Profile photo of crito

by

Van Sontag tot verbysterende vermaak

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

In die muwwe wêreld van Afrikaanse boekresensies gebeur dit selde dat een bespreking soos ‘n nuwe ster aan die hemeltrans flikker. Sondag het Charl-Pierre Naudé in Rapport dié liggie gebring, uiteindelik, en mens laat terugverlang na die dae van André Brink en selfs later, na Johann Brüwer se kuns- en boekbesprekings.
    Naudé bespreek Susan Sontag se At the Same Time, ‘n vyftiental postuum gepubliseerde opstelle. Die geluk wat ‘n resensent tref met Sontag se skryfwerk onder hande, is omtrent dieselfde as wat jy jare gelede met dié van George Steiner gehad het: Intellektueel stimulerend, uitdagend. Dit is onmoontlik om dit te lees en nie reeds in jou gedagtes te begin met argumenteer nie. Saam met haar, teen haar.
    Dat Naudé haar baie goed gelees het, is nie altemit nie. Hy besing Sontag se lof, en wys waarheen haar argumente die leser kan voer. Met betrekking tot Sontag se opmerkings oor waarheid en geregtigheid, maak Naudé die sprong na J.M. Coetzee se Disgrace.
    En trap dan in ‘n slaggat wat waarskynlik slegs deur ‘n opvolg-artikel (hoop ek) uit die weg geruim kan word. Sê Naudé: “ …Disgrace. Dis juis ’n boek wat gaan oor die waarheid in weerwil van die belang van geregtigheid. Is dit waarom so baie Suid-Afrikaners dit verkeerd verstaan het?”
    Vertel ‘n bietjie, hoe het so baie Suid-Afrikaners dit verkeerd verstaan? Of: Hoe het die res dit reg verstaan? Kan mens hoegenaamd van “verkeerd verstaan” praat?
    Sien wat Sontag regkry?

***

“Die literêre wêreld sal nooit ophou om belangstellendes te verbyster en te vermaak nie,” sluit Daniel Hugo sy bespreking van Robin Malan A-Z of African Writers – A Guide to Modern African Writing in English in Die Burger.
    Toe ek dié sin lees, dag ek Hugo het ‘n pyn oor Malan se boek. (Soos hy behoort te hê, bygesê.) Maar nee.
    Hugo giggel nie eintlik in sy resensie nie, en sy verbystering loop maar woer-woer in sy poging om te verduidelik wat aan die gang is. Dit bly knaag en ek herlees: Is Hugo regtig geesdriftig oor hierdie gids? Net wanneer dit lyk asof hy uiteindelik die argument oor in- en eksklusiwiteit te berde gaan bring, dwaal hy af in ‘n ander rigting. Hy betreur tereg die afwesigheid van Doris Lessing – maar mens wag vergeefs vir ‘n bestekopname van diegene, soos Chris Barnard, wat wel in Engels beskikbaar is, maar nie opgeneem is nie.   

     Hugo is voorts jammer dat Malan nie kennis geneem het van Stephen Gray se French Language Poetry of the Indian Ocean African Islands nie. Hè? Die punt is tog seker, en help my as ek verkeerd is, dat Malan ‘n gids saamgestel het slegs oor skrywers wie se werk in Engels beskikbaar is.   

     Vir wat op aarde sal hy nou sy tyd mors met ‘n spul digters wat in Frans dig?
     Ek dink nie ek gaan hierdie boek aanskaf nie. Nie eens vir die troonkamer nie, soos Hugo op een plek voorstel.

***

Stoffel Cilliers stel Danie Schreuder se kortkuns-debuut, ‘n Beter hemel, vandeesweek in Beeld bekend. Klink na ‘n interessante bundel.
    Maar ai, liewe aarde, die resensie! Ek wil nie by wees wanneer Cilliers die dag koudgelaat word deur ‘n boek nie. Sy resensie van ‘n Beter hemel, oorweldigend positief soos dit is, is in die gedemptste van tone.
    Miskien is Daniel Hugo reg.
 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.