by

Laaste skanse teen zefgeit

November 17, 2009 in Sonder kategorie

Verbeel jou dis vroeg Krismis – dit was omtrent my gewaarwording toe Beeld vandeesweek ‘n boekresensie op sy webwerf plaas wat mens kon opspoor. Boonop ‘n bielie van ‘n resensie ook – Leon Rousseau skryf oor Abraham H. de Vries se nuwe kortverhaalbundel, Verbeel jou dis somer.

Maar eerste dinge eerste: Dit lyk toenemend of Beeld geen erg meer het aan ‘n boekeblad nie. My vriende in Johannesburg laat weet dat die papier-weergawe nie baie ruimte daaraan afstaan nie, en dié waarneming word nog verder bevestig deur die manier waarop die webwerf vir die soeker na boekresensies bitter min hulp bied. Jy spoor dit onder “Vermaak” op. Indien hoegenaamd.

Volgende wat ons hoor, is dat Beeld geen boekresensies meer dra nie, en dan is dit ‘n zef-koerant.

Dit is skryfwerk soos dié van Leon Rousseau wat mens laat voel dat die zefs nog buite die deur is by Beeld. Rousseau is, soos hulle in Mondeor sou sê, ‘n ou nek. Hy weet foucault van Derrida, of as hy weet, is hy té slim om dit in sy taalgebruik te wys.

Rousseau skryf nog die sort resensie wat een groot mikpunt het en twee maniere waarop hy daarby uitkom. Hy wil die koerantleser oortuig om ‘n draai by die boekwinkel te gaan maak en die bundel op te pik. Om daarby uit te kom, vertel hy nie die kortverhale se “stories” nie, maar vertel onderhoudend watse soort temas De Vries beet het.

En tesame daarmee gee hy bietjies-bietjies inligting wat jou help om te verstaan hoe hierdie nuwe bundel verskil van voriges. En hoekom De Vries deur Breyten Breytenbach Skaterbrom de Vries herdoop is.

Dit is, uiteraard, alles oëverblindery. Rousseau skryf ‘n akademiese resensie, maar hy doen dit met ‘n nie-akademiese styl. ‘n Resensent maak nie ‘n opmerking soos “De Vries het nog selde beter geskryf as in hierdie bundel” as hy nie reeds ander dinge gesê het, of uitgelig het, wat dit ondersteun nie.

Hopelik gebruik Beeld hom meer gereeld. Sou hulle besluit om tog maar met boekbesprekings voort te gaan.

***

Dis ‘n interessante bespreking wat Jaco Jacobs in die Volksblad gelewer het van In oneer, Fanie Olivier se Afrikaanse vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace. Dis ‘n argumenterende resensie in die sin dat Jacobs ‘n bietjie korswil oor ‘n paar sake (die titel, die publikasiebesluit, ‘n klompie vertaal-haakplekke ens.). Hy tree ook in gesprek met ‘n ander resensie wat reeds in Die Burger oor dieselfde boek verskyn het, wat dinge vir die leser net soveel interessanter maak. Of die uitgewer van die boek heeltemal gelukkig gaan wees met hierdie gesprek tussen die walstaners, is ‘n ander vraag.

Wat my aandag getrek het, is ‘n frase in Jacobs se slotparagraaf. Hy sê In oneer / Disgrace is “waarskynlik Coetzee se grootste en bekendste roman”.  Dit is ‘n lui, maklike opmerking om te maak. Dit soort toevlug wat joernaliste neem wat almal as “bekende” of “gevierde” kwalifiseer, wat woorde soos “fantasties”. “uitsonderlik” en “skitterend” misbruik, wat dink “absoluut” gee absolusie teen wederkritiek.

Mens kan miskien argumenteer dat Jacobs die woord “waarskynlik” gebruik het om homself te vrywaar, op min of meer dieselfde manier as wat Engelse sprekers die woord “arguably” gebruik. Dit mag so wees, en moontlik het hy sommige van sy lesers oortuig. Vir my het hy nie, en spesifiek omdat hy die roman met “grootste” gekwalifiseer het. My onmiddelike reaksie was “wie sê só?”.

Hoekom dan nie die woord “waarskynlik” weglaat en die opmerking laat staan of val by die leser se taksering van die resensent nie. Die res van die resensie dra genoeg gesag om dit te regverdig, en dan weet almal mos Jaco Jacobs dink beslis  In oneer / Disgrace is Coetzee se grootste skrywerspoging. Dan kan ons maar begin stry. Maar met “waarskynlik” daar klink dit al te veel asof Jacobs nie lus is vir die stryery nie.

1 antwoord op Laaste skanse teen zefgeit

  1. charlpn het gesê op November 20, 2009

    Crito word al hope beter, en al hoe onmisbaarder as ‘n sluismeester van die soeriedj sowel as die Valpré. – Charl-Pierre Naude

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.