Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Profile photo of crito

by crito

Sentrale slordigheid

September 30, 2009 in Sonder kategorie

My apologie aan prof. Willie Burger van Universiteit Johannesburg, oftewel prof. Willie burger, soos Die Burger hom noem.

 

Te oordeel na hierdie week se Boekeblad in Die Burger (of moet dit wees “Die burger”, Engels uitgespreek?) was Die Volksblad se internet-slordigheid verlede week nog erger as wat mens vermoed het.

 

Prof. Burger het niks uit te gewaai gehad met die resensie van John Miles se Voetstoots in Die Volksblad nie. (En die fout is darem pas reggestel. Na ‘n week. Wie word betaal om niks te doen aan gehaltebeheer by Media24 se webwerwe nie?)

 

Die resensie is skynbaar geskryf deur daardie Bloemfonteinse akademiese woelwater Hennie van Coller. Willie burger het wel die resensie geskryf wat in Die Burger verskyn het.

 

En hoewel dit ‘n besonder knap resensie is, het dit nes by Van Coller aan Willie burger verbygegaan dat daar ook ‘n rolprentmaker as verteller in Voetstoots doenig is.

 

Ek wag met gespanne aandag om te sien of ander resensente die roman met meer aandag gelees het.

 

***

 

Kan dit wees dat die Afrikaanse koerante se webwerwe uit ‘n sentrale punt hanteer word? Wat my laat vermoed dat dit wel die geval is, is die feit dat Die Burger se webwerf vandeesweek sy papier-boetie, en spesifiek sy nuwe Boekeredakteur, Willem de Vries, liederlik in die steek laat. En daarmee saam diegene wat buite Die Burger se gebied val en via die internet saamlees aan die boekresensies.

 

Die slordigheid op die webwerwe van Beeld en Die Volksblad was dus nie heeltemal toevallig nie.

 

Op die webwerf word drie boekbesprekings geplaas wat in Maandag se papierkrant was: dié oor On Black Sisters’ Street, Voetstoots en Herman de Coninck se Die lenige liefde.

 

Dit beteken dat webkrant-lesers in die res van die land nie die resensies te lese kry van Sarie se Flitsverhale en van Thijs Nel se Sluitsteen nie. Albei is belangrike besprekings (al kon Stephanie Nieuwoudt minder aangesluit het by die uitgewer se reklamebrief oor die Sarie-versameling en meer vertel het van die bydraes).

 

Die ander weggelate bespreking is Hennie Aucamp s’n oor Sluitsteen. En dit is hierdie webwerf-weglating wat vir my bevestig dat een of ander literêr-oningeligte persoon ver van die Kaap vandaan besluit het oor die in- of uitsluiting van Aucamp se resensie.

 

As dit iemand was wat behoorlik op hoogte van sake was, sou hy/sy besef het dat Aucamp status en gravitas aan ‘n boekeblad verleen. Jy laat eerder die ander besprekings weg en plaas net Aucamp, as jy dan opsluit iets moet weglaat.

 

***

 

Maar kom ons vergeet vir eers van hierdie dinge, en kyk na een wat wel oral te lese was.

 

Wium van Zyl se bespreking in Die Burger van Herman de Coninck Die lenige liefde (vertaal deur Daniel Hugo) is heerlik om te lees. Hy is opvallend goed ingelig, en sy gevoeligheid vir die nuanses van die vertaling van gedigte lei hom daartoe om Hugo op een vertaalgruwel te kan wys. Ek het gedog Hugo maak nie foute nie.

 

Hy gee darem ook krediet aan Hugo as gesoute vertaler vir die omskakel-prestasies wat hy wel vermag.

 

Die enigste vraag wat Van Zyl moes gevra het, en nie het nie, is watter Afrikaanse digter sy plek in die publikasie-ry moes verbeur sodat Afrikaners ‘n tweede keer met De Coninck kan kennis maak.

 

As Van Zyl my nie daaraan herinner het nie, sou ek vergeet het van die eerste keer.

 

 

 

Profile photo of crito

by crito

Die nuwe slordigheid

September 22, 2009 in Sonder kategorie

Die enigste vraag wat opkom nadat mens Andries Cornelissen se resensie van The World According to Julius Malema op Beeld se webwerf gelees het, is wat mens kan doen aan sulke slordigheid.

Ek weet dis nou nie ‘n Afrikaanse boek wat hy bespreek nie, maar aangesien dit vir die duur van Maandagoggend die enigste boekbespreking is wat mens op Beeld se nuwe gebruikersonvriendelike webwerf kan opspoor, wil ek hierdie spesifieke eiertjies lê:

Nommer een: ‘n Resensie sonder ‘n aanduiding van wie die boek uitgegee het, is nie aanvaarbaar nie. Dis net so goed soos Beeld wat sonder sy mashoof gedruk word.

Nommer twee: ‘n Resensie sonder ‘n aanduiding van wie die boek saamgestel het, is totaal nutteloos.

Nommer drie: Dit is andersins ‘n goeie resensie: op die punt af en met ‘n goed gefundeerde oordeel. (Ek stem net nie met hom saam dat meer navorsing oor die onderwerp moontlik is. Die navorsers moet ook na hul eie geestelike welsyn omsien.)

***

Die Volksblad sit eweneens met ‘n nuwe webwerf, en is ook nie vry te spreek van slordigheid nie. In die begin van die resensie oor John Miles se Voetstoots word aangedui dat dit geskryf is deur Willie Burger. Onderaan word weer gesê dis geskryf deur H.P. van Coller. En dan is daar nog ‘n bygelaste stuk oor die “basiese storie”.

Dit is ‘n baie deeglike stuk werk wat Burger/Van Coller gelewer het oor Miles en sy boeiende ingryp op die genre van die liefdesverhaal. Maar soos ek al in die verlede gemompel het, moet resensente ook bedag wees daarop dat daar mense sal wees wat die roman gelees het voor hulle die resensie te siene gekry het.

Ek het Voetstoots reeds gelees, en sal graag by Burger/Van Coller wil verneem of hulle die resensie nie wil ondersteun met ‘n verdere bespreking nie. Dan kan hulle dít wat hulle vergeet het, naamlik die rol van die rolprentmaker as ‘n verteller in Voetstoots, behoorlik bespreek.

Of het hulle dit nie raakgesien nie?

 ***

Die boekbespreking wat my Maandag die grootste plesier verskaf het, is Desmond Painter s’n van Jaco Fouché se Ed van Inligtingstelsels (Die Burger).

Painter plaas dié roman binne die konteks van moderne beoefenaars van die realisme soos John Updike, Michel Houellebecq en Richard Ford. Dit is ‘n interessante prent wat hy skilder, want mens moet eers probeer om uit te pluis hoe hy ‘n verband kan trek tussen daardie falanks van uiteenlopende skrywers.

Ek sal hom ten opsigte van styl gelyk gee met Richard Ford, dalk ook met Updike (wat beslis ‘n bietjie meer uitvoerig in sy stilistiese aanpak is as Ford), maar Houellebecq nie. Dan aan die ander kant sal Houellebecq wat tematiek betref weer nader aan Fouché staan as Updike en Ford. (Houellebecq is, bygesê, iemand in wie ek ‘n renons het – romans wat alleen voorsien in die onanistiese behoeftes van laat-middeljarige mans.)

Nietemin, ‘n vrek interessante bespreking met een besonder belangrike punt, naamlik dat die roman uiteindelik ‘n mindere poging is omdat Fouché nie daarin slaag om sy vernaamste tekortkoming te bowe te kom nie, en dié is ‘n gebrek aan ‘n rigtinggewende idee.

Painter moet net waak teen veralgemenings wat as norm aangewend wil-wil word, soos byvoorbeeld “Die roman het nie veel van ‘n storielyn nie”. Richard Ford het drie romans oor Frank Bascombe geskryf waarin die storielyn taamlik yl, is maar watse manjifieke romans is dit nie! En Joyce se Ulysses sou ook nie daarvan beskuldig kan word dat dit ‘n ingewikkelde storielyn het nie.

Maar dankie, mnr. Painter, vir ‘n behoorlike, uitdagende bespreking.

Profile photo of crito

by crito

Bloemfontein is die plek

September 15, 2009 in Sonder kategorie

 Bloemfontein is die plek waar dinge tans vir die Afrikaanse boek gebeur. Oordeel mens volgens wat die afgelope week op die drie Afrikaanse oggendblaaie en een Sondagkoerant se boekeblaaie gebeur het, dan het Volksblad sy vinger veel sekuurder op die pols van wat aan die gang is in die Afrikaanse boekewêreld as enige van die ander.

            Volksblad se benadering is wel minder serieus as dié van Die Burger of Beeld, maar mens moet ook verder kyk as die manier waarop sy resensente hul resensies aanpak. Dit is duidelik dat hulle hul koerantlesers ook boeklesers wil maak. Nogal ‘n gedagte!

            Pas het Volksblad gelei met ‘n resensie van Chris Karsten se Seisoen van sonde, die spanningsverhaal wat deur ‘n boekhandelaar op Stellenbosch aan my beskryf is as die Afrikaanse boek van die jaar.

            Die resensie is weliswaar geskryf deur Stoffel Cilliers, ‘n resensent waaroor ek my al in die verlede uitgelaat het, en wat waarskynlik reeds só verknog is aan sy eie manier van dinge doen dat ons nooit die dag sal beleef dat hy sy trapsuutjies-skryfstyl opkikker nie.

            Wat wel saak maak is dat Cilliers daardie boekhandelaar op Stellenbosch se woorde beaam. Hy praat van die manier waarop Karsten die sondes van die apartheidsverlede byhaal, hy loof die struktuur van die roman, die navorsing en die mense-insig waarmee Karsten sy karakters beskryf.

            Hierdie keer gaan ek Stoffel Cilliers se fluisterstem ignoreer en dit wat hy goed vind aan die boek, as heilige waarheid aanvaar. Hopelik sal daar teen die tyd dat ek Seisoen van sonde klaargelees het, resensies daarvan in die ander oggendblaaie en Sondagkoerant verskyn het.

            Hulle sal dit sekerlik nie ignoreer nie, hoewel vreemder dinge al gebeur het.

 

***

 

Twee ander resensies wat in die Volksblad verskyn het, trek die aandag vanweë hul gemoedlike skryftrant. “Gemoedlik-lokaal” sou ook paslik gewees het. Dié resensies is Pieter Steyn se bespreking van BY se Bedkassieboek en Dawie Kok s’n oor Sonbrand en braaiboud: Die beste van Weg! Vol. 2.

            Albei resensies is oorweldigend in hul jubeling. Trouens, mens sou wel kon vra wat die verskil is tussen hierdie twee resensies en Adinda Vermaak s’n verlede week in Die Burger oor Daniel Hugo se jongste publikasie.

            Eintlik heelwat, is die eenvoudige antwoord. Steyn en Kok sê vir jou wat hulle gelees het en hoeveel hulle dit geniet het en sê dan vir jou dit sal ‘n goeie idee wees om die boek ook te koop.

            Vermaak se resensie jubel ook, en daarna stel sy ‘n klomp vra waarvan die antwoorde net gekry sal kan word as jy die boek koop en gaan soek daarvoor. Vandaar my verwysing na kolporteur en koppelaar.

 

***

 

Dit is vrek interessant om Daniel Hugo se resensie van prof. Hennie van Coller se Tussenstand (Beeld) te lees en dit te vergelyk met Joan Hambidge se bespreking van dieselfde boek onlangs in Die Burger.

            Hambidge vra lastige vrae, wys op foute, gaan tekere. Hugo het voorbehoude oor sekere dinge (veral die een oor die plasing van die essay oor Die jakkalsjagter is betekenisvol, gesien teen die lig van sy inleidende opmerkinge oor die tanende tradisie van gebundelde literêre opstelle) en van die pertinente dinge wat Hambidge aanspreek, igoreer hy, moontlik omdat dit nie vir hom belangrik genoeg is om in ‘n koerantresensie te noem nie.

            Mens kan met Hugo saamstem dat die bundeling van literêre opstelle ‘n seldsame verskynsel word in die Afrikaanse boekwêreld, maar ek wonder tog hoekom Hugo nie sy belangrikste beswaar teen hierdie bundel gevoer het tot sy logiese uiteinde nie, naamlik dat Tussenstand ‘n sterk keurdershand mis?

 

***

 

Nikki Lordan se resensie van Lien Roux-De Jager se roman Fred se storie (Die Burger) is een van daai wat mens jou hare uit jou kop laat wil trek. Uit alles wat sy sê, maak ek die volgende afleidings: Fred se storie het ‘n aangrypende verhaal, maar dit is swak geskryf, vrot vertel en is nie geloofwaardig nie.

            Moes dit gepubliseer gewees het? Smaak my Lordan meen van nee, maar het nie die moed om dit te sê nie.

Profile photo of crito

by crito

Knolle en sitroene

September 9, 2009 in Sonder kategorie

Dis goed dat Willem de Vries vroeg in sy termyn as Die Burger se Boekebladredakteur ‘n lelike fout maak. Dan gebeur dit hopelik nie gou weer nie.

 

Adinda Vermaak se bespreking (ek rek die betekenis van laasgenoemde woord onwillig, maar kan nie anders nie) van Daniel Hugo se Halala Afrikaans afgelope Maandag in Die Burger is wat in die Engelse joernalistieke kringe bekend staan as “advertorial”. Dit is geen resensie nie, al probeer Vermaak op ‘n paar plekke om dit aldus aan te bied.

 

Daar is, binne die konteks van boekresensies, ‘n baie fyn grens tussen kolporteurskap en koppelary. Breyten Breytenbach het al jare gelede hierdie onderskeid getref.  

 

Dit is jammer dat Vermaak juis hierdie boek gekies het om die grensdraad plat te trap.

 

***

 

Deborah Steinmar het al in die verlede gewys dat sy haar resensies strategies baie goed beplan. Haar bespreking van Toast Coetzer se Naweek (Die Burger) is werklik netjies gekomponeer.

 

Sy begin deur Coetzer se vertrekpunt vir dié roman te beskryf: ‘n Babelis word deur die polisie opgeklop oor verkeersboetes, maar in sy gedagtes is daar beelde wat pla, beelde van iemand wat deur ‘n motor raakgery word.

 

Daarna neem sy jou verder ontledend aan die tegniek wat Coetzer gebruik om sy verhaal te ontplooi, en rapporteer oor die spanningslading.

 

En dan kom sy by haar besluit: Die hoofpersonasie word té yl geteken om die vertelling behoorlik te dra.

 

Toast Coetzer is een van die belowendste nuwelinge op die Afrikaanse literêre toneel. Steinmar het die mooiste moontlike manier met hierdie resensie hom gemaan om nie knolle met sitroene te verwar nie.

 

 

***

 

Dankie Beeld, dit is al ‘n bietjie makliker om boekresensies op te spoor. Nou nog net ‘n manier vind waarop mens ou boekresensies netjies op ‘n kol kan gaan kry op die Beeld-webwerf. Op die oomblik sit mens se turf as jy na ou boekbesprekings soek maar nie ‘n spesifieke titel in gedagte het nie.

 

Profile photo of crito

by crito

Om saam te stem of nie

September 1, 2009 in Sonder kategorie

Komaan Beeld, maak dit vir jou lesers makliker om boekresensies op jou webwerf op te spoor – en hou hulle sigbaar!

***

Van J.C. Kannemeyer verwag ‘n mens altyd die beste. Sy resensie van Karel Schoeman se “Titaan” (Die Burger) is dan ook deeglik geargumenteer, deurdag, netjies geskryf.

My enigste probleem is dat ek nie met sy oordeel oor die boek saamstem nie. Ek het die afgelope week dié roman gelees, en dit absoluut oorweldigend en fassinerend gevind.

Die punt is, natuurlik, dat ‘n goed geskrewe resensie nie noodwendig een is waarmee mens saamstem nie. Of hoef saam te stem nie.

***

Chris van der Merwe se bespreking van “In oneer”, Fanie Olivier se vertaling van J.M. Coetzee se gevierde roman “Disgrace”, kom in ‘n tyd waarin daar ‘n debat is of die film-weergawe van die roman ‘n verbetering is daarvan of nie.

Vir my gevoel kan net barbare vra of ‘n film verbeter op die roman waarop dit gegrond is, maar Van der Merwe vergelyk uiteindelik net die Afrikaanse vertaling met die film, vind dit beter, en alger slaak sugte van verligting.

Sy resensie is ook een van die bestes wat in ‘n goeie ruk in Die Burger verskyn het. Van der Merwe is seker meer as baie ander daarvan bewus dat dit wat hy moet resenseer, in die toekoms nog ‘n hele vrag proefskrifte en studies gaan afgee. Daarom sê hy in die eerste twee paragrawe waarna hy gaan kyk, en in die res van die resensie doen hy dit baie netjies.

Sy onderwerp is: Maak dit sin om ‘n roman soos “Disgrace” in Afrikaans te vertaal? Kyk mens na hoeveel eietydse Afrikaanse romans ook in Engels verskyn (André P. Brink, Etienne van Heerden, Ingrid Winterbach, Eben Venter, Dan Sleigh, Marlene van Niekerk, dis ‘n lang lys …) en hoe min plaaslike Engelse romans hul weg na Afrikaans vind, dan is dit ‘n absoluut geldige vraag om te vra. Jy sou ook nog die ou argument van die tweetalige winste van die apartheid-era kon afstof.

Van der Merwe se slotsom (baie goeie vertaling, ofskoon nie vlekvry nie) antwoord dus dat dit wel sin maak. Ek sou graag wou hoor of hy dink dit gaan ‘n toenemende verskynsel word, asook of hy dink ons meertalige bestel gaan sulke vertalings noodsaaklik maak om Afrikaners te bereik.

***

Stephanie Nieuwoudt resenseer nie op vandeesweek se boekeblad in Die Burger Veronica Cecil se roman “Bongo Bongo Bongo I Don’t Wanna Leave The Congo” nie. Sy vertel net die storie en blerts in ‘n slotparagraaf ‘n paar van haar diepe insigte uit. Sulke “resensies” verdien nie om gepubliseer te word nie.

***

In my gespartel met Beeld se webblad het ek darem een resensie raakgeboor: At van Wyk s’n oor dominis I.L. de Villiers se “Strooidak en toring”. Van Wyk, ‘n oud-joernalis, skryf lekker leesbare resensies. Hierdie een is geen uitsondering nie, en gee ‘n goeie idee van wat mens in die boek te wagte sal wees. Net genoeg van ‘n prikkel vir nuuskieriges.

In een opsig het Van Wyk my wel aanvanklik teleurgestel: As Sap-kenner is hy waarskynlik die resensent wat die beste sou kon antwoord oor De Viliers se verduideliking van sy heimlike politieke instinkte, sy diepe band met die DA. Van Wyk sê egter niks. Maar mens met fyner lees, besef ek. Van Wyk vertel dat De Villiers se irriterende regse politiekery hom laat ophou Rapport lees het.   

En een Van Wyk-paragraaf vertel tog uiteindelik so baie: “De Villiers word in 1991 tot redakteur van Rapport gemáák, want hy weier, en Vader dwing. Hy word ook teësinnig lid van die Afrikaner-Broederbond. Vandag is hy oor albei suur, maar waar was sy wilskrag?”