê op April 29, 2010

    Dis nie die punt nie. “Die ambassadeur” kan vervelig en skattig wees – maar dit bestaan en is binne die raamwerk van Afrikaanse skryfkuns dié maatstaf waaraan enige skryfwerk oor diplomatieke protokol gemeet word.

  3. 0829429998 het gesê op April 29, 2010

    Crito, ek stem in prinsiep 100% saam met jou oor die droë hout wat wit rassisme vir iemand soos Malema gee. Dit is egter neither here nor there met betrekking tot Vegters teen Politiek Boelies as ‘n BOEK. Ek wonder of jy die boek gelees het? Dit is nie ‘n boek oor rassisme per se of wat rassisme goedpraat of aanblaas nie. Die boek is nie die KP nie en die KP is nie die boek nie. Dit is bloot ‘n gedokumenteerde stuk geskiedenis of die weergawe/interpretasie van die skrywer oor die politieke gebeure en landskap van daardie tyd. Dit is nog nooit werklik voorheen gedokumenteer nie. Dit is SY weergawe van die stryd van onder meer die KP teen die NP en dit staan iemand wat aan die ander kant van die draad gestaan het vry om met hierdie interpretasie te verskil (soos Jan-Jan tereg doen). Dit neem niks weg van die relevansie, kwaliteit of waarde van die boek vir ‘n bepaalde mark of leser nie, ook nie in die hedendaagse konteks nie. Jy kan met die KP se ideologie of beleid verskil, soos ek self gedoen het en steeds doen, maar dit neem nie die stuk geskiedenis weg nie. Moet ‘n boek wat bv oor Hitler handel per se sleg beoordeel word bloot oor die politiek of ideologie waarvoor hy gestaan het? Kan ons nie dalk iets leer uit hierdie tipe boeke wat geskiedenis binne ‘n sekere konteks plaas of aanbied nie? Dalk leer wat om níé te doen nie. Soms goed om die wêreld deur iemand ander se oë te sien, al is dit net vir ‘n wyle. Dit is ook tog waaroor boeke gaan. Maar my vraag egter aan jou: kan jy ‘n boek beoordeel op grond van ‘n resensie wat jy gelees het en dit daarvolgens beoordeel? Of het jy die boek gelees om uitspraak daaroor te kan lewer. En dit blyk nie die eerste keer te wees nie.

  4. crito het gesê op Mei 11, 2010

    @Thomas: My opmerking het gegaan oor die konsekwentheid in die benadering van die resensent. Ek het niks oor die boek gesê nie – het dit nie gelees nie. Maar ek lees gereeld Jan-Jan Joubert se joernalistieke skryfwerk.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.