Profile photo of crito

by

Rondom ‘Jesus van Nasareth’

Maart 15, 2010 in Sonder kategorie

Een van die groot plesiere verbonde aan ‘n kritiese benadering tot resensies is dat ‘n mens elke nou en dan iets te lese kry soos At van Wyk se bespreking van Jesus van Nasareth, ‘n boek deur Sakkie Spangenberg (Beeld).

Nie omdat Van Wyk kleitrap nie. Allermins. Eerder omdat hy sulke vernuftige voetwerk aan die dag lê.

Godsdienstige onderwerpe moet mens altyd taamlik omsigtig benader, dít weet elke resensent. As jy ‘n raps té losbandig raak met interpretasie of lof vir die skeibrekers, dan sal jy dit tot op jou oudag ontgeld soos die fundamentaliste en dogmatici jou probeer repudieer en slegsê. (Die omgekeerde is ook waar – kyk maar hoe skel dit wanneer iemand vir Dawkins met minagting resenseer.)

Van Wyk het homself omtrent verskans. Hy laat dit deurskemer dat hy ‘n gelowige is wie se godsienstige en akademiese “grootword” vervleg was en dat hy “apartheid Bybels ingekry het”. Hy verwys na die leer van die erfsonde en die geloof in die drie-enige God.

Dan bly hy getrou by die argumentasie wat Sakkie Spangenberg in sy boek ontwikel, en gee die kern daarvan: “En meestal besef jy nie dat jy ’n meesterverhaal gevoer word nie – die verhaal van Adam en Eva se sondeval, van Jesus se koms soos in die Ou Testament voorspel, van sy dood aan die kruis sodat almal ewig kan leef en ewige hellestraf vir diegene wat sy offer verwerp.??Dis ’n verhaal wat Griekse en Latynse ‘vadere’ van die derde tot die vyfde eeu vir grootliks analfabete saamgestel het en wat sogenaamd die Bybelse waarhede verteenwoordig.”

Deur só naby aan Spangenberg se betoog te bly, en self as resensent eintlik nie die verslag te betree nie, kry Van Wyk dit reg om die soort dinge aan te haal wat my oortuig het dat hier nou ‘n boek is wat ek sal wil lees. Dinge soos:

–       “Alles in die Bybel oor God en Jesus is deur mense geskryf; alles in die Christelike tradisie oor God, Jesus en die Gees is mensgemaak – die hedendaagse Christelike godsdiens is nie deur Jesus begin nie.?” 

–       “Jesus was ’n Jood wat soos alle ander mense deur ’n man en ’n vrou verwek is, was tuis in die Judaïsme van die eerste eeu en het nie aan ’n Drie-eenheid geglo nie.”

–       “Maar hierdie Joodse profeet en leermeester word in die vierde en vyfde eeu tot ’n god omvorm wat in die Griekse en Romeinse denkwêreld pas.”

Dit bring hom by Spangenberg se slotsom, wat hy sonder kommentaar as slot van die resensie aanbied: “Die Jesus van die vierde eeu en die Jesus van die eerste eeu verskil radikaal”.

Dit is ‘n baie knap resensie. Die aanhalings hierbo sal meeste gelowige lesers onmiddelik prikkel. Hulle sou ook die heethoofde na die pen laat gryp het en ‘n stortvloed briewe op Beeld laat neerreën het.

Maar Van Wyk het weggetree, so sonder dat mens bewus was daarvan. Dis Sakkie Spangenberg wat self ‘n paar houe gaan moet vat, want Van Wyk sorg dat hy nooit direk reageer op Spangenberg se betoog nie. Hy herinner jou selfs ‘n slag daaraan dat dit nie hy is wat hierdie dinge sê nie, maar Spangenberg (“Maar die meesterverhaal is windskeef, soos die skrywer uitvoerig uitwys”).

En dan, ten slotte, het Van Wyk ook ‘n bietjie gekonkel. Hy sê nêrens vir die leser van die resensie dat Sakkie Spangenberg ‘n teoloog is en hoogleraar in die Ou Testament aan UNISA nie. Van Wyk het waarskynlik gemeen dat sulke inligting daardie ou Afrikaanse nuk om teologiese gesagsfigure blindelings te glo, sou aktiveer.

Daarom: Hier is Spangenberg se boodskap. Besluit self.

Lekker!

3 antwoorde op Rondom ‘Jesus van Nasareth’

  1. Neffertiti het gesê op Maart 15, 2010

    Goeie stuk Crito, ek het ook die resensie gelees.

  2. Neander het gesê op Maart 15, 2010

    Godsdiensonderwerpe sal altyd aandag trek. Hoekom sou At versigtig wees? Hy moet mos krities wees.
    Teologiese gesagsfigure word juis nie geglo nie.
    Toevallig ken ek die vier manne wat weggebreek het en die NHN gestig het: Sakkie Spangenberg, Hansie Womarans, Pieter Botha en Pieter Craffert.

  3. crito het gesê op Maart 15, 2010

    @Neander: Hang af uit watter hoek jy kyk. Ek glo nie die kreationiste sal met jou saamstem nie.

    Dankie, Nefertiti.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.