Jy blaai in die argief vir 2010 April.

Profile photo of crito

by crito

Die lustigheid

April 28, 2010 in Sonder kategorie

Op Die Burger se Boekeblok verskyn daar ‘n onderhoud wat Willem de Vries met Breyten Breytenbach gevoer het oor sy Notes from the Middle Earth. Breytenbach verwys na Andrew Nash se resensie oor die boek, en sê “soos in die ou dae van Rob Antonissen voel mens weer lus om die gedagtes van ‘n resensent te léés”.

Ek ken daai gevoel. Kry hom gewoonlik wanneer ek sien die naam by die resensie is Andries Visagie.

Visagie het vandeesweek Nuwe Stemme 4 vir Die Burger geresenseer. (Moontlik was dit vantevore in Beeld geplaas, maar wie sal ooit weet? Beeld se benadering tot die plasing van boekresensies op hul webblad wissel van vaag tot confused.) Visagie is die volmaakte resensent vir ‘n publikasie van hierdie aard. Hy lei die leser in die bundel in sonder om in die verbygaan ook klas te gee.

In die proses stel hy die nuwe name en hul belangrikste kenmerke aan mens voor, en probeer kliphard om diegene wat in die digkuns belang stel, te oortuig dat die bundel onder bespreking die koop werd is. Hy slaag in sy doel.

Vir diegene wat ‘n bietjie meer weet van die groter konteks waarin ‘n bloemlesing soos hierdie verskyn, is daar ook ‘n betekenisvolle subteks in die openingsopmerkings van die resensie: Nuwe Stemme is steeds die betroubaarste barometer van nuwe stemme in die Afrikaanse poësie.

As ander uitgewers (Nuwe Stemme verskyn by Tafelberg) hul sokkies optrek, is daar uiteindelik net een wenner: Afrikaanse digkuns.

***

Jan-Jan Joubert se skrywe oor Vegters teen Politieke Boelies van Koot Jonker (Die Burger) verdien applous.

As mens intelligent genoeg is om die wesentlike rassisme in Julius Malema se uitsprake raak te sien, dan moet jy ook jou beswaar teen die eweneens wesentlike rassisme van die ou Konserwatiewe Party (waaroor hierdie boek handel) aanteken.

Dít doen Joubert in geen onsekere taal nie. Die groot ironie is natuurlik dat danksy Malema die Konserwatiewe Party vandag waarskynlik nou groter steun sal kry in ‘n verkiesing as wat dit in die dae voor 1994 gekry het.

***

Terug by Breyten Breytenbach se opmerking oor resensente: Ek kry nie daai gevoel wanneer ek Stoffel Cilliers se naam sien nie. Nie dat hy ‘n swak resensent is nie – dis net dat dit selde lyk asof hy werklik geesdriftig of gatvol is.

Sy bespreking van In landsbelang deur Quintus van der Merwe (tegelyk in Beeld en Volksblad gebruik) is taamlik positief, taamlik krities, taamlik slordig. Hoe ‘n mens ‘n roman wat grotendeels in en om die Suid-Afrikaanse ambassade in Parys afspeel, kan bespreek sonder om ooit na André P. Brink se Die ambassadeur te verwys, weet Cilliers alleen. As mens dan helfte van die verhaal wil vertel, kan jy net so maklik ook verduidelik hoe In landsbelang die ou bestel se gebruike en kultuur jukstaponeer deur die literêre “gesprek” met Die ambassadeur. Net omdat dit ‘n spaningsverhaal is beteken nie dat die skrywer onverskillig staan jeens die outentiekheid van sy materiaal nie.

Profile photo of crito

by crito

Op soek na resensent C

April 20, 2010 in Sonder kategorie

‘n Vorige redakteur van Die Burger se Boekeblad het my eens vertel dat wanneer hy moet besluit of hy ‘n boek gaan laat resenseer of nie, hy die streep trek by geslagsregisters en genealogiese werke waarin groot families onder die loep geneem word. Daar het eenvoudig té veel sulke boeke op sy tafel beland, meestal selfpublikasies – dit sou sy beskikbare ruimte drasties verminder het.

Christo Viljoen se resensie van Die Geslagsregister van die Campher-/ Kamfer-/ Kamffer-familie in Suid-Afrika 1675 – 2009  het daarom dadelik die oog gevang op hierdie week se boekeblad. Het Die Burger se houding jeens sulke publikasies verander? Ek hoop van harte so.

Presies hoekom Christo Viljoen gevra is om die bespreking te doen, weet mens nie, maar dit het positiewe gevolge. Viljoen se taksering is onderhoudend en insiggewend geskryf, soveel so dat ek graag die boek in die hande wil kry net om uit te vind presies hoekom daar variasies in die vanne se spelling is en hóé het dit gebeur, watse patrone is geïdentifiseer, watter bekendes was lede van die familie, en les bes natuurlik die ondertrouery wat Viljoen vermeld.

‘n Leser het in reaksie op verlede week blog gevra of die doel met resensies dan nie juis is dat dit mense moet oortuig om boeke te koop (of moontlik nié te koop nie). Dit is ‘n interessante vraag – wat my ook laat dink aan die ou kwinkslag oor resensente, naamlik dat as resensent A van iets hou, weet jy om weg te bly, maar as resensent B nie daarvan hou nie, weet jy om nader te staan. Jy soek resensent C, wie se oordeel altyd met joune ooreenstem.

Viljoen lyk vir my na ‘n resensent C – hy het net die regte dinge gesê om my nuuskierig te maak. Nou sal net die koop en lees van die boek klarigheid bring: C of A?

***

Deon Maas skyn die man van die oomblik te wees. ‘n Paar weke gelede het Charles Leonard hom baie groot lof in Rapport toegeswaai, en nou het Willem Pretorius Leonard se mening beaam in Die Burger.

Maas is nie iemand wat doenig is op die terreine waarin ek belangstel nie. My kinders het my vertel dat hy ‘n woelige mens is, soos Kuifie lyk, en die gifbek is op die TV-program Pop Idol. Ongelukkig het alles wat hulle my vertel het, my half laat terugdeins van die man.

Nadat Leonard geskryf het Maas se Witboy in Afrika is een van die beste reisverhaal-boeke wat hy nog ooit gelees het, het ek dit gaan soek. Aanvanklik vergeefs, maar uiteindelik het ek een in die hande gekry.

Wanneer Willem Pretorius skryf dat Maas ‘n humorsin het wat “ ‘n nuwe Minora-lem soos ‘n stomp byl laat lyk”, stel hy dit sagkens. Ek het absoluut versot geraak op Maas se manier van dinge sien en doen. Dit is min mense beskore om soveel van Afrika te beleef as wat hy het. 

Pretorius self verdien ook ‘n pluimpie: Sy slotparagraaf is dié volmaakte opsomming van my ervaring van hierdie merkwaardige boek: “Dit maak hom vry en is bevrydend vir die leser.”

C, gewis, hy én Leonard.

***

Moet ‘n mens van Leon Rousseau se Flapteks (Die Burger) aflei dat ons voortaan kinder- en jeugboeke net by wyse van sulke oorsigte bespreek gaan sien? Ek veronderstel ‘n mens moet dankbaar wees (sommige koerante ignoreer gewoon kinder- en jeugboeke), maar ek hoop werklik nie dat verdienstelike publikasies deur só ‘n benadering die kans op ‘n kritiese bespreking gaan ontbeer nie.

Boonop irriteer Rousseau se skryfstyl in Flapteks my ietwat. Hy is nie rubriekskrywer nie, hy is nie resensent nie, eerder jubeleur.

***

Benewens die magdom boeke wat hy vir die skryf van Flapteks deurgelees het, het Rousseau ook in die afgelope maande die Afrikaanse stel van Brittanica Junior, wat onder redaksie van Dawid van Lill staan, van ‘n kant af bekyk.

Rousseau is, danksy sy betrokkenheid van Kennis, een van die min mense in ons land wat ‘n stel boeke soos Britannica Junior met kundigheid kan evalueer. Sy resensie (in Beeld) is nie dié van ‘n jubeleur nie. Rousseau teken 13 positiewe punte aan wat van hierdie stel iets besonderd maak, en dan verduidelik hy hoekom die waarskynlike teikengroep waarop die stel gemik is, juis die mense sal wees wat geskok sal wees oor die minagting van Afrikaans en die geringskatting van Afrikaanse kultuur daarin.

Dit is, merk ek by die herlees van die resensie op, ‘n besonder goeie betoog wat Rousseau opstel. As ek Dawid van Lill was, sou ek hoop die oplaag verkoop vinnig genoeg uit sodat hy die ensiklopedie op ‘n aanvaarbare peil kan bring vir die mense wat voel hul kinders kan nie daarsonder leef nie. Hy hoef net Rousseau se resensie as rigsnoer te gebruik.

***

Wie onthou die Reddingsdaadbond? Snaaks dat ek dadelik daarin gedink het toe ek André Oosthuizen se resensie van God in ‘n kantelende wêreld in die Volksblad lees. Hierdie boek is die uitvloeisel van ‘n samewerkingsoreenkoms tussen teoloë aan die universiteite van Pretoria enersyds en Utrecht en Leiden andersyds.

Oosthuizen gee eintlik net ‘n waarderende opgaaf van die inhoud van die boek – dit is nie werklik ‘n kritiese bespreking nie en ek dink mens kan met veiligheid beweer dat hy eintlik net vir diegene wat belang stel in gelowiges se hantering van arm gelowiges wil aandui hoekom die boek die koop werd is. As sy aftellysie jou nie stimuleer nie, koop jy nie.

Maar onder die opmerkings wat hy maak na aanleiding van die inhoud, is die volgende: “Hierdie betrokkenheid sal in die NG Kerk in Suid-Afrika ook impliseer dat lidmate wat ly weens regstellende aksie, met deernis begelei sal moet word.”

Een van die stukkies geskiedenis wat vermoedelik nie in ‘n publikasie soos Britanica Junior opgeteken sal wees nie, is die manier waarop die sogenaamade armblanke-vraagstuk in die jare dertig hanteer is. 

Ná ds. J.D. Kestell in 1938 gepleit dat iets gedoen moet word vir die een-sesde van Afrikaners wat as armblankes geklassifiseer is, het die Reddingsdaadbond £500000 ingesamel, maar teen die tyd dat die Ekonomiese Volkskongres van die Reddingsdaadbond in Oktober 1939 gehou is, het die Afrikaanse politici die aksie oorgeneem en is besluit om die geld te gebruik om Afrikaanse sakebelange te ondersteun asook om die vakbonde te infiltreer en op Christelik-Nasionale basis te hervorm.

Tye het verander en die opmerking wat Oosthuizen maak oor diegene wat deur regstellende aksie getref is, is gelaai met ironie. Is dit hoegenaamd denkbaar dat die NG Kerk op sy eie ‘n tweede Reddingsdaadbond sal loods? Een vir alle lidmate?

Tja nefie, tye het verander.

Profile photo of crito

by crito

Dank jou die duiwel!

April 14, 2010 in Sonder kategorie

Wel, dank jou die duiwel! Twee resensies verskyn vandeesweek oor Christine Barkhuizen le Roux se debuutroman, Padmaker, albei sterk positief. Stephanie Nieuwoudt skryf daaroor in Rapport, en Adéle Dempers in Volksblad – en ek sal die skrywer nie verkwalik as sy effens ongemaklik voel daaroor nie.

Albei resensente blaker die verhaal uit, albei pluis die tematiek uit, albei spel die sielkundige raamwerk uit.

Dit is juis laasgenoemde wat my laat besef het dat die resensente nie werklik vir Barkhuizen le Roux ‘n guns bewys nie. Nieuwoudt verklaar: “Die toestand word nooit by die naam genoem nie, maar regdeur die roman is daar leidrade dat die moederfiguur aan Münchhausen se sindroom ly.” Dempers sê weer: “Katrien vermoed later haar ma ly aan Munchhauser-sindroom.”

Enigiemand wat die boek behoorlik gelees het, en wat net die moeite gedoen het om ‘n bietjie meer te gaan lees oor die sindroom wat hier ter sprake is, sal weet dat Kinnie (Katrien se ma) albei vorme van die sindroom openbaar wie se naam aan Baron von Münchausen (die regte spelling) ontleen is.

Die twee variante is uiteraard ten nouste aan mekaar gekoppel. Münchausen-sindroom is op te merk in die gedrag van iemand wat voorgee hy/sy is siek of andersins ernstig gedeprimeerd ten einde die aandag op hulself te vestig (gewoonlik die aandag van geneeshere en die mense waarmee hy/sy ten nouste saamleef). En dan is daar die sg. Münchausen Syndrome by Proxy (MSbP), wat slaan op die mishandeling van kinders, fisiek en veral geestelik, deur die ouer.

As ‘n resensent dinge begin uitspel, dan moet hy/sy ‘n bietjie noukeuriger wees. Wanneer die leser van die resensie dan begin onraad vermoed oor die resensent se begrip van bogenoemde, verloor die resensie meeste van die gesag waarmee dit veronderstel is om die leser te oortuig. Van daardie oomblik af lees mens die resensies met irritasie, Dempers s’n dalk minder só as Nieuwoudt s’n.

Dempers probeer nog op ‘n manier die boek plaas binne die konteks van wat tans in Afrikaans gepubliseer word (“molesteringsgenre”) en spreek waardering vir die boek uit – as debuut en as produk van ‘n kursus in skeppende skryfwerk. Maar sy laat na om Padmaker as variasie op die reisroman te plaas, of om aan te dui presies hoekom Barkhuizen le Roux se invalshoek so nuut is. As ‘n mens so patroniserend afsluit soos Dempers (“Barkhuizen le Roux kan maar ‘n storie vertel …”), moet jy darem ook sê presies wat jou by daardie opmerking uitgebring het: Hoe skryf sy?

Ek sal ook graag van Dempers wou weet of dit billik is om ‘n spesifieke soort einde van enige roman te verwag.

By Nieuwoudt flits die rooi liggies by paragraaf vier met haar verwysing na die Münchausen-sindroom, en dan begin mens weer van voor af lees. Skielik hinder dit jou dat sy met die intrap sommer die skrywer se lewe wil betrek by die roman. Haar tematiese analise van die roman is deeglik (sy sê ten minste presies wat vernuwend is aan hierdie roman), en tog kry mens hond se gedagte wanneer sy wéér die skrywer as mens betrek om te verduidelik waar Barkhuizen le Roux se vernuf met die elliptiese beskrywing, met suggestie en toespeling vandaan kom. Dit help ook nie dat Rapport by hierdie punt in die resensie ‘n tipografies verwarrende stukkie bladuitleg het nie, en mens se oog val op ‘n lang beskrywing van Barkhuizen le Roux se lewe en agtergrond binne-in die resensie.

Nietemin, jy kry jou oë terug in die resensie, en na ‘n belaglike opmerking oor die paaie in die boek wat met trots gebou is, so “… anders as die hendendaagse agteruitgang van die land se padnetwerk” wonder jy of Nieuwoudt nie ook raakgesien het van die agteruitgang van primêre mediese versorging, die ineenstorting van die onderwysstelsel en die dekadelange leemtes in maatskaplike werk nie.

Dan laat val sy iets oor Jung (dit sou gehelp het as sy eerder die kliniese sielkunde bygehaal het) en daarna rafel alles uit. Skryf dit maar aan gewone slordigheid toe:

“Maar Padmaker raak nie verstrik in allerlei intertekstuele verwysings wat die leser kan vervreem nie.” Wat!? Intertekstueel? Watter ander tekste is ter sprake maar waarin die roman gelukkig nie verstrik raak nie? As mens so iets sê, moet jy laat waai met jou verduidelikings.

Of nog erger:

“Dis ‘n boek wat op verskillende vlakke gelees kan word weens sy geskakeerde verwysings.” Vergeet maar eers van die vlakke en die geskakeerde verwysings. Verduidelik net vir my hoekom dit weens is. Het die verwysings ‘n negatiewe uitwerking op die vlakke? Moes dit nie dalk danksy of vanweë gewees het nie? Hoe gaan mens ‘n resensent wat só ongevoelig is vir semantiek glo as sy hoog opgee oor hoe goed iets geskryf is, of oor hoe deeglik die outeur die krag van suggestie verstaan?

Ná twee sulke paragrawe maak dit vir hierdie leser werklik niks saak wat die resensent ten slotte sê nie.

Christine Barkhuizen le Roux het beter resensies verdien.

Profile photo of crito

by crito

Ons ryke geskiedenis

April 6, 2010 in Sonder kategorie

Ja, dit was langnaweek. Die boekeblaaie was saai. Daar’s darem twee resensies, oor nuwe Afrikaanse publikasies (albei uit Die Burger) wat kommentaar verdien.

Die interessantste is vir my Daniel Kuys se skrywe oor Die verhaal van Elandskloof, byeengebring deur Tobie Wiese en Ricky Goedeman. Uit die resensie kan ek nie agterkom in watter provinsie Elandskloof lê nie, maar dit is ‘n sendingplaas van die NG kerk waar destydse lidmate van die NG Sendingkerk gewoon het. Toe verkoop die NG Kerk die grond, en sit almal sonder heenkome.

In Oktober 2006 is die saak reggestel, en kon die nasate van die Elandsklowers na die plaas terugkeer. Kuys lig twee dinge uit: ten eerste dat die boek in wese die verhaal is van mense en van die grond. Daardie behoefte wat mens het om iewers te hoort – “dis waar ek vandaan kom”.

Net jammer vir jou as P.W. Botha iewers langs die pad moes besluit of jou mense kon bly of moes padgee.

Die tweede saak wat Kuys uitlig, is die boek se aanraak van die samehang van grond-geregtigheid en mens-geregtigheid. Die proses van regstellende geregtigheid is waarskynlik een van die moeilikstes wat in ons land bestuur moet word. En die konsep van “gewillige koper” is een van die mees geladenes in ons politieke sisteem.

Wat Kuys nie aanraak nie, maar wat hopelik iewers ‘n Afrikaanse uitgewer se oog sal vang, is die saak van wat geword het van erflatings aan die NG en ander Afrikaanse susterskerke. Dalk sien Wiese kans?

***

Ek wonder hoeveel Afrikaanse kinders het deur die jare ‘n renons opgehou in geskiedenis as skoolvak weens die onderwyser se manier van historiese feite bekyk, aanbied en verdraai. Ek gaan nou nie weer ‘n gesanik opsit oor ‘n vermeende Broederbonder en besliste Nasionalis wat meer klem laat val het op die Groot Trek en Bloedrivier en die heroïsme van die Boere-krygers teen die Engelse nie. Beskou dit as genoem.

Wat ek wel hardop wil sê, is dat Fransjohan Pretorius my amper twintig jaar gelede verlos het van my negatiwiteit oor ons geskiedenis met sy briljante boek Kommandolewe tydens die Anglo-Boereoorlog. Pretorius het ‘n heilige respek vir feite – veral dié feite wat ons nooit op skool geleer is nie.

Dit ter aanvang. Pretorius resenseer vandeesweek in Die Burger Albert Grundlingh en Sandra Swart se Radelose Rebellie? Dinamika van die 1914-1915 Afrikanerrebellie en takseer dit op ‘n manier wat my later vanoggend sal laat koers kies na die boekwinkel.

Pretorius het sy resensie sekerlik ‘n paar weke gelede geskryf, en ek wonder of hy ooit sou kon dink dat dit skielik, na die moord op Eugene Terre’Blanche, sulke interessante weerklanke sou hê?

In sy bespreking van Radelose Rebellie? verwys Pretorius na die vestiging van armblankes in Suidwes-Transvaal, daar waar Terre’Blanche vandaan kom, en na die rol wat desperaatheid gespeel het in hul besluit om te rebelleer. Waar die opstandelinge in die Waterberg-streek ook meer gegoede burgers ingesluit het, moes die brandarm Afrikaners in Suidwes-Transvaal (skynbaar meestal bywoners) ook nog rekening hou met ‘n droogte wat al vyf jaar geduur het, en die Staat se onvermoë om vertroue te wek. Wat anders kon hulle doen as hul gewig agter die rebellie ingooi?

Hopelik herhaal die geskiedenis sigself nie …