Jy blaai in die argief vir 2010 Januarie.

Profile photo of crito

by crito

Van Plaasmoord tot by Fred Mouton

Januarie 25, 2010 in Sonder kategorie

Terug in die land van sonskyn en vreugde. Ek probeer inhaal wat ek aan resensies gemis het, en het na ‘n paar dae besluit ek gaan nie. Inhaal nie. Wil nie.

Twee dinge het darem deur hierdie steeds half bevrore skedel gedring: Wium van Zyl se resensie van Karin Brynard se Plaasroman, vir my dié debuut van 2009, en Ampie Muller se bespreking van Die Afrikaner-Broederbond; Belewinge van die binnekant deur Nico Smith, albei in Die Burger.

Brynard het reeds drie besprekings van haar debuutroman gehad – louwarmes deur JB Roux en Fanie Olivier, en hetig warm deur Izak de Vries. Ek kan maar net aanneem dat Roux en Olivier ook nie te veel van Stieg Larsson se boeke sou hou nie. Miskien is ek verkeerd. Maak dit saak? Ek weet net dat ek met feitlik geen enkele beswaar van Roux en Olivier saamstem nie. Dit kom weer eens daarvan dat mens resensies met ander oë lees as jy reeds die boek gelees het.

Van Zyl het ook ligte besware teen Barnard se roman, en soms kan mens daarmee saamgaan. Maar as hy sê Barnard se skryfwerk herinner hom aan Deon Meyer, dan wonder ek of hy dit werklik as beletsel sien?

Nietemin, ek stem met hom saam: Barnard se volgende roman word met spanning afgewag.

Ampie Muller se resensie van die Nico Smith-boek het my om heeltemal onbenullige redes laat regop sit. In At van Wyk se bespreking in Beeld van hierdie boek oor die Afrikaanse grootseunsbende het hy nie die Studenteraadsverkiesing-insident van 1972 genoem nie. Ampie Muller doen dit wel, en het vir my, wat in 1973 ‘n eerstejaartjie op Stellenbosch was, dadelik laat gryp na my ou Stellenbosse Student.

Nico Smith, wat skynbaar uit hoofde van sy posisie in die Broederbond “hoofwag” van die Ruiterwag-studentegroep was, moes van hulle verneem dat die Ruiterwag die SR-verkiesing van 1972 gekook het deur ongebruikte rekenaar-ponskaarte ten gunste van hul kandidate aan te wend, met die gevolg dat al die Ruiterwag se kandidate ingekom het.

Net ter inligting, sodat daar nie onduidelikheid kan wees oor die met Ruiterwag bevlekte SR van 1973 nie, noem ek die name van die lede van daardie SR, met hulp van die ou Stellenbosse Student. Die “linkses” van destyds was Chris Heyns, André Görgens, Gerrie de Villiers, Mark Patterson, John Daneel en Christoff Pauw. Hulle het bes moontlik nie die Ruiterwag se hulp nodig gehad nie. Die res van die SR het bestaan uit Uys de Jager, Bobby Loubser, Willem Doman, Hennie van der Merwe, Uys Theron en Theo Smit.

Kom nou manne, wees eerlik!

***

Anton F. Prinsloo se Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom kry vandag in sowel Volksblad as Die Burger aandag; die resensente is onderskeidelik die Vrystaatse akademikus Corlietha Swart en die oud-utgewer, skrywer en taalbul Leon Rousseau.

Swart se resensie is geneig om meer akademies te wees, Rousseau s’n is weer prakties van aard. Albei swaai Prinsloo lof toe.

Mens kan nie help om op te merk dat Rousseau sy eie vinding promoveer nie (“sloptaal”), terwyl Swart die wonderlike konneksie tussen 7de Laan en die verandering van spreekwoorde in die volksmond maak. Maar nòg sy nòg Rousseau noem dat Prinsloo geen ander keuse gehad het as om “joie de vivre” en “sine qua non” in te sluit nie nadat einste 7de Laan se Paula hulle voos gebruik het nie.

Rousseau wys darem ook dat dit help om kennis van die Klassieke te hê – hy wys Prinsloo daarop dat Hektor ‘n Trojaanse held was, en nie ‘n Griekse held nie.

***

Ek kan nie fout vind met Martie Retief Meiring se bespreking van Fred Mouton se Van Zuma tot Zille en ander politieke kapperjolle nie. Nadat ek dit gelees het, het ‘n vreeslike beklemming my gepak. Wat gaan van die Kaap (en Die Burger!) word as Fred Mouton die dag uittree? Hy is mos nou al lankal by 35 verby …