Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

Profile photo of crito

by crito

Blog uit die vreemde

Desember 22, 2009 in Sonder kategorie

Hier in die noordelike sneeuwêreld is daar geen papier-uitgawe van Die Burger nie. Snaaks dat ek dit só mis! Maar die Boekeblad (of deel daarvan, neem ek aan) is op die internet te lese. En so kom dit dan dat ek nuwe prioriteite ontdek.

            Dorothea van Zyl oor E. Kotzé se Toringbaai se mense. Eerste sin ‘n cliché (“’n Vergange wêreld blaai oop…”). In die tweede sin knal die eerste akademiaans (”dorpsroman”) en in die derde sin tree die onderwyseres aan (“Daarom kry die leser eers vooraf …”). Ag nee wat, het nie nou tyd vir so-iets nie.

            Wilhelm Jordaan oor Dirkie Smit se Dieper as wat ons dink, ‘n keur uit sy Saterdag-rubriek Geestelike Waardes in Die Burger. Begin met ‘n goeie punt (die lees van die meditasies as geheel is moeilik, want elkeen laat jou briek aanslaan).  Daarna verval Jordaan in ‘n mymering van sy eie oor ‘n wêreld wat worstel met geestelike waardes. Volgende resensie asb.

            Cecilie Cilliers oor Paul C. Venter se Die rebellie van Sloet Steenkamp. Het ek in die tagtigs  voor die televisie vasgenael gesit om na die doen en late van iemand genaamd Sloet Steenkamp te kyk? Nee, ek het nie. Hierdie boek is skynbaar ‘n avontuur wat Steenkamp oorgekom het ná die televisiereeks se dinge. Sal maar eers die televisiereeks in die hande moet kry voor ek die boek  lees. Miskien is dit te veel moeite.

            Dan ‘n boek deur Antjie Krog in Engels. Gaan verby. Sal wag vir die Afrikaanse vertaling.

            Beeld:

            At van Wyk skryf oor Die Afrikaner-Broederbond – belewinge van die binnekant, deur Nico Smith. Lekker resensie – en wat ‘n slotparagraaf! “Só roei en stoei en knoei die kerk en Christene sedert die vroegste eeue. En Smith lê dit op sy manier bloot.”

            My sentimente exactly, At: Gaan lees as jy belang stel in die Broederbond, maar eintlik, jy weet, gaap …

            Stoffel Cilliers oor Landskap met diere van Welma Odendaal. Gee my krag! Positiewe resensie wat soos voorlopige aantekeninge lees.

            Leon Rousseau oor Hennie Aucamp se Die huis van die digter. Aucamp sal bly wees hieroor, die eerste werklik positiewe resensie wat sy nuwe bundel kry ná twee minder opgewonde resensies. Interessante woord wat Rousseau vir “blurb” gebruik: tromp.

            Volksblad:

            Prof. H.P. van Coller van die departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat analiseer Eben Venter se Santa Gamka. Sekerlik ‘n akademies goed verantwoorde ontleding. Prof. H.P. van Coller gaan nie wanneer die volgende Hertzogprys vir prosa toegeken moet word, vir Santa Gamka bo-aan sy lysie plaas nie. Ek het die roman op die vlug hierheen begin gelees, en in die hotel klaargemaak. Vir my Venter op sy beste, soos laas met Begeerte. Soos Prof. H.P. van Coller sê, wie sal sy neus vir ‘n mindere doek van Rembrandt optrek?

            Rapport:

            Waar steek hulle deesdae die boekresensies op Rapport se webwerf weg? Kon geen nuwes opspoor nie.

***

            Ons gesels in 2010 verder. Intussen geseënde Kersfees en ‘n allemintige boekejaar 2010 vir almal!

Profile photo of crito

by crito

Die eintlike hoofresensie

Desember 15, 2009 in Sonder kategorie

Volgens die ou cliché vertel ‘n goeie foto meer as wat ‘n duisend woorde kan. Wanneer ‘n versameling top-gehalte foto’s dan die dag aan die bod kom, verwag mens ‘n resensent wat die kuns op alle moontlike maniere ken, en ten minste een of twee afdrukke van foto’s wat genoem word in die resensie, of nog beter – die bestes in die boek.

Toe ek hoor dat Through My Lens van Alf Kumalo gepubliseer is, het ek begin uitkyk vir ‘n resensie deur Cloete Breytenbach, die voor-die-hand-liggende ressensent vir só ‘n boek. Die Burger se boekeredakteur het ‘n stappie verder gegaan, met skitterende gevolge. Hy het Elza Miles die bespreking laat doen.

Hoekom die resensie nie hoofresensie op Maandag se blad was nie, weet nugter alleen. Ook kan daar geen oortuigende rede wees vir die versuim om een of twee van Kumalo se foto’s langs Miles se resensie af te druk nie. Ek dink spesifiek aan die foto van Dumile Feni en Julian Bahula, waarna Miles ook verwys.

Miles se resensie self is top-gehalte. Sy ken die konteks en presiseer Tanya Faber se bydrae tot die boek op joernalistiek onverbeterlike manier. En dan het sy die oog om te begryp wat Kumalo se fotografie so besonders maak. Ek glo nie daar is baie ander resensente wat die verband tussen Kumalo se tekenwerk as kind en die komposisies van sy foto’s as volwassene sou kon raaksien en uitlig nie.

Hierdie een resensie is genoeg om mens te laat vergeet van die Klaas Vakie-poging wat verlede week se boekeblad in Die Burger vir my was.

***

Ek het Neil Cochrane se swaartillende dog insigryke resensie van Hennie Aucamp se Die huis van die digter en ander liefdesverhale met waardering gelees (Die Burger). Hy het my in die verlede al erg geïrriteer met sy swaar hand, maar hierdie keer skryf hy met heelwat meer finesse.

In wese is dit ‘n baie skerp resensie wat Aucamp kritiseer omdat hy nie bereid is om, soos die ou skrywerswaarheid lui, “to kill your own darlings” nie. Cochrane skryf egter met soveel respek dat ek seker is Aucamp sal luister wanneer Cochrane sê die bundel is nie op dieselfde hoogstaande peil as sy vorige werk nie, dat dit ylerig is, dat sommige van die verhale maar liefs weggelaat moes gewees het, en dat Aucamp les bes homself te dikwels in sy verhale aanmeld.

Cochrane se sluitende opmerking, dat iemand van Aucamp se kaliber tot veel meer in staat is, wek uiteraard dadelik die vraag of Aucamp hoegenaamd nog geduldig genoeg is om ‘n vlekvrye bundel te lewer.

***

“Aangename weersiens!” wou ek uitroep toe ek sien Chris Barnard het Deon Meyer se Karoonag en ander verhale vir Die Burger bespreek.

Barnard (wat verlede week op ‘n warm stoel gesit het nadat hy een van die aandadiges was wat die Jan Rabie- en Marjorie Wallace-beurs aan André P. Brink toegeken het) is, ondanks sy skrale publikasie-oes en sy nuk om sy kreatiewe werk eerder vir die verhoog en silwerdoek te lewer, steeds een van die beste beoefenaars van die kortverhaal as literêre kunsvorm. Maar hy was ook op sy dag joernalis, en het ‘n baie goeie aanvoeling vir die meer populêre skryfwerk van iemand soos Meyer.

Die feit dat dit Chris Barnard is wat hierdie bundel goed vind, beteken vir my alles. Selfs al maak hy as resensent die fout om nooit aan te dui of al sewe die verhale in die bundel speurverhale is of nie. Dít moes ek eers uitvind toe ek die boek koop. (‘n Bietjie van ‘n gawe allegaartjie, laat mens net uitsien na die volgende roman.)

Profile photo of crito

by crito

Die ander Joan

Desember 1, 2009 in Sonder kategorie

Aan jou jongste resensie word jou waarde geskat – gelukkig miskien ook só.

 

‘n Week gelede kon ek kwalik glo hoe slordig ‘n resensie deur Joan Hambidge kon wees (n.a.v. haar bespreking van Wynand Coetzer se Skerpioen). Vandeesweek moet ek haar gelukwens met haar bespreking in Volksblad van Hennie Aucamp se Die huis van die digter en ander liefdesverhale.

 

Dit is wel vreemd dat sy vir Aucamp die moeite gedoen het om in detail in te gaan op die gebrek aan voortreflikheid en varsheid, terwyl sy met die Coetzer-resensie gewys het dat mens ‘n boek kan veroordeel met ‘n paar dwarsklappe na ander resensente en geen indringende bespreking nie. 

 

Met Aucamp se werk het sy nie gehuiwer om aan te toon presies waar die insinkings is nie. Sy waag dit ook om die grootste negatiewe element uit te lig: baie klink só bekend.

 

En tog het sy Aucamp ook vriendelik behandel. Sy kom ‘n slag of wat baie naby daaraan om te sê dat die jonger Aucamp nooit sulke skryfwerk sou gepubliseer het nie. Sy kon dit in baie sterker taal geformuleer het.

 

***

 

Thys Human se bespreking in Beeld van In oneer, Fanie Olivier se vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace, is baie pertinent. Dit skakel netjies aan by ‘n gesprek oor aspekte van die vertaling van literêre werke elders op LitNet, en dit is waarskynlik die laaste resensie oor hierdie werk wat nog in die Afrikaanse dagblaaie sal verskyn (Die Burger, Volksblad en Rapport het die werk reeds bespreek, as ek dit nie mis het nie) – en waarskynlik die oordeel daaroor wat die langste in die geheue sal vassteek.

 

Ek het al dikwels geskryf oor die wenslikheid daarvan om in koerante wat die massamark bedien resensies te plaas wat nie net ‘n klein kringetjie intellektuele of akademici aanspreek nie.

 

Human se resensie het wel ‘n streng akademiese benadering, maar hierdie keer vind ek dit volkome geregverdig – ek weet nie hoe hy só ‘n resensie sou kon skryf in gemoedlike allemanstaal nie. Human het ‘n argument wat hy voer om uit te kom by sy uiteindelike samevatting: “In In oneer word die taal dikwels eerder ’n leeshindernis, ’n versperring, ’n belemmering. Nie net Coetzee nie, ook Afrikaanse lesers verdien beter as dit.”

 

Om by só ‘n punt uit te kom, is dit nodig om jou premise deeglik te stel, en jou argument deeglik te bou. Dit doen Human besonder goed. Werklik ‘n knap resensie.

 

***

 

Wat die res betref, eintlik ‘n vaal resensie-week in die Afrikaanse koerante. Desember is hier, ons kan seker heelwat verwag in die komende weke.