by

Die verhaal van twee stede, twee koerante

November 24, 2009 in Sonder kategorie

 

Nicol Stassen, hoof van Protea-Boekhuis, kry vandeesweek die groot behandeling by Beeld en Volksblad: resensies oor sy pas verskene Afrikaners in Angola, 1928-1975. Beeld se resensie is geskryf deur At van Wyk, Volksblad s’n deur Ockie Geyser.

Die twee resensies vertel op ‘n manier die verhaal van twee stede, twee koerante, twee leserspublieke. Van Wyk se resensie is onderhoudend en meevoerend. ‘n Resensent wat sy bespreking begin met “Dié boek van 666 bladsye …” weet dat hy besig is om al die snellers in sy lesers se gedagtes te trek.

Hy weet ook presies hoe om uit Stassen se teks dié dinge te haal wat só interessant is dat dit lesers sal boei, en dalk aanspoor om die boek self in die hande te neem. Ek dink hier aan sy opmerking oor die kerk-oriëntering van die Afrikaners wat na Angola is – meestal Doppers, maar hulle het onder mekaar baklei, en toe het die Hervormers die oorhand gekry. Dis mos nou oer-Afrikaners!

Ook die “ontug” (ek het gedink ek sou hierdie apartheidbegrip nooit weer hoor nie) wat veroorsaak het dat sommige van die Afrikaner-afstammelinge nie later na Suid-Afrika kon terugkeer nie.

Van Wyk skryf vir mense wat vinnig moet lees in die grootstad, en wie se aandag dalk sal dwaal as hulle iets soos Ockie Geyser se resensie moet lees. (Dis ‘n verskriklike veralgemening om te maak, maar ek dink tog geldig.)

Geyser se benadering is weer meer bedees – akademies, rustig, sonder enige tekens dat hy nuwe lesers buite die kringe van mense wat in ons geskiedenis belang stel, wil wen. Sy geesdrif, goed verwoord, is vir akademiese uitmuntendheid. Hy skryf dus vir ‘n kleiner leeskring, en daarom is dit nie eienaardig dat hy nooit by die dinge uitkom wat Van Wyk wel noem nie (Doppers, ontug, om by die twee voorbeelde te hou; hy haal darem ook die getal 666 op).

Vir Geyser is dit belangrik om sy lesers te oortuig van die akademiese geankerdheid van Stassen se skryfwerk: groot verwysingsveld, uitvoerige annotasie, omvang van die navorsing, en dies meer.

Nou, sittend waar ek gesit het by ‘n koffieplek in ons dorpie, wat nou stiller is danksy die vertrek van die studente, het ek albei resensies verskeie kere op my skootrekenaar deurgelees, en gewonder hoe Nicol Stassen sou voel daaroor.

Kan nie dink dat hy sleg voel nie. Een resensent wat hom op die skouer klop, ‘n ander wat uitvaar en lesers vir die boek probeer wen. Toe drentel ek in die straat af na sy winkel om die boek te gaan soek. Dit sal interessant wees om te sien wat die resensies gedoen het vir verkope in Bloemfontein en Pretoria.


***


Willie Burger se bespreking van Abraham H. de Vries se kortverhaalbundel Verbeel jou dis somer in Die Burger vra dat dit vergelyk moet word met Leon Rousseau se bespreking van die bundel verlede week in Beeld. Burger vervul in baie opsigte dieselfde rol as wat Ockie Geyser se bespreking van Nicol Stassen se boek vul – dit gee ‘n akademies goed verantwoorde siening van die boek eerder as die lig geskrewe, maar eweneens baie positiewe bespreking deur Rousseau.

Waar dit die Afrikaanse letterkunde aangaan, is ek bly dat daar in Afrikaanse koerante plek is vir albei soort besprekings. Burger s’n, waarin hy die bundel tematies behoorlik analiseer en verduidelik hoekom dit so ‘n goeie bundel is, is die soort bespreking wat studente in die toekoms nog baie sal gebruik wanneer hulle die werk van De Vries onder die loep neem. 

Rousseau se bespreking is uit ‘n joernalistieke oogpunt presies wat mens vir ‘n koerant wil hê: iets wat lesers se aandag gryp en nie laat los nie. By Willie Burger se resensie het ek gevoel mens moet ‘n baie spesifieke belangstelling hê, anders dwaal jou gedagtes.


***


Dis ons Erns! Het ek nie Erns Grundling se bespreking van 50 Stemme – Die grootste name in Afrikaanse musiek (Die Burger) geniet nie!

In ‘n sin moes dié resensie eintlik hierdie week die hoofresensie op die Boekeblad gewees het, veral as jy Grundling se argument volg oor die getal mense wat deesdae Afrikaanse musiek ondersteun. Die kanse is goed dat feitlik die hele leserstal van Die Burger sy resensie sou gelees het, terwyl ‘n heelwat kleiner persentasie na die ander resensies op die blad sou geky het.

Nietemin, Grundling is ‘n joernalis van beroep en hy het dadelik die een ding in die boek raakgesien wat min ander sou. Dit is naamlik dat die samesteller van 50 Stemme, Ilza Roggeband, baie plek aan Steve Hofmeyr afstaan sonder om te verwys na die pompjoggie-sy van sy lewe, terwyl wyle Bles Bridges, wat een keer in die openbaar skande gemaak het met sy Marietjie, dit deeglik vermeld kry.

Hoekom Bridges smeer maar nie Hofmeyr nie?


***


In Die Burger het Joan Hambidge die pot vandeesweek misgesit met haar bespreking van Wynand Coetzer se Skerpioen.  In haar resensie het sy dit teen ander resensente wat haar glo om die bos gelei het met hul “hoogtastende” uitsprake oor dié roman.

In haar eerste paragraaf gee sy ‘n leidraad oor presies wat haar gegrief het: “Iewers het ‘n resensent dit glo met Etienne Leroux vergelyk.”  Verderaan vat sy haar eie siening saam: “Waar Leroux met ‘n mitologiese verwysing die storie ‘n tweede betekenislaag gee, word die mitologiese stramien hier ‘n belemmering.”

Ek was nogal verbaas oor hierdie samevatting. Om só ‘n veralgemening te maak oor Leroux se werk (geld Hambidge se opmerking vir beide Sewe dae by die Silbersteins as Na’va?) is nie besonder knap nie, maar dit daargelaat.

Mens kry die spesmaas dat hier iets anders op die spel is. Die ander kritici wat Hambidge so lelik om die bos gelei het, is Johan Anker (LitNet) en Kerneels Breytenbach (Rapport). Hoekom noem sy hulle nie by die name nie?

En as jy hul besprekings gaan lees, sien jy dat nòg Anker nòg Breytenbach vir Wynand Coetzer met Etienne Leroux vergelyk het. Anker noem Leroux nie. Breytenbach sê dat Coetzer die eerste Afrikaanse skrywer sedert Etienne Leroux is wat dit regkry om mitologië op groot skaal in sy verhaal te integreer. Hy noem ook dat Coetzer se aanslag meer populêr van aard is

Maar vergelyk? Positief of negatief vergelyk? “Is soos” of “nes soos”? Kan dit nie sien nie.

Hambidge se weerligstraal uit die akademiese hoogtes is hierdie keer nie veel meer as ‘n vonk in ‘n vakuum nie. Sy bewys niemand ‘n groot guns nie, allermins vir Wynand Coetzer en sy uitgewer, Lapa. Om ‘n resensie te skryf op grond van ‘n wanopvatting oor ander resensente se resensies is gewoon slordig.

Die vraag wat by my opgekom het, is of ons nou weer ‘n nuwe relletjie ophande het, Joan Hambidge versus Kerneels Breytenbach? Spaar ons die verveling, asseblief!

5 antwoorde op Die verhaal van twee stede, twee koerante

  1. Jou deeglike en indringende blik (hoewel dikwels omstrede!) op die wêreld van resensies en resensente bly steeds baie insiggewend. Ek vind dit verfrissend dat die kritikus homself ook dan en wan aan die ontvangkant van die in-gal-gedoopte pen kan bevind. Doe zo voort!

  2. janbez het gesê op November 24, 2009

    Jy moes net ‘n stappie verder gekyk het – ek glo nie prof. Hambidge het Breytenbach in die visier nie. Hierdie resensie is maar net ‘n verdere ontwikkeling in haar vete met die boekeredakteur van Rapport, Rachelle Greeff.
    Ek stem saam met jou punt oor prof. Hambidge se veralgemening oor Leroux – maar Onse Hymie is ‘n beter verwysingspunt as Na’va. Dáár geld haar opmerking glad nie.

  3. As jy resensies kan resenseer, hoekom mag prof. Hambidge nie ook resensies betrek by haar resensie nie?

  4. crito het gesê op November 28, 2009

    Wat is die opdrag? Het Die Burger haar gevra om twee ander resensies te bespreek, of om Wynand Coetzer se roman te resenseer? Gaan lees gerus weer haar resensie, en kyk in watter mate sy Skerpioen in detail of selfs diepte bespreek.

  5. miets het gesê op November 29, 2009

    Dagblaaie sal skrywers en boeke ‘n guns doen deur nie meer van Hambidge as resensent gebruik te maak nie. Resensensies is veronderstel om ruimtes te wees waar ingeligte lesers boeke subjektief maar gemotiveerd evalueer. Dis nie platforms om kleinlike en persoonlike geveggies te voer nie – soos Crito inderdaad uitwys in die skrywe oor Hambidge se resensie van Skerpioen.
    Na die lees van Skerpioen en daarna die lees van vier resensies daaroor (naas die wat hier genoem word, ook die een van Cilliers) slaan ek my hande saam dat Hambidge toegelaat word om sulke twak kwyt te raak. Nie net steek haar kleinsielige onderrok hier ‘n meter lank uit nie, maar maak sy absurde feite foute. Die tarot-“fout” wat sy uitwys, is nie ‘n fout nie. “Boesmanmeisie” word deesdae eerder gebruik as die “San” wat in baie kringe as neerhalend beskou word. Sy het duidelik ook nie tot by die “verkorte bibliografie” gelees nie, maar verkies om neerhalend na die outeur se gebruik van webblaaie te verwys. En om na die komplekse teks wat my eindeloos fassineer, te verwys as ‘n roman “wat kommentaar lewer op die ordentlike man se begeerte na die hoer” is darem regtig belaglik. Ek weet die leser skryf die teks – die lesing van die teks ontbloot egter ook die leser!
    Hambidge is sekerlik geregtig op haar persoonlike lesing van die teks – hoe krom ook – maar mens verwag darem ten minste van ‘n hoogleraar in letterkunde om feitelik korrek te skryf.
    Ag, nee wat spaar ons haar haastige skrywery wat nog respek vir skepper of kunswerk het (al is dit vir haar vrot)en die herhaaldelike foute in haar resensies – ons lesers, outeurs en boeke verdien beter.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.