by

Van twee kante Odendaal

Februarie 9, 2010 in Sonder kategorie

Rapport se maandelikse Boeke-bylaag het vandeesmaand baie leesstof opgelewer – ek’s veral bly oor Paul Cilliers se standpunt oor Paul Auster – en een resensie oor ‘n Afrikaanse literêre werk. Dié resensie is deur Jeanne Goossen gemaak oor Welma Odendaal se kortverhaalbundel Landskap met diere.

Lees jy Rachelle Greeff se onderhoud met Odendaal, en dan die een kortverhaal, “Mister Universe”, verwag jy ‘n smoelneuker van ‘n resensie. So baie ruimte aan een skrywer afgestaan – daar moet ‘n goeie rede wees. Maar smoelneuker is presies wat jy nie kry nie. Goosen begin deur te sê die bundel is ‘n kragtoer. En dan verval sy in ‘n opeenstapeling van opmerkings en veralgemenings en dinge wat mens laat wonder of Goosen besig was om te konsentreer toe sy die resensie geskryf het.

Kom ek gee ‘n voorbeeld. Sy sê: “ Die titels is raak en wanneer ‘n mens by die slot van sommige van die verhale kom, kry die titel ‘n verrassende, dubbele betekenis.” Dan los sy die opmerking sonder enige substansiëring of verdere verwysing na watter verhale onder die “sommige” tel, of watter verhale die verrassende, dubbele betekenis het.

Verderaan noem sy Odendaal se publikasies op, en dan haal sy sonder datering of kontekstualisering vir Hennie Aucamp aan oor Odendaal (sy is een van die “oortuigendste aankondigers van die struggle-verlede”) om haar die kans te gee om ‘n veralgemening te maak oor hoekom dit goed is dat ons steeds oor ons struggle-verlede skryf.

En dan sluit sy af, onverwags, met die waarneming dat die nuwe bundel saam met haar vorige kortverhale gelees moet word. Dit is nou werklik die soort opmerking wat mens stilweg stapelgek maak. Waar kry ons haar vorige kortverhale, Me. Goosen? Het u gekyk wat u geskryf het oor Odendaal se publikasiegeskiedenis?

Daar is ‘n vreemdsoortige samehang in Goosen se resensie. Dit neem lang oorpeinsing om ‘n vermoede op te bou oor wat dit kan wees – en dan is daar ook geen verfikasie nie. Net jou vermoede. Dis jammer dat Goosen, wat ‘n besonder bedrewe woordkunstenaar is, nie tyd spandeer het om die gedagtespronge wat sy maak, ook onder woord te bring nie. Dalk sou die resensie dan meer sin gemaak het.

***

In Beeld sluit Neil Cochrane vandeesweek sy bespreking van Eben Venter se Santa Gamka af met die opmerking: “Santa Gamka is ‘n lewenskragtige toevoeging tot ‘n andersins bra verbeeldinglose 2009-oesjaar in die Afrikaanse prosa.”

Dis jammer dat hy ‘n andersins gangbare resensie bederf met só ‘n bombastiese veralgemening. Laat mens sommer anders voel oor die voorafgaande deel van die resensie. Sulke opmerkings behoort gekwalifiseer te word, anders is dit weinig anders as betrekhoue.

***

Volksblad het vandeesweek ‘n verkorte weergawe van Bernard Odendaal se Versindaba-stuk oor Gilbert Gibson se digbundel Oogensiklopedie geplaas. Met Odendaal se bespreking het ek geen probleem nie, maar mens vra jou af of ‘n akademikus wat iets skep vir die gespesialiseerde ondersteuners van Versindaba werklik die behoeftes van koerantlesers bevredig deur sy indringende besprekingstuk net te verkort.

Die gewone koerantleser sal ‘n bespreking soos hierdie waarskynlik ervaar as ondeurworstelbaar, om ‘n uitdrukking van Gerrit Komrij te gebruik.

En in die proses is dit Gibson wat daaronder ly.

1 antwoord op Van twee kante Odendaal

  1. die artikel oor welma odendaal het ek vreeslik geniet. want ja, ek het, jammerlik, nie eintlik van haar geweet nie.

    en toe moes ek lees dat sy met egbert gerryts getroud was, so ‘n voorbeeld van ‘n man wat in der ewigheid in nieu-bethesda geplant staan.

    altyd lekker om jou blog te lees, crito, en bied baie stof tot nadenke. selfs vir so ‘n pleb soos ek. dankie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.