Profile photo of crito

by

Die etiek van boekresensente

Maart 22, 2010 in Sonder kategorie

Wanneer behoort iemand nie ‘n boek te resenseer nie?

Ek is seker die redakteurs van boekeblaaie sukkel gereeld met dié probleem. Die antwoord op my vraag kan eenvoudig of ingewikkeld wees. Die eenvoudige antwoord: Almal wat ‘n direkte belang by die betrokke publikasie het. Die ingewikkelde antwoord is: Almal wat ‘n direkte of indirekte belang by die boek het, asook diegene wat in ten tye van die publikasie van die boek ‘n openlik vyandige verhouding met die skrywer en/of uitgewer het.

Die eenvoudige antwoord is eintlik vanselfsprekend. As jy by die uitgewer werk wat die boek gepubliseer het, resenseer jy nie daardie boek nie. Dit is maklik vir die redakteur van ‘n boekeblad om te bepaal of sy moontlike resensent deur só ‘n band uitgeskakel word. En die resensent behoort ‘n sterk etiese gevoel te hê wat hom/haar sigself laat verskoon. Mens kan nie altyd van die boekeredakteur verwag om sulke dinge uit te snuffel nie.

Met die ingewikkelde antwoord kom ‘n mens gou agter hoe ingewikkeld dit kán wees. Wie kwalifiseer vir indirekte belange? Goeie persoonlike vriende van die outeur? Persone wat ten tyde van die publikasie in ‘n “konflik” met die outeur gewikkel is? Resensente wie se mans of vrouens by ‘n uitgewer werk? Die eggenoot/neef/niggie van die outeur wie se boek bespreek moet word? Mense wat vryskutwerk vir die uitgewer doen? Die persone wat die boek oorspronklik vir die uitgewer gekeur het?

Ja, in al hierdie gevalle. Dit sou oneties van enige van hulle wees om ‘n resensie oor so ‘n boek te skryf. Ek meen die uitgewer sowel as die skrywer sou ten sterkste daarteen kan beswaar maak.

Maar wat dan van mense wat boeke by dieselfde uitgewer publiseer? Sekerlik tog nie – die resensent behoort te kan reken op hul ewewigtigheid, dan nie? En die beginsel van vryheid van spraak behoort tog sekerlik hier te figureer, dan nie?

Nog ‘n moontlikheid: Hoe maak mens met kandidaat-resensente wat op die beoordelaarspanele vir boekpryse sit? Wel, meestal is die boeke lank reeds geresenseer teen die tyd dat die mense oor die pryse besluit – maar stel jou ‘n geval voor waar ‘n koerant lank na die tyd wakkerskrik (soos by ons gereeld gebeur) en die resensent kry kans om op skrif iets te bestendig wat hy in die binnekamers ook bepleit? Of ‘n boek af te kraak wat iemand anders op die beoordelaarspaneel wil bekroon? So ‘n beoordelaar behoort homself beslis nie aan te bied as resensent nie.

Waarop dit uiteindelik neerkom, is dat die boekeredakteur so wakker moet wees as moontlik, en dat moontlike resensente ‘n sterk etiese aanvoeling moet hê.

Ek sit en dink nie aan hierdie dinge omdat daar ‘n bewindsverandering by Rapport se boekeblaaie ophande is en ek onthou wat na die vorige bewindsverander gebeur het met die polemiek rondom Joan Hambidge nie. Dit is iets wat by my broei sedert ek by die Woordfees die huldiging van André Brink bygewoon het en iemand agterna teenoor my gekla het hoe sleg dit is dat hy nie meer alle boeke vir Rapport resenseer nie. Hoe korrek was dit, het ek gewonder, dat Brink destyds die bundels van sy goeie vriend Breyten Breytenbach resenseer? Dit was skitterende resensies, maar moes hy dit gedoen het?

En dit het my weer laat kyk na wat die afgelope jaar op Afrikaanse boekeblaaie aan die gang is. Ek kan begryp dat iemand soos Kerneels Breytenbach ‘n artikel skryf oor Karin Brynard se Plaasmoord vir LitNet, maar hy behoort nie ‘n resensie daarvan vir ‘n koerant te skryf nie (wat hy darem nie gedoen het nie). Of oor enige ander boeke van NB-Uitgewers nie, omdat hy soos ek verneem lid is van hul raad. Daar’s niks fout met sy resensie van Evita Bezuidenhout se boek vir Rapport nie – dis ‘n uitgewer wat nie aan NB verbonde is nie.

Wanneer jy egter kyk na die artikel wat hy verlede Desember vir Rapport gedoen het oor kookboeke, betree mens ‘n grys gebied. Daar is kookboeke betrokke van Human & Rousseau uit die NB-kring en hoewel Breytenbach die boeke van ander uitgewers ewe veel goedgepraat het, kan die vraag tog gevra word of hy nie liewer die NB-boeke moes verswyg het nie.

Die ander geval wat in die oog gespring het, is dié van Daniel Hugo, wie se vrou, Carina Diedericks-Hugo ‘n werknemer is van Protea Boekhuis. Hugo het die afgelope maande verskeie Protea-boeke geresenseer, die mees onlangse voorbeeld hierdie week in Die Burger (W.A. de Klerk se Drie swerwers oor die einders). As ek hy was, sou ek dit liewer nie gedoen het nie.

En dan, te laaste, wonder ek of mens nie ‘n saak kon maak daarvoor dat redaksielede by die koerante van Media24 liewer nie resensies moet skryf oor boeke gepubliseer deur uitgewers binne dieselfde Media24 nie?

Lekker ingewikkeld!

3 antwoorde op Die etiek van boekresensente

  1. DroomKind het gesê op Maart 22, 2010

    Die feit dat die boekewêreld in ons land op ‘n speldekop kan pas help natuurlik ook nie veel nie.

  2. Ek lees nie meer Afrikaanse boeke nie oor baie redes, waarvan een die resensente is. Om een of ander rede weet hulle nie hoe om ‘n objektiewe “birds-eye-view” te gee nie. Hulle voel hulle self genoop om ‘n outoritêre opinie te gee wat hulle persoonlike beeld verteenwoordig en dit is presies die rede hoekom dinge so ingewikkeld geraak het. Resensente neem ‘n resensie persoonlik op.

  3. ctb het gesê op Maart 22, 2010

    Jy het heeltemal reg. Ek resenseer net wanneer ek gevra word om dit te doen. As ‘n reël resenseer ek geen NB-boeke nie, maar met die kookboeke moes ons besluit of die artikel ‘n oorsig oor alle nuwe kookboeke vir Kersfees sou wees, of nie. Ons het na eersgenoemde se kant gesondig, hopelik met geen ernstige negatiewe gevolge nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.