Jy blaai in die argief vir 2010 Februarie.

Profile photo of crito

by crito

Bietjie baie of bietjie min?

Februarie 24, 2010 in Sonder kategorie

Wat laat ‘n boekeredakteur besluit om baie ruimte aan een boek af te staan, en min ruimte aan ‘n ander? Sekerlik word hulle gelei deur die resensente se reaksie, maar ek kan my indink dat ‘n boekeredakteur uit die staanspoor vir ‘n resensent ‘n aanduiding sal gee van hoeveel ruimte daar maksimaal vir ‘n spesifieke resensie beskikbaar sal wees.

            Hierdie gedagtes het vandeesweek by my opgekom met die aanskoue van Die Burger se propvol-boekebeblad, en dié van Volksblad wat op die internet te siene is. (Beeld het ek ‘n dag te laat gaan soek – geen spoor van die boekresensies nie. Is die heer Tim du Plessis tevrede met die diens wat Beeld aan sy web-lesers bied?)

            Die boek wat vir my die belangrikste is, Goed om te weet van Hans Büttner en George Claassen, kry in die Volksblad die minste ruimte. Die debuutdigbundel van Johannes Prins, Een hart, kry daarteenoor besonder baie ruimte, veral danksy die baie gebruik van aanhalings uit die bundel.

            Terwyl die resensent, Danila Liebenberg (‘n “instruksionele ontwerpnavorser by e-Leer aan die UV”) nie juis ekstaties is oor die bundel nie (ligweg ontroer, miskien), is die bespreking van Goed om te weet ‘n tipiese informatiewe stukkie wat iemand in die redaksie gou gepleeg het om die gate toe te stop.

            As sodanig is dit toereikend, maar ongelukkig is die resensent, Karen Herbert, nie iemand wat die groter prentjie raaksien nie. Goed om te weet is die soort boek wat van onskatbare waarde is vir mense met ‘n honger na feite en wetenswaardighede. Dit is ook die soort publikasie wat ‘n verbluffende sprong tussen media kan maak: dit is ‘n boek, maar dit kan ook die beginpunt van ‘n Afrikaanse Wikipedia wees. Dit kan op papier gelees word, maar dit sal net so toeganklik op die Internet of op selfone wees.

            Dit is hier waar ‘n rats resensent die gaping sou gesien het. Dalk selfs die telefoon opgeneem het om Koos Bekker of Tafelberg te vra of daar al iets aan die gang is. Maar doen resensente nog sulke moeite?

            Daarteenoor het Die Burger se Boekeredakteur deels die regte gewigte aan boeke toegeken ten opsigte van ruimte, en deels nie. Ek stem saam met die belangrikheid wat hy toegeken het aan P.G. du Plessis se Kortetjies en ‘n lange, maar nie met dié vir Hennie van Deventer se Byl in my bos of Nelia Engelbrecht se Dieter en Madame Zenobia nie.

            Wium van Zyl se resensie van die Du Plessis-versameling is, soos mens nou al van Van Zyl te wagte is, knap. Dit is ‘n bespreking wat die bundel uit verskillende oogpunte behandel: tematiek, aard, die indruk wat dit op die leser maak, en so meer. Ek meen Van Zyl sou ‘n verhandeling kon skryf oor sy een opmerking (“Die vroliker verhale is eintlik dié van ‘n skrywer wat speel”) en oor Du Plessis se humor-register (veral waar humor skielik plek maak vir deernis). Dit strek hom tot eer dat hy hierdie dinge bondig saamsnoer in ‘n resensie, en die leser se aandag hou.

            Martie Retief Meiring se bespreking van Hennie van Deventer se Byl in die bos is ‘n vriendelike gebaar teenoor iemand wat van narsisme ‘n publikasiebedryf gemaak het, maar in terme van koerantruimte is dit overdaad. (Laat ek byvoeg dat ek teen sy tweede boek belangstelling in Hennie van Deventer verloor het. Dis hy wat die woordjie “ek” vir my finaal kru gemaak het. Meiring se bespreking dui op meer van dieselfde as voorheen.)

            Adinda Vermaak se bespreking van Dieter en Madame Zenobia is weer iets anders – ‘n stuk skryfwerk wat met omtrent elke paragraaf daarin slaag om mens kwaad te maak, of te laat gryns by die aanskoue van die skrywer se onderrok wat so uithang.

            Om ‘n voorbeeld te gee: Paragraaf een begin met ‘n beroep op die gesag van iemand anders. Sy haal ‘n kenner aan om die resensie op hoë vlak te begin, maar as mens die uitgesproke wysheid behoorlik bekyk, besef jy dis ‘n feit-soos-‘n-koei wat as pseudo-wetenskap aangebied word. Kinders op die grens van tienerskap is in hul gemoed nog kinders, maar biologies beweeg hulle na wasdom. Hoekom dan ‘n kenner aanhaal as jy dit self kan formuleer? Onseker van jou eie gesag?

            Daarop volg verskeie paragrawe waarin positief oor die inhoud van die boek uitgewei word. Dan, nes mens by baie beginner-resensente vind, kom die deeltjie waarin die boek se foute afgetel word (hier in die vorm van vrae, sommige moontlik geldig).

            Maar wag ‘n bietjie! Perdalks ken die resensent die uitgewer of die skrywer. Vandaar die afsluiting, wat wil impliseer dat die resensent eintlik nie so ernstig is oor die foute wat sy uitgewys het nie, en hoop al haar lesers sal snap dat hulle tog die boek moet koop en lees. Aldus: “’n Laaste vraag: Is die vrae in die vorige paragraaf regtig nodig? Solank die kinders die speurtog van Dieter en sy maats en sy skilpad (wat oulik geteken is) lees en geniet.”

            My vraag aan haar: Het hierdie resensie enigiets bereik?

Profile photo of crito

by crito

‘n Warm broodjie

Februarie 17, 2010 in Sonder kategorie

Uit die oogpunt van resensies oor Afrikaanse boeke beskou, is dit ‘n dor week. Die enigste resensie wat kommentaar verdien, is Madeleine Roux (a.k.a. Madeleine van Biljon Jr) se bespreking van Hester se brood in Die Burger.

Dis nie ‘n besonder goeie resensie nie, maar wat dit noemenswaardig maak, is die feit dat Roux van dié boek deur Hester van der Walt en Lies Hoogendoorn hou en dit ongeag talle tekortkominge en swakhede aanprys.

Gee haar krediet vir eerlikheid. Dis ‘n boek vir die bysiende leser, sê Roux, met lekker groot letters. As sy die boek nie goedgesind was nie, kon sy gesê het dat dit ‘n yl boekie is wat danksy die gebruik van groot letters gerek het na 192 bladsye.

Die Afrikaans is suiwer – “deesdae sogenaamd outyds”. ‘n Bitterbek sou dit seker geyk en stokkerig genoem het. Die sogenaamd outydse taal werk egter vir Roux want broodbak is ‘n antieke kuns en Van der Walt probeer “om die taal daarvan soos ‘n pottebakker weer te gee”. Roux het seker ‘n spesifieke pottebakker in gedagte – dié wat ek ken kan nie behoorlik Afrikaans praat nie. Dit is die soort vergelykings waarheen resensente afdwaal wanneer hulle opsluit dinge in die lig wil stel waarin hulle dit sien terwyl hulle weet hulle is op gevaarlike terrein.

Hoogendoorn se aandeel in die boek (illustreerder, bakkersmaat en verskaffer van dagboek-uittreksels) word vrolik aanvaar, al laat Roux deurskemer dat die steurende Nederlandismes in die boek aan Hoogendoorn se rekening toegevoeg kan word.

Daar is baie hinderlike spelfoute ook in die boek, merk Roux ten slotte op, maar in daardie stadium het ek reeds besluit dat ek die boek gaan koop.

Eind goed, als goed?

Profile photo of crito

by crito

Van twee kante Odendaal

Februarie 9, 2010 in Sonder kategorie

Rapport se maandelikse Boeke-bylaag het vandeesmaand baie leesstof opgelewer – ek’s veral bly oor Paul Cilliers se standpunt oor Paul Auster – en een resensie oor ‘n Afrikaanse literêre werk. Dié resensie is deur Jeanne Goossen gemaak oor Welma Odendaal se kortverhaalbundel Landskap met diere.

Lees jy Rachelle Greeff se onderhoud met Odendaal, en dan die een kortverhaal, “Mister Universe”, verwag jy ‘n smoelneuker van ‘n resensie. So baie ruimte aan een skrywer afgestaan – daar moet ‘n goeie rede wees. Maar smoelneuker is presies wat jy nie kry nie. Goosen begin deur te sê die bundel is ‘n kragtoer. En dan verval sy in ‘n opeenstapeling van opmerkings en veralgemenings en dinge wat mens laat wonder of Goosen besig was om te konsentreer toe sy die resensie geskryf het.

Kom ek gee ‘n voorbeeld. Sy sê: “ Die titels is raak en wanneer ‘n mens by die slot van sommige van die verhale kom, kry die titel ‘n verrassende, dubbele betekenis.” Dan los sy die opmerking sonder enige substansiëring of verdere verwysing na watter verhale onder die “sommige” tel, of watter verhale die verrassende, dubbele betekenis het.

Verderaan noem sy Odendaal se publikasies op, en dan haal sy sonder datering of kontekstualisering vir Hennie Aucamp aan oor Odendaal (sy is een van die “oortuigendste aankondigers van die struggle-verlede”) om haar die kans te gee om ‘n veralgemening te maak oor hoekom dit goed is dat ons steeds oor ons struggle-verlede skryf.

En dan sluit sy af, onverwags, met die waarneming dat die nuwe bundel saam met haar vorige kortverhale gelees moet word. Dit is nou werklik die soort opmerking wat mens stilweg stapelgek maak. Waar kry ons haar vorige kortverhale, Me. Goosen? Het u gekyk wat u geskryf het oor Odendaal se publikasiegeskiedenis?

Daar is ‘n vreemdsoortige samehang in Goosen se resensie. Dit neem lang oorpeinsing om ‘n vermoede op te bou oor wat dit kan wees – en dan is daar ook geen verfikasie nie. Net jou vermoede. Dis jammer dat Goosen, wat ‘n besonder bedrewe woordkunstenaar is, nie tyd spandeer het om die gedagtespronge wat sy maak, ook onder woord te bring nie. Dalk sou die resensie dan meer sin gemaak het.

***

In Beeld sluit Neil Cochrane vandeesweek sy bespreking van Eben Venter se Santa Gamka af met die opmerking: “Santa Gamka is ‘n lewenskragtige toevoeging tot ‘n andersins bra verbeeldinglose 2009-oesjaar in die Afrikaanse prosa.”

Dis jammer dat hy ‘n andersins gangbare resensie bederf met só ‘n bombastiese veralgemening. Laat mens sommer anders voel oor die voorafgaande deel van die resensie. Sulke opmerkings behoort gekwalifiseer te word, anders is dit weinig anders as betrekhoue.

***

Volksblad het vandeesweek ‘n verkorte weergawe van Bernard Odendaal se Versindaba-stuk oor Gilbert Gibson se digbundel Oogensiklopedie geplaas. Met Odendaal se bespreking het ek geen probleem nie, maar mens vra jou af of ‘n akademikus wat iets skep vir die gespesialiseerde ondersteuners van Versindaba werklik die behoeftes van koerantlesers bevredig deur sy indringende besprekingstuk net te verkort.

Die gewone koerantleser sal ‘n bespreking soos hierdie waarskynlik ervaar as ondeurworstelbaar, om ‘n uitdrukking van Gerrit Komrij te gebruik.

En in die proses is dit Gibson wat daaronder ly.

Profile photo of crito

by crito

Foto’s sonder gedigte, kiekies met versies

Februarie 2, 2010 in Sonder kategorie

Dit lyk asof die boekeredakteurs van Rapport en die oggendblaaie die laaste van hul 2009-resensies oorgehewel het 2010 toe, en die resultaat is nie werklik so verfrissend as wat mens sou hoop nie.

Die Burger het gister Daniel Hugo se bespreking van G.R. van Wielligh se Versamelde Boesmanstories 1 as hoofresensie gehad – gepas, want dié heruitgawe van ‘n 1919-boek is vandeesmaand Die Burger se Boekklub se Boek van die Maand. Volksblad lei met Stoffel Cilliers se resensie van Jeanne Goosen se Louoond, wat die eerste keer in 1987 verskyn het. Beeld spog weer met Stoffel Cilliers se taksering van Bettina Wyngaard se Troos vir die gebrokenes. Rapport had Sondag Louise Viljoen se mening oor Gilbert Gibson se bundel Oogensiklopedie.

Viljoen se bespreking is die enigste wat werklik ‘n indruk gemaak het – hoewel ek moet beken dat ek aanvanklik geen aantekening gemaak het by haar resensie nie.

Maar gister verskyn Melvyn Minnaar se resensie oor Buite die hekke van Eden, ‘n versameling van Paul Alberts se foto’s, en skielik spring die vonk waarna mens op ‘n boekeblad soek, en ek maak die konneksie met Louise Viljoen se bespreking van die Gibson-bundel.

Die argument wat Minnaar opper, is dat Alberts se besluit om sy foto’s te koppel aan toeligtende tekste, die trefkrag verskraal en die boek van minder waarde maak as wat dit sou hê met foto’s en geen tekste nie.

Viljoen, weer, verwys na die negatiewe effek (vir die leser) wat aanhangsels en aantekeninge by ‘n gedig op die leser se waardering vir daardie gedig het. Dit is uiteraard só dat die digter reg het in sy aanname dat sy gedig nie maklik begryp sal kan word sonder die aantekeninge en aanhangsels nie. Is dit dan nog ‘n goeie gedig? Dit sal van mens self afhang, maar ek is geneig om Viljoen gelyk te gee. Ek hou nie daarvan nie – ek voel altyd die digter kon nie die gedig maak “werk” nie, toe plak hy maar by.

Maar by Alberts se foto’s is daar ‘n effens ander situasie. Hy gebruik soms een genre (digkuns) om die ander genre, fotografie, te verklaar. Weer kry mens die gevoel dt die fotograaf bang is ons sien dit nie soos hy dit sien nie, vandaar die toeligting.

Vir my was die konvensie wat Alberts destyds gevolg het in In camera, en wat mens ook vind in publikasies van die werk van Henri Cartier-Bresson, Paul Strand, Edward Weston en andere, die heel beste. ‘n Enkele sin wat onderwerp, plek en tyd aandui. In In camera het Alberts reeds effens langer as dit gegaan, deur sy onderwerpe se geskiedenis by te haal. Maar nietemin, dit het nie mens se waardering van die foto’s beïnvloed nie. Ek hou vol dat Alberts se foto van Jean Welz kort voor sy dood een van die grootste oomblike in Suid-Afrikaanse fotografie is.

Ek onthou goed dat die kritici met Alberts se laaste foto-tentoonstelling in Kaapstad gekla het oor presies hierdie lang byskrif-hebbelikheid van hom.

Mens kan die argument selfs verder voer, na Breyten Breytenbach se kuns. Breytenbach is ook baie lief daarvoor om die twee dissiplines waarin hy werk, woord- en skilderkuns te vermeng wanneer hy skilder. Snaaks dat hy by sy digbundels nie ook die skilderkuns betrek nie – gelukkig besef hy dat sy woordkuns ryk genoeg aan beeldingskrag is om nie ook ‘n visuele foefie te behoef nie.

By sy kunswerke steur die woordrykheid my – dit verskraal die interpretatiewe moontlikhede van die kunswerk. Nes by Alberts se Buite die hekke van Eden.

Om terug te keer na Minnaar se resensie. Dit is jammer dat Die Burger nie plek kon maak om ten minste een van die foto’s af te druk nie. En al is die boek nie die koerant se Boek van die Maand nie, het hierdie resensie verdien om hoofresensie te wees.