by

Baie goed en minder goed

November 10, 2009 in Sonder kategorie

Die begrip voetstoots kan die beste opgesom word met die Engelse cliché “what you see is what you get”. In rekenaarterme is dit WYSIWYG. Wanneer ‘n skrywer soos John Miles dit as titel vir ‘n roman gebruik, dan kan jy voor jou onheilige siel weet hy gebruik die term ironies. Daar sal veel meer te kry wees as wat mens sommer só sien.

 

Wanneer Gunther Pakendorf dan teen die einde van ‘n redelik skerpsinnige uiteensetting van die inhoud van die boek (in Rapport) by die volgende paragrawe kom, weet jy dat hy nie regtig bedag was op ironie nie, en dat hy een van die heel belangrikste elemente in die roman glad nie raakgesien het nie:

 

“Of is daar êrens in hierdie roman ’n ironiese dimensie wat my net ontgaan het? Want indien dit nie die geval is nie, is dit tog heel teleurstellend dat John Miles hom aan die banaliteit van ’n gewone liefdesverhaal oorgegee het. Te veel in hierdie verhaal is voorspelbaar en stereotiep, die karakters, die intrige, die dialoog, selfs die innerlike monoloog.

 

“Jammer, want hy is dan so ’n goeie skrywer.?”

 

Hierdie woorde gaan Pakendorf nog seker gryser hare gee as dié wat hy reeds het. Hy het die rol van die filmmaker in die boek misgelees. Hy haal een verwysing aan (“Skrywer, tewens beeldhouer en filmvervaardiger”) maar snap nie dat die filmvervaardiger die sleutel gee tot talle aspekte van Miles se vertelling, en spesifiek die tydsaanbod. Wat my laat wonder of hy nie dalk te vinnig ‘n oordeel wou uitspreek oor die banaliteit van ‘n liefdesverhaal nie. Of dalk was hy net te haastig om klaar te skryf , en wou nie nog dink oor die tydserspektief wat die filmmaker inbring nie?

 

Nou weet ek ten minste ook dat hy nie hierdie blog lees nie, want ek het tot satwordens toe aangegaan oor spesifiek die rol van die filmmaker en dat die resensente dit so miskyk.

 

Miles, een van ons voorste romansiers, verdien beter behandeling as dít. Pakendorf se afsluitingsarsie, die sarkastiese skoot oor hoe ‘n goeie skrywer Miles dan nou is, gaan met volle lading in sy eie gesig af.

 

Jammer, want hy is dan so ‘n goeie resensent.

 

***

 

Van goeie resensente gepraat: Hennie Aucamp. Is sy bespreking van Dave Pepler se Immergroen nie ‘n louter plesier nie?

 

Sy resensie, wat vandeesweek in Die Burger verskyn het, raak, wat die boek en die tradisie waarin dit staan, alle kante en alle walle. Aucamp gaan haal dit by dr. Con de Villiers,  maak sy draai by die herinneringskuns en literatuur, en gee eer aan Lien Botha vir haar besonderse foto’s.

 

Uiteindelik plaas hy Pepler se werk netjies, dokumentêre lirisme. En Pepler self, deur die band met dr. Con, is ‘n  romantikus. Wat die bespreking so besonders maak, is dat Aucamp dit regkry om werklik geesdriftig te klink, sonder uitroeptekens, sonder oordrywings – net doodgewone opnoem.

 

Jy lees só ‘n resensie en voel eintlik agterna lus om dankie te sê.

 

 

 

 

 

 

 

 

2 antwoorde op Baie goed en minder goed

  1. Ek dink Gunther Pakendorf se resensie is pateties – hy vertel eintlik maar net die storie. Maar diegene wat ‘n studie maak van Mles se werk sal met my saamstem dat dit onrusbarend is dat Pakendorf, wat ‘n klompie jare gelede Miles se Die Buiteveld so negatief geresenseer het, weer gevra word om oor sy werk te skryf.Dit begin nou lyk soos ‘n vete teen Miles.

  2. ysprins het gesê op November 15, 2009

    ek is altyd geleer voetstoots in Engels is “as is”…?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.