Profile photo of crito

by

Dank jou die duiwel!

April 14, 2010 in Sonder kategorie

Wel, dank jou die duiwel! Twee resensies verskyn vandeesweek oor Christine Barkhuizen le Roux se debuutroman, Padmaker, albei sterk positief. Stephanie Nieuwoudt skryf daaroor in Rapport, en Adéle Dempers in Volksblad – en ek sal die skrywer nie verkwalik as sy effens ongemaklik voel daaroor nie.

Albei resensente blaker die verhaal uit, albei pluis die tematiek uit, albei spel die sielkundige raamwerk uit.

Dit is juis laasgenoemde wat my laat besef het dat die resensente nie werklik vir Barkhuizen le Roux ‘n guns bewys nie. Nieuwoudt verklaar: “Die toestand word nooit by die naam genoem nie, maar regdeur die roman is daar leidrade dat die moederfiguur aan Münchhausen se sindroom ly.” Dempers sê weer: “Katrien vermoed later haar ma ly aan Munchhauser-sindroom.”

Enigiemand wat die boek behoorlik gelees het, en wat net die moeite gedoen het om ‘n bietjie meer te gaan lees oor die sindroom wat hier ter sprake is, sal weet dat Kinnie (Katrien se ma) albei vorme van die sindroom openbaar wie se naam aan Baron von Münchausen (die regte spelling) ontleen is.

Die twee variante is uiteraard ten nouste aan mekaar gekoppel. Münchausen-sindroom is op te merk in die gedrag van iemand wat voorgee hy/sy is siek of andersins ernstig gedeprimeerd ten einde die aandag op hulself te vestig (gewoonlik die aandag van geneeshere en die mense waarmee hy/sy ten nouste saamleef). En dan is daar die sg. Münchausen Syndrome by Proxy (MSbP), wat slaan op die mishandeling van kinders, fisiek en veral geestelik, deur die ouer.

As ‘n resensent dinge begin uitspel, dan moet hy/sy ‘n bietjie noukeuriger wees. Wanneer die leser van die resensie dan begin onraad vermoed oor die resensent se begrip van bogenoemde, verloor die resensie meeste van die gesag waarmee dit veronderstel is om die leser te oortuig. Van daardie oomblik af lees mens die resensies met irritasie, Dempers s’n dalk minder só as Nieuwoudt s’n.

Dempers probeer nog op ‘n manier die boek plaas binne die konteks van wat tans in Afrikaans gepubliseer word (“molesteringsgenre”) en spreek waardering vir die boek uit – as debuut en as produk van ‘n kursus in skeppende skryfwerk. Maar sy laat na om Padmaker as variasie op die reisroman te plaas, of om aan te dui presies hoekom Barkhuizen le Roux se invalshoek so nuut is. As ‘n mens so patroniserend afsluit soos Dempers (“Barkhuizen le Roux kan maar ‘n storie vertel …”), moet jy darem ook sê presies wat jou by daardie opmerking uitgebring het: Hoe skryf sy?

Ek sal ook graag van Dempers wou weet of dit billik is om ‘n spesifieke soort einde van enige roman te verwag.

By Nieuwoudt flits die rooi liggies by paragraaf vier met haar verwysing na die Münchausen-sindroom, en dan begin mens weer van voor af lees. Skielik hinder dit jou dat sy met die intrap sommer die skrywer se lewe wil betrek by die roman. Haar tematiese analise van die roman is deeglik (sy sê ten minste presies wat vernuwend is aan hierdie roman), en tog kry mens hond se gedagte wanneer sy wéér die skrywer as mens betrek om te verduidelik waar Barkhuizen le Roux se vernuf met die elliptiese beskrywing, met suggestie en toespeling vandaan kom. Dit help ook nie dat Rapport by hierdie punt in die resensie ‘n tipografies verwarrende stukkie bladuitleg het nie, en mens se oog val op ‘n lang beskrywing van Barkhuizen le Roux se lewe en agtergrond binne-in die resensie.

Nietemin, jy kry jou oë terug in die resensie, en na ‘n belaglike opmerking oor die paaie in die boek wat met trots gebou is, so “… anders as die hendendaagse agteruitgang van die land se padnetwerk” wonder jy of Nieuwoudt nie ook raakgesien het van die agteruitgang van primêre mediese versorging, die ineenstorting van die onderwysstelsel en die dekadelange leemtes in maatskaplike werk nie.

Dan laat val sy iets oor Jung (dit sou gehelp het as sy eerder die kliniese sielkunde bygehaal het) en daarna rafel alles uit. Skryf dit maar aan gewone slordigheid toe:

“Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser kan vervreem nie.” Wat!? Intertekstueel? Watter ander tekste is ter sprake maar waarin die roman gelukkig nie verstrik raak nie? As mens so iets sê, moet jy laat waai met jou verduidelikings.

Of nog erger:

“Dis ‘n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.” Vergeet maar eers van die vlakke en die geskakeerde verwysings. Verduidelik net vir my hoekom dit weens is. Het die verwysings ‘n negatiewe uitwerking op die vlakke? Moes dit nie dalk danksy of vanweë gewees het nie? Hoe gaan mens ‘n resensent wat só ongevoelig is vir semantiek glo as sy hoog opgee oor hoe goed iets geskryf is, of oor hoe deeglik die outeur die krag van suggestie verstaan?

Ná twee sulke paragrawe maak dit vir hierdie leser werklik niks saak wat die resensent ten slotte sê nie.

Christine Barkhuizen le Roux het beter resensies verdien.

3 antwoorde op Dank jou die duiwel!

  1. Net een vraag. Is resensies bedoel om die mense daarbuite te kry om die boek te lees? Of is dit ‘n disektering van die boek vir taalgeleerdes?

  2. Grootleser het gesê op April 14, 2010

    Ek het die boek so vervelig gevind dat ek my verwonder dat dit enigsins kommentaar uitlik

  3. crito het gesê op April 16, 2010

    Maryke: Ja, dis seker die hoofdoel met die resensie. Maar om dit te kan doen, moet dit vir eers heeltemal geloofwaardig wees, veral ten opsigte van terminologie, taalgebruik, verstaanbaarheid. My beswaar, veral teen Nieuwoudt, is dat ‘n mens naderhand wonder of die resensent bedoel wat jy dink sy bedoel, en wat ‘n algemeen beskaafde woordeboek sou sê sy bedoel.
    SpekBek: Moontlik, moontlik nie. Is dit triviaal om te verwag dat resensente blyke gee dat hulle weet waarvan hulle praat, en ander boeke ook lees sodat hulle vir jou kan sê waar pas ‘n boek in die groter prentjie in?
    Grootleser: Soos ek al voorheen gesê het, dit gee vir resensente soms ‘n gelol af as hul lesers reeds die boek onder bespreking gelees het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.