Profile photo of crito

by

Bloemfontein is die plek

September 15, 2009 in Sonder kategorie

 Bloemfontein is die plek waar dinge tans vir die Afrikaanse boek gebeur. Oordeel mens volgens wat die afgelope week op die drie Afrikaanse oggendblaaie en een Sondagkoerant se boekeblaaie gebeur het, dan het Volksblad sy vinger veel sekuurder op die pols van wat aan die gang is in die Afrikaanse boekewêreld as enige van die ander.

            Volksblad se benadering is wel minder serieus as dié van Die Burger of Beeld, maar mens moet ook verder kyk as die manier waarop sy resensente hul resensies aanpak. Dit is duidelik dat hulle hul koerantlesers ook boeklesers wil maak. Nogal ‘n gedagte!

            Pas het Volksblad gelei met ‘n resensie van Chris Karsten se Seisoen van sonde, die spanningsverhaal wat deur ‘n boekhandelaar op Stellenbosch aan my beskryf is as die Afrikaanse boek van die jaar.

            Die resensie is weliswaar geskryf deur Stoffel Cilliers, ‘n resensent waaroor ek my al in die verlede uitgelaat het, en wat waarskynlik reeds só verknog is aan sy eie manier van dinge doen dat ons nooit die dag sal beleef dat hy sy trapsuutjies-skryfstyl opkikker nie.

            Wat wel saak maak is dat Cilliers daardie boekhandelaar op Stellenbosch se woorde beaam. Hy praat van die manier waarop Karsten die sondes van die apartheidsverlede byhaal, hy loof die struktuur van die roman, die navorsing en die mense-insig waarmee Karsten sy karakters beskryf.

            Hierdie keer gaan ek Stoffel Cilliers se fluisterstem ignoreer en dit wat hy goed vind aan die boek, as heilige waarheid aanvaar. Hopelik sal daar teen die tyd dat ek Seisoen van sonde klaargelees het, resensies daarvan in die ander oggendblaaie en Sondagkoerant verskyn het.

            Hulle sal dit sekerlik nie ignoreer nie, hoewel vreemder dinge al gebeur het.

 

***

 

Twee ander resensies wat in die Volksblad verskyn het, trek die aandag vanweë hul gemoedlike skryftrant. “Gemoedlik-lokaal” sou ook paslik gewees het. Dié resensies is Pieter Steyn se bespreking van BY se Bedkassieboek en Dawie Kok s’n oor Sonbrand en braaiboud: Die beste van Weg! Vol. 2.

            Albei resensies is oorweldigend in hul jubeling. Trouens, mens sou wel kon vra wat die verskil is tussen hierdie twee resensies en Adinda Vermaak s’n verlede week in Die Burger oor Daniel Hugo se jongste publikasie.

            Eintlik heelwat, is die eenvoudige antwoord. Steyn en Kok sê vir jou wat hulle gelees het en hoeveel hulle dit geniet het en sê dan vir jou dit sal ‘n goeie idee wees om die boek ook te koop.

            Vermaak se resensie jubel ook, en daarna stel sy ‘n klomp vra waarvan die antwoorde net gekry sal kan word as jy die boek koop en gaan soek daarvoor. Vandaar my verwysing na kolporteur en koppelaar.

 

***

 

Dit is vrek interessant om Daniel Hugo se resensie van prof. Hennie van Coller se Tussenstand (Beeld) te lees en dit te vergelyk met Joan Hambidge se bespreking van dieselfde boek onlangs in Die Burger.

            Hambidge vra lastige vrae, wys op foute, gaan tekere. Hugo het voorbehoude oor sekere dinge (veral die een oor die plasing van die essay oor Die jakkalsjagter is betekenisvol, gesien teen die lig van sy inleidende opmerkinge oor die tanende tradisie van gebundelde literêre opstelle) en van die pertinente dinge wat Hambidge aanspreek, igoreer hy, moontlik omdat dit nie vir hom belangrik genoeg is om in ‘n koerantresensie te noem nie.

            Mens kan met Hugo saamstem dat die bundeling van literêre opstelle ‘n seldsame verskynsel word in die Afrikaanse boekwêreld, maar ek wonder tog hoekom Hugo nie sy belangrikste beswaar teen hierdie bundel gevoer het tot sy logiese uiteinde nie, naamlik dat Tussenstand ‘n sterk keurdershand mis?

 

***

 

Nikki Lordan se resensie van Lien Roux-De Jager se roman Fred se storie (Die Burger) is een van daai wat mens jou hare uit jou kop laat wil trek. Uit alles wat sy sê, maak ek die volgende afleidings: Fred se storie het ‘n aangrypende verhaal, maar dit is swak geskryf, vrot vertel en is nie geloofwaardig nie.

            Moes dit gepubliseer gewees het? Smaak my Lordan meen van nee, maar het nie die moed om dit te sê nie.

5 antwoorde op Bloemfontein is die plek

  1. Hola! Resensies geresenseer! Moet asseblief nie ophou nie!

  2. Jy het Joan Hambidge oor die vingers getik na aanleiding van haar skrywe oor Van Coller se boek. Sy is, gesien binne die raamwerk van die dinge wat Van Coller in “‘n Blinde in ‘n mynveld” sê, té naby aan hom om ‘n boek deur hom te resenseer.

    As ‘n mens Van Coller se maatstawwe gebruik, behoort Daniel Hugo ook nie oor Van Coller se boek te skryf nie. Dien hulle dan nie saam in een van die SA Akademie se kommissies nie?

  3. Die rol van die resensent is baie belangrik in die breë literêre konteks: hy tree op as rigtinggewer, padwyser en informant vir die lekeleser. En hierdie belangrike rol moet hy nie vergeet nie.

    Terselfdertyd is dit egter waar dat resensente hulself soms so oortuigend glo dat hulle effe die pad byster raak (en dit dalk selfs regkry om Jan Publiek saam te sleep).

    Perspektief en objektiwiteit is wat benodig word, veral ook teenoor die jong toetreder (en debutant) tot die boekewêreld en die daarmee gepaardgaande penne-oorlog. Van die ouer kalante kan waarskynlik die kaphoutjies wat uitgedeel word, absorbeer. Ek bepleit dus ‘n genadige kyk, ‘n helpende hand en ‘n positiewe ingesteldheid. Dit bly steeds moeilik om te publiseer, en om alreeds net tot daar te kom, is ‘n groot prestasie.

  4. Sal gaan loer. Enige skryfskool is ‘n wonderlike plek vir inspirasie, groei, eie stem vind (sien my blog van vandag), maar kritiek (veral in die openbare pers) kan ook ‘n nuwe stem se gees breek, of jou dan ten minste tot jare se stilswye slaan. Vra my, ek weet.

  5. crito het gesê op September 21, 2009

    Dit is so, Nastergal. Dis een van die dinge waarna ek kyk – maar vir my gaan dit meestal oor hoe goed of sleg die resensente hul taak aanpak. ‘n Swak geskrewe resensie wat baie positief is, het dikwels vir veral die skrywer minder waarde. Ek het ook al te veel ervaar dat resensente die taak probeer afhandel deur alles net goed te praat. Dit is uiteindelik die koerantleser wat beduiwel word, eweseer as die outeur van die boek wat nie ‘n behoorlike resensie kry vir sy moeite nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.