by

Bietjie baie of bietjie min?

Februarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Wat laat ‘n boekeredakteur besluit om baie ruimte aan een boek af te staan, en min ruimte aan ‘n ander? Sekerlik word hulle gelei deur die resensente se reaksie, maar ek kan my indink dat ‘n boekeredakteur uit die staanspoor vir ‘n resensent ‘n aanduiding sal gee van hoeveel ruimte daar maksimaal vir ‘n spesifieke resensie beskikbaar sal wees.

            Hierdie gedagtes het vandeesweek by my opgekom met die aanskoue van Die Burger se propvol-boekebeblad, en dié van Volksblad wat op die internet te siene is. (Beeld het ek ‘n dag te laat gaan soek – geen spoor van die boekresensies nie. Is die heer Tim du Plessis tevrede met die diens wat Beeld aan sy web-lesers bied?)

            Die boek wat vir my die belangrikste is, Goed om te weet van Hans Büttner en George Claassen, kry in die Volksblad die minste ruimte. Die debuutdigbundel van Johannes Prins, Een hart, kry daarteenoor besonder baie ruimte, veral danksy die baie gebruik van aanhalings uit die bundel.

            Terwyl die resensent, Danila Liebenberg (‘n “instruksionele ontwerpnavorser by e-Leer aan die UV”) nie juis ekstaties is oor die bundel nie (ligweg ontroer, miskien), is die bespreking van Goed om te weet ‘n tipiese informatiewe stukkie wat iemand in die redaksie gou gepleeg het om die gate toe te stop.

            As sodanig is dit toereikend, maar ongelukkig is die resensent, Karen Herbert, nie iemand wat die groter prentjie raaksien nie. Goed om te weet is die soort boek wat van onskatbare waarde is vir mense met ‘n honger na feite en wetenswaardighede. Dit is ook die soort publikasie wat ‘n verbluffende sprong tussen media kan maak: dit is ‘n boek, maar dit kan ook die beginpunt van ‘n Afrikaanse Wikipedia wees. Dit kan op papier gelees word, maar dit sal net so toeganklik op die Internet of op selfone wees.

            Dit is hier waar ‘n rats resensent die gaping sou gesien het. Dalk selfs die telefoon opgeneem het om Koos Bekker of Tafelberg te vra of daar al iets aan die gang is. Maar doen resensente nog sulke moeite?

            Daarteenoor het Die Burger se Boekeredakteur deels die regte gewigte aan boeke toegeken ten opsigte van ruimte, en deels nie. Ek stem saam met die belangrikheid wat hy toegeken het aan P.G. du Plessis se Kortetjies en ‘n lange, maar nie met dié vir Hennie van Deventer se Byl in my bos of Nelia Engelbrecht se Dieter en Madame Zenobia nie.

            Wium van Zyl se resensie van die Du Plessis-versameling is, soos mens nou al van Van Zyl te wagte is, knap. Dit is ‘n bespreking wat die bundel uit verskillende oogpunte behandel: tematiek, aard, die indruk wat dit op die leser maak, en so meer. Ek meen Van Zyl sou ‘n verhandeling kon skryf oor sy een opmerking (“Die vroliker verhale is eintlik dié van ‘n skrywer wat speel”) en oor Du Plessis se humor-register (veral waar humor skielik plek maak vir deernis). Dit strek hom tot eer dat hy hierdie dinge bondig saamsnoer in ‘n resensie, en die leser se aandag hou.

            Martie Retief Meiring se bespreking van Hennie van Deventer se Byl in die bos is ‘n vriendelike gebaar teenoor iemand wat van narsisme ‘n publikasiebedryf gemaak het, maar in terme van koerantruimte is dit overdaad. (Laat ek byvoeg dat ek teen sy tweede boek belangstelling in Hennie van Deventer verloor het. Dis hy wat die woordjie “ek” vir my finaal kru gemaak het. Meiring se bespreking dui op meer van dieselfde as voorheen.)

            Adinda Vermaak se bespreking van Dieter en Madame Zenobia is weer iets anders – ‘n stuk skryfwerk wat met omtrent elke paragraaf daarin slaag om mens kwaad te maak, of te laat gryns by die aanskoue van die skrywer se onderrok wat so uithang.

            Om ‘n voorbeeld te gee: Paragraaf een begin met ‘n beroep op die gesag van iemand anders. Sy haal ‘n kenner aan om die resensie op hoë vlak te begin, maar as mens die uitgesproke wysheid behoorlik bekyk, besef jy dis ‘n feit-soos-‘n-koei wat as pseudo-wetenskap aangebied word. Kinders op die grens van tienerskap is in hul gemoed nog kinders, maar biologies beweeg hulle na wasdom. Hoekom dan ‘n kenner aanhaal as jy dit self kan formuleer? Onseker van jou eie gesag?

            Daarop volg verskeie paragrawe waarin positief oor die inhoud van die boek uitgewei word. Dan, nes mens by baie beginner-resensente vind, kom die deeltjie waarin die boek se foute afgetel word (hier in die vorm van vrae, sommige moontlik geldig).

            Maar wag ‘n bietjie! Perdalks ken die resensent die uitgewer of die skrywer. Vandaar die afsluiting, wat wil impliseer dat die resensent eintlik nie so ernstig is oor die foute wat sy uitgewys het nie, en hoop al haar lesers sal snap dat hulle tog die boek moet koop en lees. Aldus: “’n Laaste vraag: Is die vrae in die vorige paragraaf regtig nodig? Solank die kinders die speurtog van Dieter en sy maats en sy skilpad (wat oulik geteken is) lees en geniet.”

            My vraag aan haar: Het hierdie resensie enigiets bereik?

2 antwoorde op Bietjie baie of bietjie min?

  1. crito het gesê op Maart 2, 2010

    Ek’s ‘n akademikus sonder ‘n staanplek. Resensies is ‘n belangstelling wat ontwikkel het nadat ek met die semiologie deurmekaargeraak het.

  2. crito het gesê op Maart 15, 2010

    SpekBek: Ek soek daarna, maar kry dit nie. Het jy dalk vir my ‘n skakel?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.