Jy blaai in die argief vir 2009 November.

Profile photo of crito

by crito

Die verhaal van twee stede, twee koerante

November 24, 2009 in Sonder kategorie

 

Nicol Stassen, hoof van Protea-Boekhuis, kry vandeesweek die groot behandeling by Beeld en Volksblad: resensies oor sy pas verskene Afrikaners in Angola, 1928-1975. Beeld se resensie is geskryf deur At van Wyk, Volksblad s’n deur Ockie Geyser.

Die twee resensies vertel op ‘n manier die verhaal van twee stede, twee koerante, twee leserspublieke. Van Wyk se resensie is onderhoudend en meevoerend. ‘n Resensent wat sy bespreking begin met “Dié boek van 666 bladsye …” weet dat hy besig is om al die snellers in sy lesers se gedagtes te trek.

Hy weet ook presies hoe om uit Stassen se teks dié dinge te haal wat só interessant is dat dit lesers sal boei, en dalk aanspoor om die boek self in die hande te neem. Ek dink hier aan sy opmerking oor die kerk-oriëntering van die Afrikaners wat na Angola is – meestal Doppers, maar hulle het onder mekaar baklei, en toe het die Hervormers die oorhand gekry. Dis mos nou oer-Afrikaners!

Ook die “ontug” (ek het gedink ek sou hierdie apartheidbegrip nooit weer hoor nie) wat veroorsaak het dat sommige van die Afrikaner-afstammelinge nie later na Suid-Afrika kon terugkeer nie.

Van Wyk skryf vir mense wat vinnig moet lees in die grootstad, en wie se aandag dalk sal dwaal as hulle iets soos Ockie Geyser se resensie moet lees. (Dis ‘n verskriklike veralgemening om te maak, maar ek dink tog geldig.)

Geyser se benadering is weer meer bedees – akademies, rustig, sonder enige tekens dat hy nuwe lesers buite die kringe van mense wat in ons geskiedenis belang stel, wil wen. Sy geesdrif, goed verwoord, is vir akademiese uitmuntendheid. Hy skryf dus vir ‘n kleiner leeskring, en daarom is dit nie eienaardig dat hy nooit by die dinge uitkom wat Van Wyk wel noem nie (Doppers, ontug, om by die twee voorbeelde te hou; hy haal darem ook die getal 666 op).

Vir Geyser is dit belangrik om sy lesers te oortuig van die akademiese geankerdheid van Stassen se skryfwerk: groot verwysingsveld, uitvoerige annotasie, omvang van die navorsing, en dies meer.

Nou, sittend waar ek gesit het by ‘n koffieplek in ons dorpie, wat nou stiller is danksy die vertrek van die studente, het ek albei resensies verskeie kere op my skootrekenaar deurgelees, en gewonder hoe Nicol Stassen sou voel daaroor.

Kan nie dink dat hy sleg voel nie. Een resensent wat hom op die skouer klop, ‘n ander wat uitvaar en lesers vir die boek probeer wen. Toe drentel ek in die straat af na sy winkel om die boek te gaan soek. Dit sal interessant wees om te sien wat die resensies gedoen het vir verkope in Bloemfontein en Pretoria.


***


Willie Burger se bespreking van Abraham H. de Vries se kortverhaalbundel Verbeel jou dis somer in Die Burger vra dat dit vergelyk moet word met Leon Rousseau se bespreking van die bundel verlede week in Beeld. Burger vervul in baie opsigte dieselfde rol as wat Ockie Geyser se bespreking van Nicol Stassen se boek vul – dit gee ‘n akademies goed verantwoorde siening van die boek eerder as die lig geskrewe, maar eweneens baie positiewe bespreking deur Rousseau.

Waar dit die Afrikaanse letterkunde aangaan, is ek bly dat daar in Afrikaanse koerante plek is vir albei soort besprekings. Burger s’n, waarin hy die bundel tematies behoorlik analiseer en verduidelik hoekom dit so ‘n goeie bundel is, is die soort bespreking wat studente in die toekoms nog baie sal gebruik wanneer hulle die werk van De Vries onder die loep neem. 

Rousseau se bespreking is uit ‘n joernalistieke oogpunt presies wat mens vir ‘n koerant wil hê: iets wat lesers se aandag gryp en nie laat los nie. By Willie Burger se resensie het ek gevoel mens moet ‘n baie spesifieke belangstelling hê, anders dwaal jou gedagtes.


***


Dis ons Erns! Het ek nie Erns Grundling se bespreking van 50 Stemme – Die grootste name in Afrikaanse musiek (Die Burger) geniet nie!

In ‘n sin moes dié resensie eintlik hierdie week die hoofresensie op die Boekeblad gewees het, veral as jy Grundling se argument volg oor die getal mense wat deesdae Afrikaanse musiek ondersteun. Die kanse is goed dat feitlik die hele leserstal van Die Burger sy resensie sou gelees het, terwyl ‘n heelwat kleiner persentasie na die ander resensies op die blad sou geky het.

Nietemin, Grundling is ‘n joernalis van beroep en hy het dadelik die een ding in die boek raakgesien wat min ander sou. Dit is naamlik dat die samesteller van 50 Stemme, Ilza Roggeband, baie plek aan Steve Hofmeyr afstaan sonder om te verwys na die pompjoggie-sy van sy lewe, terwyl wyle Bles Bridges, wat een keer in die openbaar skande gemaak het met sy Marietjie, dit deeglik vermeld kry.

Hoekom Bridges smeer maar nie Hofmeyr nie?


***


In Die Burger het Joan Hambidge die pot vandeesweek misgesit met haar bespreking van Wynand Coetzer se Skerpioen.  In haar resensie het sy dit teen ander resensente wat haar glo om die bos gelei het met hul “hoogtastende” uitsprake oor dié roman.

In haar eerste paragraaf gee sy ‘n leidraad oor presies wat haar gegrief het: “Iewers het ‘n resensent dit glo met Etienne Leroux vergelyk.”  Verderaan vat sy haar eie siening saam: “Waar Leroux met ‘n mitologiese verwysing die storie ‘n tweede betekenislaag gee, word die mitologiese stramien hier ‘n belemmering.”

Ek was nogal verbaas oor hierdie samevatting. Om só ‘n veralgemening te maak oor Leroux se werk (geld Hambidge se opmerking vir beide Sewe dae by die Silbersteins as Na’va?) is nie besonder knap nie, maar dit daargelaat.

Mens kry die spesmaas dat hier iets anders op die spel is. Die ander kritici wat Hambidge so lelik om die bos gelei het, is Johan Anker (LitNet) en Kerneels Breytenbach (Rapport). Hoekom noem sy hulle nie by die name nie?

En as jy hul besprekings gaan lees, sien jy dat nòg Anker nòg Breytenbach vir Wynand Coetzer met Etienne Leroux vergelyk het. Anker noem Leroux nie. Breytenbach sê dat Coetzer die eerste Afrikaanse skrywer sedert Etienne Leroux is wat dit regkry om mitologië op groot skaal in sy verhaal te integreer. Hy noem ook dat Coetzer se aanslag meer populêr van aard is

Maar vergelyk? Positief of negatief vergelyk? “Is soos” of “nes soos”? Kan dit nie sien nie.

Hambidge se weerligstraal uit die akademiese hoogtes is hierdie keer nie veel meer as ‘n vonk in ‘n vakuum nie. Sy bewys niemand ‘n groot guns nie, allermins vir Wynand Coetzer en sy uitgewer, Lapa. Om ‘n resensie te skryf op grond van ‘n wanopvatting oor ander resensente se resensies is gewoon slordig.

Die vraag wat by my opgekom het, is of ons nou weer ‘n nuwe relletjie ophande het, Joan Hambidge versus Kerneels Breytenbach? Spaar ons die verveling, asseblief!

Profile photo of crito

by crito

Laaste skanse teen zefgeit

November 17, 2009 in Sonder kategorie

Verbeel jou dis vroeg Krismis – dit was omtrent my gewaarwording toe Beeld vandeesweek ‘n boekresensie op sy webwerf plaas wat mens kon opspoor. Boonop ‘n bielie van ‘n resensie ook – Leon Rousseau skryf oor Abraham H. de Vries se nuwe kortverhaalbundel, Verbeel jou dis somer.

Maar eerste dinge eerste: Dit lyk toenemend of Beeld geen erg meer het aan ‘n boekeblad nie. My vriende in Johannesburg laat weet dat die papier-weergawe nie baie ruimte daaraan afstaan nie, en dié waarneming word nog verder bevestig deur die manier waarop die webwerf vir die soeker na boekresensies bitter min hulp bied. Jy spoor dit onder “Vermaak” op. Indien hoegenaamd.

Volgende wat ons hoor, is dat Beeld geen boekresensies meer dra nie, en dan is dit ‘n zef-koerant.

Dit is skryfwerk soos dié van Leon Rousseau wat mens laat voel dat die zefs nog buite die deur is by Beeld. Rousseau is, soos hulle in Mondeor sou sê, ‘n ou nek. Hy weet foucault van Derrida, of as hy weet, is hy té slim om dit in sy taalgebruik te wys.

Rousseau skryf nog die sort resensie wat een groot mikpunt het en twee maniere waarop hy daarby uitkom. Hy wil die koerantleser oortuig om ‘n draai by die boekwinkel te gaan maak en die bundel op te pik. Om daarby uit te kom, vertel hy nie die kortverhale se “stories” nie, maar vertel onderhoudend watse soort temas De Vries beet het.

En tesame daarmee gee hy bietjies-bietjies inligting wat jou help om te verstaan hoe hierdie nuwe bundel verskil van voriges. En hoekom De Vries deur Breyten Breytenbach Skaterbrom de Vries herdoop is.

Dit is, uiteraard, alles oëverblindery. Rousseau skryf ‘n akademiese resensie, maar hy doen dit met ‘n nie-akademiese styl. ‘n Resensent maak nie ‘n opmerking soos “De Vries het nog selde beter geskryf as in hierdie bundel” as hy nie reeds ander dinge gesê het, of uitgelig het, wat dit ondersteun nie.

Hopelik gebruik Beeld hom meer gereeld. Sou hulle besluit om tog maar met boekbesprekings voort te gaan.

***

Dis ‘n interessante bespreking wat Jaco Jacobs in die Volksblad gelewer het van In oneer, Fanie Olivier se Afrikaanse vertaling van J.M. Coetzee se Disgrace. Dis ‘n argumenterende resensie in die sin dat Jacobs ‘n bietjie korswil oor ‘n paar sake (die titel, die publikasiebesluit, ‘n klompie vertaal-haakplekke ens.). Hy tree ook in gesprek met ‘n ander resensie wat reeds in Die Burger oor dieselfde boek verskyn het, wat dinge vir die leser net soveel interessanter maak. Of die uitgewer van die boek heeltemal gelukkig gaan wees met hierdie gesprek tussen die walstaners, is ‘n ander vraag.

Wat my aandag getrek het, is ‘n frase in Jacobs se slotparagraaf. Hy sê In oneer / Disgrace is “waarskynlik Coetzee se grootste en bekendste roman”.  Dit is ‘n lui, maklike opmerking om te maak. Dit soort toevlug wat joernaliste neem wat almal as “bekende” of “gevierde” kwalifiseer, wat woorde soos “fantasties”. “uitsonderlik” en “skitterend” misbruik, wat dink “absoluut” gee absolusie teen wederkritiek.

Mens kan miskien argumenteer dat Jacobs die woord “waarskynlik” gebruik het om homself te vrywaar, op min of meer dieselfde manier as wat Engelse sprekers die woord “arguably” gebruik. Dit mag so wees, en moontlik het hy sommige van sy lesers oortuig. Vir my het hy nie, en spesifiek omdat hy die roman met “grootste” gekwalifiseer het. My onmiddelike reaksie was “wie sê só?”.

Hoekom dan nie die woord “waarskynlik” weglaat en die opmerking laat staan of val by die leser se taksering van die resensent nie. Die res van die resensie dra genoeg gesag om dit te regverdig, en dan weet almal mos Jaco Jacobs dink beslis  In oneer / Disgrace is Coetzee se grootste skrywerspoging. Dan kan ons maar begin stry. Maar met “waarskynlik” daar klink dit al te veel asof Jacobs nie lus is vir die stryery nie.

Profile photo of crito

by crito

Baie goed en minder goed

November 10, 2009 in Sonder kategorie

Die begrip voetstoots kan die beste opgesom word met die Engelse cliché “what you see is what you get”. In rekenaarterme is dit WYSIWYG. Wanneer ‘n skrywer soos John Miles dit as titel vir ‘n roman gebruik, dan kan jy voor jou onheilige siel weet hy gebruik die term ironies. Daar sal veel meer te kry wees as wat mens sommer só sien.

 

Wanneer Gunther Pakendorf dan teen die einde van ‘n redelik skerpsinnige uiteensetting van die inhoud van die boek (in Rapport) by die volgende paragrawe kom, weet jy dat hy nie regtig bedag was op ironie nie, en dat hy een van die heel belangrikste elemente in die roman glad nie raakgesien het nie:

 

“Of is daar êrens in hierdie roman ’n ironiese dimensie wat my net ontgaan het? Want indien dit nie die geval is nie, is dit tog heel teleurstellend dat John Miles hom aan die banaliteit van ’n gewone liefdesverhaal oorgegee het. Te veel in hierdie verhaal is voorspelbaar en stereotiep, die karakters, die intrige, die dialoog, selfs die innerlike monoloog.

 

“Jammer, want hy is dan so ’n goeie skrywer.?”

 

Hierdie woorde gaan Pakendorf nog seker gryser hare gee as dié wat hy reeds het. Hy het die rol van die filmmaker in die boek misgelees. Hy haal een verwysing aan (“Skrywer, tewens beeldhouer en filmvervaardiger”) maar snap nie dat die filmvervaardiger die sleutel gee tot talle aspekte van Miles se vertelling, en spesifiek die tydsaanbod. Wat my laat wonder of hy nie dalk te vinnig ‘n oordeel wou uitspreek oor die banaliteit van ‘n liefdesverhaal nie. Of dalk was hy net te haastig om klaar te skryf , en wou nie nog dink oor die tydserspektief wat die filmmaker inbring nie?

 

Nou weet ek ten minste ook dat hy nie hierdie blog lees nie, want ek het tot satwordens toe aangegaan oor spesifiek die rol van die filmmaker en dat die resensente dit so miskyk.

 

Miles, een van ons voorste romansiers, verdien beter behandeling as dít. Pakendorf se afsluitingsarsie, die sarkastiese skoot oor hoe ‘n goeie skrywer Miles dan nou is, gaan met volle lading in sy eie gesig af.

 

Jammer, want hy is dan so ‘n goeie resensent.

 

***

 

Van goeie resensente gepraat: Hennie Aucamp. Is sy bespreking van Dave Pepler se Immergroen nie ‘n louter plesier nie?

 

Sy resensie, wat vandeesweek in Die Burger verskyn het, raak, wat die boek en die tradisie waarin dit staan, alle kante en alle walle. Aucamp gaan haal dit by dr. Con de Villiers,  maak sy draai by die herinneringskuns en literatuur, en gee eer aan Lien Botha vir haar besonderse foto’s.

 

Uiteindelik plaas hy Pepler se werk netjies, dokumentêre lirisme. En Pepler self, deur die band met dr. Con, is ‘n  romantikus. Wat die bespreking so besonders maak, is dat Aucamp dit regkry om werklik geesdriftig te klink, sonder uitroeptekens, sonder oordrywings – net doodgewone opnoem.

 

Jy lees só ‘n resensie en voel eintlik agterna lus om dankie te sê.

 

 

 

 

 

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Drie sienings van selfde saak

November 2, 2009 in Sonder kategorie

Niemand sal Paul Miles dit verkwalik as hy Rapport se boekebylaag vandeesweek gelees het en gevoel het dat die gode nie sluimer nie. Koos Kombuis, wat hom ‘n paar weke gelede in Die Burger se lelik behandel het, het ‘n dosis van negatiwiteit ontvang aan die hand van Chris “Boetman” Louw.

 

Boetman se reaksie op Die tyd van die kombi’s, Kombuis se tweede deel van sy outobiografie, is gepubliseer naas reaksies op dieselfde boek deur Martie Meiring en Albert Grundlingh.

 

Dit is interessant om menings pro, neutraal en contra ‘n boek langs mekaar te kan lees, al voel jy effe ongemaklik by die gedagte dat ‘n boekeredakteur sonder moeite sulke sienings kan aanvra. Daar moes immers vooraf besluit word dat drie kontrasterende sienings van die boek gegee sou word. (My ongemaklikheid hiermee moet ek verduidelik: Wat verhinder iemand wat binne hierdie konteks net een, negatiewe resensie gekry het om te wonder of daar ‘n vendetta teen hom/haar is?)

 

Aan die ander kant kan Koos Kombuis ook seker nie té sleg geslaap het oor die Boetman-mening nie. Boetman se groot sarkasme lewer een van die lekkerste stukkies lees in die betrokke boekebylaag op, ek vermoed selfs Kombuis sou dit kon geniet. Ons ken hom mos as iemand met ‘n humorsin.

 

Die probleem is net dat Boetman nog nie heeltemal meester van die vorm is nie. Die slot, waarin die skrywer van ‘n bespreking in hierdie oordrewe, sarkastiese styl gewoonlik die sleutel gee vir die interpretasie van die voorafgaande, word lomp hanteer. Boetman moes sy beskouing afgesluit het met ‘n smoelneuker om maksimum effek te behaal, maar kry net ‘n skrams hou geplant.

 

In vergelyking met Boetman se mening is Martie Meiring s’n meer respekvol, en Albert Grundlingh s’n waarskynlik 100% in die kol.  Ek is self miskien geneig om Kombuis uit Meiring se hoek te beskou, maar alles in ag genome het Grundlingh reg – die tyd stap aan en mense begin nou beter perspektief kry op dinge soos die Voëlvry-toer.

 

En soos Grundlingh dan ook tereg uitwys, is dit juis iets soos die Voëlvry-toer wat vir mense stof tot nadenke en bespreking gee. Jy kan kapsie maak teen die ikonisering van Kombuis, soos Boetman doen, maar die feit van die saak is dat Rapport proporsioneel besonder baie ruimte aan Kombuis en hierdie boek afgestaan het – en daardeur word die ikonisering bevestig.

 

Maar as ek die bylae se redakteur was, sou ek versigtig wees om só ‘n drieledige siening van ‘n boek te herhaal. Dit wek té veel vrae.