Jy blaai in die argief vir 2010 Maart.

Profile photo of crito

by crito

Die oopmaak van die hart

Maart 30, 2010 in Sonder kategorie

Soms, ongelukkig nie dikwels nie, vra ‘n koerant se boekeredakteur absoluut die regte persoon om ‘n spesifieke boek te resenseer. Rachelle Greeff se besluit om Dana Snyman te nader om Paul Alberts se Buite die hekke van Eden vir Rapport te bespreek, het ‘n stuk skryfwerk tipies van Snyman opgelewer – en in die proses net weer bewys dat die beste resensies nooit veel meer as ‘n eerlike opgaaf van ‘n leser se reaksie is nie. Hoe eerliker, hoe beter.

Snyman is een van die jong skrywersreuse wat nog nie genoeg erkenning gekry het nie. Die SA Akademie behoort hulself te skaam dat hulle nie vanjaar die Eugène Marais-prys aan hom toegeken het nie. Hopelik volgende keer?

Mense wat Snyman se skryfwerk volg, in boeke, tydskrifte en soms in koerantbylaes, sal weet dat sy werk, oor watter onderwerp ookal, gaan oor die oopmaak van die hart. Of dit nou sy hart is, of dié van die mense rondom hom, maak nie saak nie. Iets gaan jy voel as jy Snyman lees.

Sy reaksie op Alberts se boek sê baie: Dis ‘n puik boek, dis ‘n boek wat mens wil hê en by jou hou, dis ‘n boek wat vir die kyker grepe uit ons land se lewe gee, wat oomblikke en plekke vasvang soos ons ons kan indink dit vir ewig moet lyk – maar uiteraard nie sal nie. Snyman besef dat Albert se hebbelikheid die verganklikheid en estetiese kern is van die doodgewone, van die alledaagse. Hy sê dit, maar nie met daardie woorde nie.

‘n Akademikus sou die storie gaan haal het by Alberts se aansluiting by die groot fotograwe van die vorige eeu. Snyman noem nie eens sulke dinge nie. Hy vertel net hoe hy die boek met hom saamgeneem het op ‘n reis, en hoe hy dit uitgehaal het om alleen of saam met ander daarna te kyk.

En buiten dat die resensie lekker gelees het soos geen ander nie, sal dit beslis baie mense inspireer om na daardie boek te gaan soek. En dit is mos waaroor dit gaan?

***

Niemand sal Marthinus Beukes ooit daarvan kan beskuldig dat hy ‘n onintelligente leser en ontleder is van digkuns nie. En ná sy resensie van Oogensiklopedie van Gilbert Gibson (Beeld) het ‘n mens trouens ‘n mate van bewondering vir die manier waarop hy hierdie bundel toeganklik en verstaanbaar probeer maak vir die liefhebber van poësie.

Beukes se benadering vereis dat sy leser die bundel byderhand het om te kyk waarna verwys word, en só Beukes se betoog te volg. Dit sal uiteraard ook help as die leser reeds met die bundel slaags was, asook die twee Gibson-bundels wat dit voorafgegaan het.

Nou kan mens wel knorrig raak en vra wat sulke resensies in ‘n oggendblad soek. Té ingewikkeld, té swaartillend vir koerantlesers? Moenie die koerantlesers onderskat nie, sekerlik, maar sou dit vir koerantlesers wat nog niks van die bundel weet nie, dalk nie eens Gibson se vorige twee bundels gelees het nie, sou dit nie meer sin hê om ‘n ter wille van hul behoeftes ‘n treetjie terug te neem, meer afstandelik en oorsigtelik te skryf, en die bundel binne die groter konteks van ons digkuns te plaas nie? Mens kan dán nog altyd die vernaamste kenmerke en opmerkings wat jy wil maak op skrif kry, maar sonder die dorheid van die inboor, soos hier?

(As enigiemand dan nou vir my vra of ek nie besig is om te dink aan ‘n resensie soos Fanie Olivier in Die Burger oor dieselfde bundel geskryf het nie, dan is my antwoord dadelik bevestigend. Presies só. Olivier sit soms die pot mis wanneer hy oor speurverhale skryf, maar oor digkuns is sy aanpak en mening absoluut in die kol. Bygesê, Beukes en Olivier is albei positief, net uit ander rigtings.)

Aan die ander kant kan mens ook nie die betekenis van ‘n resensie soos hierdie van Beukes miskyk nie. ‘n Koerant wat so iets publiseer, gee daarmee te kenne dat dit bewus is daarvan dat ‘n aantoonbare persentasie van sy lesers ‘n groot belangstelling het in Afrikaanse digkuns. As ‘n publikasie op hierdie manier omsien na die estetiese geledinge van ‘n taal, bevestig dit die lewenskragtigheid van die taal.

Nou vra ek vir die bejaarde omie wat so kom staan en van buite blaf – is dít nou ‘n taal wat besig is om te sterf? Moenie verblind word deur alles wat hier op Stellenbosch skeefloop nie, oompie.

Profile photo of crito

by crito

Die etiek van boekresensente

Maart 22, 2010 in Sonder kategorie

Wanneer behoort iemand nie ‘n boek te resenseer nie?

Ek is seker die redakteurs van boekeblaaie sukkel gereeld met dié probleem. Die antwoord op my vraag kan eenvoudig of ingewikkeld wees. Die eenvoudige antwoord: Almal wat ‘n direkte belang by die betrokke publikasie het. Die ingewikkelde antwoord is: Almal wat ‘n direkte of indirekte belang by die boek het, asook diegene wat in ten tye van die publikasie van die boek ‘n openlik vyandige verhouding met die skrywer en/of uitgewer het.

Die eenvoudige antwoord is eintlik vanselfsprekend. As jy by die uitgewer werk wat die boek gepubliseer het, resenseer jy nie daardie boek nie. Dit is maklik vir die redakteur van ‘n boekeblad om te bepaal of sy moontlike resensent deur só ‘n band uitgeskakel word. En die resensent behoort ‘n sterk etiese gevoel te hê wat hom/haar sigself laat verskoon. Mens kan nie altyd van die boekeredakteur verwag om sulke dinge uit te snuffel nie.

Met die ingewikkelde antwoord kom ‘n mens gou agter hoe ingewikkeld dit kán wees. Wie kwalifiseer vir indirekte belange? Goeie persoonlike vriende van die outeur? Persone wat ten tyde van die publikasie in ‘n “konflik” met die outeur gewikkel is? Resensente wie se mans of vrouens by ‘n uitgewer werk? Die eggenoot/neef/niggie van die outeur wie se boek bespreek moet word? Mense wat vryskutwerk vir die uitgewer doen? Die persone wat die boek oorspronklik vir die uitgewer gekeur het?

Ja, in al hierdie gevalle. Dit sou oneties van enige van hulle wees om ‘n resensie oor so ‘n boek te skryf. Ek meen die uitgewer sowel as die skrywer sou ten sterkste daarteen kan beswaar maak.

Maar wat dan van mense wat boeke by dieselfde uitgewer publiseer? Sekerlik tog nie – die resensent behoort te kan reken op hul ewewigtigheid, dan nie? En die beginsel van vryheid van spraak behoort tog sekerlik hier te figureer, dan nie?

Nog ‘n moontlikheid: Hoe maak mens met kandidaat-resensente wat op die beoordelaarspanele vir boekpryse sit? Wel, meestal is die boeke lank reeds geresenseer teen die tyd dat die mense oor die pryse besluit – maar stel jou ‘n geval voor waar ‘n koerant lank na die tyd wakkerskrik (soos by ons gereeld gebeur) en die resensent kry kans om op skrif iets te bestendig wat hy in die binnekamers ook bepleit? Of ‘n boek af te kraak wat iemand anders op die beoordelaarspaneel wil bekroon? So ‘n beoordelaar behoort homself beslis nie aan te bied as resensent nie.

Waarop dit uiteindelik neerkom, is dat die boekeredakteur so wakker moet wees as moontlik, en dat moontlike resensente ‘n sterk etiese aanvoeling moet hê.

Ek sit en dink nie aan hierdie dinge omdat daar ‘n bewindsverandering by Rapport se boekeblaaie ophande is en ek onthou wat na die vorige bewindsverander gebeur het met die polemiek rondom Joan Hambidge nie. Dit is iets wat by my broei sedert ek by die Woordfees die huldiging van André Brink bygewoon het en iemand agterna teenoor my gekla het hoe sleg dit is dat hy nie meer alle boeke vir Rapport resenseer nie. Hoe korrek was dit, het ek gewonder, dat Brink destyds die bundels van sy goeie vriend Breyten Breytenbach resenseer? Dit was skitterende resensies, maar moes hy dit gedoen het?

En dit het my weer laat kyk na wat die afgelope jaar op Afrikaanse boekeblaaie aan die gang is. Ek kan begryp dat iemand soos Kerneels Breytenbach ‘n artikel skryf oor Karin Brynard se Plaasmoord vir LitNet, maar hy behoort nie ‘n resensie daarvan vir ‘n koerant te skryf nie (wat hy darem nie gedoen het nie). Of oor enige ander boeke van NB-Uitgewers nie, omdat hy soos ek verneem lid is van hul raad. Daar’s niks fout met sy resensie van Evita Bezuidenhout se boek vir Rapport nie – dis ‘n uitgewer wat nie aan NB verbonde is nie.

Wanneer jy egter kyk na die artikel wat hy verlede Desember vir Rapport gedoen het oor kookboeke, betree mens ‘n grys gebied. Daar is kookboeke betrokke van Human & Rousseau uit die NB-kring en hoewel Breytenbach die boeke van ander uitgewers ewe veel goedgepraat het, kan die vraag tog gevra word of hy nie liewer die NB-boeke moes verswyg het nie.

Die ander geval wat in die oog gespring het, is dié van Daniel Hugo, wie se vrou, Carina Diedericks-Hugo ‘n werknemer is van Protea Boekhuis. Hugo het die afgelope maande verskeie Protea-boeke geresenseer, die mees onlangse voorbeeld hierdie week in Die Burger (W.A. de Klerk se Drie swerwers oor die einders). As ek hy was, sou ek dit liewer nie gedoen het nie.

En dan, te laaste, wonder ek of mens nie ‘n saak kon maak daarvoor dat redaksielede by die koerante van Media24 liewer nie resensies moet skryf oor boeke gepubliseer deur uitgewers binne dieselfde Media24 nie?

Lekker ingewikkeld!

Profile photo of crito

by crito

Rondom ‘Jesus van Nasareth’

Maart 15, 2010 in Sonder kategorie

Een van die groot plesiere verbonde aan ‘n kritiese benadering tot resensies is dat ‘n mens elke nou en dan iets te lese kry soos At van Wyk se bespreking van Jesus van Nasareth, ‘n boek deur Sakkie Spangenberg (Beeld).

Nie omdat Van Wyk kleitrap nie. Allermins. Eerder omdat hy sulke vernuftige voetwerk aan die dag lê.

Godsdienstige onderwerpe moet mens altyd taamlik omsigtig benader, dít weet elke resensent. As jy ‘n raps té losbandig raak met interpretasie of lof vir die skeibrekers, dan sal jy dit tot op jou oudag ontgeld soos die fundamentaliste en dogmatici jou probeer repudieer en slegsê. (Die omgekeerde is ook waar – kyk maar hoe skel dit wanneer iemand vir Dawkins met minagting resenseer.)

Van Wyk het homself omtrent verskans. Hy laat dit deurskemer dat hy ‘n gelowige is wie se godsienstige en akademiese “grootword” vervleg was en dat hy “apartheid Bybels ingekry het”. Hy verwys na die leer van die erfsonde en die geloof in die drie-enige God.

Dan bly hy getrou by die argumentasie wat Sakkie Spangenberg in sy boek ontwikel, en gee die kern daarvan: “En meestal besef jy nie dat jy ’n meesterverhaal gevoer word nie – die verhaal van Adam en Eva se sondeval, van Jesus se koms soos in die Ou Testament voorspel, van sy dood aan die kruis sodat almal ewig kan leef en ewige hellestraf vir diegene wat sy offer verwerp.??Dis ’n verhaal wat Griekse en Latynse ‘vadere’ van die derde tot die vyfde eeu vir grootliks analfabete saamgestel het en wat sogenaamd die Bybelse waarhede verteenwoordig.”

Deur só naby aan Spangenberg se betoog te bly, en self as resensent eintlik nie die verslag te betree nie, kry Van Wyk dit reg om die soort dinge aan te haal wat my oortuig het dat hier nou ‘n boek is wat ek sal wil lees. Dinge soos:

–       “Alles in die Bybel oor God en Jesus is deur mense geskryf; alles in die Christelike tradisie oor God, Jesus en die Gees is mensgemaak – die hedendaagse Christelike godsdiens is nie deur Jesus begin nie.?” 

–       “Jesus was ’n Jood wat soos alle ander mense deur ’n man en ’n vrou verwek is, was tuis in die Judaïsme van die eerste eeu en het nie aan ’n Drie-eenheid geglo nie.”

–       “Maar hierdie Joodse profeet en leermeester word in die vierde en vyfde eeu tot ’n god omvorm wat in die Griekse en Romeinse denkwêreld pas.”

Dit bring hom by Spangenberg se slotsom, wat hy sonder kommentaar as slot van die resensie aanbied: “Die Jesus van die vierde eeu en die Jesus van die eerste eeu verskil radikaal”.

Dit is ‘n baie knap resensie. Die aanhalings hierbo sal meeste gelowige lesers onmiddelik prikkel. Hulle sou ook die heethoofde na die pen laat gryp het en ‘n stortvloed briewe op Beeld laat neerreën het.

Maar Van Wyk het weggetree, so sonder dat mens bewus was daarvan. Dis Sakkie Spangenberg wat self ‘n paar houe gaan moet vat, want Van Wyk sorg dat hy nooit direk reageer op Spangenberg se betoog nie. Hy herinner jou selfs ‘n slag daaraan dat dit nie hy is wat hierdie dinge sê nie, maar Spangenberg (“Maar die meesterverhaal is windskeef, soos die skrywer uitvoerig uitwys”).

En dan, ten slotte, het Van Wyk ook ‘n bietjie gekonkel. Hy sê nêrens vir die leser van die resensie dat Sakkie Spangenberg ‘n teoloog is en hoogleraar in die Ou Testament aan UNISA nie. Van Wyk het waarskynlik gemeen dat sulke inligting daardie ou Afrikaanse nuk om teologiese gesagsfigure blindelings te glo, sou aktiveer.

Daarom: Hier is Spangenberg se boodskap. Besluit self.

Lekker!

Profile photo of crito

by crito

Boekeredakteurs en vindingryke oplossings

Maart 9, 2010 in Sonder kategorie

Rapport Boeke, wat stadig maar seker besig is om sy aard en ritme te vind, kry binnekort ‘n nuwe redakteur. Volgens ‘n berig in afgelope Sondag se Rapport is dit Anastasia de Vries, wat tot onlangs nog verbonde was aan US se joernalistiek-departement.

Mens wil haar alles van die beste toewens – en die hoop uitspreek dat sy sal voortbou op dit wat die huidige redaksie (Rachelle Greeff en Danie Marais) met soveel flair reggekry het. Rapport het na my smaak steeds te veel resensies van Engelse en buitelandse publikasies en té min Afrikaanse boeke, maar ek hoop dat De Vries sulke vindingryke besluite soos Greeff en Marais sal neem.

Om ‘n voorbeeld te gee: Die hantering van Evita Bezuidenhout se kookboek was iets totaal nuuts. Hulle het duidelik vooraf besef dat hulle òf ‘n gewone resensie moes plaas, òf iets wat buite alle patrone val. HSkynbaar het hulle op laasgenoemde besluit – heel gepas vir só ‘n boek.

Te oordeel na Sondag se Rapport Boeke het Kerneels Breytenbach, wat in sy jare in die uitgewersbedryf sekerlik meer as genoeg van kookboeke geleer het, toe van Greeff-hulle opdrag gekry om ‘n vraag-en-antwoord met Evita as deel van die resensie te doen.

Ek kan nie onthou dat ek al ooit so lekker en lawaaierig vir ‘n resensie gelag het soos vir die een wat Breytenbach hier gedoen het nie. Sy vrae was onvoorspelbaar en het “die tante” op haar hoë hakke gehad – en op haar beurt het Evita ‘n klomp dinge kwytgeraak wat, kan ek my indink, in die loop van hierdie week nog baie onder die breë publiek oorvertel gaan word. Julius Malema …

Dit is sulke inhoud wat Rapport Boeke nie alleen ‘n waardige plaasvervanger vir wyle Insig maak nie, maar ook ‘n baie sterk deel van ‘n koerant soos Rapport se strewe om ‘n groter pubiek te bereik.

Dankie dan aan Rachelle en Danie. Mag jul spoke nog lank in Rapport loop.

***

Mens moet jou maar berus in die feit dat Neil Cochrane nie maklik gaan afsien van sy onopgewonde skryfstyl nie. Dit is tog ook duidelik dat hy al hoe minder steun op jargon, en op dié manier dit vir die gewone koerantleser moontlik maak om sy resensies te waardeer.

En as daar nou een van sy resensies is wat ek ten hemele wil aanbeveel, is dit die een oor John Miles se Voetstoots wat Maandag in Beeld verskyn het. (Ja, nou eers, maar dis sekerlik nie Cochrane se skuld dat Beeld soveel maande na die boek se verskyning eers wakkerskrik nie.)

Sy taksering van die roman is hoog (“daar het sedert Agaat van Marlene van Niekerk lanklaas ’n lywige roman verskyn wat so ’n ingewikkelde én genotvolle leeservaring vir prosaliefbebbers bied”) en dit is vir my ‘n genot om te sien dat hier nou uiteindelik ‘n resensent is wat die rolprent-aspek van die roman raakgelees het, en dit behoorlik ontleed.

Wens dat daar meer lesers soos Neil Cochrane was!

***

Van al die dinge wat ek verlede week tydens die Woordfees meegemaak het, was PG du Plessis se optrede Saterdag (saam met Kerneels Breytenbach) sekerlik een van die vreemdstes. Ek het dit geweldig baie geniet, om nou maar eerlik te wees, maar dit het op so ‘n eienaardige manier begin.

Breytenbach het PG om mee te begin omgepraat om vir die mense te wys dit is moeiliker om hartseer verhale te vertel as wat dit is om humoristiese verhale te vertel en die mense aan die lag te hou.

Toe vertel PG die verhaal “Ons mond”, waarna Stoffel Cilliers in sy resensie oor Du Plessis se Kortetjies en ‘n lange (Beeld) verwys. Aan die einde moes ek na my sakdoek gryp.

Cilliers sê tereg in sy resensie dat PG baie maskers het: PG die filosoof, PG die geamuseerde, PG die mensekenner, PG die satirikus. Wat “Ons mond” anders maak, is dat PG daarin sy kinderherinneringe as uitgangspunt gebruik, en niks bylieg of aandik nie. Dis ‘n verhaal oor sy oupa, en hoe ons die dooies altyd met ons saamdra.

Cilliers sê tereg “Ons mond” is die vonds in die bundel. Vonds? Dit is vir my ‘n kortverhaal wat dadelik by die geledere aansluit van die beste kortkuns wat nog in Afrikaans gepubliseer is.

Wens Stoffel wil soms sigbaar opgewonde raak!

Profile photo of crito

by crito

Oorstaanweek

Maart 2, 2010 in Sonder kategorie

Woordfees. Dit gaan te lekker. Ons praat aanstaande week verder.