Profile photo of crito

by

So op die nugter maag

Augustus 12, 2009 in Sonder kategorie

Die Spaanse stof sit nog aan my stapstewels, my longe is omtrent nog vol berglug, en ‘n resensie van Joan Hambidge, oor prof. H.P. van Coller se Tussenstand – Letterkundige opstelle(in Die Burger), tref my op my nugter maag.

Wat ‘n vreemde resensie!

Ek het dit gelees en herlees. Kartets op kartets op kartets.

En gevoel: Dis eintlik die aantekeninge wat Hambidge gemaak het vir die resensie wat sy wou skryf oor die boek – en toe sommer maar net so aangebied het as resensie. Los gedagtes, lekker aanvattery, skoorsoek wat nog behoorlik verwoord moet word.

‘n Mens wens dat sy een hoofstuk of essay in Van Coller se boek wou neem, en dit behoorlik analiseer, takel, vermink, loof, juig, wat ookal. Net solank dit ‘n behoorlike onderonsie word.

Soos dit staan, is haar resensie ‘n kuriositeit. Ek brand van nuuskierigheid om te hoor wat die dramas agter die publikasie van Groot Verseboek 2000 was – Hambidge sê wel man en perd moet genoem word. Dit klink asof sy die storie agter die storie ken – vertel dit asb! Van Coller wil duidelik nie sover gaan nie. Miskien is dit maar net ‘n Broederlike manier van ordentlikheid.

Wat my wel op ‘n ander spoor geneem het, is Hambidge se verwysing na Van Coller se blog-inskrywing, ‘n Blinde in ‘n mynveld.  Van Coller filosofeer oor die treurige toestand van Afrikaanse resensies (hoor hoor!), die muwwe atmosfeer daaromheen, die inteelt, rugstekery en –wassery, alles wat verkeerd en minder verkeerd is met Afrikaanse literêre resensies.

Ingevolge die raamwerk wat Van Coller bepleit, behoort Hambidge nie sy boek te geresenseer het nie (sy is ‘n kollega, welswaar aan ‘n ander universiteit, maar ek kan my indink dat hulle dikwels saamwerk, veral waar nagraadse studente betrokke is).

Daar is ander interessanthede ook, en Hambidge mik-mik daarna in die res van haar resensie. (Haar opmerkings oor die Broederbondprys behoort aan die groot klok gehang te word.) Maar in sy geheel lyk dit asof Hambidge die resensie nog moet skryf.

***

Dit is moeiliker om oor gewone boeke (in teenstelling met literêre werke) resensies te skryf as wat mens dink.  Ronel Nel, ‘n vryskutresensent, skryf in Beeld oor Nadia de Kock se Heildronk op ‘n gypsyromp. ‘n Voorbeeld van die nuwe Afrikaanse chic-lit.

Sy val weg met een van daardie breë veralgemenings wat die kenteken is van bladvullers: “Tafelberg, lyk dit, belê veral deesdae in hierdie genre, natuurlik omdat dit ook die skryfstyl ter wêreld is waarvan daar tans die meeste boeke verkoop.” Hè? Belê Tafelberg wel veral in hierdie genre? Verkoop daar tans wel dwaarsoor die wêreld die meeste boeke in hierdie genre?  Net Tafelberg sal weet of Nel in die kol is oor waar hulle hul geld belê. Te oordeel na die trefferslyste en blitsverkoperslyste wat op die Internet beskikbaar is, is chic-lit nie die top-genre wat verkope beref nie. Liewe hel, Nel.

Maar nou ja. Wat sê haar resensie?

Nel weet om mee te begin nie of Afrikaanse chic-lit so goed soos die buitelandse chic-lit is nie. Ons skrywers skram glo nog te veel weg van “ware gruwel en intense intimiteite”.  En hulle sluit té soetsappig.

Sy reken Heildronk op ‘n gypsyromp is “vinnig, chronologies en geloofbaar”. Die hoofkarakters is geloofwaardig. Die bykarakters is effe oordrewe. Nevermind, “dié een is vir lekkerlees”. Daar is baie drank, vrytonele en liefdesdriehoeke. Dit wil nie groot letterkunde wees nie. Lekker snipperige taal. Dis goeie chic-lit. Neem die boek bad toe, saam met ‘n glas wyn.

Wat maak mens van só ‘n resensie? Een wat begin met die hoof nederig gebuig voor die magtige internasionale treffers, en dan skielik in gedempte toon vir jou vertel dat sy eintlik hier met ‘n baie goeie boek te make het? Een wat perfek in sy genre pas?

Kan vryskutresensente nie ordentlik opgewonde raak nie?

5 antwoorde op So op die nugter maag

  1. So pas jou blog ontdek – heerlik interessant en ‘n skerp oog!

  2. persoonlik dink ek die hele afrikaanse boek industrie moet meer opgewonde raak. Hier is iemand wat buite die normale Romansas, letterkunde werke en (weereens my opinie) doodverveligge afrikaanse fiksie probeer skryf. Ek dink dit maak resensente heeltemal deurmekaar! Elk geval genoeg gebabbel…baie interesante artikel!

  3. Welkom terug, Crito! Hopelik het jy tyd gehad om te dink oor die gevolge van laster, en kan ‘n mens dus uitsien na ‘n meer objektiewe interpretasie van resensies uit jou pen.

    Wat dink jy van die feit dat ‘n literatuurwetenskaplike boek in DB geresenseer is? Lees gewone mense wat DB koop sulke boeke, of hoort dit eerder in TVL?

  4. crito het gesê op Augustus 18, 2009

    Wat bedoel jy met ‘n “literatuurwetenskaplike” boek? Die sg “science fiction”? Die Burger kan dit tog sekerlik laat resenseer. Dit hoort meer op ‘n koerant se boekeblad as in die TVL, wat gemik is op ganse Afrika. My gevoel is dat solank dit ‘n Afrikaanse boek is, die Burger se boekeredakteur sy deure daarvoor moet open.

    Terloops, Die Burger het ‘n nuwe Boekeredakteur, Willem de Vries. Ek sien baie daarna uit om te sien of hy die Afrikaanse boek terugbring na sy lesers.

  5. Nee, Crito, met “literatuurwetenskaplik” bedoel ek ‘n boek oor die literatuurwetenskap – die dissipline waartoe “Tussenstand” behoort. Waar val jy nou uit met wetenskapfiksie (die Afrikaanse term vir “science fiction”)? As jy nie eens weet wat die onderwerp van hierdie boek is nie, gaan die gemiddelde leser van DB regtig in ‘n resensie hieroor belangstel?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.