by

Drie sienings van selfde saak

November 2, 2009 in Sonder kategorie

Niemand sal Paul Miles dit verkwalik as hy Rapport se boekebylaag vandeesweek gelees het en gevoel het dat die gode nie sluimer nie. Koos Kombuis, wat hom ‘n paar weke gelede in Die Burger se lelik behandel het, het ‘n dosis van negatiwiteit ontvang aan die hand van Chris “Boetman” Louw.

 

Boetman se reaksie op Die tyd van die kombi’s, Kombuis se tweede deel van sy outobiografie, is gepubliseer naas reaksies op dieselfde boek deur Martie Meiring en Albert Grundlingh.

 

Dit is interessant om menings pro, neutraal en contra ‘n boek langs mekaar te kan lees, al voel jy effe ongemaklik by die gedagte dat ‘n boekeredakteur sonder moeite sulke sienings kan aanvra. Daar moes immers vooraf besluit word dat drie kontrasterende sienings van die boek gegee sou word. (My ongemaklikheid hiermee moet ek verduidelik: Wat verhinder iemand wat binne hierdie konteks net een, negatiewe resensie gekry het om te wonder of daar ‘n vendetta teen hom/haar is?)

 

Aan die ander kant kan Koos Kombuis ook seker nie té sleg geslaap het oor die Boetman-mening nie. Boetman se groot sarkasme lewer een van die lekkerste stukkies lees in die betrokke boekebylaag op, ek vermoed selfs Kombuis sou dit kon geniet. Ons ken hom mos as iemand met ‘n humorsin.

 

Die probleem is net dat Boetman nog nie heeltemal meester van die vorm is nie. Die slot, waarin die skrywer van ‘n bespreking in hierdie oordrewe, sarkastiese styl gewoonlik die sleutel gee vir die interpretasie van die voorafgaande, word lomp hanteer. Boetman moes sy beskouing afgesluit het met ‘n smoelneuker om maksimum effek te behaal, maar kry net ‘n skrams hou geplant.

 

In vergelyking met Boetman se mening is Martie Meiring s’n meer respekvol, en Albert Grundlingh s’n waarskynlik 100% in die kol.  Ek is self miskien geneig om Kombuis uit Meiring se hoek te beskou, maar alles in ag genome het Grundlingh reg – die tyd stap aan en mense begin nou beter perspektief kry op dinge soos die Voëlvry-toer.

 

En soos Grundlingh dan ook tereg uitwys, is dit juis iets soos die Voëlvry-toer wat vir mense stof tot nadenke en bespreking gee. Jy kan kapsie maak teen die ikonisering van Kombuis, soos Boetman doen, maar die feit van die saak is dat Rapport proporsioneel besonder baie ruimte aan Kombuis en hierdie boek afgestaan het – en daardeur word die ikonisering bevestig.

 

Maar as ek die bylae se redakteur was, sou ek versigtig wees om só ‘n drieledige siening van ‘n boek te herhaal. Dit wek té veel vrae.

 

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.