Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

Profile photo of crito

by crito

Wie die seerste kry

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

‘n Interessante gemors waarin ‘n resensent hom die afgelope paar weke bevind het, nè. Ek praat van Koos Kombuis se resensie van Paul Miles se Skoot, wat ‘n ruk gelede in Die Burger verskyn het, en waaroor Kombuis verlede week moes terugkrabbel nadat ‘n brief van ‘n baie ontstoke Gerrit Olivier in Die Burger gepubliseer is.

Olivier had heeltemal reg: Kombuis se vergelyking van Miles se Skoot met ‘n boek wat in 1902 in New York gepubliseer is, wat dieselfde titel het, wat ook bestaan uit om en by 140 kort stukkies, wat almal genommer is, en Kombuis se oordeel dat dit (vir n feit) teruggryp na daardie roman, en stilisties feitlik identies is daarmee, is nie heeltemal orraait nie.

Vir ‘n leser wat suiwer op Kombuis se oordeel moes staat maak, sou dit nie moeilik gewees het om te dink dat Kombuis ‘n geval van plagiaat ontmasker het nie. Daai woord identies

Ek kry Miles bitter jammer, veral omdat hy ‘n debuutskrywer is en plagiaat is die allerlaaste ding wat ‘n debuutskrywer ten laste gelê wil wees. (Ek self het, nadat ek die resensie gelees het, aanvaar Kombuis het ‘n punt beet. Ek het nie kommentaar gelewer nie, en het ook besluit dat ek Skoot nie wou lees nie.)

Ná Olivier se brief het Die Burger se ombudsman uitgewys dat Kombuis nie vir Miles van plagiaat beskuldig nie. Dit is tegnies korrek.  Wat gebeur het, is dat Kombuis sekere oppervlakkige ooreenkomste uitgewys het, en toe dit gaan kwalifiseer het met ‘n opmerking oor “stilisties, feitlik identies”. En ons, die lesers, hoef net die woord identies te sien om die nodige kortsluitings te maak en te dink Kombuis is darem oordentlik om nie die woord plagiaat hardop te gebruik nie.

Ná die lees van Kombuis se apologie, en die Ombudsman se oordeel, het ek Kombuis se oorspronklike resensie baie goed gaan lees. Dit is onmoontlik om te ignoreer dat Kombuis die twee werke aan mekaar koppel, met Paul Miles s’n die een wat in navolging of moontlik parodie geskryf is. Daarna het ek na Kombuis se apologie gaan kyk en toe na Cora G. Sadler se Skoot: A Story of Unconventional Goodness. (Die PDF daarvan is by verskeie webwerwe aflaaibaar.) Miles se boek het ek met groot moeite in die hande gekry en dit ook gelees.

Hoekom Kombuis nie al die rooi ligte sien flits het nie, kan ek nie begryp nie. As mens Miles se werk lees, en jy sien Sadler se subtitel, dan moet jy dadelik weet dis twee heel verskillende lewensbeskouiings wat vaardig is. Miles reageer òf op Sadler, òf is nie bewus van haar boek nie. Daar is nie ooreenkomste wat mens in ‘n ernstige sin kan noem nie.

En “stilisties identies” is misleidend, want dit kan baie dinge beteken, en nie een daarvan is “afgekyk” nie, en nog minder “plagiaat”.

Ná ek Miles se Skoot gelees het, stem ek heeltemal met Kombuis saam dat hy talent het. Kombuis kon sy resensie afgesluit het ná sy omerking oor die dinge wat ‘n uitgewer van ‘n skrywer verwag. Dít wat Kombuis daarna geskryf het, is die soort halfgebakte werk wat mens nie van hom verwag nie.

Trouens, ek dink mens kan dit maar as feit aanvaar dat hy nie Sadler se werk gelees het nie, en nie in ‘n posisie was om die krasse woord “identies” te kon gebruik nie. Mens ken Kombuis uit sy skryfwerk as iemand met ‘n ingebore BS-radar. Jammer daai radar was afgeskakel tydens die skryf van die resensie.

En Miles? Hopelik besef hy dat Kombuis die maklike dog verkeerde uitweg gekies het met sy resensie, en neem Kombuis se woorde in sy apologie ter harte: “Ek … glo dat Miles ’n intelligente, talentvolle skrywer is en dat hy, met die nodige leiding, heel moontlik eendag ’n werk van groot waarde kan lewer.”

Die grootste verloorder in hierdie gedoente is nie Miles nie. Hy het genoeg sigbare talent om bo die resensie uit te styg. Nee, Kombuis ly die grootste skade. Dit gaan nie om die positiewe dinge wat hy agterna gesê het nie, maar oor die dinge wat hy hom aanvanklik nie moes aangematig het om te sê nie.

Profile photo of crito

by crito

Meester Haasbroek

Oktober 21, 2009 in Sonder kategorie

‘n Mal dominee in een van die episodes van die TV-reeks Lie to me verkondig dat hy glad nie die kinders in sy kultusgroep leer lees en skryf nie, want dis vir ‘n mens net nodig om reg te kan dink. ‘n Mens vrees die dag dat onderwysers só begin dink, maar die aaklige waarheid is dat koerante wêreldwyd reeds probeer om ‘n variant van dié probleem te bowe te kom – hoe om mense wat kan lees, te laat lees.

 

Een manier om dit te doen, is om die algemene toegangspeil te verlaag, te skryf vir die grootste gemene veelvoud. Anders gestel op s’n Engels, to dumb down.

 

Dit is hoekom dit vir my so belangrik is dat daar ten minste ‘n paar berigte in elke koerant moet wees wat nié vir die GGV bedoel is nie. Skryfwerk vir mense wat kán lees en baie lees, wat intellektueel wil kragte meet met die skrywer van die berig.

 

Ek gaan soek gewoonlik onder die boekresensies daarvoor. Op vandeesweek se boekeblad van Die Burger was daar een só ‘n resensie. Dit is Pieter J. Haasbroek se bespreking van Niall Ferguson se The Ascent of Money.

 

Haasbroek is natuurlik beter bekend as skrywer van kortverhale, en later in sy oeuvre, van romans met ‘n aktuele inslag. Hy is, uit my vroulike oogpunt, waarskynlik die grootste verteenwoordiger van die viriele Hemingway-agtige skryfstyl in Afrikaans (om by Kannemeyer se oordeel aan te sluit). Sy pen is in testosteroon gedoop.

 

Haasbroek is egter ‘n ekonoom van nering. In hierdie onsekere ekonomiese tye waarin ons leef, is hy een van diegene wat ‘n goeie begrip het van die fyner detail van hierdie groot gemors.

 

Sy resensie van The Ascent of Money is ‘n meestersklas – in ekonomie, in resensies. Hy bied ‘n sterk argument aan, beginnende by die uitgangspunte van Ferguson, en dan in ekonomie. Ons is in die huidige gemors nie omdat ons uitgebuit is deur finansiële instellings nie – dit is juis omdat ons nie uitgebuit is dat ons uiteindelik verarm het. Anders gestel: Ons is slagofers van ons onkunde.

 

Ek gaan (en kan) nie Haasbroek se argumentering herhaal nie. Wat ek wel wil sê is dat hy nie op ons neerskryf soos ‘n professor Slim nie. Hy neem ons saam, onderhoudend en kundig. Wat hom as resensieskrywer so deksels goed maak, is dat daar oral tekens is van ‘n wrange humorsin.

 

Wanneer laas was daar in enige van die Afrikaanse dagblaaie ‘n stuk skryfwerk wat vir ‘n mens die wolke rondom die problematiek wegwaai, en dan afsluit met ‘n ongelooflik ironiserende sin soos hierdie: “Dit gee dit ’n mens nogal gemoedsrus om te weet iemand verstaan wat in die finansiële wêreld aangaan.”

 

Ek hoop Die Burger kan Haasbroek voer met boeke. Meer van sy resensies, asseblief!

 

Profile photo of crito

by crito

‘n Briljante man en ‘n paar moorde

Oktober 14, 2009 in Sonder kategorie

Hè? Hierdie vragie het ek aanmekaar bly vra terwyl ek emeritus-professor Ockie Geyser se resensie in Maandag se Volksblad lees oor Die lang generaal: Die duistere politieke sluipmoorde van die ou Suid-Afrika. Die titel van hierdie boek deur Alan Elsdon laat mens vermoed dit hoort tot die genre nie-fiksie, dus ‘n publikasie van feite.

Maar hoe verder mens lees, hoe meer groei jou ongemak. En dan, in die voorlaaste paragraaf, weet jy skielik hoekom. Dié paragraaf lui: “As u lus het om ’n riller te lees beveel ek hierdie boek sterk aan. U sal dit geniet.”

‘n Riller is fiksie, wat mens kan geniet. ‘n Relaas van ‘n immorele moordenaar se loopbaan kan mens nie geniet nie. Jy kan dit alleen absorbeer, ter stigting, soos die leraar in ons gemeente altyd sê.

Dan lees jy die resensie weer. In die eerste paragraaf lees jy Lang Hendrik van den Bergh was “die briljante hoof van die veiligheidspolisie en ’n gerespekteerde persoonlikheid onder die Koue Oorlog-spioene”. Nou toe nou: vervang “briljant”  met “demonies” en jy is nader aan die kol.

Wie die Koue Oorlog-spioene was wat hom gerespekteer het, word nie gesê nie. Seker nie die mense wat die lys gesien het van Van den Bergh se immorele nalatenskap aan die Suid-Afrikaanse volk nie (vgl. die slot van die rolprent Cry, Freedom!) of sy spook sien loop het by die Waarheids- en Versoeningskommissie nie.

Prof. Geyser verwys na Alan Elsdon se agtergrond (voormalige veiligheidspolisieman) en drie ander boeke oor dieselfde onderwerp, naamlik adv. P.J. Pretorius se Volksverraad, Chris Steyn-Barlow se Publish and be damned en Mervyn Rees en Chris Day se Muldergate: The Story of the Info Scandal.

Mens kry die gevoel dat prof. Olckers nog nie gereed is om te erken dat Van den Bergh ‘n misdadiger was nie: “Oor hierdie gebeure is daar al jare lank maar net bespiegel. Dit is opvallend hoedat die feite van die drie voormelde outeurs ooreenstem. Uit ondervinding is Elsdon net meer in besonderhede.”

Wat probeer prof. Olckers sê? Dat daar “feite” is, en snaaks genoeg is die feite in drie boeke dieselfde, en nou ook in ‘n vierde? Of is dit sy manier om te sê nou weet ons die waarheid?

Hy verduidelik dan hoe Van den Bergh sy mag gekry het, en kom dan met hierdie bom: “Elsdon verbind Van den Bergh met ’n groot aantal moorde, verskeie daarvan tot vandag toe nog opspraakwekkend: eerste minister dr. H.F. Verwoerd, staatspresident Nic Diederichs, Steve Biko, Anton Lubowski, NG teoloog prof. Johan Heyns, NP-kandidaat en monetêre ekspert dr. Robert Smit en prof. Johannes Bruwer.”

Hè?

Hy verduidelik dan in breë trekke van die Smit-moord, Bruwer en Heyns se dood, maar sprak g’n sprook oor dié op Verwoerd, Diederichs, Steve Biko of Anton Lubowski nie.  Het hy net vrot geformuleer of het ek hom verkeerd verstaan? Die resensent moet mos vir sy leser verduidelik wat in ‘n boek aan die gang is. Ek is seker nie alleen in my behoefte om te wil weet hoe Van den Bergh by dr. Verwoerd en Nic Diederichs se dood betrek word nie – genoeg rede om die boek te koop, sou ek sê, maar prof. Geyser maak dit nie vir mens makliker om te besluit nie.

Hy verwys ook na die Inligting-skandaal en Eschel Rhoodie, waaraan ‘n groot deel van die intrige in die verhaal afgestaan word, aldus prof. Geyser. ‘n Intrige in ‘n nie-fiksie boek? Hè?

Met prof. Geyser se uiteindelike insig kan mens nie fout vind nie: “As jy die boek toeslaan, besef jy hoe skrikwekkend dit werklik is as ’n ideologie ’n bewind se agente hul moraliteit oorboord kan laat gooi om bisarre doelwitte te bereik. Vreesaanjaend as jy daaraan dink dat fanatici beskermd in uitvoerende kernposte kan beland.” Ek vermoed die laaste sin is doelbewus dubbelsinnig en slaan ook op die hede.

Presies hoe hy dan in die paragraaf daarna die boek aanbeveel vir mense wat lus het om ‘n riller te lees, weet ek nie.

Hè?

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Geesdrif!

Oktober 6, 2009 in Sonder kategorie

Dit wys jou net, nè. Mens is nooit te oud om te leer nie. En wat ek vandeesweek geleer het, is dat sommige resensente  tóg groei in hul werk.

Jaybee Roux het my in die verlede erg geïrriteer omdat daar ‘n slordigheid in sy resensies inkruip, moontlik weens nalatigheid, moontlik weens haastigheid om die werk af te handel, moontlik omdat hy gewoon nie behoorlik lees wat hy self geskryf het nie.

Sy resensie van Chris Karsten se Seisoen van sonde is ‘n werklik knap stuk werk. Met net een uitsondering is dit ‘n resensie wat mens aan ander kan voorhou – veral aan diegene wat so lief is daarvoor om die uitgewers se reklamepamflette te herskryf.

Seisoen van sonde is ‘n hibried: gelyke dele speur- en spanningsverhaal, aangebied in dieselfde “procedural” styl wat Thomas Harris se werke kenmerk. Karsten het heel netjies sy skatpligtigheid teenoor Harris te kenne gegee deur die gebruik van ‘n skoenlapperpapie wat in slagoffers se monde gevind word.

Roux noem nie die verband tussen die twee skrywers nie, maar sy analise van die werk, en sy kontekstualisering daarvan is presies wat ‘n leser van die resensie nodig het.

Ook sy verwysing na die manier waarop Karsten woelig raak met die hantering van die vertel/wys-basis van narratiewe skryfwerk, is heeltemal in die kol.

En die uitsondering? Die slotparagraaf. Ek kan nie besluit of Roux ernstig is of camp nie. Besluit u maar self: “Om hierdie boek gering te skat of ongemerk by jou te laat verbygaan, is, die hemel hoor my, ‘n sonde wat geen regverdige god ongestraf sal laat bly nie.”

Dis in totaal ‘n ander toonaard as die res van die resensie. Mens lees dit met stomgeslane verbasing. Die probleem is net dat ek met hom saamstem!

***

Stoffel Cilliers het ‘n paar weke gelede Karsten se roman vir Die Volksblad bespreek, en vandeesweek tree hy in Beeld aan met ‘n resensie van Francois Bloemhof se Afspraak in Venisië.

Ek het die resensie verskeie kere herlees om vas te stel hoekom dit my so hinder. Die beeld (glad nie oorspronklik nie) het by my opgekom van ‘n bokserbrak wat pap probeer eet waarby daar té veel melk is. Dis ‘n morsige affêre en uiteindelik lek hy sy lippe af, smagtend na meer.

Die hinderlikheid: Cilliers is nie geesdriftig oor Bloemhof se Rooi Luiperd-boeke nie, en nou probeer hy rasionaliseer sonder om sy koudgelaatheid te erken.

Daarom skryf hy oor hoe moeilik hy aan die lees gekom het, en hoe baie die wissellende vertelhoeke en verskuiwende fokus hom gehinder het (‘n prosedure wat Chris Karsten ook gebruik, sonder pyn aan Cilliers se kant).

Uiteindelik besef hy skynbaar dat dit tog ‘n pakkende, goeie roman is, en gee hy toe dat dit teen die tweede helfte van die boek al baie beter gaan, dat dit selfs boeiend is, met tekens van grondige navorsing, baie drama en aksie.

Uiteindelik gee hy oor: “Maar wees gerus: Dit is ‘n Bloemhof-boek dié …” Daarna volg ‘n bewieroking van Bloemhof, en eindig die resensie op ‘n baie positiewe noot.

Wat sê die ander resensente daaroor? Tyd sal leer.

***

Die aardigste resensie wat in baie maande in ‘n Afrikaanse koerant verskyn het, is Johann P. Boshoff s’n oor Izak de Villiers se Strooidak en toring (Volksblad). Die resensent se strategie is skynbaar om almal wat vir hom gesê het dis ‘n swak boek, of wat aan hom te kenne gegee het dat hulle nie van Izak de Villiers hou nie, nou in die nadraai van ds. De Villiers se begrafnis aan te sê om die boek te móét koop.

Om talle redes, almal aangebied met die soort dawerende geesdrif wat ‘n mens gou laat wonder waar jy moet katkiseer voordat jy deelagtig aan hierdie leesvreugdes kan wees. Ek vermoed selfs ds. De Villiers sou ietwat verleë gewees het oor die jubelaris se aanslag.

Tog gee ek toe, mens moet Boshoff sy siening gun. Jy kan selfs vir lief neem met sy rasieleier-aanslag. En dit ís ‘n interessante boek wat hy onder oë het.

Maar as hy in die eerste paragraaf verklaar dat daar ‘n sinchronisiteit is tussen De Villiers en die resensent se lewe, maar nêrens verder verklaar hoekom hy dié opmerking maak nie, dan verloor hy my. Dis doodgewoon swak skryfwerk.